Die engele staar. Marie Reyneke
“Jy weet, hulle ouens wat aan ’n vrou gewoond was…”
“Aan ’n vrou gewoond wás? Hoe bedoel jy?”
“O, sorry! Daar trap ek al weer waar ek nie moet nie. Ek dog jy weet.”
“Duidelik nie,” probeer sy korswil. “Dalk kan jy my inlig.”
Die man huiwer. Hy neem ’n sluk bier en loer bo-oor sy glas na waar Gunther met die telefoon besig is.
“Liewers nie,” beduie hy met sy hande en maak ’n snybeweging oor sy keel. “Ek is nog te lief vir die lewe.”
“Ja,” knik Jack Miller met ’n skewe glimlaggie. “En miskien sal ou Gunther nie daarvan hou dat jy haar teen almal behalwe jouself waarsku nie. Ek meen…”
Hy knip sy storie kort toe Gunther die telefoon neersit.
Waarvan praat hulle? wonder Nina. Volgens Philip het Gunther saam met sy vrou uit Namibië hierheen gekom. Sou hulle intussen…? Maar sy kry nie kans vir verder tob nie.
“Ek moet ’n groepie toeriste in Livingstone gaan oplaai vir ’n wildbesigtigingsrit deur Mosi-o-Tunya,” praat Gunther langs haar. “Jy kan saamkom as jy wil. Ons neem dikwels toeriste op wildbesigtigingstoere. Dit kan net wees dat jy dit ook nog eendag sal moet behartig.”
“Mosi-o-Tunya?” vra Nina verras. Dis die einste naam wat telkens onder bespreking was in haar en Philip se beplanning.
“Mosi-o-Tunya Wildpark,” verduidelik hy. “Die plaaslike benaming vir ‘die rook wat donder’, soos hulle die valle noem.”
“Ja,” knik sy. “Ja, ek sal graag wil. Ek het van die wildpark gelees.”
“Nou gaan kry vir jou ’n hoed. Ek gaan haal vir Falcon Eye.”
Hy is al byna by die deur uit toe hy oor sy skouer sê: “Vra vir Derrick om vir ons ’n koelhouer met drinkgoed te pak.”
Sommer net so. Sonder dat sy ’n idee het wie of wat Falcon Eye is, en nog minder waar sy veronderstel is om vir Derrick in die hande te kry.
Sy sien hoe Douw agter sy glas bier grinnik.
“Derrick,” praat hy met die kroegman wat uit die klein vertrekkie agter die toonbank kom, “Herr Gunther het gesê jy moet ’n koelhouer pak vir ’n uitstappie na Mosi-o-Tunya. Jy weet seker wat daarin moet kom.”
Die lang Zambiër agter die toonbank, met sy wit hemp en strikdassie by ’n blinkgestrykte swart pak, kyk hulle al twee vraend aan. Hy vryf onseker agter sy oor. Besef toe blykbaar wie sy is, en verseker haar met ’n handbeweging soos ’n saluut dat hy die koelhouer sal pak en sorg dat dit gelaai word.
“Dankie,” erken Nina sy gebaar met ’n kopknik. Toe aan Douw: “Jy red my lewe. Ek het sowaar nie geweet wie Derrick is nie. Maar ek sal seker nou moet spring.”
“Ag, wat ’n waste! Ek sê julle mos ou Gunther wil haar vir homself hou,” weeklaag Jack Miller oordrewe.
Nina kan nie help om te glimlag nie. Hierdie is beslis twee karakters van wie sy meer te wete sal wil kom. Sy wuif haastig ’n groet en draai om.
Buite drafstap sy vinnig na haar chalet. Al wat op die oomblik belangrik is, is dat sy op pad is na Mosi-o-Tunya. Dié Mosi-o-Tunya Wildpark! En dit nogal saam met Gunther Becker.
Die ratte begin draai. Sy sal haar oë moet oophou.
3
Gunther wag reeds in die parkeerarea in ’n oop voertuig met bankies en ’n seildak toe Nina aangedraf kom. Falcon Eye, lees sy op die deur die naam langs ’n yslike tekening van ’n valk.
Sy glimlag onderlangs. As jy dan veronderstel dat ek inligting soos wie Derrick en wat Falcon Eye is self moet agterkom, vorder ek nie te sleg nie, Gunther Becker, dink sy. Dit kan net wees dat dit met die goed wat ek eintlik wil uitvind ook so sal gaan.
“Het jy nie ’n hoed nie?” wil hy weet toe sy langs hom inklim.
“Dis die een ding waaraan ek nie gedink het om in te pak nie,” verduidelik sy verleë. “Ek sal so gou as moontlik iewers een koop.”
Hy vroetel onder sy sitplek en bring ’n verkreukelde laphoedjie te voorskyn. “Sit dit op. Afrika se son speel nie met wit gesigte nie.”
Sy gehoorsaam gedweë, al kan sy haar indink hoe potsierlik die verkreukelde ding haar laat lyk.
“Neem jy dikwels toeriste op safari?” probeer sy ’n geselsie aanknoop terwyl hulle oor die grondpad skommel.
“Nogal.”
Net dit. Asof hy nie lus het vir haar geselskap nie.
Sy sluk. Kommunikasie is duidelik nie een van die Duitser se sterk punte nie. Sy wonder watse tipe gids hy vir ’n groep toeriste sal uitmaak.
Maar sy kom gou agter dat sy hom onderskat het. Skaars het hulle die groepie mense – twee getroude pare, twee enkellopende vroue en ’n gesellige bleskopomie met ’n boepie – opgelaai, toe hy ’n behoorlike metamorfose ondergaan. Hy is die ene sjarme en glimlagte, sodat sy skaars haar oë en ore kan glo.
Sy haal haar skouers op. Wat maak dit saak dat sy die man nie verstaan nie? Sy soort verstaan ’n mens gewoonlik nie.
Om met ’n kronkelpaadjie al teen die Zambezi-rivier op in ’n oop voertuig wild te soek, is meer as waarvoor sy gehoop het vir haar eerste dag. Sy voel die wind teen haar wange en ruik die vreemde kruiegeur van ’n plant wat sy nie ken nie. En sy is byna jammer dat sy nie hier kan wees net met die doel om dit te geniet nie. Soos die gaste, wat in vervoering is oor elke rooibok en vlakvark.
Toe ’n troppie vlakvarke met sterte wat soos klein antennas regop skiet voor die voertuig wegskarrel, verduidelik Gunther: “Dis sodat die kleintjies hulle ouers kan volg as hulle in lang gras moet weghardloop. Kyk, die haarklossie aan die punt van die stert vorm ’n vlaggie.”
Hy hou geduldig stil as iemand ’n foto wil neem, of wanneer ’n dier met een van die vele wildspaadjies wat afkom rivier toe voor hul voertuig verby beweeg. Hulle sit nog en kyk hoe ’n paar kameelperde die hoogste blaartjies van ’n doringboom afstroop, toe Gunther skielik sy hand ophou. “Sjuut!”
Net dit, en almal is die ene aandag.
“Daar,” beduie hy, “links van die wildevy.”
Nina sien die wit tande eerste. Toe die massiewe ore wat flap. Verder na agter is nog beweging.
“Dis ’n hele trop,” fluister sy asemloos. “Is dit veilig so naby met die mense in die oop voertuig?”
Die oomblik toe die woorde uit is, kan sy haar tong afbyt. Sekerlik gaan Herr Gunther nie daarvan hou dat sy oordeel bevraagteken word nie.
“Solank ons stil is en uit hulle pad bly, is ons veilig.”
Sy kan nie agterkom of dit ’n teregwysing is nie. Die toeriste is in elk geval te bang om te praat. Hulle beduie met handgebare wat rukkerig van opwinding is vir mekaar waar om te kyk, en hou hul kameras gereed. Sy twyfel of hulle al besef daar is heelwat meer as net die voorste een.
Toe kom ’n olifantbul ’n paar meter voor hulle uit die bosse. Hy swaai sy massiewe kop heen en weer, draai skuins in hul rigting en flap sy ore dreigend. Agter hom kom nog een, en dan nog een.
Gunther gooi die voertuig in trurat en retireer soos blits. Die gaste is tjoepstil geskrik. Eers toe hulle op ’n veilige afstand tot stilstand kom, stap die ou belhamel doodluiters oor die pad. Toe kan hulle ongesteurd sit en kyk hoe die hele trop olifante met ’n wildspaadjie langs rivier toe tou.
Almal begin deurmekaar giggel en fluister.
“Olifante val nie sommer aan nie,” verduidelik Gunther toe die laaste van die trop oor die pad is en agter die rivier se hoë grondwal verdwyn. “Solank mens in jou voertuig en uit hul pad bly. Dikwels is hul sogenaamde aggressie net ’n vertoning van hul baasskap.”
Hy