Rabbedoe se temmer. Elza Rademeyer
hom kom werk. Ek wou juis vir juffrou kom sê my huis sal môre ontruim wees.”
Vicky se mond gaan oop om hom uit te skel, maar dan onderdruk sy haar woede. Wat sal skel help? As hy wil loop, moet hy loop.
“Waar is Karel?”
“Hy’s eergister al weg, juffrou. En Pieter is al twee weke gelede hier weg. Ek meen, wat help dit ons bly hier as ons nie betaal word nie? Ons het vrouens en kinders wat moet eet.”
“Is almal weg? Is hier niemand oor nie?”
“Dis nog net ek, juffrou. Maar soos ek gesê het, ek gaan by meneer Schoeman werk. Hy’s nie ’n man wat sukkel om sy werksmense te betaal nie.”
Vicky ry verslae huis toe. Sake is nóg erger as die prentjie wat tant Ellie geskilder het!
Wat gaan sy doen? Al wat oor is, is sy en die plaas – ’n plaas wat in die weegskaal hang. Wat volgens Jacob Malan verkoop sal moet word om die ellelange lys skuldeisers te betaal.
Toe sy die huis binnegaan, loop sy dadelik studeerkamer toe. Sy trek die lessenaar se laai oop waar haar pa sy tjekboek gehou het. Die bedrae op die teenblaaie slaan haar asem weg. Dit beloop derduisende rande. Sy kyk na die datum op die teenblad van die laaste tjek. Dit was vyf maande gelede: ’n paaiement op haar motor.
Toe sy die tjekboek wil terugsit, val haar blik op ’n spul opgestapelde korrespondensie. Haar skok is groot toe sy sien dis rekeninge. Rekeninge, aanmanings, laaste waarskuwings … Nou verstaan sy sommer ook hoekom haar pa in die laaste maande voor sy dood so weggeskram het wanneer sy hom daaraan herinner het dat hy nog nie haar sakgeld in haar bankrekening inbetaal het nie.
’n Klop aan die kombuisdeur maak dat sy vinnig die papiere terugbondel en die laai toedruk. Dis egter net Klara, Johannes se vrou.
“En nou, as jy aan die deur klop?” vra Vicky verbaas.
“Ek kom net groet.”
“Groet?”
“Ja, juffrou Vicky. Ek kan mos nie agterbly as Johannes vir meneer Schoeman gaan werk nie. Ek is jammer ek moet jou in die steek laat, maar jy sal darem seker gou weer ’n huishulp kry. Daar is darem nog van gisteraand se kos in die yskas wat jy vanaand kan eet. Maar jy sal kruideniersware moet koop. Daar is nie meer veel te ete in die huis nie.”
Vicky is nie gewoond aan huil nie. Maar daardie aand huil sy haar aan die slaap. Oor haar pa dood is, oor sy haar in so ’n gemors bevind, en oor sy geen idee het wat van haar gaan word nie.
Die volgende dag is sy dwalende. Dan is sy buite, en dan weer binne die huis. Toe sy honger word, maak sy die yskas se deur oop. Dis leeg. Daar is ’n klein pakkie vleis in die vrieskas, maar sy het nog nooit in haar lewe kos gaargemaak nie. Dit was Klara se werk.
Uiteindelik eet sy maar brood en konfyt, en dwaal dan weer buitentoe. Sy skrik toe sy by die perdekamp kom en sien daar is nog net ses perde oor. En dis duidelik dat hulle brandmaer is. Sy maak die hek oop. Die plaas is groot; iewers sal hulle hopelik iets te vrete kry.
Toe gaan maak sy sommer ook die hekke van die volstruiskampe oop. “Kom maar uit,” nooi sy hulle. “Gaan soek vir julle kos. Ek het niks om vir julle te gee nie.”
Toe sy die huis binnegaan, val die stilte haar op. Sy loop terneergedruk kamer toe. Haar bed lê nog net so wanordelik soos toe sy vroeër hier uit is. Sy sal hom self moet opmaak.
Die aand toe Johny bel en sê hy kom vir die naweek huis toe, wil sy dadelik weet of hy reguit na haar toe gaan kom.
“Nee, ek sal eers ’n bietjie later by jou ’n draai kan maak. Ek moet eers my ouers gaan groet en uitpak. Maar ek is bly jy klink so opgewonde. In die laaste tyd was jy altyd so besig wanneer ek bel dat ek al begin glo het jy gee nie meer vir my om nie.”
“Jong, ek kan nie wag dat jy kom nie. Ek het só baie om jou te vertel!”
Sy bly ’n rukkie langs die telefoon staan nadat die gesprek beëindig is. Dis nie snaaks dat hy dink sy gee nie meer om vir hom nie, gaan dit deur haar gedagtes. Want haar aanvanklike verliefdheid het lankal gekwyn, en sy het hom buitendien nog nooit as trou-potensiaal beskou nie. Hy het baie gewoontes en dingetjies wat haar nie aanstaan nie. Hy is ook nie eens besonder aantreklik nie. Sy hare is te yl, en sy haat die ou donkerraambril wat hy dra. Om die waarheid te sê, sy het al daaraan begin dink om hom af te sê. Maar ná dese sal sy weer moet dink.
Die volgende dag toe sy dorp toe ry om te gaan kos koop, gewaar sy nie die perde of volstruise in die kampe naby die huis nie, dus glo sy hulle wei agter die rant in die vlei. Haar geld is min, maar sy moet kos hê om aan die lewe te bly. Hopelik sal haar pa se boedel vinnig afgehandel word. Dalk is die skuld nie so baie nie, en sal die plaas nie verkoop hoef te word nie. Sy sal wel iemand vind wat vir haar kan boer.
Haar gedagtes is so besig met die benarde posisie waarin sy haar bevind dat sy vinnig moet rem om nie onder ’n trop volstruise in te jaag toe sy oor ’n bult gaan nie. Vervlakste goed! Moet ook nie dink hulle wil padgee nie. As hulle dan voor haar wil bly hardloop tot binne-in die dorp, moet hulle dit maar doen, dink sy by haarself. Sy’s gelukkig nie haastig nie.
’n Entjie verder gewaar sy ’n motor uit die teenoorgestelde rigting naderkom. Miskien sal die onnosel goed nou padgee. Maar nee, hulle hardloop net om die aankomende voertuig, en toe kom hou die motor langs haar stil.
Niemand anders as die verkeersman nie. Wel, hierdie keer kan hy haar beslis nie skryf nie, want sy’t behoorlik gekruip agter die volstruise aan.
“O, dis jy,” sê hy. “Weet jy straks wie se volstruise dit is?”
“Nee, ek het nie die vaagste benul nie.”
“So ’n entjie agtertoe het ek ses perde ook gekry.”
Vicky skrik. “Hoe lyk die perde?”
“So bruinerig.”
“Is dit resiesperde?”
“Ek weet nie hoe lyk resiesperde nie. Lyk hulle anders as gewone perde?”
“Ek wonder of dit nie dalk ons perde is nie.”
“Is julle perde dan weg?”
“Ek het die hek van hul kampe oopgemaak. Die volstruiskamp se hek ook. Maar hulle kan mos nie oor ’n motorhek loop nie, of hoe?”
“Is daar nie dalk ’n stukkende heining waardeur hulle kon gekom het nie?”
“Ek weet nie.”
“Kom ons gaan kyk eers voordat ek hulp ontbied om die diere te laat skut. Ry jy voor, ek sal jou volg.”
Daar ís toe geen dier op die plaas te sien nie, ook nie in die vleiland nie, en ’n groot stuk heining lê plat. Die rigting van die spore laat geen twyfel dat dit straks iemand anders se vee kan wees wat hulle op die pad teëgekom het nie.
Gelukkig is Dawid hulpvaardig. Maar dis laatmiddag voordat al die diere uiteindelik terug is in ’n kamp, en Vicky is moeg en natgesweet van hardloop agter hulle aan.
“Wil jy nie vanaand saam met my op Oudtshoorn gaan fliek nie?” vra Dawid toe sy hom bedank vir sy hulp.
“Nee, dankie. My vriend kom netnou kuier.” Sy kyk op haar horlosie. “Gits, jy sal my moet verskoon. Ek moet gaan stort.”
“ ’n Ander aand dalk? Of hoe ernstig is jy en jou vriend?”
“Ons gaan trou.” Sy gesig val merkbaar.
“O. Nou maar stort dan maar lekker. Tot siens.”
Sommer met Johny se intrapslag kom Vicky agter daar is fout. Sy gesig is strak, sy soen vlugtig en sy blik ontwykend. Hulle is dan ook kwalik in die sitkamer of sy wil weet wat aangaan. “Iets hinder jou, ek kan dit sien.”
Hy gee ’n suggie. “Ja, dit sal nie help om dit te ontken nie. Dis … my ouers.”
“Is hulle siek of iets?”
“Nee, dis …”
“Dis