Rabbedoe se temmer. Elza Rademeyer
“Nee. Dis oor jou pa se bankrotskap. Hulle reken jy is nou benede ons stand.”
Sy staar hom vir ’n wyle stomverbaas aan. Toe ruk sy vererg die ringetjie wat hy met hul matriekafskeid vir haar gegee het van haar vinger af.
“Snobs! Nou verstaan ek wat tant Ellie bedoel het toe sy van die buurplase se snobs gepraat het! Vat jou ring en loop. En mag julle verstik in jul snobisme!”
“Vicky, bedaar! Ek is nie van plan om my aan my ouers te steur nie. Ek bedoel, ons sal net ’n bietjie versigtiger moet wees, mekaar dalk ’n bietjie minder moet sien tot my studies klaar is. Daarna kan –”
“Bly stil en trap!”
“Moenie onredelik wees nie.”
Sy vlieg orent en beduie na die deur. “Skoert, of ek smyt jou eiehandig by die deur uit!”
Toe sy motor wegtrek, vee sy verwoed die trane uit haar oë. Sy sal nie tjank nie. Sy sal waaragtig nie tjank nie! Laat hy maan toe vlieg met sy ouers en al!
Die volgende weke is soos een lang nagmerrie. Dis balju’s en hofbevele en voornemende kopers wat die plaas kom besigtig … Hulle vat voor die voet. Skel, soebat en smeek help niks. Elke dag moet Vicky toesien hoe hulle die huis en plaas stroop, tot daar feitlik niks oor is nie.
Uit jammerte, of wat ook al, mag sy die ou plaasbakkie hou waarmee Johannes gery het. Dis net so ’n wrak soos tant Ellie se motor uit die jaar toet. Vicky skaam haar bykans morsdood wanneer sy dorp toe moet ry om noodsaaklike dinge te gaan doen. Soos om die bietjie meubels en goed wat oorgebly het aan ’n tweedehandse meubelhandelaar te gaan verkwansel sodat sy geld kan hê vir brandstof en kos.
Toe kom raap ’n Engelsman die plaas ook op vir ’n appel en ’n ei, en bied ewe hulpvaardig aan om een van die werkershuise vir haar reg te maak sodat sy blyplek kan hê. Só laag het sy nog nie gedaal nie! Dan aanvaar sy liewer tant Ellie se uitnodiging om by haar op die kleinhoewe te gaan bly totdat daar vir haar ’n heenkome is.
’n Week nadat sy haar intrek by tant Ellie geneem het, skrik sy soms nog in die nag wakker en verbeel haar alles was net ’n aaklige droom. Maar wanneer sy haar oë oopmaak en die maanstrale sien wat deur die smal venstertjie van die spaarkamer val, weet sy dis veel erger as ’n nagmerrie. Sy wat alles gehad het, het nou niks. En om by tant Ellie te bly, is allesbehalwe lekker. Sy is niks anders as ’n slaaf nie. Vicky, doen dit … Vicky, doen dat … Kyk waar sit die son al, wanneer staan jy op?
Elke aand moet sy weglê-hoenders se neste soek. Hulle lê eiers net waar hulle wil. In die bosse, onder tant Ellie se verroeste ou motor, in die bouvallige stal … En die bloemen bok! Jy sal sweer hulle is familie, dink sy ergerlik toe hy teen haar kom druk om te kyk waar sy die eiers uit ’n nes haal.
“Voertsek, jou stinkende ding!” snou sy hom toe, maar hy blêr net en swaai sy stertjie asof hy dink dis uit pure liefde dat sy so op hom skree.
Dis dié dinge wat maak dat sy sommer instem om saam met Dawid op Oudtshoorn te gaan fliek toe hy haar op ’n dag bel. Maar die aand loop op ’n totale mislukking uit. Dawid is gans te vryerig en vatterig na haar sin. Verder hakkel, stotter en sweet hy só dat sy dankbaar is toe die aand om is.
En toe wil hy nog boonop weet of hy haar kan nag soen toe hulle by die voordeur kom.
“Nee, ek deel nie links en regs soene uit nie. Maar dankie vir die fliek.”
“Wanneer kan ek weer kom kuier?”
“Sodra Noag se ark gevind is.” Toe klap sy die voordeur tussen hulle toe.
“Vicky, kom ’n bietjie hier,” hoor sy tant Ellie vanuit die kombuis roep.
Sy’s verbaas dat die tante nog wakker is, want gewoonlik gaan slaap sy saans saam met die hoenders. Toe sy die kombuis binnegaan, sit tant Ellie langs die tafel met ’n koerant voor haar oopgesprei.
“Ek het vir jou werk gekry. Oom Jors van Volmoed het ’n draai hier kom maak en die koerant vir my saamgebring.”
“Werk?”
“Ja. Ek het dadelik gebel toe ek die advertensie hier in die koerant sien.”
Vicky laat gly haar blik vinnig oor die kleindrukadvertensie waar tant Ellie met haar vinger wys. “Wat beteken dit?” vra sy onbegrypend.
“Mevrou Maartens is haastig dat jy moet begin. Ek het vir haar gesê jy sal Maandagmiddag daar wees.”
“Begin met wat?” vra Vicky verbyster. “Praat tante van hierdie advertensie? Van die bejaarde vrou wat ’n geselskapsdame …”
“Dis net hy,” sê tant Ellie rustig. “Mevrou Maartens sê haar kinders bly ver en hulle wil nie hê sy moet langer so alleen bly nie, want sy’s al amper negentig jaar oud en haar hart is nie meer wat dit was nie. Sy soek iemand wat haar kan help as sy straks in die nag siek raak.”
“Dis nie vir my nie!” sê Vicky onthuts. “Sy soek ’n verpleegster.”
“Sy is nie siek nie. Dis net vir die wis en onwis. Sy soek eintlik net iemand wat haar eensaamheid sal verdryf.”
Vicky kyk weer na die advertensie, maar daar is net ’n telefoonnommer. “Waar bly sy?”
“In Plattekloof.”
“In die Kaap! Weet tante hoe ver is dit?”
“Wat daarvan? Wees dankbaar jy’t die werk gekry. Jy kan tog nie die res van jou lewe op mý nek lê nie.”
“O, is dít hoe die wind waai! Tante wil my so gou as moontlik hier weg hê omdat ek jou geld kos,” sê Vicky gebelg. “Nee, maar dan is dit reg so. Ek sal dadelik waai. Ek wil vir niemand op aarde ’n oorlas wees nie.”
Dog, toe sy die volgende oggend dorp toe wil ry om haar laaste spaargeldjies te gaan trek vir brandstof Kaap toe, blaas die bakkie net ’n paar swart rookdampe deur sy uitlaatstelsel voordat hy met ’n knalgeluid vrek. En verdomp of die masjien weer wil loop.
Tant Ellie kom later nadergestap van die stoep af. “Hou op om so te karring met die aansitter,” sê sy vir Vicky. “Netnoumaar is die battery ook pap.”
Vicky klim uit en klap vies die deur agter haar toe. “Wat nou? Hoe gaan ek hom by die garage kry?”
“Ken jy nie iemand wat hier na hom kan kom kyk nie?”
“Nee, almal kyk my mos deesdae met die nek aan. Ek is mos nou te arm en te eenvoudig om raakgesien te word.”
“Bitterheid en selfbejammering gaan jou nêrens bring nie. Bel vir Dawid. Hy sal kan sê wat die fout is.”
“Waar kom tante daaraan dat hy sal weet wat aangaan? Hy’s onnosel verby!”
“Waar kom jy daaraan dat hy onnosel is? Vir my lyk hy na ’n baie ordentlike, opgevoede man. En toe hy jou kom oplaai het vir fliek, het hy genoem dat dit ’n stokperdjie van hom is om in sy vrye tyd aan voertuie se masjinerie te werk. Toe, loop bel hom.”
Kwalik ’n uur later maak Dawid dan ook sy opwagting nadat Vicky hom teësinnig gebel het.
Maar dis nie lank nie, of hy klap die masjienkap toe om met iets soos bejammering na haar te kyk. “Jy kan hierdie bakkie maar afskryf. Hy’t bearings geslaan.”
“Wat beteken dit?”
“Dit beteken hy sal ’n nuwe enjin moet kry. Maar dis nie al nie. Sy bande is so glad soos seep, sy uitlaatstelsel is vol gate, en hy’s so geroes dat dit ’n nuwe bakkie se geld sal kos om hom weer op die pad te kry.”
“Nou wat gaan ek doen? Ek moet Maandag in die Kaap wees!”
“Wat moet jy daar gaan maak?”
“Ek gaan daar werk.”
“Vir altyd?”
“Hoe moet ek weet vir hoe lank ek daar gaan wees! Seker ten minste tot die prokureur eendag klaar is met die boedel.”