Rabbedoe se temmer. Elza Rademeyer
vermurwe.”
So, Wouter neem sommer aan sy het geen ander heenkome nie, dink Vicky. Jorsie laat hom boonop seker glo sy’s sommer agter ’n bos uitgeskop. Dog, eintlik is hy reg wat die heenkome betref. Want teruggaan na tant Ellie toe wil sy tog nie.
“Die man wat daar die blare hark, is Jimmy, ons tuinier,” onderbreek hy haar gedagtes. “Ek gaan hom roep om te kom help met die dra van die tasse.”
“Wat van my motor?” vra sy toe die tasse almal in die kamer is. “Moet ek hom nie uit die pad gaan trek nie? Hy staan dan reg voor die voordeur.”
“Gee die sleutel vir my. Ek sal hom in die garage agter die huis gaan trek. Dis leeg en niemand kom ooit daar nie.”
Toe hy ’n rukkie later terugkom met die sleutel, kyk hy op sy horlosie en klik spytig sy tong. “Ek het nooit besef dis al so laat nie. Daar gaan nie vir my tyd wees vir swem nie, want ek het oor vyftien minute ’n afspraak wat ek ongelukkig sal móét nakom. Tot my spyt, want ek sou veel eerder my tyd saam met jou wou deurbring. Ouma het ’n puik gedagte geopper toe sy gesê het ek moet mooi na jou kyk.”
Sy woorde en die manier waarop hy na haar kyk, laat Vicky bloos. Sy hoop maar haar stem klink normaal toe sy sê: “Ek is groot genoeg om na myself te kyk. Gaan doen wat jy moet doen. Ek sal solank uitpak.”
“As jy ledig raak, kan jy gaan swem, of met Ouma en die kinders gesels. Sien jou later. ”
Vicky wonder wat haar take in die huis nou regtig behels. Wat sy van kinders en ou mense weet … Maar kop uittrek kan sy nie, want waar moet sy dan heen?
Toe sy klaar uitgepak het, maak sy haar kamerdeur oop om na die kinders se speelkamer te gaan. Maar in die gang loop sy haar vas teen ’n vreemde man. ’n Donkerkopman met net so ’n lelike donkerraambril soos dié van Johny.
Daar plooi ’n yslike frons op sy voorkop toe hy vassteek en bars vra: “Wie is jy?”
“Ek is Vicky Webster, ouma Jennifer se nuwe oppasser. En jy? Werk jy ook hier?”
“Ek wóón hier, juffrou Webster. En u verwys seker na mevrou Uys. Dis soos sy deur die werknemers in hierdie huis aangespreek word.”
Vicky besef dadelik dit was ’n lelike blaps wat sy gemaak het toe sy sien hoe die man se amper pikswart oë staalsplinters deur die brilglase spoeg. Sy moes van beter geweet het as om te dink ’n huiswerker of tuinier sal dié tyd van die dag in ’n netjiese snyerspak in die huis rondloop.
“Jy moet Wouter se broer Pierre wees,” sê sy oorstuur. “Die een wat ’n middeljarige vrou wou aanstel om na ouma Jenni- … ek bedoel, na mevrou Uys om te sien.”
“Dis heeltemal korrek.”
“Wel, ek is nou hier. Wat staan my te doen?”
“Waar is Wouter?”
“Na ’n pêl toe.”
Hy werp ’n vinnige blik op die ooglopend duur horlosie aan sy arm. “Ek het nie tyd om te verkwis nie. Wouter was nie by magte om u aan te stel nie. Ons sal die aangeleentheid later bespreek.”
Vicky vergeet skoon sy was van plan om na die kinders te gaan toe die studeerkamer se deur agter hom toegaan. Sy vlug verskrik terug na haar kamer en druk die deur toe, om vir ’n wyle kortasem daarteen te leun. Wat bedoel hy dat Wouter nie by magte was om haar aan te stel nie? Beteken dit sy sal dadelik haar klere moet inpak en loop?
Toe haar skrik bedaar, gaan sit sy op die bed. Wouter het gesê sy mag hier bly, en bly sal sy bly. As sy ongepoetste broer haar hier wil weghê, sal hy ’n stootskraper moet huur om haar by die hek uit te stoot! Sy slaak ’n suggie toe sy ’n motor hoor en sien dis hy wat by die hek uitry. Dit sal haar kans gee om te dink wat haar te doen staan.
Miskien moet sy ’n strategie beplan wat sal maak dat hy haar nie durf wegjaag nie. Maar wat? Dalk … as sy haar onmisbaar maak. Ten minste is Wouter en tannie Miems klaar aan haar kant. Tannie Miems het duidelik laat blyk sy hou van haar. Seker nie dat dit veel sê nie, want dit wou voorkom asof die tannie ook maar ietwat lugtig is vir Pierre. Die kinders … as sy hulle ook aan haar kant kan kry. En Johanna. Nee, los maar vir Johanna. Dié nors vrou het klaar laat blyk sy sal nie te vinde wees vir vriendskap nie.
Hoe gouer sy die kinders se guns wen, hoe beter, besluit Vicky. Sy trek haar baaikostuum aan en loop by die deur uit om hulle saam te nooi swembad toe. Maar in die gang loop sy Johanna raak. En toe dié op ’n afkerige manier vra of meneer Pierre gesê het sy mag hier aanbly, vererg Vicky haar onmiddellik.
“Ja, hy het. Meer nog, hy’t gesê hy hoop ek kry nie gou trouplanne nie, want hy sal wil hê ek moet hier bly tot die perde horings kry.” Toe loop sy kop in die lug verby die vrou en gaan die kinders se speelkamer binne. “Wat doen julle? Kom saam, dan gaan swem ons.”
Hulle staar haar lank met verbaasde uitdrukkings op die gesiggies aan. Toe sê Bennie oplaas: “Ons mag nie swem nie. Oom Pierre sê ons sal verdrink.”
“Hoekom sê julle vir jul pa oom?” vra sy verbaas. Maar toe hulle haar net grootoog aanstaar en niks sê nie, vervolg sy: “Julle het tog seker swemklere, gaan trek dit gou aan. Julle hoef nie bang te wees julle sal verdrink nie. Ek kan baie goed swem, en ek het toe ek nog op skool was ’n kursus deurloop én seereddingswerk ook gedoen. Ek sal julle leer swem. Toe, kom saam, dit gaan lekker wees.”
Die kinders raak skoon baldadig toe hulle ’n rukkie later deur die hekkie van die swembadomheining stap. “Julle moet mooi na my luister,” sê Vicky toe hulle op die rand van die swembad kom. “Ek kan net een van julle op ’n keer leer. Bennie kan eerste saam met my in die water klim. Terwyl ek hom leer, moet jy mooi kyk wat ons doen en wat ek vir hom sê, hoor, Carla.”
Die meisietjie knik plegtig haar kop. “Ek sal mooi kyk.”
Vicky vind gou uit die twee kinders is gehoorsaam. En tot haar verwondering geniet sy dit om met hulle te verkeer. Hul onskuldige kinderlike opmerkings is soms so snaaks dat sy haar lag nie kan hou nie. Soos toe hulle haar tydens ’n ruspose vertel hoe juffrou Jones gelyk het. Soos hulle haar beskryf, wil dit vir Vicky voorkom asof sy net ’n besem gekort het om ’n heks te wees.
“En oom Wouter?” vra sy. “Hou julle van hom?”
“Ja,” sê Bennie. “Ek hou van hom.”
“Ek ook,” sê Carla. “Ek hou net nie van al die meisies wat hy hiernatoe bring nie.”
“Bring hy baie meisies hierheen?” vra Vicky nuuskierig.
Carla begin op haar vingertjies tel. Sy stop by vier. “Hulle swem en dan soen hy hulle.”
Dis nie wat Vicky graag wou hoor nie. “Hou julle van tannie Miems?” vis sy verder om nie die kinders te laat agterkom sy is teleurgesteld nie.
“Ja, baie. Tannie Miems gee ons partykeer lekkers en koekies en dinge.”
“En wat dink julle van tannie Johanna?”
Die gesiggies val. “Ek is bang vir haar,” bieg Carla.
“Ek ook,” sê Bennie. “En sy vertel alles wat ons doen. Dan kry ons raas.”
Vicky brand om hulle oor hul pa ook uit te vra, maar sy besluit daarteen. Netnoumaar gaan verklik hulle haar by hom. Dan het hy net nog meer rede om haar weg te jaag.
“Nou ja, kom, Carla. Dis nou weer jou beurt om te swem. En daarna gaan ons stort en aantrek.”
“Ons moet gou maak,” sê die dogtertjie toe hulle na ’n tydjie uit die swembad klim. “As ons laat is vir ete gaan ons raas kry.”
Die tyd het inderdaad aangestap, merk Vicky toe sy op haar horlosie kyk. “Nou toe, kom ons draf huis toe.”
Sy het dan ook net die kinders se hare en haar eie drooggeblaas toe die etensklokkie lui. “Gaan julle twee solank eetkamer toe,” sê sy. “Ek gaan gou vir ouma Jennifer haal.”
“Waar woon jy?” vra ouma Jennifer op pad na die eetkamer.