Rabbedoe se temmer. Elza Rademeyer
“Ek is Wouter Hoyt,” sê hy. “En mag ek vra wie jy is?”
“My naam is Vicky Webster.”
“Is jy familie van die Maartense, of net ’n vriendin?”
“Nie een van die twee nie,” sê Vicky, en maan haarself om nie te verdrink in sy mooi bruin kykers nie. “Ek het so pas hier gearriveer as geselskapsdame vir mevrou Maartens. Ek het nie geweet sy is intussen oorlede nie.”
“Waar woon jy?”
“Op Calitzdorp.”
“Gits, dis ver. Wat gaan jy nou doen?”
Sy lig haar skouers. “Ek weet nie. Seker maar terugry Calitzdorp toe.”
Hy kyk haar vir ’n wyle opsommend aan voordat hy wegdraai en op ’n stoel teenoor haar plaasneem. “Jy kan vir ons kom werk?” sê-vra hy dan.
Sy frons. “Wat bedoel jy daarmee?”
“Ek en my broer soek toevallig ook ’n oppasser vir ons ouma. Sy woon by ons in die huis, net so drie huise verder af in die straat.”
“Is jul ouma siek?”
“Nee. Eintlik is sy blakend gesond. Haar verstand is net nie meer wat dit moet wees nie. Ons het ’n oppasser gehad, maar dié het verlede week bedank.”
“Waar is jul ouers dan? Kan julle ma nie na haar omsien nie?”
“Ons ouers is oorlede. Tans pas ek ouma Jennifer op, maar dis nie ’n man se werk nie. Ek gaan in elk geval ná die vakansie terug universiteit toe, dus moet ons dringend ’n oppasser kry.”
“Is jou ouma gevaarlik? Ek bedoel, moet ’n mens versigtig wees vir haar?” vra sy lugtig, en voel hoe haar hart bolmakiesie slaan toe hy lag.
“Nee, nie in die minste nie. Volgens die dokters is dit maar die gewone kindsheid wat sommige ouer persone opdoen as gevolg van verkalkte are. My broer het ’n advertensie in die koerant geplaas, maar tot dusver het ons nog geen reaksie daarop ontvang nie. So hoe lyk dit, stel jy belang? Ons sal jou goed betaal.” Toe noem hy ’n bedrag wat haar oë laat rek.
“Jy kom darem nou skielik op my af.”
“Ek sal jou sê wat: ek gaan stel jou voor aan my ouma, dan kan jy besluit of jy kans sien vir die werk.”
“Goed dan,” stem sy in. “Miskien is dit ’n uitkoms vir my.”
Voordat hulle verder kan gesels, kom Sarita die vertrek binne. “Sal julle tee drink?” wil sy weet.
Toe Wouter haar aanbod van die hand wys, volg Vicky sy voorbeeld, al is sy so dors dat dit voel asof haar tong aan haar verhemelte vaskleef. Hulle verlaat dus saam die huis, en toe Wouter wil weet hoe sy daar gekom het, beduie Vicky skaam na Jorsie wat in die straat staan. “Ek het met daardie motor gekom.”
“Ons huis is so naby, ek het sommer gestap,” sê hy. “Kom, volg jy my maar net met die motor.”
Vicky se bewonderende aandag is só op Wouter toegespits waar hy flink met die sypaadjie langs stap dat sy twee keer amper teen die randsteen vasry. Maar toe sy deur die veiligheidshek van sy woonplek ry, vergeet sy vir ’n wyle van die aantreklike man om die plek in oënskou te neem. ’n Massiewe drieverdiepinghuis, lowergroen grasperke, kleurryke randakkers en oeroue bome wat jou lok om in hul skaduwee skuilte te soek teen die versengende strale van die son. Voorwaar ’n lushof! Hier sal sy maklik kan nesskop.
Net toe hulle die sitkamer binnegaan, lui Wouter se selfoon. Toe hy begin praat, gaan staan Vicky solank voor een van die skilderye, maar sy kan nie anders as om te hoor wat hy sê nie. Blykbaar praat hy met iemand wat hy goed ken.
Die volgende oomblik hoor sy hom sê: “Ek het ’n oplossing gekry vir ons probleem met ouma Jennifer.” Hy luister ’n rukkie en sê dan: “Nee, dis nie iemand wat op die advertensie gereageer het nie. Hierdie meisie sou vir mevrou Maartens kom werk het, maar soos jy weet …” Stilte. “Nee, sy is nie middeljarig nie, maar sy is baie bekwaam.” Weer ’n rukkie stilte. En toe sê Wouter vererg: “Luister, ek gaan nie ’n dag langer na Ouma kyk nie! Dis nie ’n man se werk nie. Tot siens.”
En sommerso in dieselfde asem: “Kom, Vicky. Ouma Jennifer se kamer is op die tweede vloer.”
“Ek neem aan jy het met jou broer gepraat?”
“Ja.”
“Dit wou voorkom of hy nie ingenome is daarmee dat jy iemand wil aanstel om jul ouma op te pas nie?”
Die ergerlike uitdrukking op sy gesig verdwyn. “Ag, Pierre is net vol draadwerk, maar ek steur my nie aan hom nie.”
“Is hy by die werk?”
“Ja. Hy’t ons pa se sakebelange op sy skouers geneem ná ons ouers se dood. Hy sit heeldag lekker daar in sy luukse kantoor terwyl ek agter Ouma en die kinders moet aanhardloop.”
Vicky steek vas. “Kinders?”
“Die tweeling, ja. Hulle is ses jaar oud en gaan volgende jaar skool toe.”
“Hoe lank terug is dit dat jul ouers oorlede is?”
“Ongeveer twee jaar gelede.”
“Sies tog,” kry Vicky die tweeling dadelik jammer. “Dit moet erg wees om so sonder ouers groot te word. Het jy nog broers of susters, behalwe die tweeling en jou broer?”
“Die tweeling is nie familie van my nie. Ek en Pierre was ons ouers se enigste kinders. Dis oor hy die oudste is dat hy hom verbeel hy kan oor my baasspeel. En die vroumens met wie hy uitgaan, is nog erger. Sy’t niks tyd vir die tweeling nie, maar Pierre is so mal verlief op haar dat hy te onnosel is om agter te kom sy soek net ’n man met geld.”
So, dan is die tweeling Pierre se kinders, lei Vicky af. Sy vrou is dan seker dood. Of dalk is hy geskei en het hy toesig oor die kinders gekry. Sy kry egter nie tyd om Wouter verder uit te vra nie, want hy steek voor ’n deur vas en klop daaraan.
“Dis ouma Jennifer se kamer,” sê hy toe iemand binne antwoord. “Jou kamer sal die een net hier langsaan wees, en die vertrek agter ons is Pierre se studeerkamer.”
Presies wat sy te wagte was, weet Vicky nie. Dalk ’n ineengekrimpte, maer ou vroutjie met tranerige ogies. Maar allesbehalwe! Hoewel die goed versorgde vrou wat op ’n stoel langs die bed sit nie meer te jonk is nie, lyk sy op en wakker. En só belangstellend toe Wouter hulle aan mekaar voorstel dat Vicky wonder of daar regtig iets met die ouer vrou se verstand skort.
“Vicky … Die naam pas by jou,” sê sy dan ook vriendelik. “Ek is bly Wouter het oplaas ’n meisie soos jy raakgeloop. Jy moet mooi kyk na haar, Wouter.”
“Ouma het dit mis,” sê Wouter laggend. “Vicky is nie my meisie nie. Sy gaan Ouma se oppasser wees.”
“Oppasser! Ek het mos nie ’n oppasser nodig nie.”
“Ek bedoel sy gaan Ouma help met die dinge wat juffrou Jones altyd gedoen het. Ouma se pille gee, en Ouma se hare en –”
“Juffrou Jones … wie is dit?”
“Die vrou wat hier was, wat –”
“Ek ken nie so iemand nie,” val ouma Jennifer hom in die rede.
“Ag, Ouma het seker maar net ’n bietjie vergeet van haar.”
“Waar is Makkie?” wil ouma Jennifer dan weet. “Sy was netnou hier, maar ek weet nie wat van haar geword het nie.”
“Toe maar, sy sal later terugkom,” sê Wouter. “Ons groet eers, Ouma.”
Hy neem Vicky aan die arm om haar by die deur uit te stuur. “Sien jy nou hoe deurmekaar is ouma Jennifer se kop? Dit help nie ek sê vir haar jy is nie my meisie nie, sy glo net wat sy wil. En die Makkie van wie sy praat, is ’n vriendin wat haar so af en toe kom besoek. Maar tannie Makkie kuier by haar kinders in Bloemfontein en was drie maande laas hier.”