Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
staan in die kombuisdeur toe Celèste omdraai.
“Het jy hom ook gesien?” wil Celèste weet. Sy bly wonder oor die laaste dragonder wat op so ’n vreemde manier vertrek het.
“Ek weet van hom … Hy sal nie praat nie. Hy is ons monsieur De Bordeaux goedgesind.”
Celèste kyk verslae na Jeanne. “En ek het die hele tyd gedink dat jy van niks weet nie.”
Jeanne beduie aan Celèste om in te kom en dan druk sy die deur agter haar toe.
“Ek weet niks … net wat vanaand hier gebeur het.”
Celèste haal diep asem en sê: “Wel, dis ’n seën. Ek het die leersak waarna almal soek, in my besit en ek was op pad om dit te gaan haal om dit aan die graaf te gee toe die dragonders opdaag. Nou kan ek dit nie meer aan hom terugbesorg nie.”
Jeanne frons liggies. “En hoe dink jy moet ék dit doen? Dit is tog wat jy van my wou vra, nie waar nie?”
“Oui …”
Jeanne skud haar kop heftig. “Ek kan raai wat daar tussen jou en die graaf gebeur het, maar ek dink jy moet nou daarvan vergeet. Hy het jou nou hier nodig, al kan hy dit nie aan jou sê nie. Ons twee sal die fort moet hou en kyk of ons iets kan red.” Sy kyk ondersoekend na Celèste. “Is jy bereid om my te vertel wat jy weet?”
Celèste gaan onseker sit. ’n Lang ruk sit sy swyend voor haar en staar en eindelik kyk sy op.
“Ek sal jou alles vertel … ek dink ek kan jou vertrou, Jeanne.”
’n Uur later ken Jeanne die hele verhaal.
Jeanne sit ’n lang ruk stil en sê dan eindelik: “Die graaf De Bordeaux sal weer met ons kontak maak … daarvan is ek doodseker. Die leersak is nog hier en ons is die enigste mense wat hom sal kan inlig wanneer monsieur Le Blanc arriveer.” Sy kyk na Celèste. “Jy sal die boodskapper moet wees. Ek is gans te oud om op die rug van ’n perd te jakker.”
“Miskien kan ons Ernest in ons vertroue neem.” Celèste is nie baie lus vir die rol wat Jeanne vir haar uitgesoek het nie. Sy sal dalk glad nie vriendelik ontvang word deur die graaf nie.
“Moet nou nie dom wees nie,” sê Jeanne vies. “Monsieur Tredoux is ook op die een of ander manier hierby betrokke. Ernest het baie lank vir hom gewerk. Moet dit nie vergeet nie. Waar dink jy sal Ernest se lojaliteit lê – by sy nuwe, voortvlugtende baas of by sy vorige werkgewer teen wie hy nie werklik iets het nie?”
Celèste sug liggies. “Nou moet ons maar seker wag totdat ons van die graaf hoor, of hoe?”
“Ons moet net ’n bietjie geduld gebruik,” beaam Jeanne. “Hy sal nie te lank talm om met ons kontak te maak nie.”
Toe Celèste daardie aand eindelik bed toe gaan, is sy te moeg om verder te dink. Sy probeer om van alles te vergeet, maar telkens sien sy De Bordeaux soos hy in die flou maanskyn op die rug van sy perd gesit en na haar gekyk het. Hy wou nie nader kom nie, dink sy, omdat hy van die dragonder geweet het. Sou hy dalk nie geweet het dat die onbekende dragonder hom goedgesind is nie?
Die vrae put haar uit, omdat sy geen antwoorde ken nie.
Jeanne, Celèste en Ernest hoef nie lank te wag vir die volgende verwikkeling nie. Twee dae later kom ’n hele paar rytuie na die herehuis aangery. Hulle is swaar gelaai en die perde trek moeilik in die harnasse.
Die twee vroue staar die optog onbegrypend aan. Hulle het geen benul van wat aan die gang is nie. Niemand kom na hulle om te verduidelik nie. Hulle kan maar net kyk en wonder wat hulle te doen staan.
“Dis die De la Roques!” roep Celèste skielik uit en beduie na twee ruiters wat langs die optog ry. “Kyk daar! Hulle kom sowaar sak en pak hierheen!”
Jeanne ruk orent. “Ek gaan die huis sluit! Hier kom hulle sowaar nie in nie! Ek gaan nie een van daardie twee lummels bedien nie! Ek is monsieur De Bordeaux se huishoudster en ek wil niks met dié spul te make hê nie!”
Sy draai om om vinnig die huis in te stap, maar Celèste keer haar.
“Wag ’n bietjie, Jeanne!”
Jeanne steek vas. “Jy kan my liewer kom help sluit as om hier te staan en klets!”
Celèste skud haar kop stadig. “Nee, ons gaan hulle toelaat om hulle intrek te neem en ons gaan hulle bedien soos wat ons die graaf De Bordeaux bedien het.” Sy hou haar hand omhoog toe Jeanne weer wil protesteer. “Wag nou! Laat my net toe om klaar te praat. Dit gaan tog ’n gulde geleentheid wees om uit te vind wat die twee De la Roques in die mou voer, of hoe? As ons die huis gaan sluit, gaan ons tog maar net weggejaag word en dan weet ons nie wat hier aangaan nie.”
Jeanne aarsel. “Ek hou niks van die gedagte om hulle te bedien nie.”
“Ek ook nie, maar ons kan dit maar ’n rukkie verduur. Binnekort behoort monsieur Le Blanc hier in die Kaap te wees. Toe, Jeanne, ons hou net twee weke lank uit … ter wille van monsieur De Bordeaux …”
Die rytuig is nou baie naby die huis. Dis nog net ’n kwessie van minute voordat hulle voor die deur stilhou.
“Nou goed,” sê Jeanne eindelik hees, terwyl haar oë soos stukkies ys is. “Hulle kan kom …”
Louis de la Roque en sy seun, Emile, hou hulle perde voor die opstal in. Emile beduie aan die drywers van die rytuie om nader te kom terwyl sy pa die twee vroue ietwat geamuseerd betrag.
“Ek sien julle is nog hier. Dis goed. ’n Man hou daarvan om alles in sy huis in orde te hê.”
Jeanne maak haar mond oop om iets te sê, maar bedink haar dan.
“Oui, monsieur …” sê sy net.
Louis kyk na Celèste. “Ek verwag dieselfde behandeling wat julle aan my neef gegee het. Ek is nou die graaf De Bordeaux en julle sal dieselfde respek aan my betoon as wat julle aan hom betoon het.”
Celèste byt op haar tande. “Monsieur Armand de Bordeaux is nog nie dood nie, monsieur.”
Net ’n sekonde lank is daar ’n koue woede in De la Roque se oë, maar dan haal hy sy skouers op.
“Dit sal nie lank neem nie. Die dragonders het hom vroeg vanoggend vasgekeer. Teen hierdie tyd sal hy al by die Kasteel wees en oor minder as ’n week sal die doodvonnis voltrek word. Julle kan maar net sowel nou al daaraan gewoond raak om my ‘monsieur le comte’ te noem.” Sy blik verskuif van Celèste na Jeanne. “Ek verwag algehele gehoorsaamheid. Goeie werkers word betaal. Swak werkers word afgedank. Is dit duidelik?”
“Oui, monsieur,” sê Celèste en wonder wat van haar en Jeanne gaan word.
“Julle sal elke dag aan diens wees vanaf vyfuur soggens tot tienuur saans. Een maal per maand sal julle ’n oggend na die Kaap mag gaan, maar dis al vryheid wat julle gegun word. Ek hou van stiptelikheid en ’n vaste roetine.” Hy glimlag, maar dis ’n koue glimlag sonder enige vriendelikheid. “Julle sal wel mettertyd daaraan gewoond raak. Ek glo nie julle het enige ander keuse nie.”
Hy stap by hulle verby die huis in. Emile steek voor Celèste vas, bekyk haar openlik, glimlag op ’n manier wat haar koue rillings gee en volg dan sy vader.
Jeanne kyk na Celèste. “Ons moes die huis liewer gesluit het,” sê sy half uitasem.
“Net twee weke, Jeanne. Ek glo nie die dragonders het monsieur le comte al gevang nie. Monsieur De la Roque het ’n raaiskoot gewaag. Hy was immers die hele nag op die pad. Hoe kan hy weet?”
“Tog …”
“Kom, ons moet ingaan. Hou net jou oë en ore oop. Enige klein brokkie nuus mag help.”
Skielik het die huis sy warmte en rustige atmosfeer vir die twee vroue verloor. Dit voel nou asof hulle in ’n tronk opgesluit is – ’n koue tronk sonder deure waardeur hulle sou kon wegvlug.
De la Roque laat baie gou sy gesag geld. Dit verskaf hom blykbaar eindelose genot om