Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
hard. Sy het nie gedink dat hulle die tuin ook sou deursoek nie. As hulle die leersak nie kry nie, en dit sal ’n wonderwerk wees, sal hulle nogtans aanhou met soek omdat Louis de la Roque klaarblyklik vas glo dat dit hier op La Montagne moet wees.
Sy sien Ernest die bos deursoek waar sy die leersak ingeslinger het. As hy dit nou maar net nie in die donker raaksien nie, bid sy woordeloos, dan kan sy dit nog gaan haal wanneer sy vannag ontsnap.
Ernest gee skielik ’n uitroep en Celèste se laaste hoop verdwyn. Sy sal die dokumente sonder die tas aan monsieur Le Blanc moet gee. Sal hy dit so aanvaar?
Sy staan en wag totdat die twee mans met die leersak by die huis in verdwyn. Nou is dit net ’n kwessie van minute voordat hulle sal weet dat die sak leeg is en dan sal hulle haar daarmee konfronteer. Hierdie keer sal sy hulle beslis nie van haar onskuld kan oortuig nie.
Sy bind die geknoopte tou aan die katelpoot vas en lig haar een been oor die vensterbank. As die tou net ’n paar minute lank hou, het sy nog ’n kans om onbeseer te ontsnap, dink sy bekommerd. As dit net nie breek terwyl sy nog hoog naby die venster is nie.
Onseker en skrikkerig vat sy die gerafelde tou in haar hande en hang versigtig daaraan. Die tou hou, hoewel sy dit nie vertrou nie. Daar is nie nog tyd om versigtig te wees nie. Die De la Roques en Ernest kan elke oomblik by die kamer inkom en dan sal sy nie meer kan ontsnap nie.
Sy kom al nader aan die grond. Die tou skuur haar hande vol blase, maar ook dit is nou van geen belang nie. Dan hoor sy iemand daar bo in haar kamer uitroep. Sonder om te dink, laat sy die tou los en val die laaste twaalf voet. Sy beland tussen die lae bossies, maar dit is veels te yl om haar te verberg en sy skarrel al hinkende na die naaste digte bos, net toe Emile de la Roque oor die vensterbank van die solderkamer leun en na buite uitkyk.
“Sy kan nie te ver wees nie!” skreeu hy en verdwyn weer na binne.
Celèste se hart stamp teen haar ribbes toe sy die soom van haar tabberd oplig en oor die grasperk nael na die oorkantste bosse waardeur sy vinniger sal kan beweeg. So in die hardloop ruk sy die wit kappie van haar kop af en toe sy die beskutting van die bosse bereik, maak sy haar wit voorskoot los en druk dit onder ’n bos in voordat sy verder vlug.
Agter haar hoor sy mense roep. Sy herken Ernest se diep stem en ook dié van Louis de la Roque. Hulle stemme raak dowwer en met groot verligting besef sy dat hulle die teenoorgestelde koers ingeslaan het. Dit sal hulle nie lank neem om hulle fout agter te kom nie, maar teen daardie tyd sal sy al ’n goeie voorsprong hê.
Sy hardloop ’n lang ruk onvermoeid en dan begin haar asem jaag. Niemand het haar intussen begin volg nie, maar sy het ook nie eintlik ’n benul waar sy haar bevind nie. Toe sy weer teen ’n skuinste uit sukkel, ruk sy in haar spore tot stilstand. Hier reg voor haar is die opstal van die Tredouxs en dit is die laaste plek waar sy nou wil wees.
Terwyl sy nog staan en talm om haar asem terug te kry, begin hulle twee honde woedend blaf en aan hulle kettings rem. Verskrik oor die lawaai wat die honde opskop, draai sy vinnig om en hardloop skuins weg van die opstal.
Sy het nie ’n spesifieke skuilplek in gedagte nie. Dis iets waaraan sy môre kan dink. Nou is dit net vir haar belangrik om nie deur die De la Roques gevang te word nie.
Celèste se pas begin verslap. Sy kan nie meer so vinnig hardloop nie. As sy net geweet het waar haar agtervolgers is, sou dit dinge vir haar makliker gemaak het, maar nou het sy geen benul hoe ver hulle agter haar is nie.
Skielik struikel sy en val. Hygend bly sy daar lê en wens dat sy iewers ’n slukkie water kon kry, maar sy het nog geen spruit teëgekom nie. Dan ruk sy orent. Iewers links van haar, effens na agter, het sy ’n tak hoor kraak. Sy spits haar ore om beter te hoor en dan kan sy duidelik swaar voetstappe uitmaak.
Sou dit dalk die De la Roques wees? wonder Celèste paniekerig en spring op. Hulle het haar baie vinniger ingehaal as wat sy gedink het. Die Tredouxs se honde se geblaf moes aangedui het in watter rigting sy vlug.
Sy probeer sagter voortbeweeg, maar elke blaar wat onder haar voete kraak, klink vir haar soos ’n geweerskoot. Angs gee haar voete vlerke en hoewel sy daarop konsentreer om sagter te beweeg, het sy weer die krag van iewers vandaan gehaal om vinniger te hardloop.
Agter haar versnel haar agtervolger ook sy pas.
Plotseling is daar ’n oop ruimte voor haar. Sy steek op die rand van die bosse vas. As sy oor dié stuk omgeploegde land hardloop, gaan sy haarself verraai. Dus draai sy skerp na links en begin al met die soom van die bosse hardloop.
Ver voor swenk sy weer links, maar bly nog in die skaduwees van die bome. Dan knak haar knieë onder haar en val sy vooroor in die droë herfsgras. Haar hele lyf ruk van vermoeienis. Sy kan nog net voortstrompel. Van hardloop is daar nie meer sprake nie. Sy probeer orent kom, maar sak weer op haar knieë neer.
Toe hoor sy die voetstappe nader kom en sy probeer haar asem ophou sodat sy nie haarself verraai nie. Die voetstappe kom tot stilstand, die persoon trap dié kant toe, dan daardie kant toe, en dan kom dit weer stadig, versigtig en doelgerig nader.
Plotseling verskyn Emile de la Roque hier by haar in die flou maanlig. Hy grinnik breed toe hy die verskrikte meisie op die gras sien sit.
“Het jy gedink jy kan weghardloop?” vra hy en ruk haar hardhandig orent. “Jy het nog ’n paar verduidelikings om te maak, liefie, en ek is nie iemand wat maklik tou opgooi nie.”
Celèste antwoord nie. Daar is immers niks wat sy kan sê nie. Sy kyk wild om haar rond vir ’n wegkomkans, maar daar is niks … net die geploegde land en die bosse om hulle.
Sy probeer uit Emile se greep loskom. “Los my uit!” sis sy. “Ek weet nie waar die sak is nie!”
“Natuurlik weet jy! Jy het dit daar tussen die bosse ingegooi!” Sy kraalogies skitter gevaarlik. “Maar wat het jy met die inhoud gedoen?”
Sy gluur hom ’n oomblik lank aan en probeer weer losruk, maar hy vat haar net vaster. Dan slaan sy haar tande in sy voorarm.
Hy uiter ’n kreet van pyn en laat haar baie vinnig los.
Celèste tel weer die soom van haar tabberd op en begin hardloop. Hy sit haar met ’n geswets agterna, maar sy bly soos ’n rats wildsbokkie net buite sy bereik.
Terwyl sy spook om van hom af weg te kom, wonder sy wat haar te doen staan. Sy kan dit nie waag om gevang te word met die dokumente by haar nie. Dan sal hy haar sekerlik doodmaak. Op die een of ander manier moet sy daarvan ontslae raak, maar hoe? Met hom so kort op haar hakke is daar net geen manier hoe sy dit kan doen sonder dat hy haar sien nie.
In die hardloop maak sy die speld los waarmee sy die dokumente aan haar tabberd vasgesteek het en haal die papiere uit. Nou hou sy dit in haar hand. Sy het ’n plan, maar dis baie gewaagd. Tog is daar niks anders wat sy kan doen nie. Hy sal haar wel vang, dit maak nie saak hoe hard sy van hom af probeer wegkom nie. Die een of ander tyd gaan hy haar inhaal. Sy gaan dit vir hom ’n bietjie makliker maak, maar só sal sy ook van die dokumente ontslae kan raak sonder dat hy onraad vermoed.
’n Ent vorentoe besluit sy dat dit die mees geskikte plek vir haar waaghalsige plan is. Asof in antwoord op haar gebede, skuif die maan op daardie oomblik agter ’n wolk in en word sy en Emile in stikduisternis gehul. Blindweg hardloop sy vorentoe, struikel oor ’n boomwortel en val tussen die gras in. Sy rol eenkant toe weg en met bewende hande stoot sy die dokumente onder die blarekombers op die grond in.
Emile vloek hardop toe hy haar hier voor hom in die duisternis sien verdwyn. Hy probeer sien waarheen sy verdwyn het, maar dis skielik alles doodstil.
Celèste gebruik die paar sekondes terwyl Emile na haar soek om droë takkies teen die naaste boomstam op te stapel sodat sy die plek weer sal kan vind. Toe sy tevrede is dat sy die boom sal herken, begin sy weer vlug.
De la Roque sit haar agterna terwyl hy brul van woede en frustrasie. Nie baie ver van die boom waar Celèste gestruikel het nie, kry hy haar van agter beet en trek haar op die gras neer. Hy draai haar arms amper uit potjie toe hy hulle agter haar rug vasvat.
“Jy probeer slim wees, maar dit