Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
praat baie min. Hy kyk net na Celèste asof hy dwarsdeur haar wil kyk, asof hy elke dingetjie kan raai wat sy dink, asof hy wéét wat sy dink. Dis senutergend en sy probeer hom sover moontlik vermy.
Die vierde nag nadat die De la Roques hulle intrek op La Montagne geneem het, gaan Celèste eers teen twaalfuur uitgeput na haar kamer. Sy gaan lê sommerso skuins oor die bed sonder om eers te verklee. Vier dae lank het sy geswoeg en gesweet terwyl daar voortdurend op haar geskel word en Emile haar skaamteloos bekyk. Sy begin wonder of sy dit ooit twee weke lank sal kan uithou. Sonder enige vryheid het sy en Jeanne ook nie veel geleentheid om spioeneerwerk te doen nie.
Die graaf De Bordeaux het nog niks van hom laat weet nie. Voorheen sou sy haar gevoelens probeer onderdruk het, maar nie vannag nie. Sy verlang na hom, na sy glimlag en sy teenwoordigheid. Sy wens hy was hier om haar raad te gee. Sy voel heeltemal verlore en weet nie herwaarts of derwaarts nie. Hoe gaan sy ooit weet wanneer monsieur Le Blanc in die Kaap aankom as sy die huis nie eens mag verlaat nie?
Die deur word skielik oopgemaak en sy ruk verskrik om. Haar keel trek toe as sy ’n effens besope Emile voor haar sien staan. Sy durf niks sê nie – daar is te veel op die spel. Moet sy dan bereid wees om énigiets te doen? Sou Armand de Bordeaux dan soveel van haar verwag?
Sy kom stadig orent en wag dat hy iets moet sê.
“Ek soek geselskap,” sê Emile met ’n grinnik en kom stadig die kamer binne.
In haar onsekerheid en angs onthou Celèste die sak onder die vensterbank en sy verbleek effens. Wat gaan sy doen as hy dit per ongeluk ontdek soos wat die dragonder gedoen het? Dan is alles verby … dit het te gevaarlik geword om die sak hier in haar kamer te hou.
“Dis al baie laat, monsieur,” sê Celèste met ’n bewende stem.
“En wat daarvan? Ek kan nie slaap nie en jy is die enigste een met wie ek nou wil gesels.”
Celèste se hart bons in haar keel. Sy gaan baie moeilik van hom ontslae raak.
“Daar lê vir my ’n moeilike dag voor, monsieur.”
“Julle is gewoond aan harde werk,” kap hy teë. “Dis mos nie vir julle vreemd nie.”
Celèste antwoord nie. Sy kyk vol afkeer na hom toe hy homself op die bed uitstrek. Hy beduie na die plek langs hom.
“Kom sit hier … ek wil gesels.”
Die meisie aarsel nog. Sy weet glad nie wat Emile beplan nie en as sy haarself te veel teësit, mag hy haar dalk van La Montagne af verjaag. Dan sal sy De Bordeaux glad nie kan help nie.
Sy gaan op die rand van die bed sit en wag dat hy moet praat.
“Waar is die leersak wat jou vorige werkgewer gehad het?” vra hy skielik en sy wip soos sy skrik.
“Ek weet nie waarvan u praat nie, monsieur,” antwoord sy hees.
Hy sit regop en kyk haar stip in die oë. “O ja, jy weet … ek het gesien hoe jy skrik toe ek jou onkant met my vraag betrap. Ek moet daardie leersak hê, is dit duidelik? Jy sal nie ’n voet uit hierdie huis sit voordat ek die leersak het nie.”
“Ek het geen benul waar dit is nie, monsieur,” probeer Celèste hom van haar onskuld oortuig. “Ek weet van die sak, maar ek weet nie waar dit is nie.”
Hy staan op en gaan leun by die venster uit soos die dragonder gedoen het. Die vensterbankplank lig, maar verskuif nie. Dan draai hy weer om na haar.
“Ek sal die leersak vind en dan sal jy spyt wees dat jy dit nie self aan my gegee het nie.” Hy trek sy oë op skrefies toe hy na haar kyk. “Jy weet baie meer as wat jy wil erken, mademoiselle. Dit sal beter vir jou wees as jy eerlik met my is. Ek is nie ’n man wat baie duld soos my vader nie. Hy is heeltemal te sag met diegene wat hom in die rug probeer steek.”
Celèste verberg met moeite haar verontwaardiging. Wat het haar monsieur De Bordeaux teenoor De la Roque gesondig dat die vent die vermetelheid het om sommer alles te kom vat? Die graaf het niemand nog ooit enige skade berokken nie. Sy swyg egter wyslik. Dit sal beter wees as sy nie in ’n konfrontasie met hierdie glibberige man betrokke raak nie. Sy moet probeer om so lank moontlik hier uit te hou.
“Ek weet niks, monsieur, eerlik …” antwoord sy met ’n ligte bewing in haar stem. “Monsieur De Bordeaux het ons nooit iets omtrent sy sake vertel nie.”
“Hy moes die sak aan iemand gegee het. Hy het dit nie by hom gehad toe hy gevlug het nie.” Hy glimlag effens toe hy haar verbasing merk. “Twee mans wat ek gehuur het, het hom gevang. Hy het niks by hom gehad nie. Hy het hulle nou wel lelik verniel toe hy hulle oorrompel het, maar die belangrikste is dat ek nou weet dat die sak nog hier iewers moet wees.”
Sy kyk half skuins na hom. “Hoekom is dit dan vir u só belangrik, monsieur? U het mos nou die besittings van die graaf De Bordeaux … ek bedoel, u sal dit hê wanneer u vader die dag te sterwe kom. Dis tog waaroor dit gaan, dan nie?”
Hy grinnik. “Dis nie die hele storie nie, mademoiselle, maar jy hoef natuurlik ook nie die hele storie te ken nie. Daardie sak is net vir my van die allergrootste belang, dis al.”
Celèste antwoord hom nie. Dit is genoeg rede om te sorg dat dit glad nie in Emile de la Roque se hande beland nie, dink sy grimmig. Hy kan soek totdat hy dood neerslaan, maar sy sal sorg dat die sak nie ontdek word voordat monsieur Le Blanc kom nie … en Le Blanc is ’n afperser. Hoe is dit moontlik dat beskaafde mense mekaar só in die rug kan steek?
“Miskien het die graaf dit aan monsieur Tredoux gegee,” stel sy voor net om uit te vind hoeveel hierdie man weet.
Hy kyk fronsend na haar. “Hy sou nie.”
“Hoekom nie?” Celèste veins verbasing. “Hy en mademoiselle Madeleine sou tog verloof geraak het.”
“Miskien, maar hy sou dit nooit aan Tredoux gegee het nie. Hy sou nie só dom wees nie.”
Celèste brand van nuuskierigheid, maar sy weet dat sy haar saak net skade kan berokken as sy hom verder uitvra. Volgens hom het alles tog niks met haar te make nie.
Hy stap skielik na die deur en kyk terug na haar.
“Goed, ek sal jou nou los, want dit is reeds baie laat, maar môre sal ons weer praat.”
Dan maak hy die deur agter hom toe en Celèste blaas stadig asem uit.
Wat van die sak? dink sy paniekerig. Wat moet sy daarmee doen? Sy kan dit nie aan Jeanne gee nie. By haar sal dit ook nie veilig wees nie. Nee, sy sal self ’n goeie wegsteekplek moet vind … dis al uitweg.
Dit sal die beste wees as sy dit op ’n ander plek as in haar kamer versteek, besluit Celèste. Sy wag ’n ruk en toe sy niks buite in die gang hoor nie, maak sy haar kamerdeur versigtig oop. Sy kyk op en af in die gang, maar gewaar niks. Daar is ook nie lig in Jeanne se kamer nie. Monsieur De la Roque het dus teruggegaan na sy eie slaapkamer.
Net toe sy die deur weer wil toemaak, sien sy die klein, blink voorwerp onder die gordyn by die venster aan die onderpunt van die gang. Sy frons liggies en wil net haar kamer verlaat om te gaan ondersoek instel, toe sy verstyf. Dit het effens beweeg en nadat sy dit ’n paar sekondes lank stip bekyk het, sien sy dat dit die gespe van ’n manskoen is.
Celèste word yskoud. Wie sou dit wees wat daar agter die gordyn skuil? Dit kan net Emile de la Roque wees wat wag dat sy iets in die mou moet voer.
Haar hart bons teen haar ribbes toe sy die deur weer saggies toedruk. So amper het sy in sy slinkse strik getrap. Sy sou doodluiters met die kosbare leersak in die gang afgestap het en hy sou haar daar uit die duisternis bespring het. Dan sou sy die leersak verloor en monsieur De Bordeaux in die steek gelaat het.
Teen die tyd dat Celèste moet opstaan vir haar dagtaak, het sy nog geen oog toegemaak nie en is sy ook nie nader aan ’n oplossing vir haar probleem nie.
Twee dae later, op ’n Saterdagoggend, kom daar kuiergaste na La Montagne. Jacques en Madeleine Tredoux lyk onseker toe hulle uit die rytuig klim en na die voordeur stap.
Celèste