Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
het haar kop opgeruk. “Nie erger as jy en hierdie hele klub nie.”
Die ander se handpalm het hard teen Zia se wang geklap, en Mevrou het haar ware aard getoon: “Jou slet! Hoe durf jy so met my praat? Jy het hierdie pes op straat opgetel en nou wil jy …”
“Nee. Hierdie … pes het ek by een van jou invloedryke klante opgetel. Ek was nog nooit weer straat toe sedert ek een van jou meisies geword het nie. Dit wat ek het, het ek by een van die welgestelde here met die duur motors en die dik tjekboeke opgetel. By een van jou blink varke.”
Sy het opgestaan, die ouer vrou vas in die oë gekyk.
Mevrou het onder die swaar grimering verbleek; haar stemtoon het skielik ’n lae, skor noot bygekry: “Wat makeer jou?”
“Ek het vigs.” Daar was ’n skerp intrek van die asem. Zia het haar handsak van die lessenaar opgetel. “Nag, Mevrou. Ons sal mekaar weer sien … al is dit ook in die hel! Maar ons sal mekaar weer eendag ontmoet!”
Sy het woonstel toe gegaan en geweet sy sal daardie nag nie op haar eie kan deurworstel nie. Haar hande het onbedaarlik gebewe terwyl sy die spuitnaald volgetrek en na die aar gesoek het. Hortende snikke het deur haar lippe gebars toe sy dit eindelik gevind het. Met haar eie gekerm in haar ore het sy met ’n vertrekte gesig die dwelmstof in ’n aar gespuit. Toe het die naald uit haar hand gegly en haar liggaam en gemartelde gemoed tydelik rus gevind.
Laat die middag het sy eers weer bygekom. Die ure daarna was louter hel. Sy was sonder werk en inkomste. Sy sal haar woonstel moet opgee, padgee. Waarheen? Terug strate toe, na die hawe of ’n vuil agterstraatkamertjie? Sy weet sy sal nie eens meer aftrek in ’n nagklub kry nie. Sy is vier-en-twintig … en reeds oud, afgetakel … sterwend.
Maar totdat sy sterf, moet sy lewe … en daarvoor het ’n mens geld nodig. Sy ken net een beroep, en selfs met haar kennis en ervaring daarvan weet sy dat hongerlydae op haar wag.
Met groot moeite het sy die drang weerstaan om self ’n einde aan alles te bring. Sy het later met bewende hande haar klere aangetrek en die nag ingestap: sonder sin of rigting. Toe het sy ’n stem gehoor … Een stem het deur die stadsgeruis gedring. Sy het tot stilstand gekom, geluister. Nou stap sy weer aan, en die stem bly haar by: “ … wie vuil is, moet vuil bly …” Hoe vuil ís sy? Só vuil dat geen dokter die vullis in haar kan uitsny nie; die mediese wetenskap kan nie die verrotting binne haar keer nie. Só vuil … en só vuil sal sy bly. En haar loon gaan die dood wees.
Ook in hierdie week is iets in Vegter besig om te verander. Hy kan die onrus en gejaagdheid in hom nie verstaan nie. Alles verloop tog volgens plan. Sy laaste telefoongesprek met Midas Hammond was belowend. Die koning van Babel kom oor ’n week in die Kaap aan. Hy sal op ’n spesifieke datum by ’n spesifieke hotel wees. Daar moet Vegter met hom in verbinding tree en kan hulle in erns begin onderhandel. Die kans dat hy ’n vet pak note uit Midas Hammond gaan losslaan, word ál groter. Daar het ’n belofte in sy woorde deurgeskemer toe hul gesprek amper ten einde geloop het.
“Het ek jou woord my kinders lewe en jy weet waar hulle is?”
“Ja.”
“Jy wou my nog nooit jou naam sê nie.”
“Dis nie van belang nie.”
“Hoekom dring jy daarop aan dat ek Kaap toe kom? Hoekom kan jy my nie net sê waar hulle is of waar ek hulle kan kry nie? Ek sal jou nog steeds goed beloon. Ek is selfs bereid om vir jou ’n voorskot na enige bank in die Kaap te laat oorplaas as jy my net jou naam sal gee.”
“Sodat julle my kan vang? Ek is nie onnosel nie, Hammond.”
“Jy het my woord. Ek het jou reeds belowe daar sal geen polisieman of speurder by dié onderhandeling ingesleep word nie.”
“Hoeveel is jou woord werd?”
“Hoeveel is joune …? Ek het net jou woord dat jy iets van my kinders weet.”
’n Oomblik van stilte.
“Ek kom oor ’n week Kaap toe … alleen.”
“Goed. Ek sal jou daar kry.”
Nou loop en dwaal Vegter rond. Dié skielike gewete wat hy oor die saak ontwikkel het, pla hom. Waar kom dit nou vandaan? Hierdie stem wat sê: Skaam jy jou nie? Om jou eie pa te wil afpers. Hy is immers jou pá! Dan kap hy hewig terug: Waar was my pa al die jare? Waar was my pa toe ek in ander mense se vuilgoedblikke moes krap vir kos? Waar was my pa toe …? Die lys van vrae is oneindig.
Maar die stem wil nie swyg nie: Wat sal sý sê as sy moet weet wat jy nou beplan? Wat sal sý van jou dink?
Woedend baklei hy terug: Sy het niks met my te doen nie! Dit gaan haar nie aan nie! Ek doen wat ek wil. Ek maak met my lewe wat ek wil. Sy en haar Jesus kan na die duiwel vlieg! Ek gaan nooit weer so ’n kans kry nie, nooit weer die geleentheid om ’n klomp geld só maklik in die hande te kry nie. Dis my laaste kans om weg te breek. Ek kán dit nie laat verbygaan nie!
En as hulle jou vang? Hoekom sal jy Midas Hammond op sy woord neem? Besef jy wat die straf vir afpersing is?
Vegter sluk. Hy sien weer die prentjie van rus en vrede voor hom: ’n huis met ’n grasperk en groot koelteboom … en ’n vrou met ’n sagte glimlag … As sy saam met hom sal gaan, sal dit die moeite werd wees …
Maar sy sal nie. Jy weet sy sal nie, verseker die stem hom. ’n Meisie soos Elske sal haar nie ophou met iemand soos jy nie. Jy moet mal wees om een enkele oomblik aan so iets te dink. Al belangstelling wat sy in jou het, is dat jy na haar bende moet oorloop. Hy kners op sy tande. Nee dankie. Geen bende weer vir hom as hy eers weggebreek het nie. As hy genoeg geld kan kry, het hy niemand nodig nie. Hy sal op sy eie wees; ’n mens in eie reg wat self oor sy lewe kan besluit. Midas Hammond moet net genoeg betaal …
Hoekom vertel jy Midas Hammond nie reguit jy is sy seun nie? As sy seun sal jy soveel meer hê as ’n miserabele kwartmiljoen. Hoekom tevrede wees met so ’n druppel as jy die erfgenaam van miljoene kan wees? Die stem los hom nie uit nie.
Dis nou hy wat terugsmaal: Jý is mal! Dink jy Midas Hammond sal so ’n seun soos ek wil hê? As hy my leer ken, sien wie en wat ek is … Hy sal sy rug op my draai soos wat met Zia gaan gebeur. Sulke kinders sal hy nie aan die wêreld wil vertoon nie. En daar is geen bewyse nie. Die geldmagnaat sal geen skade ly nie, maar hy wat Vegter is, sal ’n mooi klompie note verloor.
Nee, sy plan is die beste. Laat Midas Hammond hierheen kom en eers die eerste helfte uithaal. Dan sal hy hom na Zia stuur. Sodra Midas Hammond sy dogter gevind het, moet die ander helfte van die bedrag daar wees. Voordat Zia hom kan vertel waar hy sy erfgenaam kan kry, moet daardie seun weg wees. Eendag wanneer hy sy voete dalk gevind het, kan hy weer met Midas Hammond in verbinding tree. Sy pa hoef nooit te weet dit was sy eie seun wat hom destyds afgepers het nie. Maar eers moet hy iets en iemand word sodat hy sy pa in die oë kan kyk. As Elske net saam met hom sal gaan …
Toe sy opkyk en hom na haar aangestap sien kom, kan sy die vreugde in haar oë nie verberg nie. Vegter! Dan lewe hy nog! Dankie, Here!
“Ek wil met jou praat.”
“Ons is op pad terug na die koffiekamer. Kom saam.”
“Nee, ek …”
“Asseblief, Vegter, kom saam. Ons kan daar praat. Asseblief! Ons moet elke uur by die koffiekamer aanmeld.”
Ook Kobus sê oorredend: “Kom gerus saam, Vegter. Daar sal niemand ons steur nie.”
“Ek wil nie met jou gesels nie. Ek wil net met Elske gesels.”
“Goed dan. Maar dan is die koffiekamer nog die beste plek. Kom.”
Hy vergesel hulle teësinnig. Hy sou liewer sommer hier op die straathoek die saak met haar wou uitmaak, maar as dit nie anders kan nie …
Dis geen opsigtelike plek waarheen hy gebring word nie. Binne brand kerse op houttafels. Orals staan houtbankies rond. Die eenvoud is vir hom ’n verrassing. Die Jesus-bende kan dit nie te breed hê nie, dink hy by homself.
Wat