Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
’n hele ent verder dat hy Vegter bereik. “Is jy mal? Hoekom het jy dit gedoen? Besef jy nie dat hy nou nog meer as ooit sal probeer om jou dood te maak nie? Hy sal jou hierdie vernedering nooit vergewe nie! Vegter …”
“Los my uit, laat my alleen.”
“Maar …”
Die groot gestalte swaai blitsig na hom, gryp hom aan die bors, die oë strak. “Los my uit, Spike! Los my net uit!”
’n Verslae Spike staar hom agterna, terwyl hy koersloos verder stap. Hoekom het hy dit gedoen! Hoekom het hy Mac nie doodgemaak nie? Dit het nog net een klein drukkie gekos … Hy weet tog dat daar geen dankbaarheid by Mac gaan wees nie. Inteendeel. Die haat sal nou soos ’n hoogoond in hom brand. Want hy is verneder, soos Spike uitgewys het. Elke uur van die dag of nag sal hy nou in sy pasoppens moet wees vir sy eie bendelid. Enige oomblik kan hy ’n mes in die rug verwag. Mac gaan hom nog doodmaak. ’n Mens kan nie vier-en-twintig uur lank gedurig op jou hoede wees nie, voortdurend agter jou, voor jou, aan weerskante dophou nie. Een donker nag gaan Mac hom vermoor. En hy het dit geweet toe hy die spanning om sy keelgordel verslap het; besef hy laat die man wat hom gaan doodmaak, vry. Hoekom?
“Waarheen gaan jy en hoe lank gaan jy wegbly?” Toby se stem en oë is vol agterdog, en Midas Hammond ontwyk sy blik.
“Kragtie, man, ek het nie nodig om alewig aan jou verslag te doen of eers jou verlof te kry as ek ’n paar dae wil weggaan nie!”
Toby frons nou ook. “Maar jy kan nie weggaan sonder dat ek nie weet waarheen en hoe lank nie. Jy weet dit! Waar kan ek jou kry?”
“Nêrens nie.”
“Midas …”
Dis met groot moeite dat Midas sy humeur beteuel. Natuurlik is Toby reg. ’n Midas Hammond kan nie soos ’n gewone man op ’n dag ’n tassie pak en sommer net verdwyn nie. Nee, dis die voorreg van die gewone mens. So ’n weelde is die koning van Babel nie beskore nie. Die ironie daarvan tref hom soos ’n vuishou. Die geldmagnaat wat dit kan bekostig om ’n tas te pak en te verdwyn, mag dit nie doen nie. Die gewone man, die boemelaar wat dit kan doen, het nie die geld nie. En vir die eerste keer in sy lewe wens Midas Hammond dat hy net ’n gewone man was.
“Toby, ek gaan ’n rukkie weg en ek gaan jou nie sê waarheen nie. Jy kan my ook nie daar opspoor nie. Ek sal met jou skakel.”
“Maar …”
“Die rede is ook my eie saak. Ek wil nie verder daaroor praat nie.”
“Maar wat van Babel! Van …?”
“Na die duiwel met Babel! Dis nie ’n goue tronk waarin ek opgesluit en vasgeketting is nie!”
Die verbystering op sy bestuurder se gesig bring hom tot swye. Na die duiwel met Babel! Het hy dit werklik gesê? Babel is sy hele lewe, sy afgod, sy alles. Frustrasie en woede laat hom voorttier: “Kan julle nie ’n week lank sonder my klaarkom nie? Waarvoor het ek julle dan?”
“Maar, Midas! Jý is Midas Hammond, nie ons nie! Jy is die man wat die kontrakte en …”
“Ja, ek weet, maar …” Hy swyg weer, voltooi sy sin in sy gedagtes: Maar op hierdie oomblik is ek hartlik siek daarvan om Midas Hammond te wees! “Alles is in orde. As iets opduik, hanteer dit na goeddunke. Andersins moet dit wag. Dis al. Babel sal nog bly staan.”
Toe hy drie dae later op die lughawe in Kaapstad afstap, voel hy ’n opgewondenheid in hom wat hy jare gelede ervaar het. ’n Gevoel van vryheid. Waarom nie? vra hy homself af toe hy aanstap na die lughawegebou. Wat keer Midas Hammond om regtig ’n week te verdwyn? Hy voel skielik soos ’n skoolseun wat onverwags vakansie gekry het. Hy glimlag selfs. Om net te verdwyn, ’n gewone mens te wees …
Hy is ’n ongeduldige man toe hy eindelik die verwagte oproep ontvang. “Ek het gedink jy het my in die steek gelaat. Ek sit en wag al die hele dag vir jou oproep.”
“Ek kon nie eerder nie. Meneer Hammond …”
“Wanneer kom jy hierheen sodat ons kan begin gesels?”
“Ek … weet nie of ek … nog gaan kom nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek … weet nie … Ek dink ons moet die hele ding los.”
“Los? Los! Jy het my Kaap toe laat kom en nou sê jy … Dan het jy van die begin af gelieg!”
“Nee, ek het nie. Ek weet waar jou kinders is.”
“Hoekom wil jy dan nou kop uittrek? Ek sweer niemand het saam met my gekom of weet hoekom ek hier is nie. Ek het my kant van die ooreenkoms nagekom. Nou moet jy jou kant bring.” Stilte. “Luister, ou maat, as jy nog bang is … Jy kan enige plek noem waar ons moet ontmoet. Enige plek.”
Die stem aarsel eers weer en dan word ’n hotel se naam genoem wat vir Midas heeltemal onbekend is. “Dis nie een van jou deftige hotelle nie.”
“Dit maak nie saak nie. Ek sal daarheen kom. Ek sal ’n taxi kry. Oor ’n uur?”
Weer ’n kort stilte. “Goed. Oor ’n uur.”
8
Die uur is al amper verby, en nog staan Vegter op die straathoek skuins oorkant die agterstraathotel.
Jy kan nog omdraai, wegloop, sê ’n stem. Laat Midas Hammond sit en wag totdat hy grys word.
Ek wil nie wegloop nie, praat hy terug. Hoekom sal ek?
Omdat jy nie regtig wil doen wat jy jou voorgeneem het nie, antwoord die stem.
Wat laat jou dit dink? Natuurlik gaan ek voort met my planne. Ek wil daardie geld hê, nou méér as ooit. Ek moet padgee voordat Mac my doodmaak.
Die stem is tartend: Jy belieg jouself, Vegter. Jy wil jou pa nie regtig afpers nie. Jy wil nie met hierdie ding voortgaan nie. Maar jy wil ook nie omdraai nie. Jy brand om in daardie hotel te gaan – nie om Midas Hammond af te pers nie, maar om net een maal … net één maal jou eie pa in die oë te kyk.
Hy roer sy skouers onrustig, verskuif sy gewig van die een been na die ander, frons kwaai. Jy praat twak! My pa het nog nooit iets vir my beteken nie.
Maar hy het iets begin beteken vandat jy uitgevind het jy het ’n pa; dat hy lewe en na jou soek. En jy wil hom van aangesig tot aangesig sien.
Jy is skielik sentimenteel, raas hy terug. Ek weet hoe Midas Hammond lyk. Sy foto’s is in al wat ’n koerant en ’n tydskrif is. Ek hoef hom nie in lewende lywe te sien nie. Onsin!
Maar ’n foto en ’n pa van vlees en bloed voor jou is twee verskillende dinge. ’n Mens kan nie ’n foto se hand druk nie … Wanneer jy daardie hand druk, sal jy weet dieselfde bloed vloei deur jul are.
“Shut up!” Hy sê dit kliphard en ’n paartjie wat verbykom, kyk hom vinnig aan en dan stuur die man sy meisie wyd om die lamppaal.
“Hy is helder oordag dronk,” merk hy op en die meisie laat hoor: “Dis iets wat ek nooit sal verstaan nie. Waar kry hierdie leeglêers die geld daarvoor?”
Vegter trek sy asem in, kyk stip na die hotel oorkant en stap dan oor die straat. Na die duiwel met hierdie stem en die straatwerkertjie. Hy gaan voort met sy planne.
Natuurlik herken hy Midas Hammond onmiddellik toe hy die slordige hotelsitkamer binnestap. Dis egter te betwyfel of iemand in dié hotel die beroemde gesig so gou sou eien. Hy sal net bekend lyk, maar niemand sal ooit verwag om die koning van Babel in só ’n plek aan te tref nie.
Hy gaan staan in die deur, sien die man in die een hoek by ’n tafeltjie sit, met vingers wat ongeduldig op die tafelblad trommel. Hy aarsel. Dan kyk die man by die hoektafel op, en kom stadig orent. Vegter weet hy kan nie meer omdraai nie.
Hy stap stadig nader … en die twee mans se oë ontmoet, som mekaar op. Dan steek die man sy hand na Vegter uit.
“Dag.”
Hy