Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
groepies, praat op gedempte toon … want in hierdie eenvoudige vertrek word soms die diepste geheime van die hart oopgespalk. Hy sien ’n groepie opstaan en by ’n deur ingaan. Hy hou sy stem ook laag wanneer hy vra: “Watter plek is agter daardie deur?”
“Dis die gebedskamer. Nog koffie, Vegter?”
“Nee dankie.” Sy blik dwaal deur die vertrek, rus op ’n groot plakkaat reg voor hom: Sy arm is nie te kort om te red nie.
Hy laat sak sy oë. Red … Ja, hy soek redding van die soort lewe wat hy voer … maar op sy eie manier.
“Ek wil alleen met Elske praat.”
Kobus staan op, en Elske kyk Vegter met smekende oë aan waarin haar hartsbegeerte onverbloemd lê. “Hoe gaan dit, Vegter? Jou gesig het mooi reggekom. Het jy nog êrens seer?”
“Nee. Nee, ek is oukei. Ek wil jou vra …” Snaaks, hy kan nie in haar oë kyk nie. “Ek gaan ’n paar rand in die hande kry. Binnekort. Ek het gedink … gewonder … Ek wil dan weggaan. Kom jy saam?”
Die blydskap in haar oë verdof. Sy het gedink hy het gekom omdat hy tot inkeer gekom het. Maar …
“Waarheen wou jy gaan?”
“O … enige plek. Jy kan kies waarheen. Johannesburg … Durban … Jy kan net sê.”
“En … wat het jy gedink moet ons op die ander plek gaan maak?”
“Wel … saam ’n ander lewe begin.” Sy oë ontmoet hare. “Ons kan selfs trou. Ja, dis wat ek eintlik wil doen. Wettig met jou trou en …” Hy kyk weg, vas teen die leë koppie. “Ons sal lekker kan jol. Jy hoef nie bang te wees dat jy sal swaarkry nie. Daar sal genoeg geld wees om ordentlik te lewe. Ek sal vir jou ’n huis kan koop, meubels … net wat jy wil hê … mooi rokke … en so aan.”
“Dié geld …”
“Ek sê jou dis baie. Dit sal nie sommer opraak nie.”
“Hoeveel?”
“E … baie. Baie, man. Baie. Meer as wat die meeste mense oor droom.”
Bekommerd vleg sy haar vingers deur mekaar. “En waar kry jy dit, Vegter?”
’n Kort stilte. “Dis my saak.”
“Myne ook … as jy wil hê ek moet saam met jou gaan.”
Sy oë rek opgewonde, en ’n steekpyn gaan deur haar hart toe sy die vreugde sien. “Dan sal jy saamkom?”
“Waar kom die geld vandaan, Vegter? Daardie … baie geld? Verdowingsmiddels? Of … beraam jou bende ’n groot inbraak … miskien by ’n bank?”
“Nee! Nee, dis nie een van daardie goed nie. Ek sweer dit, Elske! Dis eerlike geld.”
“Eerlike geld? Waar kom ’n mens aan so baie eerlike geld?”
Hy sluk. “Iemand gee dit vir my. Moet dit nog gee.”
“Sommer net so? Iemand gaan jou sommer net ’n fortuin present gee?”
Hy sug. Hy moes geweet het … Hierdie Jesus-bende …
“Elske, dit is nie dobbelgeld nie. Dis nie smokkelgeld nie. Ook nie gesteelde geld nie. Is dit nie genoeg nie?”
“Nee. Dis nie genoeg nie, Vegter. Is dit eerlike geld?”
Hy het geen ander keuse nie as om te erken: “Nee. Dis afpersgeld.”
“Vegter!”
“Elske, kom terug aarde toe! Jou Jesus-bende …”
“Praat sagter.”
“Jou bende lewe in ’n gekkeparadys. Daal hier snags manna uit die hemel op julle neer? Laat julle Jesus elke aand vir julle note reën voordat julle gaan slaap? ’n Mens het geld nodig. Harde munt, ou girl. Daarsonder kom jy nêrens nie.”
“Ja. ’n Mens kom ver daarmee. Jy kom tot in die tronk … en tot in die hel.”
“Hulle sal my nie vang nie. Ek belowe jou. Die tronk sal my nie weer sien nie.”
“Maar wel die hel.”
“Na die hel met jou hel! Ek kén hel. Wat is dit anders hier op aarde?”
“Daar is ’n hemel ook, Vegter.”
“Maar jy stel nie daarin belang nie. Ek bied jou ’n hemel op aarde aan en jy …” Hy staan vinnig op, sy stem grof van teleurstelling. “Los dit maar. Jy wil nie saamkom nie.”
“Ek wil so graag, Vegter. Só graag, maar … net as Jesus ook saam met ons kan gaan. O, Vegter, as jy my net sal kans gee om jou meer van Hom te vertel …”
“Nee, dankie. Ek het genoeg gehoor. Dis sy skuld dat jy nie saam met my wil kom nie. Omdat afpersgeld nie goed genoeg vir Hom is nie. Hy bly daar bo in sy hemel. Wat weet Hy van die hel op aarde?”
“Hy was hier. Hy het gesterf hier … aan ’n kruis …”
“Ek het my asem gemors. Ek loop maar.”
“Vegter! Vegter, asseblief, ek smeek jou … los dit waarmee jy besig is! Dit kan net ongeluk en hartseer bring. Dis duiwelsgeld!”
Hy glimlag minagtend om sy teleurstelling te verberg. Genugtig, hy is lief vir hierdie meisiekind! “Dan sluit ek maar liewer by sy bende aan, as by joune. Ek is siek en sat van hierdie gemors. Ek wil wegkom. Ek sál ook en … ek sal jou wys. Ek gaan bo uitkom. Ek sál!”
In die dae wat kom, leer The Bats ’n ander Vegter ken. Die afgelope tyd was hy ’n bron van kommer. Dit het gelyk asof hy sag begin raak het. Maar nou is hy skielik weer die ou Vegter, op die voorpunt wanneer daar opgetree moet word. Dis amper asof hy nie ’n duiwel kan omgee of hy gevang word nie. Een skewe kyk, en Vegter is gereed om te baklei.
Spike word ’n diep bekommerde man. Só moet ’n waardige bendelid wees, weet hy. Maar dis onnodig om hardkoppig en dwaas te wees. En dis dwaasheid om openlik met Mac en sý groep skoor te soek. ’n Bende is ’n geslote eenheid. Die lede staan soos een man by mekaar in ’n bakleiery. Maar in alle bendegeledere heers gewoonlik tweespalt. Jou bendelede is jou enigste vriende, maar jy weet ook dat daardie selfde “vriende” sonder enige gewetenswroeging ’n mes in jou sal steek as dit hulle pas. En hierdie nuwe Vegter pas Mac glad nie. Hy toon te veel tekens van sterk leierskap.
Daar is net een manier om van hom ontslae te raak. Een aand tart Mac Vegter net een keer te veel en te ver. ’n Geveg tussen die bendes is ’n lelike ding. Geen genade word betoon óf ontvang nie. ’n Uitbarsting binne bendegeledere is nog wreder.
Dis letterlik ’n stryd om lewe en dood wat tussen Mac en Vegter plaasvind. Hulle weet daar is nie plek vir albei in die bende nie. Een moet weg.
Teen die end word die geveg barbaars en primitief. Die bendelede staan in ’n swygende kring om die twee vegtendes. Daar is geen reëls nie. Jy maak dood op watter manier jy ook al kan. Die stryd is gelykop. Óf die een óf die ander sal wen. Die klimaks word bereik. Hulle is nou albei op die grond en veg met kaal hande. Die einde van die geveg is naby.
Twee pare hande span om twee kele. Die spiere span tot barstens en die are swel. Dan begin die een se greep verslap … sweet en bloed meng. Doodsangs staar uit die een paar oë.
Dan is daar skielik ’n ander paar oë tussen hulle. Sagte oë … pleitend, vol trane. Vegter skud sy kop vinnig asof hy hulle uit sy gesigsveld wil wegjaag. Vee die bloed en sweet uit sy gesig sodat hy die doodsvrees in die oë van die man onder hom duideliker kan sien. Maar daardie sagte paar oë wil nie weggaan nie … hou aan met pleit.
Met hortende asemhaling en deinende borskas spring hy orent, kyk af op die man voor hom op die grond. Die kring mense om hom staan verstar, stom van skok en ongeloof.
“Jy het niks te vrees nie, Mac. Ek gaan binnekort weg. Jy sal eendag die boss word.”
Hy draai om en stap weg sonder ’n verdere terugblik,