Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
ou seun.”
Daar speel ’n glimlag om Midas Hammond se mondhoeke toe hy Vegter agternakyk. Hardgebak, nè? Dan trek sy oë peinsend saam.
Vegter stap blindelings voort. Die man wat sy pa is se gesig bly gedurig voor hom, word af en toe deur ’n ander gesig verdring. Hy kan dit nie doen nie, is die gedagte waarteen hy telkens moet stry. Wat gaan met jou aan? Jy kon reeds duisende rande in jou sak gehad het – die meeste geld wat jy nog ooit in jou lewe bymekaar gesien het! En dit nog eerlike geld, juffrou Elske, praat hy in sy gedagtes. Die nie eens meer afpersgeld nie. Midas Hammond het hom in diens geneem. Dis sy salaris daardie!
Wie dink jy bluf jy nou eintlik, Vegter? vra die moedswillige stemmetjie. Dis jou eie pa wat jy so bedrieg! Daardie man soek opreg na sy seun. Hy wil hom ’n stad van goud gee! En jy … Draai om en vertel hom wie jy werklik is.
Ek kan nie. As hy moet uitvind wie ek werklik is, sal hy sy rug op my draai, teruggaan na Babel en vergeet dat hy ooit ’n seun gehad het. Gryp hierdie kans! Jy sal dit nooit weer kry nie!
Ek kan nie. Dis … gemeen, laag, veragtelik. ’n Mens doen nie dit aan jou eie pa nie.
Waar kom die skielike gewete en skaamte en skuldbesef vandaan? wonder hy ontstoke en ontsteld. Dis ’n harde lewe. Daar is nie plek vir sentimentaliteit en ontydige skuldgevoelens nie. Gryp die miljoene en maak dat jy wegkom. Jy steel mos nie van ’n arm man nie. My kragtie, Midas Hammond het miljoene! ’n Paar miljoen sal hy nie eers mis nie!
Hy kom tot stilstand. Verduiwels! Hoeveel kere in die verlede het hy nie oneerlike geld, as jy dit dan so wil noem, geneem nie. Trouens, hy ken nie iets soos eerlike geld nie. Die geld in sy sak het hy nog altyd gekry uit ’n inbraak of dwelmhandel. Midas Hammond se geld is die naaste aan eerlik wat hy ooit sal kry!
Vegter, asseblief, ek smeek jou, bid jou … los daardie ding waarmee jy besig is! Dit kan net ongeluk en hartseer en verwoesting bring. Dis duiwelsgeld! Die sagte stem gee nie moed op nie.
Hy kyk radeloos om hom rond. Dis die oomblik van beslissing. Hy weet dit. Hierdie keuse gaan die gang van sy toekoms bepaal. Hy staan roerloos: ’n swart, eensame skaduwee op die sypaadjie.
Here, ek is so moeg van die lewe wat ek lei! Help my!
Sy asemhaling het ’n oomblik verstil. Here …? Jesus, wat moet ek doen?!
Hy druk sy handpalms teen sy gesig. Wat gaan aan? Hy bid dan! Hy vra dan ’n ander bende se leier wat hy moet doen!
Daar is ’n gejaagdheid, ’n onbeskryflike onrus in hom. Hy moet by iemand kom … met iemand praat! Hy kan nie na sy pa gaan nie. Hy kan nie na Elske nie. Waarheen dan? Na wie?
Mevrou bemerk onmiddellik onraad toe hy voor haar lessenaar gaan staan. ’n Ontevrede klant, dink sy. Sy haal haar beste glimlag uit.
“Kan ek help, meneer?”
“Ek soek na Zia. Ek moet onmiddellik met haar praat.”
“Sy is nie hier nie.”
“Laat roep haar. Stuur iemand anders in haar plek. Dis dringend.”
“Sy werk nie meer hier nie, meneer.”
“Werk nie meer hier nie? Sy het nou die aand nog hier …”
“Sy is in die pad gesteek.”
Sy gesig verstil, verstrak. “Hoekom?”
Mevrou kyk ongemaklik weg. “Sy het … onbevoeg geraak.”
“Onbevoeg! Dan is dit soos jy dit doen!”
“Meneer, ek weet nie wie jy is nie, maar …”
“Ek is haar broer. En jy gaan nie hiermee wegkom nie. Zia is maar vier-en-twintig. Sy is nog jonk. Haar lewe lê nog voor. Sy …”
“Ek dink nie so nie, meneer. Zia het siek geword. Ek kon haar nie langer hier laat werk nie.”
“Siek?” Hy onthou nou. Zia hét siek gelyk. Hy onthou hy het gesê sy moet ’n dokter gaan spreek.
“Ja. En die aard van haar … siekte is so dat sy nie hier kan aanbly nie en … ek dink nie jou suster het baie tyd oor nie.”
Vegter verbleek. Dis die laaste ding wat hy nou wil hoor – dat Zia nie ’n toekoms het nie. Want sy hét! Sy het die wonderlikste toekoms voor haar as … “Wat makeer sy?”
Mevrou aarsel, sê dan prontuit: “Sy het vigs. Dis deur ’n dokter bevestig.” Haar oë is kliphard. “Jy kan dus verstaan dat ek haar onmoontlik langer hier kon hou, nie waar nie?”
Die aarde duisel om Vegter. Vigs … Daar is ’n waas voor sy oë. “Jy het haar liggaam gebruik om mee handel te dryf! En noudat sy besmet is deur jou deftige customers …”
“Jou suster was haar lewe lank ’n hoer. Moenie dit nou op my en my customers kom vaspen nie!”
“Sy was ’n hoer, ja. Sy het in die hawe begin … en by jou deftige sakeonderneming geëindig … en dis hier … hiér waar sy dit opgetel het!”
“Trap!”
“Ek loop. Maar dit sê ek vir jou – ek sweer voor God dat ek hierdie onheilspellende plek wat julle ’n gesellinklub noem met wortel en tak gaan probeer uitroei.”
“Jy? Wie is jy? Jy lyk soos ’n bendelid. Jy is ’n tor, ’n niksnuts. Wat kan jy doen?”
“Nie ek nie. Jesus sal my help.”
Hy strompel uit. Watter reg het hy om voor ’n God te sweer wat hy nie ken nie? En tog … Hy het. Hy het veel meer as dit gedoen. Hy het hom op Jesus se hulp beroep.
Hy moet dit weer doen toe hy by Zia se woonstel kom en hoor dat sy nie meer daar bly nie. Sy het gister haar sleutel aan die opsigter gegee, gesê hy moet maar die meubels verkoop vir die uitstaande huurgeld. Zia is daar weg met ’n tassie in die hand. Midas Hammond se dogter het verdwyn.
Jesus, help my! Ek moet haar kry, smeek hy radeloos.
Daardie nag soek Vegter onverpoos. Van die een nagklub na die ander, in donker stegies en dofverligte dwelmhole. Hy ken elke hoekie in die stad en kruip oral in.
Die soektog duur die volgende dag voort. Hy doen navraag by elke hospitaal … tevergeefs. Dan maar weer terug na die agterstrate, die vuil agterplaaskamertjies. Laat die volgende nag skakel hy Midas Hammond, rasend van kommer.
“Vegter!”
“Hammond …”
“Wat is dit? Wat het van jou geword? Ek het be- …”
“Gaan terug na jou Babel en vergeet van jou kinders.”
“Vegter … Wat het gebeur? Luister …”
“Nee, jy luister nou na mý, Midas Hammond. Gaan terug waarvandaan jy gekom het en vergeet dat jy ooit kinders gehad het.”
“Vegter, nee! Moenie, Vegter, luister eers, my seun …” Maar die telefoon klik ferm.
9
Niemand sal die koning van Babel herken nie. Twee lang dae en nagte gaan verby waarin Midas Hammond self die donker nagstrate van Kaapstad bewandel; in nagklubs en hole kruip.
Nie eens Toby sou hom herken nie. Bedags dra hy sy slenterdrag, ’n hoed en donkerbril. Snags is hy sonder hoed en bril, maar niemand sou die geldmagnaat onder die ongekamde hare en baardstoppels herken nie.
Hy soek doelgerig na The Bats – sonder sukses. Toevallig – of is daar werklik iets soos toeval? – hoor Spike hoe hy by iemand navraag doen oor Vegter. Hy beskou eers die man deeglik voordat hy hom versigtig nader.
“Hoekom vra jy uit oor Vegter?” Hy draai nie doekies om nie.
Midas beskou hom deeglik, kom dan tot die regte slotsom en besluit hy het met ’n bendemaat te doen.
“Ek moet hom uiters dringend spreek. Dis lewensbelangrik.