Ena Murray Omnibus 34. Ena Murray
kyk weer na die see en vra woordeloos: Is dit al wat jy vir my te gee het . . . ’n leë drankbottel? En is dit al wat ek vorentoe gaan hê . . . ’n leë toekoms?
Sy is dankbaar dat sy haar kamer ongesiens deur ’n sydeur kan bereik. Sy stroop die nat klere van haar liggaam af en vryf haar droog met ’n handdoek. Sy sien weer die bottel raak waar sy dit op die spieëltafel staangemaak het, glimlag effens en praat hardop:
“Wat kyk jy? Jy sien nou self hier is niks wat ’n man so gaande kan maak dat hy saam sal wil kom wittebrood hou nie!” Sy bekyk haar naakte beeld ’n oomblik in die spieël. Maar sy het darem al slegter ook gesien. Sy kyk reguit in die spieëlbeeld van haar oë. As alles reg verloop het, sou sy op hierdie oomblik al ’n vrou gewees het . . . ’n ontwaakte vrou. Maar nou . . . nou straal haar maagdelikheid so helder na haar terug dat sy vir haarself skaam kry en vinnig wegdraai. Sy begin oorhaastig aantrek, want sy hoor die hotel se etensklok lui en sy voel skielik honger, vir die eerste keer in weke regtig honger. Dis seker die seelug wat haar aptyt gee.
Dis ’n goedige egpaar wat die hotel bestuur, en die vrou kook boerekos. Erika lê tot haar eie verbasing goed weg daaraan, voel ’n ander mens toe sy versadig is. En dis of haar vol maag haar skielik ook meer moed gee vir die lewe en die leë toekoms, in so ’n mate dat toe sy in haar kamer terug is, sy reg voor die bottel gaan staan, ’n vinger daarna uitsteek en weer hardop gesels:
“Jy gaan vir die res van my lewe by my wees, meneer Bottel. Jy is nou met my getroud, of jy nou wil of nie, verstaan? Ek gaan jou nooit weer onder my oë laat uitgaan nie, en wanneer ek ooit weer, ooit weer so mal word om op ’n man verlief te raak of om hom te vertrou, sal ek na jou kyk en onthou en weer my verstand terugkry.”
Sy klim in haar nuwe baaiklere – deel van die bruidsuitrusting wat sy oor soveel maande so sorgsaam byeengebring het – en gee vinnig pad uit die kamer. Dis al vir haar asof die bottel haar deur skrefiesoë tussen die mossels deur betrag.
’n Rukkie later loop sy met haar voete in die water, en hoe verder sy stap en hoe groter die probleme word wat vorentoe op haar wag, hoe verder skuif die bietjie nuwe moed wat die lekker ete haar gegee het, weg van haar af. Sy sit met probleme, en om te maak asof dit nie bestaan nie, sal nie help nie. Hierdie paar dae by die see wat haar gewese aanstaande so goedgunstiglik aan haar geskenk het, is maar net ’n blaaskansie voordat sy regtig in die diep kant gaan insak.
Benewens die feit dat sy sal moet terugkeer na daardie kantoor, aan almal vertel sy is toe tog nie getroud nie en hul geskenkies teruggee, is daar nog groter probleme wat daarna wag. Geld is die grootste daarvan. Die woonstel se huur is vir ses maande vooruit betaal, dít weet sy. Een maand daarvan is verby, want sy het voorlopig ingetrek om alles agtermekaar te kry. Daar is nog vyf maande oor . . . ’n dak oor haar kop vir vyf maande, wat haar gewese aanstaande ook by die kusvakansie ingegooi het as troosprys. Nie dat hy dit anders sou wou gehad het nie. Sy brief het dit duidelik gestel: Die woonstel is vir nog vyf maande betaal, soos jy weet. Dit sal ’n te groot gesukkel wees om die geld terug te kry, en ek weet jy kan met jou salaris nie die huur bekostig nie. Bly dus maar daarin totdat dit verstryk; dit gee jou darem kans om intussen na ’n ander plek te soek.
Sy knik haar kop. Gaaf van jou. Dankie.
Die meubels is nog ’n probleem. Daar is ’n paar stukkies van haar eie en kleinighede soos ’n tafeltjie en stoel van die ander party, maar die res is nuwe meubels waarop net ’n maand se paaiemente betaal is. Wanneer dit nie meer betaal word nie, sal die mense hul meubels kom haal . . . en sy sal in ’n leë woonstel sit.
Sy tuur grimmig op die see uit. Hoekom nie? Jy het nou al ’n leë drankbottel, hoekom nie ook ’n leë woonstel nie? Jy sal gewoond raak aan al die leegheid. Mens raak als gewoond, vertel sy haarself.
Jy kan op die vloer ook slaap as dit moet, maar ’n leë maag sal nie sonder protes sulke omstandighede aanvaar nie. Ag, wel, jy gaan net op ’n brooddieet, Erika, vertel sy haarself. Dit behoort jou goed te doen, ’n bietjie vet om hierdie maer gebeente van jou. Net nie meer as twee snye op ’n dag nie, anders sit jy nog op ’n dag sonder klere ook. Jy was mos so gek om, soos alle meisies wat dolverlief is, die spaargeldjies wat jy met soveel moeite bymekaargemaak het op onnodige klere vir Die Wittebrood uit te gee. Hier sit jy nou op Die Wittebrood met ’n kas vol nuwe klere en ’n bra troostelose en leë toekoms voor jou. Het toe mos selfs ’n aandrok ook gekoop, verbeel jou. Prentjies in jou verbeelding opgetower van kersligaande en fosfor op die branders, vonkelwyn in die glasies en die bloed bruisend in die are terwyl die romantiese aand opwerk tot ’n ekstatiese klimaks van hartstog en . . .
Sy sluk, stamp haar voet teen ’n rots. Hmpff! Pleks jy destyds liewer jou kop teen een van die stad se lamppale gestamp het . . .
O, wel, as dit op die herrie kom, kan sy altyd van haar wittebroodsklere aan ’n tweedehandse klerewinkel gaan verkoop – dis nou wanneer die dag se sny brood soos ’n taai klont in haar keel wil vassteek en verseg om verder sy pad ondertoe te vind.
Sy giggel skielik, skrik en sit haar hand voor haar mond, kyk vinnig om haar, maar niemand is in sig nie. Sy het al weer ver van die hotel afgedwaal. Sy draai in haar spore om. Erika, jy moet jou regruk. Jy is óf besig om histeries te word óf hierdie keer heeltemal mal. Jy het jouself belowe jy sal nie toelaat dat hierdie ding jou onderkry nie. Toe jy daar verslae en verdwaas in die woonstel staan met die brief in jou hand, het jy hardop gesê toe jy eindelik weer tot jouself gekom het: “Dan gaan bars jy, Japie Basson! Dan gaan ek alléén op my wittebrood. Baie dankie!” En hier loop jy jouself nou so en bejammer dat jy vandag al wurg aan die stuk brood wat jy eers oor ’n maand sal moet sluk! Ruk jou reg, vroumens. Op die een of ander manier sal jy anderkant uitkom. Jy het nog altyd.
Ja, sy het nog altyd. Sy gaan sit op ’n rots en staar na die rustelose beweging van die see voor haar. Haar lewe het die eerste keer gekompliseerd geraak toe haar ouers albei op slag in ’n motorongeluk dood is. Toe het sy ontdek sy is moedersielalleen op die aarde. Daar was verlangse familie in Zimbabwe. Sy het nie eens hul name goed geken nie. Daar was net een plek waarheen sy kon gaan, waar ’n mens ’n moedersielalleen-kind kon neem: die kinderhuis.
Maar sy is daardeur en het haar later bekwaam as tikster en selfversorgend geword. En toe het sy Japie ontmoet . . . en verlief geraak . . . en hier sit sy vandag . . . weer moedersielalleen.
Sy begin terugstap hotel toe. Sy het nog nie eens heeltemal uitgepak nie. Sy kan dit ewegoed gaan doen en elke dag een van haar nuwe rokke aantrek, aangesien sy van hulle uiteindelik tog aan ’n tweedehandse winkel sal moet gaan verkoop. Wonder hoe die mense saans hier aantrek vir ete . . . Sal dit snaaks lyk as ’n alleenmeisie in ’n aandrok verskyn? Maar sy wil dit so graag net een keer aantrek voordat sy dit moet verkoop, want sy dink nog steeds dis baie mooi – al is die herinneringe wat daaraan kleef, nie so mooi nie.
Sy kom in die middel van haar kamer tot stilstand en staar geskok na die spieëltafel. Bruidegom Bottel staan daar, skoongevryf van alle mosselskulpe, haar blinkoog en aankyk.
“O nee!” Sy stap ontsteld nader. O nee! Nou is die bottel heel bederf! Hy lyk nou soos elke ander leë drankbottel, baie kaal. Die mens wat die kamer aan die kant gemaak het, het seker gedink sy bewys haar ’n guns, maar Erika kan huil van teleurstelling. Sy wou dit so graag behou het net soos dit was, skulpe en al.
En toe sien sy dit . . .
Sy frons, bring die bottel nader en draai dit stadig in die rondte. Die bottel is nie so leeg soos sy aanvanklik gedink het nie. Daar is iets binne-in: ’n stukkie papier waarop duidelik in drukskrif ’n naam en adres geskryf staan.
Sy sit ’n rukkie daarna en kyk, gee haar verbeelding vrye teuels. Kom dit van iemand wat gestrand is op ’n eensame eiland? Is dit miskien ’n noodroep om hulp? Sy skud die kop, glimlag vir hierdie wilde verbeeldingsvlug. Dis onwaarskynlik. Die adres, soos dit vir haar lyk, is te volledig. Miskien kom dit van iemand wat op ’n plesiervaart hier verby is en dit sommer vir die grap in die see gegooi het. Dit klink waarskynliker. Of . . . miskien kom dit van iemand wat eensaam is . . . soos sy . . . iemand wat sommer net êrens met iemand wil kontak maak omdat daar niemand naby is om mee te gesels, te vertel van alles nie . . . die hartseer, die alleenheid en miskien die vernedering wat ondergaan is . . . Iemand soos