Ena Murray Omnibus 34. Ena Murray
ek wil net kyk of alles hier reg is. Ek het vanoggend ’n nuwe skoonmakertjie vir hierdie vleuel. Is alles reg hier?”
“Dankie, mevrou. Ja, alles is netjies, dankie.” Sy hou die bottel omhoog. “Kyk my vonds uit die see!”
Mev. Collins stap nader, kyk belangstellend. “En met ’n briefie daarin! Ek kan nie onthou dat so iets al ooit hier uitgespoel het nie. Dis interessant. Gaan jy skryf aan daardie adres?”
“Skryf?” Dááraan het sy nie gedink nie.
“Ja. Dis seker die rede vir die adres – dat die persoon wat dit miskien kry, van hom of haar sal laat hoor.”
“Ja . . . a . . .” Erika voel onseker. “Dink u ek moet reageer?”
Mev. Collins lag goedig. Die kind lyk vanoggend ’n bietjie beter. Gister toe sy hier aangekom het, het sy nie te goed gelyk nie. Sy was bleek en sonder belangstelling, en die ervare oë van die ouer vrou het die gespannenheid onmiddellik agtergekom.
“Hoekom nie? Jy het tog niks om te verloor nie. Miskien word jy nog ’n goeie vriend of vriendin aan die ander kant van die aardbol ryker,” borduur sy nou voort.
“Kom die bottel van die ander kant van die aardbol af?” vra Erika grootogig.
Mev. Collins neem dit by haar, bestudeer die adres binne-in. “Nee. Nie juis van die ander kant van die aardbol nie. Van die Comore af, as ek die handskrif reg verstaan. Dis ’n groep eilande.”
Erika raak al meer opgewonde oor haar vonds uit die see. “Van ’n eilandgroep af? Waar is die . . . e . . . hierdie eiland?”
“Ek is nie heeltemal seker nie. Ons kan in my man se atlas gaan kyk. Ek dink die Comore lê êrens hier teen die ooskus van Afrika op.”
“O.” Sy voel effens teleurgesteld. Haar romantiese hart het gehoop dit kom van die een of ander eksotiese eiland in die Suidsee vandaan, ’n eiland soos Tahiti of Hawaii . . . of . . .
“Jy moet onthou jy sit op die oomblik aan die suidkus van Suid-Afrika, my meisie. Die ooskus lê ver en wyd hier op.” Sy glimlag goedig. “Kom. Kom ons gaan kyk in die atlas presies waar lê hierdie eilande.”
Mnr. Collins lyk ook belangstellend toe hulle hom in die klein kantoortjie aantref en hy die bottel sien. “Comore Islands,” lees hy en knik. “Ja, dis beslis die Comore. Dit lê hier bo in die noordelike bek van die Mosambiekkanaal, tussen die ooskus van Afrika en die noordelike punt van Madagaskar. Ja, hier is hulle,” en hy druk met sy vinger op die landkaart.
Erika leun nader, frons. “Dis dan net drie, vier swart stippeltjies, skaars land!” en sy kan haar teleurstelling nie verberg nie.
Mnr. Collins glimlag, soek verder. “Dit lyk so op die wêreldkaart, maar van nader lyk hulle só. Glad nie sulke stippeltjies meer nie.” Hy lees vlugtig vir haar ’n paar besonderhede: “Die Comore is van die mooiste in die eilandketting van die aardbol. Hulle is indrukwekkend in skoonheid en kleureprag. Op die hoofeiland, Grande Comore, is die wêreld se grootste krater, geleë in die hart van die beroemde vulkaan La Kartala, ’n piek van sowat tweeduisend vierhonderd meter wat steeds ’n aktiewe vulkaan is. Ander eilande van belang is Mohéli, Anjouan en Mayotte. In geen eilandgroep is daar so ’n konsentrasie van geure en speserye as in die Comore nie. Met reg dra hulle dan ook die naam Die Gegeurde Eilande oftewel The Perfumed Islands. Soms kan die besoeker van oorsee reeds die lieflike geur van die eilande ruik nog voordat hulle op die horison verskyn.”
“Dit klink idillies!” laat mev. Collins hoor.
Erika knik. “Ja. Dit begin al wonderliker klink. Lees nog, asseblief!”
Mnr. Collins gaan voort. “Die Comorane is net so kleurryk soos hul eilande. Hulle is ’n mengsel van Arabiere, Afrikane, Polinesiërs en die rasse van Madagaskar. Die oorgrote meerderheid is van die Islamitiese geloof en hulle praat ’n dialek, Comoraans, ’n mengsel van Arabies en Swahili, ’n Afrikataal. Die amptelike landstaal is Frans.
“Die eilandgroep bied die besoeker unieke diepseeduik en diepseehengel. Hy sal ook die eilandbewoners vriendelike en saggeaarde mense vind, en hul streng Mohammedaanse agtergrond maak van hulle wetsgehoorsame burgers. Hulle het ’n eenvoudige lewenstyl, maar ly geen gebrek nie, want vrugte en vis, wat ook die inkomstebron van twee derdes van hulle is, is maklik en in oorvloed bekombaar. Die Comore is ook die tuiste van ’n ‘lewende fossiel’, die selekant, ’n soort prehistoriese vis waarvan nog net hierdie een spesie oorleef het; en die ilang-ilang-blom, die groengeel bloeisel van die Maleisiese vla-appel, seldsaam en eksoties.”
“Ja? Wat nog?” por sy hom aan, maar hy skud die kop.
“Nee, dis al. Al wat hier nog genoem word, is dat die eilandgroep maar onlangs sy toeristebedryf begin ontwikkel het, hoewel daar op al vier die groot eilande reeds hotelle met goeie huisvesting beskikbaar is.”
Erika kyk weer na die bottel in haar hand. “Hoe sou die bottel juis hier beland het?”
“Met ’n seestroom. Dis al manier waarop dit hier kon kom as die bottel by dié Comore in die see gegooi is.”
Daardie aand sit Erika ná aandete in haar kamer, kyk deur die venster na die maanverligte strand, na die sterre so ver en so blink, na die maan soos ’n groot, ronde geelkoperplaat . . . en weer pak die eensaamheid, die intense alleenheid haar. As sy net met iemand kon praat oor wat gebeur het . . . iemand kon vertel van alles wat sy hier binne voel en ervaar . . .
Sy kyk van die aandtoneel af weg, sien weer die bottel raak wat terug op die spieëltafel is. Al geselskap wat sy het, is ’n bottel uit die see . . .
Maar daar is ’n adres in . . .
Hoekom nie? Dit sal maklik wees om jou aan ’n onbekende, gesiglose mens, duisende kilometers van jou af, te ontboesem, veral nog as daar geen gevaar hoegenaamd bestaan dat jy ooit daardie mens in die oë sal hoef te kyk en van skaamte sal wil beswyk nie.
Gewoonte van jare weerhou haar egter daarvan om sommer dadelik haar pen te vat. Ontboeseming kom nie maklik by haar nie. Sedert haar kinderjare in die kinderhuis het sy geleer om wat hier binne broei, vir haarself te hou. Tog . . . Hierdie keer is dit anders. Daar sal niemand agterna kom wat met haar oor die pynlike geheime van haar hart sal wil praat of spot nie. Sy is in haar hart seker sy sal nie eens ’n antwoord terugkry as sy skryf nie. Die persoon wat die bottel in die see gegooi het, kan teen hierdie tyd selfs al dood wees. Die feit dat die mossel-skulpe al op die bottel begin groei het, bewys dat dit al vir ’n lang tyd in die see rondgedobber het. Nee. Sy het niks te vrees nie.
Sy voel self soos ’n leë bottel toe sy die pen eindelik neersit. Toe sy eers begin skryf, het die woorde vanself gekom, sommer uit haar gerol soos ’n stroom wat eindelik deurgebreek het en onkeerbaar voortspoed. En dit het alles met hom meegesleur, in so ’n mate dat dit vir haar voel sy is dolleeg gelaat sonder enige gevoel meer in haar.
Sy kyk na die pakkie geskrewe velle voor haar. Sy het in haar lewe nog nooit soveel geskryf op een slag nie. Die hotel se skryfblokkie is kant en wal vol, selfs agterop.
Maar dit het haar goed gedoen, besef sy. Dit was goed om haarself eindelik te kon ontlaai. Dis goed om dolleeg te voel.
Haar kop raak skaars kussing, toe slaap sy vir die eers-te keer in weke droomloos, nagmerrieloos, vas.
Die volgende oggend aan die ontbyttafel wil die Collinse weet of sy toe geskryf het. Erika voel ongemaklik, knik vaagweg. Vanoggend, in die helder lig met die son fel op die golwe, voel sy skuldig oor daardie lange ontboeseming van gisteraand. Dis nie haar aard om sulke intieme dinge oor haar persoonlike lewe en gevoelens oop te vlek nie, en dit vir ’n vreemdeling se oë op die koop toe! En geen vreemdeling sal daarin belangstel nie. Sy sal dit maar opskeur en vergeet van die adres in die bottel.
Maar die noodlot in die vorm van mev. Collins gryp hier in.
“Gaan haal dit gou, dan pos ek dit vir jou. Ek gaan nou dorp toe.”
“Ek . . . e . . . het dit nog nie geadresseer nie.”
“Maar doen dit dan gou. Ek sal wag.”