Ena Murray Omnibus 34. Ena Murray
. . . dink die koevert is te klein,” bieg sy selfbewus en onbeholpe.
Die ouer vrou se wenkbroue lig. “Dit is ’n lang brief. Wat het jy alles geskryf?”
“E . . . sommer iets van . . . ons land . . . waar ek kuier en die bottel gekry het . . . en . . . sulke goed,” is haar vae antwoord.
“Gaaf. Bring dit. Ons het groot koeverte in die kantoor. Jy kan een kry.”
Mev. Collins is reeds die trap af op pad motor toe, toe Erika vinnig opspring en agter haar aan hardloop. Sy moet die vrou keer en die brief terugkry.
“Mevrou!”
“Ja?”
Sy sluk. “Ek . . . ek het u nie posgeld gegee nie. Ek . . .”
“Ag, vergeet dit. Dit sal nie ’n fortuin kos nie. Ek sal betaal.”
Erika kyk die motor magteloos agterna terwyl die inhoud van die brief voor haar verbyflits. Wat het haar besiel . . .! Van die Geagte Meneer/Mevrou af lê haar hele lewe voor vreemde oë oopgesprei. En dan het sy nogal ewe kordaat haar volle naam onderaan geteken: Die uwe, Erika Hough. Sy moet mal gewees het . . .
2
In die dae wat volg, kry Erika dit byna reg om te vergeet van die brief, en selfs ook van die bottel. Dit het baie gehelp om die bottel met die adres nog steeds onaangeraak daarin agter in die hangkas weg te sluit. As sy dit nie heeldag onder oë het nie, sal dit haar help om van haar dwaasheid te vergeet, het sy gedink, en dit hét in ’n mate gehelp.
In ’n mate . . . Maar soms, snags, wanneer sy met ’n onverklaarbare gevoel van onrus in haar wakker word, het sy oor en oor haar eie brief in haar gedagtes gelees, en dan het die nagmerries haar gery. Benewens alles wat daarin gesê is – dit het haar in die donker laat bloos – is sy ook nie seker of haar Engels oral korrek was nie. Uiteraard moes sy die brief in Engels skryf. Geen mens sal tog seker op die Comore Afrikaans verstaan nie. Plaas sy dit maar tog in haar eie taal geskryf het, dan sou die ontvanger gelukkig nie kop of stert daarvan kon uitmaak nie. Maar miskien verstaan hy, of sy, ook nie Engels nie. Mnr. Collins het mos gelees dat Frans die amptelike taal van die eilandgroep is en dat die mense ’n brousel van Arabies en nog ’n swart taal in die omgang gebruik.
Intussen gaan die een dag na die ander verby, en tot haar verbasing geniet sy hierdie vakansie by die see wat sy op so ’n eienaardige manier bekom het. En vreemd, haar gedagtes wil nie terugdwaal na die persoon wat dit vir haar gegee het nie. Net so een of twee keer het sy, wanneer sy op een van haar lang alleen-wandelinge langs die see is, gewonder wat hy nou doen . . . en of hy op ’n ander plek langs die Suid-Afrikaanse kus besig is om ’n werklike wittebrood te hou. Maar selfs hierdie gedagte kon nie die ou intense pyn in die hart opwek nie. Dis of, met die uitstorting van al haar gevoelens jeens daardie onbekende biegvader of -moeder, die intensiteit daarvan ook verdwyn het. Daar is steeds ’n leë gevoel in haar, ’n gevoel dat die lewe haar deur Japie Basson ’n vuil streep getrek het, en tog het sy begin besef dat die lewe nie daarom tot stilstand gekom het nie, dat sy daarmee sal kan saamleef en anderkant uitkom. Japie Basson is nie al mansmens op die aardbol nie. Bowendien is sy nog nie so diep agterop die rak geskuif dat sy op twintigjarige ouderdom nie weer iemand sal raakloop van wie sy sal hou en wat vir haar sal kans sien nie. Feit bly, solank daar Japies op die aardbol rondloop, staan selfs sy ’n kans om tog eendag op ’n regte wittebrood te gaan. Maar nie gou nie. O nee, volgende keer sal sy die kat eers goed uit die boom kyk.
Sy glimlag by haarself. Sy kan hom amper jammer kry, die ander Japie nou, wat eendag op haar pad sal kom. Hy sal getoets word, dis seker. Jy gaan bars, belowe sy die onbekende Japie, en lag dan hardop. Jy moenie dink ek sal weer so ’n gek wees om een sent van my swaarverdiende geld op ’n huweliksbootjie te spandeer nie. Jy sal vir die laaste ding betaal – tot vir my trourok. Dan sal jy twee keer dink voordat jy my drie weke voor die troue in die vlug los; weer ’n keer dink voordat jy my alleen op ’n wittebrood stuur met ’n leë drankbottel as bruidegom.
Sy glimlag suur. Ditsem! Dis soos ek met jou sal werk! Maar weer ’n gek van myself maak . . .
Mev. Collins staan haar duidelik en inwag toe sy by die hotel terugkom, en haar gesig vertel Erika dat sy baie opgewonde is oor iets. Wat op aarde . . .
“Kyk hier, kind. Kyk wat het hier vir jou aangekom!” Sy hou die koevert omhoog. “ ’n Brief uit die Comore!”
Erika frons, staan en kyk net daarna. O nee! Wat het die mens besiel om te antwoord? Hy, of sy, was nie veronderstel om op daardie belaglike brief van haar te reageer nie!
“Toe, kind! Maak oop! Ek kan nou sterf van nuuskierigheid!”
Sy het geen keuse nie. Sy moet die koevert oopskeur, terwyl mev. Collins ewe hans langs haar stelling inneem om saam met haar die brief van die onbekende korrespondent te lees.
“Genugtig! Dit lyk baie belangrik! Kyk die briefhoof,” beduie die ouer vrou, en net baie vlugtig kyk Erika na die goudgedrukte adres met ’n klomp vreemde woorde waarvan sy g’n snars verstaan nie. Toe sak haar blik laer en, in die korrespondent se eie handskrif, lees sy verder:
Dear Miss Hough . . .
Met toenemende misnoeë lees sy reël na reël en wens terselfdertyd die aarde wil onder haar oopskeur en haar met brief en al insluk.
Sy word opreg bedank vir haar skrywe en die moeite wat sy gedoen het om op die adres in die bottel te reageer.
Die volgende paragraaf laat haar wens dat die nuuskierige mev. Collins ook skielik in ’n gat in die aarde moet verdwyn.
Haar jong lewe, so staan daar, was blykbaar tot dusver nie juis ’n groot vreugde nie, te oordeel na wat sy so vertroulik meegedeel het – iets wat weer eens baie hoog gewaardeer word. Sy word verseker daarvan dat dit ook met die hoogste respek en grootste geheimhouding gehanteer sal word.
Erika voel ’n blos van ergernis oor haar wange spoel, intens bewus van mev. Collins se vinnige sydelingse blik. Hoe durf die mens eens net daarna verwys! As hy, of sy, enigsins goeie maniere gehad het, sou hy, of sy, nie na die patetiese inhoud van haar brief verwys het nie. Maar . . .
Sy lees voort.
Aangesien sy nou wel met vakansie is, word die vrymoedigheid geneem om haar te nooi vir ’n vakansie op die Comore. Dis net wat sy nodig het om haar teleurstelling te bowe te kom. Alle koste sal deur die korrespondent betaal word, natuurlik.
“ ’n Vakansie op die Comore! En dit verniet! O, jou gelukkige kind!”
Sy deel nie mev. Collins se verrassing en vreugde nie.
“Die mens is mal,” sê sy bondig. “Wat van my werk? Ek het nog net veertien dae oor, dan moet ek terug.”
Teësinnig lees sy verder, en, asof die skrywer die trant van haar gedagtes vooruit kon peil, kom die volgende:
Indien sy dit nie gereël kan kry om langer verlof by haar werkgewer te kry nie, hoekom dan nie summier bedank nie? Goeie sekretaresses kry altyd weer werk.
“Ek is g’n sekretaresse nie. Ek is ’n doodgewone tikster,” antwoord sy kliphard terug.
Mev. Collins is nou opreg ontsteld.
“Erika, jy kan nooit so ’n kans deur jou vingers laat glip nie! Jy sal nooit weer so ’n kans in jou lewe kry nie. Om na die Comore toe te gaan, en dit nog op ’n ander se koste. Genugtig, jy moet mal wees. Bedank sommer vandag nog jou werk en laat weet die man dadelik jy kom.”
Sy kyk mev. Collins openlik ontevrede aan. “Dis die persoon wat hierdie aanbod doen wat mal is, nie ek nie. Geen normale mens by sy volle positiewe nooi wildvreemde meisies na verre eilande nie.” Sy frons. “Is dit ’n man?”
Mev. Collins skud haar kop. “Ja. Daar staan sy naam oop en bloot onderaan geteken. Ek kyk altyd eers van wie ’n brief kom voordat ek dit begin lees.”
“O.” Erika kyk af na die onderpunt van die bladsy en sy lees: Yours faithfully, Philippe Jacques de la Buscagne. Sy trek haar asem in. Dit is sowaar ’n man wat haar na verre eilande nooi!