Son op die horison. Susanna M. Lingua
Son op die horison
Susanna M Lingua
Melodie
1
Hier waar die drie en twintigjarige Verena Kestell op die brug na die snelvloeiende Teemsrivier staan en kyk, dwaal haar gedagtes terug na die pynlike dinge wat die afgelope jaar met haar gebeur het; dinge wat diep spore in haar jong lewe getrap het en wat daarvoor verantwoordelik is dat sy haar vandag hier in Londen bevind.
Dit voel vir Verena of al daardie dinge gister plaasgevind het, tog is dit reeds ’n jaar gelede dat haar ouers, haar broer en haar sustertjie in ’n motorongeluk omgekom het en sy die enigste oorlewende van die gesin is. Maande lank het sy soos ’n verdwaalde gevoel vir wie die lewe geen sin het nie, want waarom moes hierdie ontsettende ding nou juis gebeur het met hulle wat so wonderlik gelukkig was? Haar pa was nie ’n miljoenêr nie, net vermoënd. Maar wat haar betref, was hulle die gelukkigste gesin op aarde.
Verena dink terug aan die eerste ses maande na haar ouers se afsterwe; maande waarvan sy nie veel kan onthou nie, aangesien sy haar in ’n bodemlose put van hartseer en verlange bevind het. Sy was totaal ankerloos, sy het so weerloos gevoel soos ’n neutedoppie wat op ’n onstuimige oseaan rondgeslinger word. Maar gaandeweg het die pyn en verlange in haar stiller geword, en na ses maande het sy darem weer die prag van die natuur om haar begin raaksien. Tog het dit nog drie maande geduur voordat sy ernstig aan haarself en ’n eie toekoms begin dink het.
Meneer Hugo, die prokureur wat haar geldsake behartig, was duidelik verbaas toe sy hom van haar besluit om haar musiekstudie in Londen voort te sit, in kennis stel. Maar hy het die Kestells goed genoeg geken om te weet dat dit hom niks sou baat om Verena te probeer afraai nie.
Verena voel hoe die son op haar goudblonde hare brand. Nou eers tref dit haar dat sy geen bedekking vir haar kop saamgebring het nie.
Ek sal maar seker aanstaltes moet maak om terug te gaan na die losieshuis toe, besluit sy en begin sonder meer aanstryk in die rigting daarvan. Dit is duidelik dat dit vroeër die dag gereën het.
In die voorportaal loop sy haar byna vas in ’n lang, skraal bruinkopmeisie wat self na die trap toe mik wat na die boonste verdieping lei.
“Ek is vreeslik jammer dat ek jou byna uit die aarde geloop het, juffrou,” maak die bruinkop vriendelik op Engels verskoning. “Woon jy ook hier in mevrou Smith se losieshuis?”
Verena knik. “Ek het vanoggend my intrek hier in kamer nommer drie geneem,” verduidelik sy en stel haarself aan die bruinkop voor.
“Aangename kennis,” glimlag die meisie weer vriendelik en reik Verena die hand. “Ek is Alice Stratton, vier en twintig jaar oud, ’n kunsstudent en ek is in die kamer langs joune – kamer nommer twee,” rammel sy alles in een asem af.
Die twee meisies kyk sekondes lank in mekaar se oë, toe bars hulle hartlik uit van die lag.
“Weet jy, ek het ’n sterk gevoel dat ek baie van jou gaan hou, Alice,” sê Verena glimlaggend.
“Jou gevoel is wederkerig, my liewe Verena,” sê Alice. “Hoe oud is jy en wat doen jy vir ’n lewe?”
“O, ek is drie en twintig, ’n musiekstudent en ek het vanoggend van Suid-Afrika af hier aangekom,” sê Verena. Sy kyk na haar polshorlosie. “Maar as ons ons nie nou roer nie, gaan ons laat wees vir middagete.”
“Ja, kom,” stem Alice saam, “laat ons maar eers gaan hande was. Ons kan na ete nader kennis maak, want ek het nie vanmiddag ’n klas om by te woon nie.”
Die twee meisies is aangenaam verras toe dit blyk dat hulle tafelgenote is. Nou gesels hulle net oor musiek en kuns. Alice gesels oor Rembrandt en die ou meesters se werke, en Verena oor die werke van Mozart en sy tydgenote.
Na die ete bied Alice aan om vir Verena Londen se eeue oue Hyde Park te gaan wys. En dit is hier in die park, in die weelde van die natuur, waar die twee meisies mekaar werklik leer ken.
“Ek veronderstel jou ouers woon nie in Londen nie, daarom dat jy in mevrou Smith se losieshuis tuisgaan?” sê-vra Verena sonder om nuuskierig te wees.
“Jy het gelyk. My ouers woon die afgelope jaar al nie meer in Engeland nie,” sê Alice en spring rats oor ’n poeletjie water. “My pa is die bestuurder van ’n groot inmaakfabriek op die pragtige, skilderagtige eiland San Di Rago.”
“San Di Rago!” herhaal Verena die eiland se naam met ’n ligte frons. “Watse eiland is dit?”
Alice kyk die Afrikaanse meisie met ’n sagte laggie aan.
“Ek verstaan die eiland behoort al baie geslagte lank aan die adellike Di Rago’s, en is tans die eiendom van die vier en dertigjarige Portugese hertog Duarte Fernando Emanuel Oliveira di Rago.”
Verena knip haar oë. Vir haar klink dit na ’n vreeslike string name. Trouens, sy sal dit nie eens waag om daardie name te herhaal nie, want sy is seker dat haar tong in knope sal draai wat geen dokter op aarde weer sal kan loskry nie.
Alice bars uit van die lag.
“Waarom kyk jy my so snaaks aan?” vra sy nadat haar lagbui effens bedaar het. “Jy is vir my die mooiste meisie wat ek nog ooit gesien het, maar wanneer jy jou oë so snaaks trek …” Sy begin weer prettig te giggel.
“Ek sukkel nog om daardie edelman, daardie hertog van jou, se string name in te neem,” laat Verena ietwat droog hoor. “As my ouers my met so ’n klomp name opgesaal het, verseker ek jou, het ek my lankal in die eerste poel water verdrink.” Alice proes weer onderlangs, maar Verena gaan ongeërg voort: “En waarmee hou jou ma haar op die eiland besig, of werk sy ook in die inmaakfabriek?”
“O nee, my ma is ’n ware tuisteskepper. Sy ruil graag resepte uit met die dokter van die eiland, dokter Carlo de Almeida, se vrou Rita,” vertel Alice vrolik. “Dan is daar ook nog my vyfjarige sussie, wat oor twee jaar skool toe moet gaan. My broer, Mark, en my skoonsuster, Denise, woon hier op die platteland in Kent en hulle kom haal my dikwels vir ’n naweek plaas toe. Maar vertel nou vir my van jou mense daar in die verre Suid-Afrika.”
Daar speel ’n weemoedige glimlaggie om Verena se mond toe sy met ’n effens verwese stem sê: “Daar is nie veel om te vertel nie, Alice. My ouers, my broer en my sustertjie is al vier oorlede. Hulle het ’n jaar gelede in ’n motorongeluk omgekom en sover ek weet, het ek geen ander familie nie. Maar vertel my meer van die eiland waar jou ouers woon …”
“Van die eiland, of die eiland se baas?” val Alice die jonger meisie tergend in die rede.
“Ek ken hom nie. Ek het hom nog nooit gesien nie, dus is dit vanselfsprekend dat ek nie in hom sal belangstel nie,” help Verena haar Engelse vriendin goedig reg. “Nee, vertel maar liewer van sy eiland. Ek stel meer in skilderagtige eilande belang.”
“H’m, as jy maar weet hoe die baas van die eiland lyk,” sê Alice met haar hand prettig op haar hart, en sy slaan haar blik op. “Hy is lank, donker, hartbrekend aantreklik – en vir my en jou so hopeloos onbereikbaar soos die sterre aan die hemel …”
“Ag, moenie liries raak nie! G’n man is onbereikbaar nie,” pluk sy die bruinkop uit haar droomwêreld terug. “Alle mans is eenders, en jou hertog is geen uitsondering op die reël nie. Wat het die vent gemaak dat jy so ’n verhewe indruk van hom gekry het?”
Alice se hartlike lagbui maak terstond ’n einde aan alles wat Verena nog wou sê. En toe haar lagbui eindelik bedaar, kyk sy die Afrikaanse meisie met ’n geamuseerde uitdrukking in haar grys oë aan en sê met ’n breë glimlag: “Dit is vir my baie duidelik dat jy nog nooit verlief was nie. Daarom dat jy so pynlik prakties is. Maar ek waarsku jou vroegtydig: vroumense is mal oor die hertog. Selfs my eie ou moedertjie dink hy is ’n vreeslik aantreklike man, en laat ek jou sommer dit vertel: my ou moedertjie het besonder fyn smaak. Daar skort net een ding met die hertog –”
“So gedink. Dan het hy darem een swakheid!” val sy Alice in die rede.
“Dit het absoluut niks met sy uiterlike aantreklikheid te doen nie,” help sy Verena dadelik reg. “Ek glo nie ek oordryf wanneer ek sê die man is uiterlik volmaak nie. Maar hy is