Son op die horison. Susanna M. Lingua
insiens ’n vername hertog wees sonder om hooghartig te wees. En dan is hy nog boonop konserwatief ook en glo pynlik nougeset.”
“Ja,” stem Verena saam, “ek hou ook nie van hooghartige mense nie. Hulle is gewoonlik vermetel en verwaand ook. Hy mag nou wel uit die adelstand van Portugal spruit, maar vir my is en bly hy maar ’n man soos elke ander man. Sy bloed het dieselfde kleur as ons gewone mense s’n. Vertel my dus liewer van sy eiland. Ek stel hoegenaamd nie in die baas van die eiland belang nie, Alice.”
Alice kyk Verena met ’n blik aan wat duidelik oordra: Jy sal ’n ander deuntjie sing wanneer jy hom eers gesien het. Maar sy sê: “Die eiland is nie vreeslik groot nie – ongeveer agt by twaalf kilometer. Die hawehoof is aan die noordoostekant en die hertog se fabelagtige villa aan die suidweste, die mooiste kant van die eiland met die mooiste strand. Maar moenie glo hy laat die eilandbewoners toe om ’n voet op sy privaat strand te sit nie.
“My ma sê hy het ’n groot kennisgewing langs sy strand aangebring om mense te waarsku dat hulle oortree as hulle verby die kennisgewing gaan.”
“Hy klink vir my bra onaangenaam en uiters selfsugtig,” kan Verena nie help om te sê nie. “Maar dit is tipies van sulke aantreklike mans: hulle is hopeloos verwen en hulle verwag gewoonlik dat die hele wêreld net om hulle moet draai. Maar vertel my meer van die vent se eiland. Is die plek so plat dat jy kan sien wat oormôre gaan gebeur, of is daar darem ’n ou bergie of ’n ding?”
Alice proes weer onderlangs, maar kry dit tog reg om te sê: “Hy is nie ’n vent nie, Verena, hy is ’n edelman. My pappa sê hy is seker die hertog ken nie die einde van sy skatte nie. Dokter De Almeida weet te vertel dat die hertog een van die mooiste kastele in Portugal besit, ’n groot beesplaas in Brasilië en ’n yslike sitrusplaas in die Laeveld van jou eie Suid-Afrika.”
“Wel … ja, dit klink of hy skatryk kan wees,” stem Verena saam. “Maar vertel my gerus van sy eiland; ek stel nie in hom of sy skatte belang nie.”
“O ja, jy wil mos weet of daar darem ’n berg op die eiland is,” glimlag Alice vriendelik. “Daar is ’n pragtige, skilderagtige berg aan die noordekant. Van die hawehoof af moet ’n mens oor die berg ry wanneer jy die bewoonde deel van die eiland wil besoek. Die berg is nie vreeslik hoog nie, en met die bewoonde deel bedoel ek die dorpsgebied. Die hele eiland is feitlik een groot dorp, met die inmaakfabriek aan die noordoostekant. Die vissersgemeenskap woon langs die inmaakfabriek, en jy moet sien hoe die mense op die strand saamdrom wanneer die vissersbote met hul vangste aan wal kom. Ek wil die toneeltjie nog eendag skilder.”
“Aan watter kant van die eiland woon jou ouers, Alice?”
Alice breek eers ’n takkie van die struik langs haar af, en terwyl sy daarmee loop en speel, antwoord sy Verena se vraag met merkbare verlange in haar stem: “Ons huis is ook langs die strand, nie ver van die hertog se villa af nie. Maar ons deel van die strand is natuurlik meer rotsagtig as dié van die hertog. As hy ’n mens maar net wou toelaat om aan sy kant te swem …”
“Gaan hy nooit van die eiland af weg nie?” wil Verena met ’n ligte frons weet. Sy kon ’n selfsugtige mens nog nooit duld nie, en dit lyk vir haar of die hertog baie selfsugtig is.
Dis waar, dink sy, ek sal nooit met hom en sy soort oor die weg kom nie. En ek sal ook nooit van egoïstiese mense hou nie.
“Jy vra of hy nooit van die eiland af weggaan nie?” Sy kyk Verena met ’n ondeunde glimlaggie aan. “Die dierbare mansmens is omtrent nooit op die eiland te vinde nie! My pa sê die hertog bly nooit langer as drie maande daar nie. Daarna gaan bly hy drie maande in sy kasteel, drie maande in Brasilië en drie maande in Suid-Afrika.”
“Ag, maar dan het julle mos geen probleme nie!” laat Verena met ’n laggie in haar stem hoor. “Wag net totdat hy die eiland verlaat het en gaan swem dan aan sy kant van die strand.”
“O, maar dit is nie so eenvoudig nie,” weerspreek Alice haar. “Daar is ’n kwaai opsigter.”
“Dan moet julle in daardie verbode stukkie see gaan swem wanneer die mense van die villa slaap,” stel Verena prakties voor. Maar ’n ander gedagte tref haar, en dit dryf haar om te vra: “Daardie hertog van jou … is hy getroud of nie?”
Alice kyk Verena met ’n geamuseerde glimlag aan.
“Hy is nie mý hertog nie,” sê sy, “en hy is ook nie getroud nie, maar tot dusver is hy nog nie verloof nie … Eienaardig, nè?”
Verena kyk vlugtig en met opgetrekte wenkbroue na Alice.
“Ek vind dit glad nie eienaardig dat hy nog nie verloof of getroud is nie,” sê sy. “So ’n hooghartige en egoïstiese man kry nie maklik ’n vrou nie. Watter vrou, vra ek jou, sou graag met so ’n man opgeskeep wou wees?”
“O, ek sal hom met albei hande gryp,” sê Alice. “Sy uiterlike aantreklikheid vergoed ruimskoots vir sy paar gebreke … Nee, dit is nie om daardie rede dat hy nog nie getroud nie. Volgens die gerug wat die ronde op die eiland doen, is hy glo erg kieskeurig en hy het nog nie die meisie ontmoet met wie hy sal trou nie. Sy familie begin glo al onrustig word omdat dit lyk of daar geen erfgenaam gaan wees nie.”
“Wel, dan is dit nou jóú kans om die saak vir hom en sy familie reg te stel,” terg Verena. “Ek gun jou natuurlik iets beter as ’n man soos die hertog. Maar as jy hom regtig wil hê, moet jy hom maar vat …”
Alice se hartlike lagbui laat Verena stilbly, en toe haar lagbui eindelik bedaar, sê sy met ’n ondeunde blinkheid in haar oë: “My liewe Verena, jy praat werklik asof die hertog joune is om weg te gee vir wie jy wil. Ek wonder wat die man sal sê as hy kon hoor hoe jy hom hier staan en uitdeel.”
“Hy sal dit nie weet nie, want hy sal nooit die eer hê om met my kennis te maak nie,” glimlag Verena. “Sy soort vermy ek gewoonlik soos ’n aansteeklike siekte.” Sy kyk na haar polshorlosie. “Ek dink ons moet liewer teruggaan losieshuis toe. Ons kan julle geskiedkundige park weer op ’n ander dag kom bekyk. Ek vrees ek het nog nie klaar uitgepak nie.”
“Nou kom, ek sal jou gou help uitpak. Ek het al baie ondervinding daarvan,” bied Alice vriendelik aan, gretig dat Verena tuis en gevestig moet raak, want in hierdie pragtige Suid-Afrikaanse meisie, besef sy, het sy ’n aangename vriendin ontdek.
Verena stap om ’n groot waterplas en dit bied Alice die geleentheid om haar noukeurig te beskou. Dit verbaas haar dat Verena so klein en fyn is, en tog is sy so volmaak. Selfs haar sagte krulhare is soos ’n pragtige raamwerk om haar fynbesnede gesiggie, en haar lewendige, blou oë is blink met die deurskynende diepte van ’n helder poel water.
Dis waar, Alice het nog nie voorheen so ’n beeld van ’n mens soos Verena gesien nie. Sy hou van Verena se vriendelike, ongekunstelde geaardheid, asook van die blondekop se vrolike geselskap en soms verbasende uitgesprokenheid.
Tuis help Alice haar om uit te pak en gevestig te raak, en toe Verena se kamer weer netjies is, neem die twee meisies op die rusbankie voor die venster plaas en begin oor die jongste modes gesels.
Later vertel Verena van professor Stanford se musiekskool waar sy haar die volgende oggend as student moet aanmeld, en dit laat Alice verras sê: “My vriend is een van professor Stanford se studente. Trouens, dit is sy laaste jaar …”
Hulle sit tot laat die middag in Verena se kamer en gesels. Toe tref dit Alice dat sy nog vir haar ’n rok moet stryk om die volgende dag aan te trek. Verena bedank haar vir die aangename middag en vergesel haar tot by die kamerdeur.
Die volgende dag is vir Verena ’n ware belewenis, ’n dag wat sy nooit in haar lewe sal vergeet nie. Maar daardie aand is sy nie so opgeruimd aan tafel soos die vorige aand nie.
Alice het haar ’n paar keer ondersoekend aangekyk. Toe Verena nie daarop reageer nie, vra sy sag, simpatiek: “Wat makeer, Verena? Het daar iets by die musiekskool gebeur wat jou nie aangestaan het nie?”
“Jy stel dit sag, Alice,” antwoord sy afgetrokke. Sy sug asof al die laste van die wêreld op haar skouertjies rus en vervolg met ’n verlatenheid in haar stem: