Son op die horison. Susanna M. Lingua
klavier nie. Hy sê ek moet my glad nie verbeel ek kan klavier speel nie, want ek kan nie. ’n Bobbejaan kan glo beter speel as ek …”
Alice lag so hartlik dat Verena nie anders kan as om te glimlag nie, ofskoon dit maar ’n suur glimlag is.
“So, dan is dit die rede waarom jou gesig so hang,” sê Alice.
“Wel, is dit nie genoeg rede nie?” vra Verena ernstig en met ’n frons, en vervolg voordat Alice haar vraag kan beantwoord: “Professor Stanford het my so … so gevoelloos uitmekaar getrek. Ek sal nooit weer soos ’n beskaafde mens voel nie. Hy het my al my selfvertroue ontneem …”
“Nee, wag,” keer Alice haastig, “jy moenie toelaat dat die professor se sarkasme jou so mismoedig maak nie. Ek is seker dit is nie so erg as wat dit klink nie. Laat ons Frank vanaand vra wat hy van die man se sarkasme dink.”
Hierop antwoord Verena nie, want op die oomblik weet sy nie wat om te sê nie. Sy het haar lisensiaatseksamen ’n jaar gelede met lof geslaag, maar nou moet sy hoor dat ’n bobbejaan beter as sy kan speel. Sy voel bitter afgehaal en weet op die oomblik nie of sy haar tyd hier in Londen verkwis nie. As dit die professor se eerlike mening is van haar spel, kan sy gerus maar oppak en huis toe gaan …
Na ete stap Verena saam met Alice na die voorstoep, waar Alice gewoonlik vir Frank wag.
Hulle wag nie lank nie, toe maak die jong man sy verskyning. Alice stel hom aan Verena voor en vertel hom van dié se wedervaring met professor Stanford.
“As hy op jou fyn toontjies getrap het, juffrou Kestell, is jou kop deur en het jy niks te vrees nie,” lig Frank haar in. “Professor Stanford is ’n eienaardige man. Hy skel net die studente uit in wie se spel hy moontlikhede ontdek het. As hy vandag niks vir jou gesê het nie, sou hy nog ’n week gewag het net om baie seker te maak dat jy werklik nooit aan sy hoë eise sal voldoen nie. Daarna sou hy jou sonder seremonie vertel het dat jy net sy tyd en jou geld verkwis deur voort te gaan met jou musiekstudie.”
“Noem my gerus Verena. Ek kan nog nie begryp waarom hy my vandag so uitgeskel het as hy van my spel hou nie …” begin Verena. Maar Frank gee haar nie kans om meer te sê nie.
“Ek het nie gesê hy hou van jou spel nie, Verena,” help hy haar reg. “Ek het gesê jou spel hou moontlikhede in. Jou spel is bepaald op die oomblik van so ’n swak gehalte dat die professor voel ’n bobbejaan kan beter vaar as jy. Maar terselfdertyd vind hy iets daarin, wat beteken dat jy oor ware talent beskik en dat jy onder sy leiding ongekende hoogtes kan bereik … Nee, sy uitskellery is maar net om jou uithouvermoë te toets.”
“My uithouvermoë?” Sy kyk die jong man vraend aan.
“Jy ken professor Stanford nog nie, Verena,” glimlag hy meewarig. “Wanneer jy talent het, laat hy jou hard werk, want hy eis gewoonlik net die beste van sy studente.”
“O, ek verstaan,” sê sy ietwat droog, maar sy sien geen lig nie, want die professor klink vir haar totaal agterstevoor. Tog waag sy dit darem om te vra: “Wat dink jy, Frank, sal die professor môre nog in so ’n uitskelluim wees?”
“O, hy sal jou nog af en toe uitskel wanneer jy klein foutjies begaan of te stadig na sy sin vorder. Maar ek sou jou aanraai om dit nie te ernstig op te neem nie,” waarsku Frank hulpvaardig. “Hy het my in die begin net so uitgekryt. Maar ek was vasbeslote om vir hom te wys dat ek nie die donkie of die bobbejaan is waarvoor hy my knaend aangesien het nie, en ek het ook.”
“Wel, al help dit nie, troos dit darem om te weet wat ek alles van hom kan verwag,” kom dit met ’n ligte frons van Verena, wat in haar hart wens sy die professor kry ’n kramp wanneer hy haar weer vir ’n bobbejaan uitskel.
Frank het egter gelyk, want die volgende dag is die professor amper die geduldigste mens wat Verena ken. Hy vertel haar nie dat haar spel moontlikhede inhou en dat hy van haar ’n skitterende pianiste kan maak nie. Hy vestig net haar aandag op haar foute en laat haar die komposisie oor en oor speel totdat haar spel hom geval. Verena laat haar egter glad nie deur hierdie skynbare verdraagsaamheid van hom flous nie. Sy weet dat hy haar môre of oormôre weer vir ’n bobbejaan sal uitskel.
Maar noudat Verena as ’t ware gewapen is teen die professor se temperamentele uitbarstings, geniet sy haar studie en haar verblyf in Londen al meer en meer. Alice neem haar dikwels om die stad te besigtig. Gewoonlik kom hulle so moeg en uitgeput by die losieshuis aan dat Verena uiteindelik besluit om vir haar ’n motortjie aan te skaf. Sy wil nie ’n nuwe voertuig koop nie, want sodra sy klaar is met haar studie, moet sy die motortjie tog van die hand sit …
Alice neem haar elke Saterdag na motorhawens toe wat net gebruikte motors verkoop, en wanneer ’n motor Alice nie geval nie, sê sy dit dadelik. Soms kibbel sy saam met Verena oor die prys en vertel die verkoopsman onomwonde dat haar vriendin net die motortjie wil koop, nie die motorhawe daarmee saam nie.
Nou word daar elke naweek rondgery – dus kry Frank sy meisie baie min te sien.
Naby die middel van die jaar, na ’n lekker naweek saam met Alice se broer-hulle op die plaas, kan Frank nie anders nie as om sy vol gemoed ’n slag te lug deur te vra of Alice darem nog sy meisie is. Of het sy miskien ’n ander kêrel op die lyf geloop? Toe eers besef Alice dat sy haar geliefde Frank al die maande kwaai verwaarloos het.
Hierna gaan Verena alleen op verkenningstogte, totdat die motortjie eendag ’n pap band kry en sy twee uur lank vir iemand wag om dit vir haar om te ruil. Van toe af nooi sy gewoonlik een van haar medestudente saam.
Aan kêrels steur Verena haar min. Byna al die studentemans wat nie ’n vaste verhouding het nie, het sommer die eerste dag al hulle visier op haar ingestel. Maar sy het hulle vriendelik, dog baie reguit laat verstaan dat daar vir baie jare geen plek in haar lewe vir ’n man sal wees nie. Hulle vriendskap is welkom, maar hulle moet niks meer as dit van haar verwag nie. Met hierdie verstandhouding kom Verena baie goed met haar medestudente oor die weg.
Die eerste jaar in Londen snel vir haar gans te gou verby. Professor Stanford is tevrede met die vordering wat sy maak, sy het aangename vriende en aan geld ontbreek dit haar nie. Sy is lief vir reën en hou van die skielike somerbuie wat telkens oor Londen uitsak. Maar nou het die winter ingetree met sy ysige sneeu en reën waarvan Verena glad nie hou nie.
Sy en Alice is vandag in ’n besonder vrolike luim, want die kunsskool en professor Stanford se musiekskool het albei vir die lang Kersvakansie gesluit.
Verena het reeds al haar vriende by die musiekskool gegroet en nou wag sy voor die kunsskool vir Alice.
Dit het ’n rukkie gelede opgehou met sneeu en die reën hang soos ’n grys sluier oor die stad. Verena wonder wat sy sal doen wanneer Alice die volgende dag vertrek om die Kersvakansie saam met haar ouers op die eiland San Di Rago deur te bring. Sy wonder of sy nie liewer na Suid-Afrika toe moet gaan vir die vakansie nie. Dit lyk vir haar of Londen maar ’n mistroostige plek in die winter kan wees, glad nie so vol sonskyn soos Durban en die gewilde Suidkus nie …
“Maggies, maar jy lyk diep ingedagte,” maak Alice se stem meteens ’n einde aan Verena se getob toe sy die motordeur oopmaak en inklim. Sy ril en vervolg koulik: “Brr! Dis aaklige weer!”
“Ja, en ek het nou net gewonder wat ek in hierdie weer sal aanvang wanneer jy môre weggaan,” sê Verena en trek versigtig voor die kunsskool weg. “Ek oorweeg dit sterk om ’n vliegtuig te haal Suid-Afrika toe. Maar hierdie tyd van die jaar is al wat ’n vakansie-oord is vol bespreek. Ek dink ek moet Italië vir ’n verandering besoek … Suid-Italië, waar dit nie sneeu nie.”
“Nee, kom liewer saam met my,” doen Alice aan die hand. “Dit is op die oomblik ook winter op San Di Rago, maar daar is ’n yslike groot koolstoof in my ma se kombuis wat jou totaal van die sneeu buite laat vergeet.”
Verena skud haar kop en antwoord met ’n verontskuldigende glimlaggie: “Ek weet jy bedoel dit goed, Alice, maar ek glo nie ek sal saam met jou gaan sonder ’n uitnodiging van jou ma nie.”
“Jy is gans te gesteld op etiket,” verwyt Alice. “Maar as dit jou beter sal laat voel, sal my ma jou per brief