Son op die horison. Susanna M. Lingua
’n mens in die winter op die eiland kan doen, totdat hulle voor die losieshuis stilhou en uitklim.
Later die middag, toe Verena haar help inpak, sê Alice teleurgesteld: “Dit sou ’n wonderlike vakansie gewees het as die hertog ook op die eiland kon wees. Maar hy besoek dit gewoonlik net in die somer.”
“So, en wat maak sy teenwoordigheid so spesiaal dat dit ekstra kleur aan jou vakansie sal gee?” wil Verena met ’n gesteurde frons weet, want na haar mening is hy nie die soort man om oor begaan te wees nie.
“Jong, as jy hom een maal gesien het, sal jy weet hoekom hy so spesiaal is,” glimlag Alice. “Ek sê jou, ek is smoorverlief op hom.”
“En wat van Frank?” wil Verena met ’n ligte frons weet. “Het ek nie gehoor julle het ’n ernstige verhouding nie?”
“O ja, ons het,” sê Alice. “Maar Frank is naasbeste, my tweede keuse, as jy kan begryp wat ek bedoel.”
“Ja, ek begryp. Maar glo my, ek sal nooit met naasbeste tevrede wees nie,” laat Verena ernstig hoor en knip ’n propvol tas versigtig toe. “By my sal dit altyd net die beste moet wees, of anders niks nie.”
“Dan moet jy sorg dat jy die hertog van San Di Rago liewer nooit te sien kry nie …” begin Alice. Maar Verena gee haar nie kans om meer te sê nie.
“Ek moet sê ek hoop van harte dat ek die man nooit te sien kry nie. Maar ek sê dit om ’n gans ander rede as wat jy in gedagte het, my liewe Alice. Weet jy, ek is al so keelvol vir die hertog dat ek voel ek gaan iets oorkom as ek die woord nog een keer hoor.”
Alice lag terwyl sy die laaste tas toeknip en dit uit die pad stoot.
“Wag maar, ons gesels weer wanneer jy hom eers met jou eie oë gesien het – gesien het hoe sy gitswart hare blink, hoe ernstig en deurdringend hy met sy donker oë na ’n mens kan kyk, en sy mooi karaktervolle mond en sterk ken.”
“Ja-nee, ek sien jy het die skoot hoog deur,” val Verena die bruinkop in die rede. “Ek sal dus nie met jou stry nie, want in daardie geval sal die man beslis jou alfa en omega wees … dis mos gewoonlik die geval wanneer iemand verlief is.”
Daardie aand gaan klim hulle vroeg in die bed, want die boot waarmee Alice na die eiland toe reis, vertrek baie vroeg die volgende oggend en Verena het belowe om haar vriendin betyds by die hawe te besorg.
Dis ’n koue, nat oggend toe hulle deur Londen se strate ry na die hawe toe. Alice is bly en opgewonde omdat sy oormôre tuis sal wees. Dis net jammer dat Verena nie vandag al saam met haar wil kom nie. Maar Alice laat nie toe dat hierdie gedagte haar vrolikheid demp nie. Sy weet dat haar ma vandag nog ’n uitnodiging aan Verena sal rig en dat sy haar vriendin oor ’n week op die eiland kan verwag … inderdaad ’n aangename vooruitsig.
Verena voel vreemd swaarmoedig toe die boot die hawe verlaat, so asof sy Alice nie weer sal sien nie. Sy skud haar skouers asof sy die onaangenaamheid van haar wil afskud, want dit is absoluut ’n verspotte gedagte. Sy voel maar net skielik alleen, dis wat dit is.
“Ja-nee, dit lyk vir my ek word nou skoon laf,” vermaan sy haarself. “Verbeel jou, om helder oordag so te voel …”
Verena staan in die ysige koue op die kaai totdat die boot uit die oog verdwyn. Toe draai sy om en stap haastig na waar haar motortjie geparkeer staan, vasberade om so gou moontlik van haar swaarmoedigheid ontslae te raak.
2
Dit is reeds drie dae na Alice se vertrek – ’n koue, nat en mistroostige dag. Al mevrou Smith se loseerders het al na hul onderskeie bestemmings vertrek, behalwe Verena. En hier waar sy ’n hartroerende komposisie van Schumann in haar kamer op die klavier speel, luister sy na die weemoedige klanke wat die mistroostigheid van die weer beklemtoon.
Sy het nog skaars die slotakkoorde gespeel, toe daar saggies aan die kamerdeur geklop word.
“Binne!” roep sy vriendelik.
Die deur gaan oop en mevrou Smith se tienjarige seun, Nick, kom in en hou ’n koevert na haar uit.
“ ’n Kabelgram vir jou, juffrou Kestell,” deel hy haar met ’n breë glimlag mee. “Dis seker van jou kêrel af,” meen hy.
“Nee, jong, jy het dit mis,” lag sy en neem die koevert by hom. “Ek het nie ’n kêrel nie!” Sy haal ’n muntstuk uit haar beursie en gee dit vir die seun. “Gaan koop vir jou lekkers, Nick,” stel sy voor.
Hy neem die muntstuk, bedank haar en verlaat die vertrek.
Net soos Verena vermoed het, is dit ’n kabelgram van Alice se ma wat voorstel dat sy die eerste boot moet haal en haar vakansie by hulle op die eiland kom deurbring.
Sy steek die kabelgram terug in die koevert, kom orent en besluit dat sy eers ’n draai by die winkels sal moet maak voordat sy kan begin inpak, want benewens haar ander inkopies wil sy vir elke lid van die Stratton-gesin ’n geskenkie saamneem.
Terwyl Verena in die stad is, doen sy terselfdertyd navraag in verband met bote wat by die eiland, San Di Rago, aandoen. Sy tref dit gelukkig, want daar is ’n boot wat binne twee dae vertrek. Sy bespreek ook sommer dadelik vir haar plek op die boot en is aangenaam verras toe sy verneem dat daar ook genoeg plek vir haar motor in die ruim sal wees.
Van hierdie oomblik af bly Verena druk besig tot die aand voor haar vertrek. Die volgende oggend moet sy van ’n taxi gebruik maak om haar na die hawe toe te neem. Daar is niemand wat haar kom wegsien nie, derhalwe gaan sy dadelik aan boord en kyk dat haar bagasie alles na haar kajuit toe geneem word.
Die see is grys en onstuimig toe die boot die Engelse kanaal binnevaar. Hoë, witgekruinde golwe beweeg aanhoudend landwaarts, net om hulle genadeloos teen die rotse op die strand te pletter te loop.
Waar Verena alleen op die dek teen die reling aangeleun staan, is sy in ’n ligbruin kameelhaarjas, ’n ligrooi gebreide mus, ’n serp en handskoene geklee. Sy is warm aangetrek, maar die wind waai yskoud teen haar gesig aan. Daar is ’n hartseer trekkie om haar mooi, sagte mond terwyl sy na die onstuimige see kyk. Sy is baie lief vir die see, maar nie wanneer die water so grys en mistroostig lyk nie.
Na ’n rukkie kom die son deur. Verena maak haar handsak oop en haal ’n sonbril te voorskyn. Sy sit die bril op en nou steek net ’n klein deeltjie van haar voorkop, haar neus, mond en ken uit. Die bril lyk kompleet soos ’n masker wat bedoel is om die skoonheid van haar gesiggie vir begerige oë te verberg.
Noudat die son deur die wolke gebreek het, stap die meeste van die passasiers uit op die dek. ’n Lang, donker, breedgeskouerde man van ongeveer vier en dertig kom staan ’n paar tree van Verena af. Sy kyk hom vlugtig aan. Hy is die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Sy twee hande wat op die relings rus, is lank, slank en netjies versorg. Hy het swart hare, donker oë en ’n donker gelaatskleur.
Sy besluit om darem nog ’n blik in sy rigting te waag. Sy draai haar gesig stadig in sy rigting, en die volgende oomblik kyk sy vas in sy donker oë wat haar met openlike weersin beskou. Gelukkig kan hy nie haar oë deur die lense van die sonbril sien nie.
Sy vererg haar dadelik vir die vermetele man wat haar só aankyk terwyl hy haar nie eens ken nie. Sy kyk hom strak en reguit aan totdat hy omdraai en wegstap.
Die volgende oomblik hoor sy ’n man aan haar ander kant op Afrikaans vir sy vriend sê: “Ek wonder hoe die meisie hier langs ons werklik lyk agter daardie masker van ’n bril.”
“Haar gesig is bepaald geskend, daarom dat sy haar agter so ’n aaklige bril versteek.”
Die man wat eerste gepraat het, begin saggies lag en klap sy vriend vertroulik op die skouer.
“Hierdie uitlandse vroumense dra nie daardie soort bril om ’n geskende gesig te versteek nie, my vriend,” sê hy. “Hulle dra die ding omdat dit glo mode is.”
“Maar hoe sal ’n mens ooit weet hoe sy lyk?” wil die ander man weet.
“O, sy wil bepaald nie hê ons moet weet hoe sy lyk nie.