Son op die horison. Susanna M. Lingua
bejammer jou nie,” help Alice haar geduldig reg. “Die mense is net simpatiek en hulle wonder hoe hulle die lewe vir jou makliker kan maak. Trouens, al die eilandbewoners het eenparig besluit om as oë vir jou te dien sodra jy uit die hospitaal ontslaan word. Jy sal die eiland dus kan plat loop sonder dat enige onheil jou tref, want daar sal altyd iemand in die nabyheid wees wat ’n oog oor jou sal hou. My sustertjie, Clare, het reeds aangebied om jou elke dag vir ’n wandeling langs die strand te neem.”
“Jy praat asof almal verwag dat ek my hier op die eiland gaan vestig,” maak Verena beswaar.
“Wel, jy sal hier moet bly totdat dokter De Almeida sê jy is gesond genoeg om die eiland te verlaat. Dan sal die winter reeds verby wees en sal dit al amper somer wees, en jy het hierdie eiland nog nie gesien …” Alice bly meteens stil en vervolg na ’n rukkie berouvol: “Ek is jammer, Verena. Maar jy lyk so pragtig hier in die bed dat ’n mens geneig is om te vergeet.”
“Gaan asseblief voort. Wat is in die somer so wonderlik hier op die eiland?” probeer sy om Alice uit haar verleentheid te help, want sy kan aan die ouer meisie se stem hoor dat sy bitter verleë voel.
“Ag, dis sommer die mooi natuurskoon, die sonnige dae en die vissers se interessante bedrywighede op die strand,” vertel Alice nou sonder veel geesdrif. “Clare sal alles aan jou verduidelik wanneer julle bedags langs die strand gaan stap.”
“Het jy al jou geliefde hertog gesien vandat jy teruggekom het?” vra Verena.
Alice begin saggies lag en sê duidelik verlig: “Hy woon nooit in die winter hier op die eiland nie. Hy sal eers later in die lente of aan die begin van die somer kom. Maar vertel my – het jy darem met interessante mense op die boot kennis gemaak?”
“Eienaardig dat jy nou juis so ’n vraag aan my moet stel,” laat Verena met ’n peinsende uitdrukking op haar gesig hoor.
“Waarom sê jy so, Verena?”
“Omdat ek op die boot vir die eerste keer in my lewe op ’n man verlief geraak het … ironies, is dit nie?”
“Ek hoop van harte dat jy hom weer eendag sal raakloop,” sê Alice. “Wie is hy en hoe lyk hy, Verena?”
Verena haal haar tenger skouers liggies op en antwoord ongeërg. “Ek vrees ek het nie persoonlik met hom kennis gemaak nie. Ek en ’n paar ander passasiers het op die dek in die son gestaan toe hy ook op die dek verskyn en ’n entjie van ons af gaan staan het. Ek het hierdie sonbril opgehad en ek kon hom dus goed bekyk sonder dat hy dit geweet het. Maar die man het bepaald nie van my gehou nie, want hy met my met soveel weersin aangekyk dat ek my behoorlik vir hom vererg het. Gelukkig het hy die boot daardie selfde middag by Le Havre verlaat. Hy is lank en donker, maar ek weet nie wie of wat hy is nie. Ek weet net dat hy die aantreklikste man is wat ek al gesien het en dat ek hopeloos op hom verlief is.”
“Wil jy vir my vertel dat jy verlief is op die vent, ten spyte van die feit dat hy niks van jou hou nie?” vra Alice ongelowig.
’n Droewige, soet glimlaggie verdring die hartseer trekkie om Verena se sagte mond toe sy effens gelate sê: “Dit lyk vir my die liefde is ’n emosie wat sommer ongevraag kom sonder aansien des persoons. Dit is die eerste keer dat ek met die liefde kennis maak, Alice, en ek hoop van harte dat dit ook die laaste keer sal wees.”
“Wel, ek hoop jy loop die vent weer raak, al is dit dan ook net om jou neus vir hom op te trek. Maar ek sal natuurlik meer daarvan hou as hy jou liefde beantwoord …”
“Jy lees gans te veel storieboeke,” bestraf Verena haar goedig. “Sulke wonderwerke gebeur gewoonlik net in storieboeke, nie in die werklike lewe nie. Vergeet die man en vertel my liewer wat ek met myself kan aanvang in hierdie … hierdie … donker wêreld waarin ek my tans bevind.”
“My liewe Verena, jy praat asof die lewe vir jou tot stilstand gekom het,” vermaan Alice haar vriendelik. “Wel, dit het nie, want solank as wat jy asemhaal, kan jy nie agterbly nie. Ek weet jy voel op die oomblik of die lewe jou ’n uitklophou toegedien het. Maar jy sal weer opstaan en rigting kry – dit is hoe die mens gemaak is. Jy staan altyd weer op, al slaan die lewe jou ook hoe plat.”
“Ek hoop jou voorspelling van opstaan en rigting kry word bewaarheid,” laat Verena met effense bitterheid in haar stem hoor, “want wat mý betref, het die lewe werklik vir my tot stilstand gekom …”
“Jy voel maar net swartgallig omdat jy hier op jou rug met een gebreekte en een beseerde arm lê,” val Alice haar vriendin met ’n goedige glimlaggie in die rede. “Sodra jy weer heel en in een stuk is, sal jy sommer weer lus voel vir die lewe.”
“Jy bedoel die lewe sal weer wonderlik wees sodra ek oral met ’n wit kierie kan rondloop? Wel, laat ek jou dit vertel: Ek weier beslis om ooit ’n kierie in my hand te vat. Ek mag blind wees, maar ek weier volstrek om dit met ’n kierie aan die wêreld te verkondig. Ek sal liewer vir my ’n hond …”
Die gedagte dat ’n hond haar moet lei, dat sy volkome van ’n hond afhanklik moet wees, laat haar geskok swyg. Alice merk dadelik hoe bleek Verena is en stuur die gesprek terstond in ’n ander rigting deur haar van die eiland, sy mense en die hertog se villa te vertel.
“Dis ’n fabelagtige villa, spierwit en drie verdiepings hoog,” sê Alice. “Die gebou pryk langs die strand op die hoogste punt van die eiland en kyk ver uit oor die see. Van die see se kant af lyk dit of die villa op ’n massiewe rots gebou is. Die veranda beslaan drie kante van die gebou en tussen die pilare is net boë te sien …”
Alice sit by Verena en gesels totdat die verpleegster die vertrek met die pasiënt se middagete binnekom. Met die belofte dat sy Verena weer na ete sal besoek, sê sy tot siens en vertrek.
Op haar ouers se vraag hoe Verena op dokter De Reuda se diagnose reageer, kan Alice ongelukkig nie positief antwoord nie, want aanvanklik het dit vir haar gelyk of Verena haar versoen het met die feit dat sy haar sig tydelik verloor het, maar later het ’n effense bitterheid onverhoeds in haar stem deurgeskemer. Dit het Alice laat besef dat Verena se stille gelatenheid net ’n dun lagie vernis is waaronder sy al haar hartseer, teleurstelling en bitterheid verberg.
Maar die tyd staan nie stil nie. Ses weke na die motorongeluk kondig dokter De Almeida aan dat Verena so mooi herstel het dat sy die volgende dag uit die hospitaal ontslaan mag word. Ook haar gebreekte arm het mooi aangegroei en die gips kan ook die volgende dag verwyder word.
“Ek dink u ontslaan my gans te gou uit die hospitaal, dokter,” sê Verena. Haar skielike bleekheid getuig dat sy aankondiging haar bitter ontstel het.
Met ’n teer gebaar vou hy haar regterhand met sy een hand toe en vra sag, vertroulik: “Waarom is jy bang om die hospitaal te verlaat, señorita ?”
Verena bly etlike sekondes stil terwyl sy sukkel om die onkeerbare opstand in haar tot bedaring te bring. Toe vra sy eindelik met ’n hartseer trekkie om haar mond: “Waar moet ek heen, dokter? Is dit abnormaal dat ek bang is vir die wêreld buitekant die hospitaal? Dis so donker, ek voel verdwaal en … so vreeslik alleen.”
“Jy het nie nodig om bang te wees nie, señorita. Dit is ’n vriendelike wêreld wat buite op jou wag,” troos die dokter. “Al die eilandbewoners gaan van môre af vir jou as oë dien. Ja, selfs die jong Clare Stratton sê dat sy jou hand sal vat en jou oral sal neem waar jy wil wees. Almal hier op die eiland is jou vriende, señorita Verena.”
Hierdie vriendelike, simpatieke woorde van die dokter laat Verena onverwags in trane uitbars. Met haar gesig in die kussing verberg, snik sy al haar leed uit. Daar is ’n vreemde stilte in haar toe sy eindelik haar trane afdroog en weer die donker bril opsit.
Na hierdie tranebui is dit of al Verena se bitterheid weggespoel het, asof sy haar oplaas met die onvermydelike feit versoen het, die feit dat sy haar sig tydelik verloor het en geduldig sal moet wag vir die dag dat sy die gebruik van haar oë terugkry. Dat sy straks nooit weer sal kan sien nie – daaraan wil sy liewer nie dink nie. Albei dokters het haar verseker dat sy haar sig net tydelik verloor het. Intussen sal sy probeer om geduldig te wag. Verder as dit wil sy voorlopig nie dink