Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray
keer vinnig. Lochner sal ’n hartaanval kry as hy moet uitvind sy is nou al op die betaalstaat van die filmmaatskappy! “Nee. Nee. Ek wil nie betaling hê nie. Goed. Ek sal net sit en kyk.”
“Maar jy belowe jy sal sê as jy dink iets is verkeerd? Enigiets, Ansie.”
Weer, nes gister, word sy vasgevang deur alles wat voor en om haar gebeur. En weer, soos gister, spring die woorde spontaan na haar lippe. “Ek sou daardie toneel anders doen, Jack. Ek sou haar liewer uit daardie hoek neem.” En een keer wys sy Lucille selfs hoe sý ’n sekere toneel sou hanteer. Sy doen dit baie verskonend, want sy is só bang sy gee aanstoot. Maar Lucille, goeie aktrise wat sy is, is saam met ’n baie ingenome Jack Stone bly oor die voorstel.
“Jy is reg! Dit gaan die hartseer baie sterker na vore laat kom. Waarom het ek nie self daaraan gedink nie?”
Omdat sy beter is as jy. Omdat hierdie vaal meisie briljant is, antwoord Jack swygend sy eie vraag en beskou haar weer opnuut. Iets wil êrens in hom roer, maar hy kan sy vinger nie daarop lê nie. Hy maak hom egter nie daaroor moeg nie. Hy voel te opgewonde. Iets vertel hom hy het op ’n groot vonds afgekom. Sedert gister fassineer sy hom geweldig. Hy het ná haar eerste opmerking aangevoel dat sy iets besonders is. En hy gaan gebruik maak van haar, na die duiwel met daardie befoeterde neef van haar. “By hook or by crook, ek gaan van haar ‘instink’ gebruik maak. Ek dink ernstig daaraan om haar saam te neem Engeland toe as ons teruggaan,” sê hy gedemp aan Don.
“Dit sal maar têre, ou vriend. Daardie neef van haar . . .”
“Maar, verdomp, man, hy is haar neef, nie haar man of haar pa nie! En sy is beslis geen kind meer nie. Ek skat haar so ses, sewe en twintig.”
“Ja, sy moet daarlangs wees, maar Lochner sal hom nie so maklik laat fnuik nie. Moenie oorhaastig wees nie, Jack. Ons weet nie hoe die vurk presies in die hef steek nie. Ons wil nie Ansie se lewe verder kompliseer as wat dit reeds is nie.”
“Natuurlik. Maar ek gaan hierdie meisie nie sommer sonder stoot of val prysgee nie. Dis seker.”
Don kyk hom vinnig aan. “Moet net nie amoreuse gedagtes oor haar begin kry nie, ou vriend.”
Jack frons. “Hoekom nie?”
“Ek het eendag ’n onskuldige opmerking gemaak en ek is summier meegedeel sy is nie in die mark nie, soos haar neef dit gestel het.”
Jack frons weer vererg. “Dis Ansie wat daaroor moet besluit, nie haar neef nie.”
Don frons nou ook, lyk ietwat bekommerd. Hy hoop nie hier is nou ’n onverkwiklike verwikkeling nie. Lochner sal sy nek omdraai. “Stadig, Jack. Moenie nou vir my probeer vertel jy het met die eerste oogopslag verlief geraak nie – ’n ou haan soos jy?”
“Nee, ek sal nie dit sê nie, maar sy raak vir my by die dag ouliker. Dit kan wees dat ek op haar verlief kan raak. En terwyl ons mekaar so goed kan aanvul in ander opsigte ook . . .”
Don is nou regtig onrustig. “Twak, man. Jy is al twee keer geskei en jy is sommer baie ouer as sy.”
“En nie een van dié twee feite maak enigsins saak nie.” Dan lag hy, klop Don gerusstellend op die skouer. “Bedaar, vriend. Ek sal haar nie ontvoer nie!”
Maar Don is nie gerusgestel nie. O, kragtie, hier kom moeilikheid. Hy sal Ansie moet waarsku, maar hy is nie so seker of sy sal luister nie. Want sy is nie meer die onderdanige meisie wat hier aangekom het nie. Sy is besig om in ’n interessante meisie met ’n persoonlikheid en ’n wil van haar eie te ontwikkel. Sy het selfs parmantig en opstandig geword, verontagsaam haar neef se bevele en doen wat sy wil. Wat het hom besiel om haar aan die filmspan voor te stel en haar bloot te stel aan die slinksheid van ’n ou wolf soos Jack Stone? As Lochner moet weet . . .
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.