Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray
werf gespan en word die groot hekke saans toegemaak en gesluit, veral ter beveiliging van die gaste wat hy gereeld ontvang. Sy bring die perd tot stilstand onder ’n boom en bekyk die toneel voor haar deur die diamantdraad. Daar is groot doenigheid aan die gang. Don se Land Rover en nog ’n ander een staan voor die hoofgebou. ’n Paar mans en van Don se plaaswerkers is besig om ’n groot kamerastel op ’n vragmotor te laai. Oral is mense aan die beweeg. Sy gewaar twee vroue in bosklere identies aan dié wat Charlene dra. Bevele word uitgeskree. Dis duidelik hulle maak reg om veld toe te gaan.
Stil bestudeer Ansie die toneel voor haar en met elke verbygaande sekonde voel sy hoe iets haar keel al meer toedruk. Daar is ’n drukking in haar bors asof haar hart wil bars en êrens . . . êrens in die donker newels van gister roer daar iets, net ’n ligkol wat sukkel om uit die swart duisternis te ontsnap. Haar oë nael vas op die kameras agter op die vragmotor . . . en sy weet . . . sy wéét net sy het dit voorheen gesien. Dis nie ’n onbekende toneel voor haar nie. Iets . . . iets is vir haar baie bekend . . .
Hoofstuk 6
6
Salmon en Liesbet slaak ’n sug van verligting toe Ansie Friedesheim se werf binnery. Lochner is nog nie terug uit die veld nie.
Liesbet begin sommer raas toe Ansie afklim en die merrie aan Salmon oorhandig. “Juffrou, jy doen dit nie weer nie! Ek kan nie dink wat Salmon makeer het om jou toe te laat om alleen te gaan ry nie. Meneer laat dit eenvoudig nie toe nie!”
Ansie lag gerusstellend, gee haar skouer ’n gemoedelike drukkie. “Dit waarvan jy nie weet nie, doen jou nie kwaad nie. Meneer weet nie ek het alleen gaan ry nie en hy hoef nooit te weet nie, tensy iemand gaan verklik. Ek sal beslis nie. Salmon ook nie, want dan kry hy groot raas. Dus . . .”
Liesbet lyk nou eers ontevrede. “Jy word deesdae baie stout, juffrou.”
Ansie skud haar kop. Liesbet is al net so erg soos Lochner, gaan te kere asof sy nog ’n kind is. Maar iewers in haar is ’n warm kolletjie van lekkerkry oor iemand tog omgee. Daarom glimlag sy nou maar verdraagsaam en sê met ’n pruilmond, nes ’n bedorwe kind: “Maar ek het so moeg geraak van net altyd soet wees, Liesbet! Dis lekkerder om stout te wees!”
Salmon se tande blink in ’n glimlag, maar Liesbet dink nie dis snaaks nie. “Meneer sal jou in die bek moet ruk, sien ek. Jy’s nes ’n jong perd wat op stal gestaan het en skielik ’n oop veld sien.”
Ansie snuif soos Liesbet so lief is om te doen as iets net haar totale minagting verdien. “Jou meneer lyk na ’n aap om mý in die bek te kan ruk!”
Maar toe die Land Rover ’n ruk later stilhou, sing sy ’n ander deuntjie. Nadat sy ’n rukkie daaroor nagedink het, het sy besef dit sal vir haar beter wees om in sy guns te bly. En vir haar toekomsplanne is dit voordeliger as sy sy bevele gehoorsaam. Sy is vanoggend gewaarsku dat hy nie weer teen ’n dikmond-kleuter wil vaskyk wanneer hy tuis kom nie . . .
Hy word byna verblind deur die wye glimlag wat hom toestraal toe sy hom bereik.
“Hallo! Iets snaaks gesien?” vra sy vrolik.
Hy bekyk haar agterdogtig, antwoord bedaard: “Ja. Kleintjie se been lyk goed. En die nuwe aankomeling is piekfyn.”
“Salmon het my vertel daar het ’n nuwe kalfie bygekom. Ek sou hom graag wou sien. Of is dit ’n haar?”
“Dis ’n haar. En dis jou eie skuld dat jy haar nie gesien het nie.”
Sy hele houding vertel haar dat hy verwag dat sy haar nou weer gaan opruk en iets onverantwoordeliks kwytraak. Maar al wat hy kry, is ’n meewarige glimlaggie en ’n bedeesde erkenning: “Dis waar. Maar ek sal haar die een of ander tyd wel te siene kry. Kan ek vir jou iets te drinke bring?”
Hy kyk haar agterna terwyl sy in die rigting van die kombuis verdwyn. Dan grynslag hy by homself en sê saggies: “Jy is met allerhande speletjies besig, jong dame. Maar dit vat twee om dit regtig interessant te maak. Ons sal sien.”
Ansie se skielike buierigheid het net so vinnig as wat dit kop uitgesteek het weer kop ingetrek en as Lochner hierdie skielike ommeswaai nie heeltemal vertrou nie, kom hy haar nietemin tegemoet en bring sy kant om die vrede te bewaar. Enige verwysing na die buurplaas se mense en sy bedrywighede word doelbewus vermy en dis weer met die ou gemoedelikheid dat hulle daardie aand nag sê en gaan slaap. Wat natuurlik baie gehelp het, is dat die bekwame dame van die Lodge nie weer haar gesig gewys het nie. Teen alle hoop in hoop Ansie dat sy vir ewig wegbly.
Die volgende oggend word sy saamgenooi dorp toe, maar sy bedank.
“Hoekom?” wil hy weet en sy sug onhoorbaar. As Lochner net nie alles altyd tot op die been wil oopvlek nie!
“Ek het niks nodig nie, dankie.”
“Maar ry dan net saam.”
“Nee, dankie.”
Hy frons, vra weer: “Hoekom nie?”
Sy tas wild in haar gedagtes rond. “Sommer nie,” sal hom nie tevrede stel nie. Dan kry sy ’n blink ingewing, glimlag en klink verskonend: “Mag ek maar asseblief heeltemal eerlik wees?”
Sy frons verdiep. “Te alle tye, hoop ek.”
“Wel, jy sien . . . jy moet nou nie sleg voel nie. Dis nie dat ek jou verwyt of jou verkwalik nie. Dis my eie skuld, natuurlik. Dis . . .”
“Kom tot die punt, Ansie.”
“Wel, dis . . . my kop.”
“Jou . . . kop?”
“Ja. My hare bedoel ek. Ek voel ’n bietjie selfbewus om so in die openbaar te verskyn. Ek sal saamry wanneer dit eers weer ’n bietjie uitgegroei en meer vorm gekry het. Die mense sal vir my lag,” sê sy kastig verleë terwyl sy dit binnekant uitkraai. O, die stommerik is besig om haar storie vir soetkoek te sluk!
“Hmm.” Hy kry ’n fyn glimlaggie. “Ek verstaan. Ydelheid is in elke vrou ingeplant. Maar jy is onnodig so selfbewus oor jou . . . e . . . kapsel. Dit lyk vir my nogal oulik. Ek het glad nie so sleg gevaar vir die eerste keer nie. Volgende keer . . .”
“Daar sal nie ’n volgende keer wees nie, dankie,” sê sy vinnig, maar lag hardop van verligting.
Toe hy uit sig verdwyn, verdwyn haar geamuseerdheid ook. Haar versnipperde haardos is die minste wat haar pla. En wat mense daarvan sal dink, kan haar nog minder skeel. Maar sy het ander planne vir die oggend. Sal sy dit waag? Wat is dit wat haar soos ’n magneet na die buurplaas trek? Daardie kameras . . . Sy kan dit nie uit haar gedagtes kry nie. Sy het laas nag selfs daarvan gedroom. Toe sy stalle toe stap, weet sy sy is nou met ’n ding besig wat haar heel waarskynlik suur gaan bekom, maar iets onverklaarbaars dryf haar voort. Sy móét Hunters Lodge toe.
Sy oorreed Salmon makliker om die perd op te saal as die vorige oggend. Hy het ten minste gister gesien sy kan perdry. Maar dat dit steeds agter sy meneer se rug moet geskied, staan hom nie aan nie. Ansie moet vinnig plan maak, en met ’n verskoning na Bo vir die wit leuentjie, vertel sy hom dat sy eintlik net wil oefen voordat sy meneer op ’n dag verras, want hy weet nie sy kan perdry nie. Dis ook nie so ’n gruwelike leuen nie. Hy sál verras wees as hy dit op ’n dag uitvind.
“Meneer is dorp toe. Hy sal eers teen middagete terug wees. En Liesbet sal my nie sien nie. Sy is agter besig met die wasgoed.”
“Maar as juffrou iets moet oorkom . . .”
“Ek ry net padlangs, Salmon!”
“Ek sal maar liewer saam met . . .”
“Nee! Jy het jou werk om te doen. Ek is ’n grootmens, Salmon. Ek sal mos nie iets onverantwoordeliks aanvang nie!” Die gedagte dat sy reeds onverantwoordelik is, druk sy vinnig op die agtergrond.
Sy nader ’n ruk later weer die Lodge uit dieselfde rigting as die vorige dag, maar tot haar teleurstelling is daar niks te sien nie. Maar te oordeel na die voertuie wat op die werf staan, is die filmspan daar. Miskien besig om binnetonele te skiet. Sal sy nader gaan? As Charlene net nie daar was nie . . .
Sy