Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray
Titelblad
Ena Murray
OMNIBUS 35
Die vrou in die spieël
Die oujongnooi van Polkadraai
Die kleine kring
JASMYN
Die vrou in die spieël
Die vrou in die spieël
Hoofstuk 1
1
Dis of sy uit ’n diepe slaap wakker word. Sy sukkel om weg te breek uit die donker newels van niks om haar. Dit verg intense inspanning en konsentrasie om haar bolyf orent te trek . . . maar iets vertel haar sy moet . . . sy moet dit nóú doen. Sy durf nie weer salig wegsak in die swart niks waarin sy so lank was nie. Vir hoe lank sy daar was, weet sy nie . . . maar dit was lank . . . baie lank . . . te lank . . .
Sy kreun saggies toe sy haar knieë optrek om haar elmboë daarop te stut. Pynprikkels skiet deur haar bene asof hulle vir ’n lang tyd in onbruik was. Haar gesig val vooroor in haar hande. Haar kop is swaar en dof en dis of haar nek nie genoeg krag het om dit orent te hou nie.
Hoekom voel sy so ellendig? Nie ellendig siek nie. Ellendig swak en dof en amper verstandeloos . . .
Sy stroop haar hande van haar gesig af weg, dwing haar nek om sy werk te doen. Sy moet haar regruk. Sy móét haar regruk! Watse slegtigheid . . .
Haar tam oë dwaal oor haar hande. Sy maak haar oë toe, weer oop. Hulle lyk nog dieselfde . . . die hande voor haar . . . en sy ken hulle nie. Dit moet haar hande wees . . . háre . . . maar sy herken hulle nie! Sy bring hulle nader aan haar gesig soos iemand wat bysiende is, sprei die vingers wyd oop, maar hulle bly vreemd, nie hare nie! Háár hande lyk nie só nie! Sy weet dit net. Háár naels is lank en goed versorg. Hierdie . . . hierdie vreemde hande se naels is lakloos, kort geknip. Sy weet sy het altyd ringe gedra. Hierdie vingers is ringloos . . .
Verskrik, verward kyk sy stadig om haar rond. Dis ook nie haar kamer nie! Sy ken hierdie kamer nie! Daar is niks wat bekend is nie! Nie die gordyne nie, nie die mat, nie die meubels nie . . .
Iets in haar trek styf. Sy gooi die beddegoed af, swaai haar bene van die bed af, nou skaars bewus van die pynstekies daarin. Haar nagrok . . . Nee, dis nie haar nagrok nie. Sy ken dit nie! Sy het nog nóóit ’n nagrok besit nie!
Badkamer . . . Sy moet by die badkamer kom! Sy moet haar gesig gaan was, dan sal hierdie nagmerrie tot ’n einde kom. Haar oë soek vervaard, sien dan die halfoop deur raak en sy sukkel daarheen, druk dit aarselend oop. Sy weet instinktief wat sy hier gaan vind: sy ken ook nie die badkamer nie! Dis koud en kaal. Háár badkamer is vrolik, vol plante, met lekkerruikgoed en toiletware wat oral rondstaan. Hier is niks nie. So vinnig as waartoe sy in staat is, pyl sy na die wasbak toe, buk en draai die kraan oop, snak effens na asem toe die hande vol koue water haar warm vel tref. Oor en oor spoel sy haar gesig af asof sy iets wil wegwas, die dofheid en onkunde uit haar brein wil uitwas. En dan lig sy haar gesig op, kyk vas teen die spieëlbeeld voor haar . . . en haar hande gryp die wasbak vas. Die vrou in die spieël ken sy nie!
Sy wil wegdraai, wegvlug, maar staan vasgenael, gehipnotiseer deur die vrou wat na haar terugkyk.
“Dis nie ek nie!” Sy weet nie dat sy fluister-praat nie. “Ek ken jou nie! Jy is nie ek nie!”
Maar die spieëlbeeld bly met stomme verbystering terugkyk.
Wie is sý dan? En wie is ék? Sy sluit haar oë, probeer konsentreer. Maar alles is dof en vaag in haar. Sy probeer haar gesig onthou, soos wat sy moet lyk, maar dis agter digte newels verberg. Daar is vrees in haar oë toe sy hulle weer oopmaak. Daar is een sekerheid in haar toe sy weer teen die spieëlbeeld vaskyk: sy lyk nie só nie!
Haar oë soek na die verskille. Die hare . . . Die vrou in die spieël se hare is kort, reik skaars tot onder haar ore. Dis sonder styl en vaal. Sy wéét háár hare dra sy lank en gekrul. Dis blink en gesond en ’n ander kleur. Sy soek verder. Die wenkbroue van die vrou in die spieël is duidelik onversorg. Sy sou dit beslis ’n bietjie gepluk het. Die vrou se vel is ook bleek en droog en daar is nie ’n tikseltjie grimering of velversorging te sien nie. Sý sou beslis iets aan so ’n kleurlose prentjie gedoen het. Sy ken hierdie vrou nie!
Sy lig bewende hande na haar bewende mond, bekyk weer die hande wat by die spieëlbeeld pas maar nie by háár nie. En die nagrok . . . Sy weet net sy het nog nooit ’n nagrok besit nie. Sý slaap in kort, duur pajamas.
Sy swaai weg. Sy wil wegkom van hierdie onsinnigheid. Niks maak sin nie. Sy stap terug na die slaapkamer, stap na die venster, nou met vaste tred, asof die benoude angs in haar die nodige adrenalien verskaf. Sy trek die gordyne oop; die vreemde gordyne met die aaklige patroon wat sý nooit sou gekies het nie. Maar soos sy vermoed het, is dit ook ’n vreemde toneel wat haar oë begroet. Sy weet net sy het dit nog nooit tevore gesien nie. Dis ’n lieflike tuin met berge op die agtergrond. ’n Rustige, mooi prentjie . . . maar so vreemd . . . so vreemd . . .
Sy laat haar blik om haar dwaal en dis of sy haar geskokte verstand onder beheer begin kry. Bly kalm. Dis ’n misverstand. Dis ’n grap . . . Ja, dis ’n grap. ’n Sieklike grap. Êrens, êrens moet hier tog iemand wees wat haar kan vertel wie sy werklik is. Dis asof die skok van die besef haar heeltemal verstandeloos laat . . . Sy kan nie eens haar naam onthou nie!
Sy hyg na asem, haar oë verstar. Dis waar! Sy ken nie haar eie naam nie! Sy weet nie wie sy is nie! Al wat sy weet, is dat sy nie die vrou in die spieël is nie. Haar kop ruk heen en weer soos sy desperaat om haar rondkyk. Waar . . . wáár vind jy uit wie jy is as jy nie weet wie jy is nie?
Haar identiteitsboekie! Sy moet een hê. Elke mens het een. Sy sal ook een hê. Handsak . . . Daar sal ’n handsak in die kas wees . . . Dit sal daarin wees . . .
Sy voel na huil toe sy die kasdeur oopmaak en die handsak sien. Sy gryp daarna, versteen dan. Sonder om deur die skamele paar rokke te blaai, weet sy dis nie haar smaak nie. Dit sal by die vrou in die spieël pas, nie by haar nie. Haar vingers met die onbekende, kort naels bewe toe sy die handsak oopmaak. Dit móét hierin wees!
“O dankie!” adem sy amper huilend toe sy die bekende boekie gewaar. Sy sukkel om dit oop te maak, haar vingers dom van bewerasie. Dan, vir die tweede keer kyk sy teen die vrou in die spieël vas, maar hierdie keer kyk die vreemde wese na haar terug vanuit ’n foto. En sy lees die vreemde vrou se name stadig, hardop: “Anna Maria Magdalena van der Merwe.”
Sy sak op ’n hopie op die mat neer, verberg haar gesig in haar hande terwyl koue rillings deur haar gaan. Ek is besig om mal te word!
Sy word eers bewus daarvan dat sy nie meer alleen is nie, toe hande skielik haar skouers aanraak. Haar kop ruk omhoog en daar lê naakte vrees in haar oë.
Die gesig bokant hare frons in diepe kommer. “Toe nou maar. Toe nou maar. Alles is reg. Daar is niks om voor bang te wees nie,” sê hy vertroostend soos teenoor ’n kind.
Sy laat toe dat hy haar optrek tot op haar voete, om te verdwaal in hierdie vreemde wêreld waarin sy haar bevind, sonder om teë te stribbel. Ook toe hy haar sonder seremonie optel en bed toe dra, laat sy dit sonder ’n geluid van protes toe. Sy is totaal weerloos, geheel aan hierdie onbekende man uitgelewer, en sy weet dit.
“Daar’s hy. Beter?” Sy lê en kyk net woordeloos na hom en hy stap terug na waar die handsak en die oop identiteitsboekie nog lê. Hy buk, tel dit op en kyk sydelings na die bed, sy oë skerp. Al die vrees keer met hernieude felheid terug. Waar kom hierdie vreemde man vandaan wat haar kamer sommer so eiegeregtig instap? Wie is hy?
Hy sit die boekie terug in die handsak, en plaas die handsak terug in die kas asof hy weet waar dit gelê het. “Hoe voel jy?” vra hy.
“Wie is jy?”
“Herken jy my nie? Ek is jou neef, Lochner.” Toe sy net bly staar sonder herkenning, vul hy aan: “Lochner Bothe.”
Vir haar is dit ’n totaal vreemde naam. Hy kon net sowel gesê het hy is Kersvader. Die groot vraag huiwer op haar lippe, maar sy ontwyk dit nog. “Waar