Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray
met Ansie ook gebeur.
En vandag het dit gebeur. Weliswaar is daar miskien nog ’n lang pad voor, maar van vandag af kan sy begin aanstap, het die stagnasie geëindig. Sy dink normaal, reageer normaal. As gister net ’n swart vergetelheid agter haar is . . . Wie weet, miskien is dit ’n genade.
By die dokter se spreekkamer word Ansie ook niks wyser nie. Sy hoor maar net wat sy reeds weet. En sy kry dieselfde preek. Moenie jou ontstel oor jou geheueverlies nie. Ontspan. Dit sal vanself terugkom. Maklik om te praat . . . Maar sy swyg, luister hoe haar toekoms deur die twee mans beplan word.
“Sy is nog baie swak, maar met Liesbet se hulp sal sy oor die weg kom tot sy sterk genoeg is om haarself te versorg. Dink u ons sal so oor ’n week of veertien dae al kan ry?” wil Lochner weet en Ansie vererg haar. Hy staan en tref reëlings sonder om eens na haar kant toe te kýk – asof sy ’n verstandelose kind is wat nie in ag geneem hoef te word nie.
“Ons moet maar kyk hoe sy vorder. Ek glo egter sy sal binne ’n week gereed wees. Ek glo sy sal nou elke dag aansterk. Sy is fisiek gesond.”
En die dokter is net so erg! Bespreek haar sonder om eens te vra hoe voel sý oor alles! Kragtie, sy het haar geheue verloor, nie haar verstand nie!
“Ek dink ek is sterk genoeg om dadelik te vertrek. Dis onnodig dat ons langer hier rondlê.”
Die twee koppe draai gelyk na haar en sy lig haar ken. A nee a! Sy mag darem seker ook ’n stuiwer in die armbeurs gooi terwyl dit nou om háár armbeurs gaan. Want dis iets wat haar die afgelope ure geweldig begin hinder het. Die koste wat hierdie onbekende neef al ter wille van haar aangegaan het. Suster Gertenbach het vertel hoe duur die hotel is. En sy sal self ook nie vir ’n hongerloon werk nie. En daar is dokter Engelbrecht . . . en die maande in die kliniek . . . Sou Lochner vir alles moes betaal . . . of het hulle haar as ’n staatspasiënt behandel? wonder sy onrustig.
“As ons nou oorhaastig is, kan jy dalk ’n terugslag kry,” sê Lochner versigtig.
“Watse terugslag kan ek kry? Dokter Engelbrecht sê ek is gesond. Wat kan my oorkom? Ek sal tog seker nie in ’n week se tyd by ’n vreemde hotel my geheue terugwin nie. Ek sien geen rede hoekom ons langer hier moet ronddraal nie. Ek . . . wil wegkom van hierdie plek af.”
Die twee mans se oë ontmoet vlugtig. Die dokter knik. “Sy is miskien reg. Hoe gouer sy uit die stad wegkom, hoe beter. Daar in die stil, rustige natuur van jou wildplaas sal sy gouer tot kalmte kom en rustiger word.”
Toe Lochner nog onseker lyk, val Ansie weer weg: “Ek kan mos in die motor lê as ek moeg word. Asseblief, Lochner!” Sy weet nie hoekom nie, maar sy het skielik ’n intense drang om uit die stad pad te gee, en dis nie net om verdere koste te bespaar nie. As sy dan ’n ruk lank op sy wildplaas moet gaan bly, laat hulle dan daar kom.
“Ons vlieg terug.”
“Maar jou motor . . .?”
“Dis ’n gehuurde motor. Ons vlieg terug. My buurman sal ons met sy vliegtuig kom haal. Nou goed dan. As jy seker is . . .”
Sy knik net, beaam niks hardop nie, want sy is glad nie seker nie. Wat haar betref, gaan sy binne enkele ure in ’n vliegtuig klim en toelaat dat ’n wildvreemde man haar wegneem na sy eensame wildplaas êrens in die gramadoelas . . . en of dit die regte ding is, is sy glad nie so seker van nie. Maar die alternatief is heeltemal onaanvaarbaar: om op ’n vliegtuig Kaapstad toe gesit te word en dan aan haar lot oorgelaat te wees . . . Nee. Sy sal Lochner Bothe net moet vertrou, dis al.
Suster Gertenbach wag hulle by die hotel in en kry die blye nuus dat die dokter só tevrede is met sy pasiënt dat hy selfs verlof gegee het dat hulle dadelik huis toe kan vertrek.
“Ek sal u natuurlik ’n volle maand se salaris betaal en is ook bereid om u vir ’n kennisgewingmaand te vergoed. Dit was baie gaaf van u om ons so te hulp te kom, suster.”
Die ronde gesiggie straal van oor tot oor. “Natuurlik moes ek julle eers help. Plig kom voor plesier. Wanneer moet ek begin inpak?”
“U goed kan u maar dadelik pak. Ek gaan nou ons reëlings tref en dan sal ek sê wanneer Ansie se goed gereed moet wees. Ek verwag egter dat ons so teen môremiddag sal vertrek.”
Ansie word na haar kamer begelei en toe die deur agter die twee dames toegaan, keer eersgenoemde haar na die ouer vrou.
“Suster, sê my net . . . Dra u kennis van gevalle waar mense hul geheue verloor en dit later weer teruggekry het?”
Die suster glimlag met deernis. Sy begryp. “Ja, my kind. Ek weet van ’n hele paar gevalle. Party s’n het mettertyd, stuk-stuk teruggekeer. Ander het weer die een of ander skok opgedoen en toe skielik was alles weer daar. Jy moet jou nie bekommer nie. Alles sal vir jou regkom.”
“Maar daar is dié wat nooit weer onthou het nie, nie waar nie?”
“Ja, maar dit hang alles af van hoe ernstig die oorspronklike beserings was. Mense met ernstige breinskade . . . Maar jy, Ansie, het nie ernstige breinskade opgedoen nie. Dokter vermoed dit was net die geweldige skok wat gemaak het dat jy tydelik jou geheue verloor het.”
“Ek weet, ja, maar . . . Kry almal wat nie ernstige breinskade opgedoen het nie die een of ander tyd hul geheue terug?” dring sy aan.
“So te sê. Of hulle onthou ten minste later groot gedeeltes. Ek het ’n vriendin gehad wat saam met my verpleeg het. Sy en haar man was op hul wittebrood in ’n motorongeluk. Sy het ook tydelik haar geheue verloor. Al wat sy nooit teruggekry het nie, was haar kennis van verpleging. Sy was ’n ten volle gekwalifiseerde suster, maar niks van daardie kennis wou ooit weer tot haar terugkeer nie.” Die ouer vrou druk Ansie se hand. “Is dit werklik so belangrik om alles oor gister te moet onthou? Dis tog die toekoms wat tel, Ansie.”
Sy knik, kyk weg. “Ja, dis seker waar.” Maar ’n toekoms sonder dat dit geanker is aan ’n verlede lyk so onseker, so vol vraagtekens, so vol probleme. En sy is bang daarvoor, want dis so onbekend vir haar soos wat haar verlede aan haar onbekend is. Daar kan enigiets in haar verlede lê en enigiets kan op haar in die toekoms wag.
Sy stap deur badkamer toe, wil haar gesig afspoel, maar kyk eers weer na die vrou in die spieël. Haar mondhoeke trek ironies toe sy haar aanspreek: “Ons twee vertrek môre na ’n onbekende bestemming. Nugter weet wat op ons wag, maar wat dit ook al is, ons sal dit moet vat. En ek hoop jy is so bang soos ek . . . of weet jy dalk iets meer as ek?”
Hoofstuk 2
2
Dis met die gevoel van iemand wat geblinddoek en op ’n nou paadjie met afgronde aan weerskante neergesit is dat Ansie die volgende dag van suster Gertenbach afskeid neem en sy en haar neef lughawe toe vertrek. Daar aangekom, vind hulle dat Lochner se buurman ook pas met sy private helikopter gearriveer het.
Sy staan bedees en toekyk hoe die twee mans hand skud, duidelik bly om mekaar weer te sien. Dan kyk Don Cawood nuuskierig na sy vriend se niggie en kan vir ’n onbewaakte oomblik nie sy ware gevoelens vir die meisie voor hom wegsteek nie. Nie dat Don enigsins ’n aanduiding gehad het van wat om te verwag nie. Tog is die vaal, maer, kleurlose stukkie mens voor hom ’n soort skok. Waar op aarde het Lochner hierdie familielid van hom opgespoor?
Maar hy ruk hom vinnig reg en laat met sy ingebore vriendelikheid hoor: “Bly te kenne, Ansie. Friedesheim is nou net die regte plek vir jou. Baie vleis en pap gaan jou sommer gou heeltemal regruk!” Dan aan Lochner: “Ek het reeds gereël. Ons kan dadelik vertrek as julle gereed is.”
“As jy nie wil vertoef nie . . .”
“Nee. Ek het geen besigheid hier nie. Ons kan maar gaan.”
’n Rukkie later volg sy die twee mans steeds ewe gedwee na die wagtende helikopter. Hoewel sy nie met sekerheid kan weet nie, vermoed sy dat sy nog nooit tevore in een gery het nie. Sy weet nie of sy opgewonde of bang voel nie.
Sy klim agter in saam met hul bagasie en Lochner neem langs Don sy plek voor in. Dié twee gesels nog land en sand, en hoewel dit alles vir haar vreemd is, luister sy tog met belangstelling