Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray
niggie gepraat nie. En toe skielik is hy inderhaas hier weg en keer nou met ’n niggie terug – ’n vaal, bleek muisie en een wat duidelik baie siek was. “Hoe gaan dit regtig met jou niggie?”
Weer kry Don die gevoel dat Lochner nie gretig is om oor haar te praat nie toe hy net kortaf antwoord: “Sy is gesond, moet net goed uitrus en aansterk. Enigiets snaaks hier rond gebeur terwyl ek weg was?”
“Nee, nie juis nie.” Hy kan sien Lochner brand om inspeksie te begin doen en groet maar. “Sien julle later weer.”
In die huis word Ansie in geen twyfel gelaat wie die baas van die plaas is nie. Dis meneer voor en meneer agter en hoewel die heldeverering Ansie effens irriteer, besef sy ook hoe gelukkig sy was om net ’n huishoudster hier aan te tref. Liesbet gaan uit haar pad om meneer se niggie tuis te laat voel, maar dit sou dalk ’n heel ander prentjie gewees het as dit Lochner se vrou was wat skielik met ’n onbekende niggie opgesaal gesit het. Maar daar sal natuurlik êrens ’n vrou op die toneel wees. ’n Man soos Lochner Bothe sal wel ’n vriendin of selfs vriendinne hê. Sy frons, wonder bekommerd hoe haar skielike verskyning sy private lewe gaan beïnvloed. Sy kan die gevoel dat sy ’n indringer is nie afgeskud kry nie. Feit is tog dat dit nie sý was wat haar aan hom opgedring het nie. Dis hý wat haar summier in sy lewe ingesleep het. Die heel beste ding sal wees om maar toe te laat dat Liesbet haar vet voer sodat sy haar eie paadjie kan loop. Sy kan nie vir ’n onbepaalde tyd aalmoese van hierdie neef bly ontvang nie. Sy weet nie hoe en op watter vlak sy in die verlede ’n bestaan gevoer het nie. Maar een ding weet sy instinktief en dis dat sy nie vir haar daaglikse behoeftes in ander se oë gekyk het nie. Sy het vir haarself gesorg . . . en hoe gouer dit weer begin gebeur, hoe beter.
Die ergste hitte van die Bosveldse somerdag het begin afneem toe sy later, ná twee koppies tee en vier tuisgemaakte koekies, op die stoep uitstap. Daar is geen teken van haar gasheer nie. Sy het, terwyl sy besig was om haar skamele klerevoorraad uit te pak, die dreuning van ’n voertuig gehoor. Dit was natuurlik Lochner wat nie gou genoeg terug in die natuur en tussen sy wilde diere kon kom nie. Die tyd wat hy om haar ontwil in die stad moes deurbring, was seker vir hom ’n marteling, en weer voel sy verbaas daaroor. Kry ’n mens werklik vandag nog sulke konsensieuse familielede?
Ansie gaan op haar eie inspeksietog. Eers loop sy deur die huis. Vanuit die ruim sitkamer gaan haar kamer met sy private badkamer regs uit en aan die oorkant vind sy nog ’n slaapkamer en badkamer, duidelik die baas s’n. Ook in die vertrek wat sy as sy kantoor eien, word dieselfde ru afwerking in meubels en klipvloere herhaal wat die plek so ’n bekoring van sy eie gee. Opnuut besef sy haar neef is nie ’n man wat hom met tierlantyntjies en fieterjasies moeg maak nie. Nêrens is die afronding van ’n vrouehand te sien nie. Sy huis is soos hy is – jy vat hom soos hy is of jy los hom.
Agter die huis vind sy stalle met vier perde in, en hoewel sy nie seker is of sy enige ware kennis van perde het nie, kan sy sien dat dit kwaliteitdiere is. Hul versorging en die netheid van die stalle is onberispelik. Nog ’n entjie verder is die woonkwartiere van sy werkers, en ook hier val die netheid haar op. Sy merk ’n televisie-antenne op die dak op. Lochner sorg vir sy mense. Hy is blykbaar net so ’n pligsgetroue baas as neef.
Op haar terugpad kom ’n Land Rover en ’n bakkie aangery. Dis seker Lochner en sy regterhand, Salmon, wat terugkeer. Agter op die bakkie merk sy tot haar verbasing ’n kameelperd.
“Is hy dood?” vra sy geskok en kyk ontsteld na die lelike, rou wond in die agterboud.
“Nee. Net verdoof. Ek ry nooit sonder my verdowingspyle nie. Jy kan help as jy wil. Ons moet haar wond regsien voordat sy bykom.”
Ansie gril vir die bloederige wond, maar sy kry gewillig ’n poot beet en help trek tot die kameelperd op die trollie is. Dis ’n tuisgemaakte kontrepsie van planke met vier wiele onder. Salmon en Lochner gryp die trekstang vas en Ansie volg in die rigting van die stalle. Twee deure word oopgestoot en sy sien ’n groot vertrek met ’n sementvloer, ingerig soos die spreekkamer van ’n veearts. Dis dus hier waar Lochner sy siek en beseerde diere dokter. Sy staan eenkant en toekyk hoe Lochner en ’n baie vaardige Salmon die wond begin behandel.
“Hoe op aarde het julle haar op die bakkie gekry?” vra sy, nog half uitasem van die ongewone oefening.
“Dit het maar gelol. Ons ry altyd los planke op die bakkie saam vir sulke gebeurlikhede. Gelukkig is sy nog baie jonk. ’n Volgroeide een sou ons nooit gelig gekry het nie.”
“Wat sou jy dan gedoen het?”
“Haar aan haar lot oorgelaat het.”
Ansie kyk hom geskok aan. “Jy bedoel . . . jy sou haar net so gelos het dat die wilde ding wat agter haar aan was haar maar vang en opvreet?”
Hy kyk vlugtig op. “Hierdie is ’n ander soort wêreld as wat jy ken, Ansie. Hier geld die wet van die natuur: die oorlewing van die sterkstes.”
Sy frons misnoeg. “As dít dan is hoe jy voel, hoekom het jy haar in die eerste plek hierheen gebring en haar nie net daar gelos nie?”
“Omdat sy nog jonk is, nog nooit gekalf het nie. Die wond is gelukkig van so ’n aard dat dit mooi behoort te herstel.” Hy praat verder met Salmon: “Nou moet ons gou speel en haar in die stal kry. Sy begin bykom.”
Die kameelperd word op die trollie na ’n vertrek gestoot wat blykbaar die herstelkamer is, aangrensend tot die perdestalle. Die binnedeur word toegemaak en hulle stap by die staldeur uit. Die onderdeur word op knip gesit, terwyl hulle buite staan en kyk hoe die kameelperd wankelmoedig op haar voete kom en dronkerig die kop swaai.
“Mooi. Sy sal regkom. Jy kan nou maar na die perde gaan omsien, Salmon, dankie.”
“Wat is dit wat haar wou vang? ’n Leeu?”
“Nee. Ek vermoed dit was wildehonde.”
Dit het begin skemer raak en Ansie kyk vlugtig om haar rond. “Leeus en wildehonde is mos gevaarlike goed. Loop hulle los rond?”
Hy glimlag net. “Ek hou nie wildehonde aan nie. Hulle teel te vinnig aan. Hulle moes êrens deurgekom het na my kant toe. Ons sal môre moet spoorsny.”
“Hoe kom hulle deur en waarvandaan kom hulle?”
“Meesal deur rivierlope en ook deur swak plekke in die heining. Maar ek gaan baie gereeld die grensdraad na. As dit wildehonde is, moes hulle deur die rivier gekom het. Die hele gebied is wild en hulle kom van ander wildplase en reservate af deur.”
Hulle begin terugstap huis toe en Ansie vra, steeds onrustig: “Het jy baie roofdiere hier? Kom hulle nie soms tot by die huis nie?”
Hy glimlag gerusstellend: “Ek het al vyf die grotes hier, maar jy hoef nie bekommerd te wees nie. Agter daardie bome loop ’n geëlektrifiseerde heining. Hulle kan nie inkom nie.”
“O.” Dan belangstellend: “Wat bedoel jy met die vyf grotes?”
“Die olifant, die renoster, die luiperd, die leeu en die buffel – nou nie almal roofdiere nie, maar hulle is die sogenaamde vyf grotes waaroor jagters so gaande is. Maar natuurlik is die oorgrote meerderheid die boksoorte. Koedoes, elande, rooibokke en so meer. Dan is hier natuurlik ook hiënas, blou- en swartwildebeeste, sebras en krokodille. Ek was gelukkig om verlede jaar twee seekoeie in die hande te kry. Ek het nou alles waarmee die Krugerwildtuin kan spog.”
Sy kyk vinnig na hom op. “Maar het dit nie ’n fortuin gekos om alles so te kry nie?”
Sy gaan sit half uitasem op ’n stoel op die stoep en besef opnuut hoe swak sy nog is.
“Ja. Dis haas ’n saak van onmoontlikheid om vandag so ’n versameling op te bou. Jy betaal jou omtrent bankrot aan ’n renoster. Ek was gelukkig dat ek die grootste gedeelte van Friedesheim se wild geërf het. My pa het baie jare gelede daaraan begin opbou toe die mensdom nog net uitgeroei het en niemand bewaringsbewus was nie. Hy was gelukkig versiende genoeg om te besef dat hierdie diere op ’n dag skaars sal word. Lank voordat wette gemaak is om wildsoorte teen uitroeiing te beskerm, het hy dit al toegepas. Ek pluk vandag die vrugte daarvan.”
Ansie sit