Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray
die skroef al draai, kyk Lochner weer na agter. “Alles reg?”
Sy knik net en voel hoe hulle die aarde verlaat en haar maag maak ’n snaakse draai. Dis seker hoe die man wat eerste die ruimte ingeblaas is, moes gevoel het, dink sy. Hy kon enigiets te wagte gewees het. Enigiets kon gebeur het en . . . hy kon dalk nooit weer teruggekeer het nie. En dis kompleet soos sy nou voel. Die aarde lê ver onder haar en sy is op pad na nêrens. Sy sluk, dwing haar negatiewe gedagtes in ’n ander rigting, bekyk die twee mans voor haar, want vir die eerste keer kry sy die geleentheid om haar barmhartige neef regtig goed deur te kyk.
Lochner Bothe kan beslis nie as ’n Griekse god beskryf word nie. Ook sal hy nie kan plek inneem in ’n ry van Hollywood-helde nie. Hy is ietwat te grof van struktuur en die effens geboë neus met die vierkantige kakebeen en ruie wenkbroue laat ’n mens dink aan ’n beeldhouwerk wat nog nie klaar afgerond is nie. Maar die oë onder die wenkbroue, die vierkantige skouers en die spelende spiere op die voorarms vertel jou onmiddellik dat jy met ’n ware man te doen het. Vir ’n sekere soort vrou sal Lochner Bothe geweldig aantreklik wees. Hy sal ’n baie goeie vriend uitmaak – ’n man ook gewild onder sy eie geslag. Dat die twee voor haar groot vriende is, is duidelik. Don Cawood is minder fris gebou; die meer verfynde Engelsman – ligte hare, blou oë. Dié soort man by wie ’n mens dadelik tuis en op jou gemak voel, anders as met die Duitser langs hom. Lochner se grysblou oë is net ’n bietjie te skerp en ondersoekend om jou heeltemal op jou gemak te laat voel, en daardie vae skynsel van rooi in sy hare waarsku jou ook dat hy nie ’n man is wat hom dooddra aan geduld nie. Ansie het die gevoel dit sou vir haar voordeliger gewees het as Don Cawood liewer haar neef was, want sy kan net nie van die gevoel ontslae raak dat sy en hierdie sogenaamde neef van haar nie na alles deur dieselfde bril kyk nie. Uit die staanspoor het sy instinktief geweet dat sy haar man teen hom sal moet staan as sy nie wil toelaat dat hy haar totaal oorweldig en haar lewe heeltemal oorheers nie. En dis presies wat hy tot dusver gedoen het, besef sy misnoeg. Sy is gesê sy kom saam Friedesheim toe, en alle reëlings is deur hom getref op ’n wyse wat laat deurskemer het dat hy gewoond is om besluite te neem en geen teenkanting sal duld nie. Hy sê en jy doen. Haar hart sit in haar keel toe die bosryke aarde onder hulle begin nader kom en die helikopter sy landingsplek tussen die Bosveldbome kry.
“Ons is hier.” Lochner glimlag na agter en Ansie kyk om haar rond.
As sy net kan seker wees dit is die plek waar sy moet wees, dink sy ongelukkig.
Don Cawood help haar uit en sê vriendelik: “Welkom op Hunters Lodge.”
Ansie kyk verras om haar rond. Sy het nie so iets in die hart van hierdie uitgestrekte boswêreld verwag nie. In die paar uur wat verby is, het die onrus in haar weer begin aangroei terwyl sy na die wilde wêreld ver onder haar afgekyk het. Dis of hulle die beskawing totaal en al verlaat het. ’n Paar keer het Lochner aan haar troppe olifante, bokke, kameelperde en sebras uitgewys en hoe verder noord hulle gevorder het, hoe digter het die bosse en bome geword.
Met verligting sien Ansie egter nou dat daar ook ’n beskaafde peil in hierdie ongetemde wêreld gehandhaaf word. Ses moderne chalets van klinkersteen smelt pragtig saam met die omgewing. Die hoofgebou is van dieselfde steen en natuurlik is die sentrale punt die groot, koel lapa met sy rietdak. Want in hierdie wêreld met sy versengende hitte leef sy bewoners graag buite. Sy merk ook op dat elke chalet met lugreëling toegerus is.
“Ons gaan darem seker eers iets koels geniet voordat ek julle huis toe neem,” laat Don hoor en hulle stap aan na die hoofgebou. Ansie se nuuskierige oë sien alles raak en sy hou van wat sy sien. Die sitkamer met sy ingeboude kroeg is smaakvol en baie netjies. Don het ’n woonstel aan die hoofgebou.
“Jy het heelwat chalets. Kry jy baie besoekers hier?” wil Ansie belangstellend weet terwyl sy aan haar yskoue maroeladrankie proe.
“Ja. Plaaslik sowel as van oorsee. Veral van oorsee. Trofeejagters.”
“Wat is trofeejagters?”
“Hulle stel net belang daarin om die dier te skiet en met die kop en horings terug te gaan en tuis daarmee te gaan spog,” beantwoord Lochner haar vraag.
Don glimlag goedig, laat teenoor Ansie hoor: “Jou neef het ’n broertjie dood aan hierdie soort jagters. Hy glo jy maak nie ’n dier dood om jou ydelheid te streel nie. Jy skiet net ’n dier om drie redes: om hom uit lyding te verlos; om uit te dun wanneer die spesie se voortbestaan bedreig word en vir kos. Maar Hunters Lodge is ’n sakeonderneming en word as sodanig bedryf. Sonder trofeejagters sal dit nie winsgewend wees nie.”
Ansie kyk vraend na Lochner. “Hoe bedryf jy dan jou wildplaas om dit winsgewend te kry?”
“Ek vang en verkoop lewende diere. Daar word ook gejag, maar alleenlik op dié wat ek verplig is om uit te dun.”
Don verduidelik verder: “Ons is in ’n soort vennootskap. As hy diere het wat moet uitgedun word, laat hy toe dat ek my jagters Friedesheim toe bring. Maar hy kan ons gewoonlik nie gou genoeg van sy grond af wegkry nie!”
Lochner kap fronsend terug: “Jy weet dis nie hoe ek dit bedoel nie, maar ek het ’n hekel aan ledige, ryk mense.”
“Maar daardie ledige, ryk mense bring vir ons baie geld in, vriend.”
Lochner staan op, wys daardeur duidelik dat hy nie nou in ’n diskussie betrek wil word nie. “Ons moet nou huis kry.”
Hul bagasie is reeds in die Land Rover ingelaai en hulle lê die tien kilometer tussen die opstalle vinnig af. Dis ’n heel ander prentjie as die Lodge wat Ansie se oë begroet toe hulle op Friedesheim se werf stilhou. Dit pas meer by haar idee van ’n wildplaas in die hart van die gramadoelas. Tog . . . sy hou van wat sy sien, dalk meer as van Don Cawood se plek.
Lochner se kliphuis smelt saam met die omringende natuur. Dis duidelik ook ’n buiteleweplek. ’n Breë klipstoep, onder die grasdak gestut deur ruwe boomstompe, omring die hele huis en toe hulle binnestap, is dit soos sy verwag het dit sal lyk. Die nodige toegewings aan die beskawing om gerieflik en gemaklik te leef, is gedoen. Maar vir die res is alles duidelik so ru moontlik gehou. Velle van verskillende diere lê gestrooi op die blink klipvloer. Die gemakstoele op die stoep en in die ruim sitkamer is doelbewus onafgewerk gelaat terwyl die stoffering die nodige gerief verskaf. Deur ’n halfoop deur kan Ansie die moderne geriewe in die kombuis sien en tot haar verbasing gewaar sy ook ’n televisiestel en ’n hoëtroustel in die sitkamer.
“Jy het sowaar ’n televisie ook,” kan sy nie help om verbaas te sê nie.
Lochner glimlag tergend. “Ja. Ons vang die sein van Polokwane se toring op. Dis darem nie heeltemal so primitief soos wat jy verwag het nie, nè?”
Sy bloos effens. Hierdie neef van haar se afleidings is na haar sin gans te na aan die kol.
’n Swart vrou, onberispelik netjies, maak haar verskyning in die binnedeur, en toe sy Lochner gewaar, straal haar gesig. Ook Lochner se breë glimlag verraai dat hy bly is om weer tuis te wees.
“En hierdie is Liesbet. Sy is die baas van die huis. Binnekant is haar woord wet. Liesbet, dit is my niggie, Ansie van der Merwe. En my eerste opdrag aangaande haar is dat jy haar sal vet voer sodat sy ’n bietjie vleis om haar gebeentes kan kry.”
Lochner kyk tergend af op die effens gesteurde gesiggie hier digby sy skouer. “Nou kan sy my ’n slag uitlos en toesien dat jy jou kos alles opeet. Het jy ’n kamer vir haar gereed, Liesbet?”
“Natuurlik, meneer. Meneer Don het laat weet ek moet meneer en ’n gas vandag verwag. Kom, juffrou. Ek sal jou jou kamer gaan wys. Sal ek iets te drinke stoep toe bring?”
Lochner skud sy kop. “Dankie, nee, Liesbet. Ons het pas iets by die Lodge gedrink. Ek wil eers ’n bietjie inspeksie doen. Sorg jy maar dat juffrou Van der Merwe alles het wat sy nodig het. Waar is Salmon?”
“Suipplekke gaan nagaan, maar hy behoort nou enige tyd terug te kom.”
Die twee mans stap weer op die breë, koel stoep uit.
“Dankie vir jou moeite, Don. Ons sal regmaak.”
“Vergeet