Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray
iets gebeur . . . iets groots . . .
Maar sy stem is baie kalm en steeds gerusstellend toe hy vir haar die prentjie begin teken: “Jy was baie lank siek, het maande lank in ’n kliniek in die stad gelê. Toe het ek jou gister hierheen gebring, want fisiek is jy nou gesond, hoewel jy nog baie swak is, soos jy seker self uitgevind het toe jy netnou opgestaan het.”
Fisiek . . . Die paniekerige angs is terug in haar. Maar haar verstand . . . “Hoe . . . hoe siek?”
“Baie siek,” kom die eerlike antwoord. “Jy was maande lank in ’n koma, en toe het jy stadig begin herstel.” Hy glimlag skielik en lê sy een hand warm oor hare. “Jy gaan nog heeltemal gesond word. Dit verseker ek jou. Dit sal stadig gaan. Jy moet jouself net nie dryf nie. Alles sal op die ou einde reg wees.”
Alles? Sy lig haar oë op na syne en die erkenning bars uit haar los: “Ek kan niks onthou nie! Niks!”
“Ek weet, maar dis niks om oor bekommerd te wees nie. Dit sal mettertyd regkom. Jy is vandag al klaar baie beter as gister. Gister kon jy absoluut niks onthou nie en vandag . . .”
“Maar ek onthou nog steeds niks nie! Ek weet nie eens wat my eie naam is nie!” roep sy uit.
Hy bly kalm. “Maar vandag begin jy al vrae vra, het jou brein begin besef daar is dinge wat hy vergeet het, en dit beteken groot beterskap, Ansie. Dit beteken jou brein het begin werk.”
“Ansie?” Natuurlik! Wat anders kan jy genoem word as jy Anna Maria Magdalena gedoop is? “Ek is Ansie van der Merwe?”
“Ja.”
Ek is nie! Dis nie my naam nie! Ek wéét dit! Sy draai haar oë weg. By hom is ook nie hulp te kry nie. Hy is kop in een mus met daardie vrou in die spieël!
“Wat het gebeur? Ek bedoel, hoe het ek in die kliniek beland?”
“Jy was besig om inkopies te doen toe ’n bom ontplof het.” Haar oë ruk terug na syne. “Daar is twaalf mense dood, baie vermink. Jy was van die gelukkiges. Jy het heeltemal gesond geword.”
Heeltemal gesond? Hoe kan hy so sê? Die woorde ontval haar lippe voordat sy dit besef. “Ek het breinskade opgedoen . . . en jy noem my gelukkig?”
“Nee! Dis nie waar nie!” Sy stem is nou meer dringend. “Fisiek het jy geen letsel oorgehou nie. Maar dit was ’n geweldige skok, Ansie. Jy was lank baie, baie ernstig siek. Jy moet jou gees nou ’n kans gee om ook heeltemal gesond te word. Dit sal regkom teen die end.”
“Dis net mooi woorde . . . e . . . Lochner. Ek weet daar is iets groots verkeerd met my.”
“Maar niks wat tyd nie sal regmaak nie. Al wat jy nodig het, is baie rus en stilte en niks wat jou ontstel nie. Moet jou nie bekommer oor wat jy vergeet het nie. Dit sal vanself terugkom. Hoe meer gespanne jy is en hoe meer jy jou daaroor ontstel, hoe langer sal die blokkasie duur. Daar is baie mense wat al aan geheueverlies gely het, party selfs jare lank, en op ’n dag het alles net weer teruggekom.”
Maar sy woorde verlig nie die gevoel van volslae swartgalligheid wat in haar posvat nie. “Maar ek kan nie jare lank so aangaan nie! Om nie te weet wie ek werklik is nie . . . niks van gister te onthou nie . . . Dit sal my mal maak!”
Sy stemtoon verander skielik, is skielik so streng dat sy half verskrik na hom opkyk. “Moet jouself net nie begin bejammer nie. Die houding wat jy nou aanneem, is dié van ’n baie ondankbare mens. Jy het blykbaar nie goed geluister nie. Ek het jou vertel daar is mense wat dood is en ander wat vir die res van hul lewens vermink is. En jy lê en kerm omdat jy ’n paar dingetjies nie kan onthou nie!”
Sy sit verontwaardig regop. “ ’n Paar dingetjies! Ek kan my hele lewe tot op hierdie dag nie onthou nie! Dis nie ’n paar dingetjies nie!”
Net so skielik glimlag hy weer, maar dis ’n ietwat siniese glimlaggie. “Glo my, daar is baie wat met jou sou wou ruil.”
“Wat?” Dié man is ook nie reg in sy kop nie!
“Ja. Daar is baie mense wat alles sou wou gee om gister heeltemal uitgevee te hê en met ’n heel nuwe, skoon lewe te begin. Ek sê weer, jy was gelukkig, al wil jy dit nie insien nie.”
“Maar waar moet ek met die kastige nuwe, skoon lewe begin?” vra sy sarkasties. “Ek ken nou al my naam. Ek weet darem waar ek my bevind – in ’n hotelletjie buite die stad, maar watter stad weet ek nie eens nie. Ek weet darem nou al ek het ’n neef met die naam Lochner Botha . . .”
“Bothe,” korrigeer hy haar terwyl hy kalm na haar tirade luister.
Sy swaai haar hand geïrriteerd. “Wat ook al . . . maar ek ken hom van g’n kant af nie. Ek weet nie eens waarvan ek gelewe het, wat ek gedoen het voordat die bom my getref het nie. Ek weet nie . . .”
“Jy was ’n sekretaresse.”
“Regtig?” Hy lieg. Sy wéét net sy het nie in ’n kantoor gewerk nie.
“Ja.”
“En waar het ek gewerk? Ek bedoel by watter firma? En waar het ek gewoon?” Sy kyk om haar. “ ’n Doodgewone sekretaresse kan beslis nie só ’n woonplek bekostig nie.”
“Natuurlik nie. Jy het in Kaapstad gewerk en jy het ’n woonstel gehad.”
“Ons is nou in die Kaap?”
“Nee. Johannesburg.”
“O? En wat soek ek hiér?” Sy kyk hom openlik agterdogtig aan maar hy kyk kalm terug. “Hoe kon ’n bom my in Johannesburg tref as ek in die Kaap woon?”
“Maklik. Jy het hier kom kuier.”
“By wie?”
“Eintlik nie spesifiek hier kom kuier nie. Jy was op pad . . . na my toe.”
“Na jou toe?” herhaal sy papegaaiagtig. “En waar was jy?”
“Op Friedesheim, natuurlik.”
“Dit beteken vir my net mooi niks nie,” sê sy aanvallend.
Hy behou sy geduld, laat haar maar toe om haar frustrasie op hom uit te haal. “Friedesheim is my wildplaas in die Bosveld.”
“En ek was op pad daarheen om by jou te kom kuier? Hoekom sou ek by jou wou gaan kuier?”
Sy oë lag skielik vir haar. “Hoekom nie? Ons is niggie en neef en ek is jou enigste familielid op aarde.”
Sy antwoord nie. Laat hom maar dink sy eet alles vir soetkoek op. Instink vertel haar dat sy alles maar met ’n knypie sout moet neem. Hy en daardie vrou in die spieël . . . Sy glo nie een van hulle nie. Sy wéét net daardie vrou in die spieël is nie sy nie, nie die sý wat sy was nie. Maar hoe die ander sý regtig lyk, weet sy ook nie.
’n Sug ontsnap haar. Kan ’n mens regtig in ’n groter penarie beland as om een oggend wakker te word en nie te weet wie jy is nie, waar jy vandaan kom nie, waarheen jy op pad is nie? Om alles te moet glo wat jy in die spieël sien en wat jou vertel word, omdat jy dit nie kan weerspreek nie omdat jy skielik ’n mens sonder ’n verlede is. Daar waar geheue moet wees, is net ’n swart kol. Sy kyk weer op in die oë wat haar so stip dophou, gee ’n meewarige glimlaggie: “Ek veronderstel dis min of meer hoe Rip van Winkel moes gevoel het toe hy ná honderd jaar wakker geword het.”
“Dank die Vader dat jy nie honderd jaar geslaap het nie, maar net ’n paar maande. Ansie, moet jou asseblief nie so ontstel nie. Moet jouself nie dryf om te probeer onthou nie. Vat elke dag soos dit kom. Wees dankbaar dat jy lewe en gesond genoeg is om weer ’n normale lewe te kan lei. Die dokter het gesê jy kan op ’n oggend wakker word en skielik alles onthou; of die verlede sal mettertyd stukkie vir stukkie terugkom na jou toe. Kyk wat het vanoggend gebeur. Gister was jy nog soos ’n zombie; vanoggend het jy begin vrae vra. Dit is ’n geweldige groot stap op die pad na algehele herstel.”
Sy sug weer. Hy het seker reg, maar . . . “Maar om so in die lug te hang! Waar moet ek begin? Ek moet tog weer ’n soort lewe vir myself uitwerk. Hoe .