Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 35 - Ena Murray


Скачать книгу
kyk hom fronsend aan, besef dat dit ’n baie mooi gebaar van sy kant af is. Natuurlik is dit blote familieplig wat hom dit laat doen. Hy het immers gesê hy is die enigste naasbestaande wat sy op aarde het. Haar lippe trek styf. Sy wil nie op hierdie man se nek gaan lê nie, neef of nie neef nie. Hy is vir haar ’n totale vreemdeling. Maar is daar ’n alternatief? As sy hierdie onselfsugtige aanbod van die hand wys . . . waarheen dan? Terug Kaapstad toe, na haar woonstelletjie? ’n Stad wat vir haar net so vol vreemde mense sal wees as wat Johannesburg vir haar is. En sy sal moet werk soek, het natuurlik lankal haar pos verloor. Niemand kan verwag dat ’n baas ’n sekretaresse se pos moet oophou terwyl sy maande lank bewusteloos lê nie. Kon ook nie veel van ’n betrekking gewees het nie, nie te oordeel na die vrou in die spieël se uiterlike nie. So ’n ou vaal, oninteressante gesiggie . . . Maar om in ’n vreemde stad, tussen vreemde mense ’n werk te begin soek wat sy kan doen . . . Sy weet nie eens wat sy kán doen nie!

      “Dit kan ’n lang tyd wees. Jare selfs.”

      “Nee. Ek glo nie so nie. Ek is oortuig daarvan dat jy van vandag af baie vinnig gaan vorder. Moenie dat ons die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, Anna. Vir eers kom jy saam Friedesheim toe.”

      “Hoekom noem jy my Anna? Ek dog . . .”

      “Ek noem jou Anna wanneer ek ernstig is, of wanneer ek jou oor die kole moet haal, of wanneer ek jou siel wil uittrek.”

      Sy kyk hom onseker aan. Sy weet nie of hy die waarheid praat en of hy besig is om haar te terg nie. “Ek hou nie daarvan nie.”

      Hy glimlag nou openlik. “Jy het nog nooit nie. Ek kon nog nooit verstaan waarom jy nie daarvan hou om op jou doopnaam aangespreek te word nie. Daar is niks verkeerd met Anna nie. Dis ’n goeie, sterk naam sonder tierlantyntjies.”

      En jy hou nie van tierlantyntjies nie, som sy swygend op, maar hou koppig vol: “Ansie klink . . . sagter.” Maar daar is tog honderde ander pragtige name wat sy liewer kon gekry het!

      Hy begin aanstap deur toe. “Moenie met mý daaroor baklei nie. Ek het jou nie laat doop nie! Ek sal gaan kyk waar suster Gertenbach is. Jy wil seker bad.”

      “ ’n Verpleegster? Hoekom? Ek kan myself bad,” keer sy verbaas.

      Maar hy skud sy kop, verduidelik: “Tot gister was jy amper soos ’n babatjie. Miskien het ons nie meer haar dienste nodig nie. Sy kan jou egter vandag nog help. Jy is nog baie swak. Ons sal hoor wat die dokter vanmiddag sê.”

      “Moet ek die dokter vanmiddag sien?”

      “Ek glo hy sal jou wil sien as hy die goeie nuus hoor. Ek gaan hom nou bel. Sien jou later.”

      Sy lê nog steeds na die deur en kyk, haar hart en verstand in ’n warboel, toe dit weer oopgaan en ’n mollige, goedige gesiggie verskyn.

      “Ons meisie is wakker, vertel dokter Bothe my. Watter wonderlike nuus! Hoe voel jy, my kind?”

      Maar sy beantwoord nie die vraag nie. “Dokter Bothe? My . . . neef? Is hy ’n dokter? Maar hy . . .”

      “Ja. ’n Veearts. Jy het seker maar net vergeet. Moenie bekommerd wees nie, skatjie. Alles sal nog regkom. Ek gaan solank jou badwater intap.”

      Hoe Ansie ook al probeer uitvis, sy word nie veel wys by suster Gertenbach nie. Sy het maar ’n week gelede by hulle aangesluit toe Lochner Bothe haar uit die kliniek hierheen gebring het. Die middeljarige, mollige verpleegster babbel aanmekaar, en sy ontstel Ansie meer met die inligting wat sy uitlap as iets anders.

      “Dit moet die man ’n fortuin kos om ons almal hier te huisves. Dis ’n duur plek hierdie, Ansie. Jy weet, hulle laat nie kinders onder tien hier toe nie. Dis glo om die plek stil en rustig te hou. Dis meer die stad se ryk snobs wat hier kom ontspan wat nie geraas en rumoer om hulle wil hê nie. Dis pragtig hier, hoor. Maar ek het vir dokter Bothe gesê, regtig, ek gee nie om om ’n kamer met jou te deel nie. Ek moet jou tog oppas. Dis immers waarvoor ek hier is. Maar hy sê toe nee, ek kry my eie kamer en badkamer, want ek moet ook my rus kry. ’n Dierbare man. En natuurlik skatryk ook. Hy het gesê ek moet net sê as jy iets nodig het; hy sal dit gaan koop. Maar jy het tot nou toe niks gekort nie. Hy het jou regtig so goed uitgerus, van nagklere tot dagklere. En glo my, alles pas nommerpas. Net met die bra’s het hy hom misgis. Hulle is ’n bietjie te groot,” lag sy en droog haar pasiënt af ten spyte van Ansie se floue protes. “En hy was so bekommerd oor jou, weet jy? Die tye dat ek gaan rus het, of net ’n entjie gaan stap het vir vars lug, het hy by jou gesit. Hy wou jou skaars ’n minuut alleen los. Ja-nee, kind, jy is gelukkig om sulke familie te hê. Vandag se dae steur familie hulle mos nie aan mekaar nie. Kinders vind ouers ’n oorlas en wil net hul eie gang gaan en ouers weet nie eens aldag waar hul kinders is nie . . .”

      Ansie se ore tuit en haar kop sing. Sy is amper openlik verlig toe daar ’n klop aan die deur kom en die wonderlike dokter Bothe weer sy verskyning maak. Snaaks, die draaiorrel in haar kop is ook onmiddellik stil.

      “Dokter Engelbrecht sê hy kan jou vanmiddag drie-uur sien. Hy is baie opgewonde oor jou reuse-vordering. En nou gaan ons al drie ’n goeie ontbyt nuttig. Ons moet ’n bietjie vet om daardie geraamte kry, nie waar nie, suster Gertenbach?”

      Ja, want jou bra’s pas nie, dink Ansie droog en laat haar maar soos ’n skaap by die deur uitlei.

      Dokter Engelbrecht steek nie sy opwinding en ingenomenheid weg nie. Die feit dat Ansie vanoggend skielik na die nugter wêreld van denke teruggekeer het, beloon hom meer as genoeg vir die (soms wel wankelmoedige) vertroue wat hy oor haar gekoester het, naamlik dat haar prognose nie so swak is soos wat sommige van sy kollegas gedink het nie. Hy het bly glo dat as Ansie haar net eers een maal kon ontruk van daardie donker wêreld waarin haar onderbewussyn haar geplaas het, sy alle kanse het om volkome te herstel. Want die menslike gees is nog selfs in hierdie eeu van hartoorplantings en mediese wonderwerke tot groot mate ’n onontdekte wêreld – soveel groter as die fisieke wêreld van die mediese wetenskap. Die onderbewussyn van die mens laat hom nie inperk in ’n vaste raam en voorskryf tot vasgestelde gedrag nie. In hierdie “onderwêreld” van die menslike struktuur lê baie onopgeloste raaisels wat nog verklaar moet word, soos ook in Ansie van der Merwe se geval.

      Sy was een van die baie bebloedes wat daardie dag deur die ambulanse aangery is ná die skokkende terreuraanval in ’n inkopiesentrum in die stad. Aanvanklik is net na die onmiddellike fisieke nood van die pasiënte omgesien. Die operasiesale het soos ’n slagplaas gelyk. Daar is bloeiende are toegeklem en afgebind, gapende wonde ontsmet en toegewerk, buike oopgesny om te kyk wat aan die vergruising gedoen kan word, ledemate met die grootste geduld gespalk, party geamputeer. En party moes hulle wegstoot dodehuis toe. Suigelinge, kleuters, grootmense, ou mense, swart, bruin, wit . . . as ’n bom ontplof, vra dit nie vrae nie.

      Een van hulle was Anna van der Merwe, volgens die identiteitsboekie in haar handsak. Dit was nog vasgeklem in haar hande toe die noodspanne op haar bewustelose liggaam afgekom het. Gelukkig kon sy dadelik geïdentifiseer word. Daar was so baie wat eers ure later, party selfs dae later, geëien is.

      Die foto in die boekie het kwalik vergelyk met die opgeswelde gesig, blou oë en bloedbeklonte hare. Alles is gedoen wat gedoen moes word. Daarna kon hulle net wag en hoop.

      Maar soos die weke maande geword het, wou die hoop beskaam. Fisiek het sy heeltemal herstel, maar sy het geweier om die donker wêreld te verlaat waarin sy so brutaal geslinger is. Toets op toets is gedoen, tweede menings, derde menings is ingeroep, en teen die end was dit net dokter Engelbrecht wat bly vasklou het aan die hoop dat daar wel ’n kans op herstel is. Hy, en Ansie se neef wat op ’n dag uit die bloute by die kliniek opgedaag het. Hoekom Lochner Bothe eers maande ná die ontploffing sy verskyning gemaak het, het hy nie gevra nie. Dit was vir hom genoeg om te weet hy bedoel dit opreg met Ansie en dat hy geen steen onaangeroer sou laat om haar te help om weer ’n normale lewe te lei nie. Die arme meisie het ten minste nou iemand gehad wat na haar kon omsien, wat werklik omgegee het.

      Soos drenkelinge het hy en Ansie se neef vasgeklou aan die power strooihalmpie dat wonderwerke nog gebeur; wel al gebeur het met pasiënte wat lang tye in ’n koma was. Dokter Engelbrecht het die een na die ander geval opgediep en as voorbeeld voorgehou


Скачать книгу