Ena Murray Omnibus 35. Ena Murray
. . . en wat vandag hier aan die lig kom. Dan is dít hoekom Lochner so vreemd optree . . .”
“Waarvan praat jy, man? Wie is Lochner? Haar man?”
“Nee, haar neef. Sy bly by hom nadat sy beseer is in ’n bomontploffing in Johannesburg. Ná dié voorval ly sy aan algehele amnesie.”
Jack frons diep, protesteer: “Maar sy ly nie aan algehele geheueverlies nie. Sy onthou wel. Vandag is die bewys daarvan. Wat het sy gedoen vóór die ongeluk?”
“Sy was ’n sekretaresse volgens haar neef.”
“Snert. Hierdie meisie dra intieme kennis van my beroep. Sy móés op die een of ander wyse verbonde gewees het aan ’n filmmaatskappy of ’n televisiespan, of die teater, of iets in daardie rigting.”
Don knik peinsend. “Dit wil so voorkom, maar haar neef sê sy was ’n doodgewone sekretaresse en Ansie kan hom nie weerspreek nie, want sy het haar verlede vergeet. Goed. Haar geheue is vandag geprikkel deur wat sy hier gesien het, maar sy onthou nog nie presies wie en wat sy voor die ontploffing was nie.”
“Ek kan haar werk aanbied. Sy kan die kennis wat sy wel teruggekry het, gebruik.” Jack is entoesiasties.
“O nee, ou vriend, nie as my buurman ’n sê in die saak gaan hê nie.” En Don lig die regisseur in oor sy buurman se onverklaarbare antipatie teenoor filmmense; soseer dat hy ’n oorval sal kry as hy moet weet Ansie is vandag hier en waarmee sy op die oomblik besig is.
Met kennis en ’n vaardigheid wat haar ewe veel verstom as die omstanders is Ansie besig om Rachel se grimering aan te wend.
Toe sy tevrede terugstaan, knik Edith goedkeurend: “Jy kan dit doen. Jy is professioneel. Eienaardig dat jy self nie grimering gebruik nie. Moet dit asseblief nie as ’n ontaktvolle opmerking beskou nie.” En haar blik rus weer ’n stonde op die vreemde kapsel voor haar.
Ansie lag net. “Ag, nee wat. Ek gee nie veel daarvoor om nie. Dit pas nie in die bos nie. Ek besit nie eens ’n lipstiffie nie!”
Sy sien die ongeloof in die ander se oë en keer vinnig terug na waar Don en Jack nog ernstig sit en gesels. As Lochner moet weet waarmee sy besig is, voer hy haar vir Friedesheim se leeus. Sy sê ook dadelik toe sy hulle bereik: “Ek moet nou teruggaan.” Sy hou haar hand op toe Jack wil protesteer. “Nee, regtig, Jack. Ek het reeds te lank versuim. Ek moes lankal terug gewees het.”
“Maar jy sal weer kom? Môre weer?”
Sy ontwyk die mans se oë, antwoord vaag: “Ek sal sien. Tot siens, julle!”
Sy haas haar by die deur uit, hardloop amper na haar perd toe. Die oggend het omgevlieg. As Lochner se bakkie nou hierdie werf moet binnery . . . Sy jaag sowaar die bosse in en kom nooit weer terug nie.
Maar sy loop haar vas in Liesbet wat lankal klaar is met die wasgoed en agtergekom het sy word vermis. Salmon moes maar bieg en hy is reeds deeglik geroskam.
Maar Ansie gee haar geen kans om met haar tirade te begin nie. Sy val sommer eerste aan: “Nie ’n woord nie, Liesbet. Ek is ’n grootmens en ek doen wat ek wil. As jy wil gaan verklik, verklik dan. Los net Salmon se naam daar uit. Hy dra geen skuld nie. Hy weet nie eens ek het die merrie gevat nie. Ek het self opgesaal en gery voordat hy dit kon agterkom,” lieg sy sommer roekeloos. Ek moet alleen wees. Ek moet alleen wees. Sy storm na die huis toe, draai dan terug na die verstomde twee mense: “Ek wil nie eet nie en ek wil nie gesteur word nie.”
In haar kamer sak sy bewend op die bed neer. Sy voel soos iemand wat haar in ’n eindelose doolhof bevind. Die een oomblik lyk ’n draai bekend om net die volgende oomblik weer skrikwekkend vreemd voor te kom. Hoe skakel dít wat vandag op Hunters Lodge gebeur het by haar verlede in?
Sy kan vir geen oomblik meer glo dat sy net ’n sekretaresse was nie. Lochner het haar ’n blatante leuen vertel. Sy voel geskok en teleurgesteld in hom. Hoekom? Hoekom leuens vertel? Meer as ooit voel sy verward en onseker oor haarself. En meer as ooit bekommerd. Was sy al die tyd op ’n dwaalspoor en moet Lochner se vreemde obsessie oor die filmspan en almal wat van stadsliggies hou by háár gesoek word en nie by Charlene nie? Is dit iets in háár verlede wat gemaak het dat hy so ’n onstuitbare weersin in dié mense gekry het? Is dit die soort lewe wat sý gelei het wat hom so afgestoot het dat hy niks goeds uit die teaterwêreld verwag nie?
Maar dit laat haar nog meer verslae. Hoekom sou wat sý gedoen het, hóm so ontstel? Hulle is tog net niggie en neef en soos sy kon aflei, het hulle glad nie baie noue familiebande gehad nie. Trouens, hy het gesê dis die eerste keer dat sy op Friedesheim kom, en sy weet instinktief dat dit die waarheid is. Nou hóékom het hy die moeite gedoen om hom oor haar te ontferm en haar ná haar ontslag hierheen te bring?
Dalk moet dit haar ook nie so verbaas nie. Sy ken Lochner darem al teen hierdie tyd so ’n bietjie. Hy is ’n man wat plig eerste stel, en al sou hy liewer nie by haar wel en weë betrokke wou raak nie, sou sy pligsbesef dit nie toelaat nie. Blykbaar was daar niemand anders wat hom oor haar kon ontferm nie en hy het eintlik geen ander keuse gehad as om te doen wat hy gedoen het nie.
Haar hart lê soos ’n stuk ysterklip in haar. Sy is net ’n las vir hom, ’n teësinnige verpligting en boonop ’n steen des aanstoots. Hy bid natuurlik dat die dag moet aanbreek dat hy van haar ontslae sal wees.
By hierdie gedagte neem haar verwarring egter weer toe. Dan kan sy sy optrede nog minder verstaan. Hoekom verbied hy haar om ’n voet op die Lodge te sit terwyl die filmspan daar doenig is? Hoekom weier hy summier dat hulle ’n voet op Friedesheim sit? Dis of hy wil keer dat sy haar verlede moet onthou!
So naarstiglik as wat sy begeer het om haar verlede te ken, so bang is sy nou om dit uit te vind. Watter soort mens was sy? Watter soort lewe het sy gelei? Daar word baie geskinder en gepraat oor filmsterre en mense wat in die teater is en gekoppel is aan die wêreld van die kunste. Die algemene opvatting is dat kunstenaars ’n losbandige en immorele lewe lei. Dat hulle mense sonder beginsels is vir wie min dinge heilig is. Mense wat dikwels roekeloos op ander trap om op die boonste sport van die suksesleer te kom. Mense wat vir ’n tydjie in die glans van die sterre staan en op ’n dag sommer net verdwyn. Sy glo dit is ook wat Lochner van hierdie mense dink.
En sy was een van hulle. In watter hoedanigheid weet sy nie, maar sy was ’n kunstenaar. Die kennis wat sy vandag in haarself ontdek het, bewys dit. Sy weet net te veel van grimering, te veel van beligting en kameras af om nie voorheen intensief daarmee gemoeid te kon wees nie. Sy kon selfs verbeter op van die spelers se aksies en stemintonasies! Sy móés deel van daardie wêreld gewees het wat Lochner so heelhartig verag.
Ansie is dwalende vir die res van die dag. Sy kan nie besluit of sy dankbaar of jammer is oor die ligstraaltjie wat skielik deur die donkerte geklief het nie. Sy weet ook nie of sy spyt of bly moet wees dat sy teen Lochner se bevel in Hunters Lodge toe gegaan het nie. Miskien sal dit wys wees om van nou af die Lodge soos die pes te vermy. Maar sal sy dit regkry? Iets onverklaarbaars het haar soos ’n magneet daarheen getrek en sy voel daardie magnetisme steeds aan. Sy sou veel liewer nou daar wou gewees het as hier.
Die dag is besig om verby te gaan en daar is nog geen teken van Lochner nie. Hy het haar vertel hy het nie baie besigheid om te doen nie, maar noudat Charlene by is, sal hy nie haastig wees om huis toe te kom nie. Toe die telefoon lui, is sy dadelik by. Dis Don.
“Ansie, Jack wil weet of jy nie weer vanmiddag kan oorkom nie. Daar is iets wat hy met jou wil bespreek.”
“Nee. Ek kom nie. Ek kan nie . . .”
“Charlene is nog nie terug nie. Sy en Lochner kuier blykbaar nog lekker op die dorp. Jy kan gerus . . .”
“Don, hulle kon direk hierheen gekom het. Jy het baie gewaag om my te bel. Wat sou jy gesê het as dit Lochner was wat geantwoord het?” wil sy ontsteld weet.
“O, ek sou aan iets gedink het. Ek kon mos maar net na sy welstand ook verneem het. Jy is verniet bang. Ek sal jou nie verraai nie.”
“Maar die ander mense. Een van hulle kan teenoor Charlene laat val ek was daar.”
“Jy