Veldpad van verlange. Helena Hugo

Veldpad van verlange - Helena Hugo


Скачать книгу
sy roer nie ’n wimper nie. Sy verskuif sonder omhaal na die wasbak langsaan.

      Paulie wat vir ’n oomblik in haar spore vasgenael was, maak liewer of sy Natika nie ken nie. Sy loop terug winkel toe voor sy verskonings moet uitdink. Sy haal ’n bottel vars mangosap uit die yskas en gaan staan in die betaaltou. Andreas en Lüther staan by die wegneemetes se toonbank. Die geure is so aanloklik, dit maak haar ook honger. Met die vrugtesap in haar hand gaan vra sy vir Lüther om vir haar ook te bestel.

      “Hoekom het jy nie aan die begin gesê nie? Ek het my bestelling tien minute gelede al geplaas, nou sal ek langer moet wag, vyftien of twintig minute,” kla hy.

      “Los, ek koop ’n sjokolade,” paai sy en draai terug winkel toe.

      Later is almal al geholpe en Natika is steeds nêrens te sien nie.

      Paulie gaan haar beslis nie soek nie. Sy wink Lüther nader en los die besorgde Andreas met sy sak kos en sy kan koffie om vir Natika te wag.

      “Wag jy nie?” vra Lüther.

      “Hoekom?”

      “Dis goeie maniere, Paulie.”

      Sy verwerdig haar nie ’n antwoord nie en stap met lang treë buitentoe. Waar was sy maniere toe hy nie ’n minuut langer vir haar in die kostou wou staan nie? Maar haar sjarmante verloofde is gewoond daaraan dat sy eie mense hom in ag neem, nie andersom nie. Vreemdes behandel hy altyd soos sy ma hom geleer het.

      Dis beter om nie ’n rusie op tou te sit nie, beslis nie nou nie. Buite waai daar ’n koel windjie, die voëls kwetter en daar is genoeg sitplek onder die bome. Die sementtafels en -bankies is nou wel hier en daar geblerts met voëlmis, maar dis nie die ergste nie. Sy geniet die koelte en skeur haar sjokolade oop.

      Lüther kom maak hom vieserig langs haar tuis, vee ’n slag met sy servet oor die tafelblad, skeur die kardoes waarin hy sy eetgoed aangedra het oop en sit sy hamburger en koffie daarop neer. Toe hy die hamburger uit die sakkie haal, keer Paulie se maag om. Sy het vanoggend net ’n bakkie muesli en jogurt geëet, en die geure van souse en gesmelte kaas oor vleis is genoeg om haar aptyt behoorlik te prikkel. Praat nie van die tjips nie!

      Lüther vat die hamburger met albei hande vas, kyk op na haar. “Jy seker jy wil nie hê nie?”

      Jou skaap, ek het jou gevra, maar jy was nie bereid om nog ’n paar minute saam met my te wag nie. Nou kan jy dit vergeet!

      “Nee, dankie,” sê sy. “Die sjokolade is genoeg.” Al is ek bitterlik lus vir iets souts!

      Andreas het seker nie ontbyt geëet nie, want hy het ’n sak vol kos wat skrik vir niks. Natika is vars gegrimeer en blink gekam en geborsel. Sy het ’n houertjie met jogurt. Sy trek haar neus vir die voëls se tafel op en loop daarmee na die heining, waar wilde-eende op ’n dammetjie dobber.

      Paulie nies. Natika se seringwolk hang nog swaar oor hulle.

      “Sy kan nie wag om in die veld te kom nie.” Andreas kyk haar agterna, ’n druppende hamburger in sy hand. “Wilde-eende, Natika!”

      Sy draai om. “Ek weet!”

      Lüther se blik dwaal ook agter Natika aan en dit gee Paulie ’n kans om ’n hand vol van sy tjips te steel. Dalk hou Natika nie van klein voëltjies nie, dink sy en besluit om haar voorlopig te vergewe. Daar lê nog drie weke voor en Natika doen haar ’n guns, of hoe?

      Die mans eet vinnig en gulsig, selfs Lüther vergeet sy maniere. Toe Natika terugkom, voer sy die helfte van haar jogurt vir Andreas terwyl sy vir Lüther ogies maak. Altans, so lyk dit vir Paulie.

      Ek moet my gesindheid regkry, betig sy haarself.

      Sy gaan staan agter Lüther en masseer sy skouerspiere. Nie lank nie of Natika volg haar voorbeeld. Sy gaan staan agter Andreas, masseer sy nek, soen sy slape, fluister beloftes in sy oor wat nie vir die geselskap bedoel is nie.

      Is dit ’n kompetisie? wonder Paulie toe Lüther se hand teen haar kaal been op dwaal.

      “Kar toe voor ons besluit om die res van die dag hier te bly!” roep sy haar groep tot orde en slaag daarin om haar stem lig te hou.

      Almal is in ’n goeie luim toe hulle die viertrek vir die volgende skof bestyg. Die landskap verander soos hulle die langpad vat. Spoedig laat hulle die mynhope van Johannesburg en die rokende skoorstene van Vanderbijlpark en Sasolburg agter en bevind hulle op ’n oop pad tussen golwende Vrystaatste vlaktes en landerye. Hulle steek Kroonstad verby en Andreas waag dit selfs om vinniger te ry.

      Natika luister weer na R&B en dis nie te sleg nie. Hoewel Lüther dit in sy kop kry om ook saam te sing en Andreas toe stilbly en Paulie haar verbeel sy nek word al rooier.

      Hy haal die CD uit voor dit deurgespeel het en steek Ladysmith Black Mambazo in. Paulie luister na die Afrikaritmes, verbeel haar sy ruik die grasvure wat hierdie tyd van die jaar reeds aan die orde van die dag is. Dis Maartmaand en vroegherfs, dan is die Vrystaat vir haar selfs mooier as in die hoogsomer. En vanjaar het dit goed gereën. Die rooigras staan glo skouerhoog en die beeste is vet, die wild blinklyf, soos haar gasheer, oom Hennie, graag sê.

      Natika het ingesluimer, haar kop na die een kant gedraai, weg van Andreas. Hy stel die musiek sagter en neem kort-kort ’n sluk van sy koffie. Hy het sy eie vlekvrye-staal-koffiebeker wat ’n hele liter hou en hy het gesorg dat dit vol goeie Wimpy-koffie is.

      “Tyd dat ek ook ’n uiltjie knip,” sê Lüther. Hy blaas sy reiskussing op, keer sy rug na Paulie en slaap.

      Ná ’n ruk voel sy verplig om ’n gesprek met Andreas aan te knoop. Hy is immers die een wat moet wakker bly en hulle veilig by hulle bestemming besorg.

      “Drink jy altyd so baie koffie?” vra sy toe Lüther kliphard snork.

      “Dag dis jy wat so snork,” skreeu hy agtertoe.

      “Nee, dis my perfekte man.”

      “Jy kan ook maar slaap, jy is seker gewoond daaraan. Ek sal oukei wees.”

      “Ek het my netnou uitgeslaap. Hoe laat verwag jy om Bloemfontein te haal?”

      “Nie voor halfses nie. En ons sal moet afdraai en petrol kry voor ons aanry.”

      “Ek hou nie daarvan dat ons in die donker moet ry nie.”

      “Ek sal versigtig wees.”

      “Ons kan ’n kortpad plaas toe vat.”

      “Ja, dit kan help.”

      “Môre moet ons vroeg begin. Dink jy Natika sal byhou?”

      “Natika is nie so pieperig soos sy lyk nie.”

      Verbeel sy haar of is daar nou irritasie in sy stem, verontwaardiging en beskermingsdrang?

      “Ek sê nie sy is nie. Ek dink net nie sy is gewoond aan veldwerk nie.”

      “Moenie worry nie, sy sal byhou. Ek het jou mos gesê sy sal.”

      Met dié draai hy die musiek harder en Paulie voel soos ’n ondankbare vark omdat sy haar gevoelens in woorde durf omsit het. Kan sy nie haar mond hou nie! Waarvoor is hy ook so fyngevoelig? Dis nie asof sy die vroumens in haar gesig beledig het nie. Sy het haar kommer uitgespreek, dis al.

      Buite begin die son sak. Dit trek lang vingers lig oor die vlaktes wat groen en bruin en goudgeel om hulle uitstrek. Hoekom voel sy skielik so weemoedig en ongelukkig?

      3

      Dis stikdonker toe hulle die uitdraai na hul bestemming bereik, ’n kortpad wat volgens Paulie se kaart by Graspan verbyloop, maar wat ongelukkig nie geteer is nie. Hulle moet van die hoofpad afdraai, twaalf kilometer goeie grondpad ry en dan by ’n wegwyser met Boshof 80 kilometer indraai.

      Paulie het die kaart op haar skoot en beduie vir Andreas van haar sitplek agter in die kar hoe ver hy moet ry voor hy die plek sal kry. Hy het die CD afgeskakel en dis stil in die viertrek, ’n soort broeiende, onheilspellende stilte, donker en neerdrukkend. Die pad word slegs


Скачать книгу