Veldpad van verlange. Helena Hugo
Stof sif in die kajuit en Natika wat eers gekla het, verduur dit in stilte.
Andreas het haar getroos met: “Dis skoon stof, Natika. Skoner as die lug wat jy elke oggend in Pretoria inasem, so geniet dit.”
Lüther het sy donkerbril op. Hy hou ’n sakdoek voor sy neus en bewaar ’n doodse swye. Hy het sy sweetpakbaadjie aangetrek en die kappie oor sy kop getrek en lyk meer of hy in ’n sneeustorm op pad is Suidpool toe as plaas toe op ’n doodgewone Vrystaatse gruispad.
Hulle ry by enkele verligte plaashuise verby. Daar is helder ligte op hoë heiningpale, stoepligte onder sinkdakke, liggies aan stringe van die huis se dak na die windpomptenk, selfs in die hoë bome.
“Is dit ’n dorp?” vra Lüther met ’n mompelstem.
“Dis die skema, proefplase,” verduidelik Paulie kortliks.
“Die mense gaan slaap vroeg. Hoe laat is dit?”
“Halfnege. Hulle staan vroeg op.”
“Woon daar ooit mense in daai huise?”
“Ja.”
Maar hulle is steeds alleen op die pad. Nêrens roer daar ’n ander mens of ’n voertuig nie. Soms sien hulle ’n perd of ’n bees rustig in ’n kampie staan en sluimer. Die enigste geluide is die enjin se dreuning en Paulie en Andreas wat uitpluis hoe ver en wanneer hulle die kortpad kry.
Paulie hou dop: ’n laagtetjie, ’n bruggie, ’n groot boom, ’n bouval. Sy en Louis het ’n paar keer hierlangs gery, in die daglig. Alles lyk anders in die donker, maar die bouval lui ’n klokkie. Daar staan twee hoë palmbome langs ’n vervalle klipmuur en sy onthou hulle spesifiek.
“Ry stadiger, jy gaan nou-nou links draai.”
Andreas verminder spoed, sy kop vorentoe soos hy soek. Stadiger en stadiger tot die viertrek se ligte die uitdraaipad met Boshof 80 kilometer aan die linkerkant tref. Maar dis nie so ’n wonderlike prestasie nie. ’n Reuse-kennisgewingbord van die provinsiale paaiedepartement verdwerg die wegwyser met ’n ondubbelsinnige waarskuwing.
Versigtig! Padwerke vorentoe!
Yslike rooi letters op ’n blitsende wit agtergrond, duidelike woorde in die taal wat die mense hier rond almal verstaan. Met onderaan in kleiner letters, ingeval hier ’n uitlander verbykom: Cautious! Roadworks ahead!
“Andreas, jy moet draai!” waarsku Paulie.
“Daai pad is toe!”
“Dit is nie!”
“Paulie, dit is!”
Lüther skaar hom by Andreas. Sy glo dit nie.
“Dis ’n padverlegging,” piep Natika in die koor. “Kyk die borde, kyk die dromme!”
“Lángs die pad. Ry, Andreas! Oom Hennie het gesê die pad is sleg, maar hulle ry hom.”
“Hulle is nie óns nie.”
“Wil jy hê ek moet die wiel vat?”
“Nee, ek sal ry.”
“Dankie.”
“Jy weet hoe lyk ons vrag.”
“Ry stadig, dis al.”
“Ek sê niks,” brom Lüther.
Natika maak klein tjankgeluidjies.
Maar Andreas sit spoedig sy hand op haar arm. “Ontspan, die pad is splinternuut.”
Inderdaad, die eerste stuk is breed en glad, byna beter as die een wat hulle tot dusver gery het. Terselfdertyd word dit donkerder en eensamer. Só eensaam, hulle kon net sowel iewers in ’n doodsdroom aan die einde van die wêreld rondswerf. Voor lê die spookpad, aan weerskante die dreigende boswêreld, swart onheilsvlaktes wagtend op niksvermoedende reisigers na nêrens.
Die karligte boor die donker oop. Andreas bestuur so goed, die passasiers begin al ontspan toe hulle ’n stuk tref wat net sowel ’n omgeploegde land kon wees. Walle sand en klippe wissel mekaar hoog en laag af, en naderhand kan niemand meer sien waar die pad begin en waar dit ophou nie.
Natika sit so regop soos ’n meerkat en kerm sonder ophou. Lüther laat sak die ruit aan sy kant, steek sy kop uit en pluk dit terug met: “Jy’s die pad byster, ou! Ons ry teen ’n damwal op!”
“Stop!” keer Paulie. “Staan net hier!”
Sy gryp haar flits en spring uit. Inderdaad, Andreas het hulle netjies bo-op ’n hoë wal besorg. Die waentjie met sy kosbare vrag hang so te sê oor ’n afgrond. Bokant haar kop skitter miljoene der miljoene sterre, maar dis asof selfs hulle asem ophou. Hulle het net betyds gestop, want reg voor val die wal gevaarlik.
Wat nou? Hulle kan nie hiér vassteek nie. Iets moet gedoen word.
“Dis ’n fout,” sê Lüther agter haar.
Sy haal diep asem. Enige mens kon dié fout gemaak het, selfs sy, selfs Lüther.
Andreas het die deur aan sy kant oopgemaak en sy een skoenpunt boor in die grond asof hy vastrap. “Ek sal agteruit moet stoot.” Hy klink kalm.
“Help jou,” beduie Lüther. “Sal vir jou aanwysings gee.”
“Miskien moet Natika eers uitklim.”
Paulie het klaar omgeloop. Sy maak die deur aan daardie kant oop. Natika het haar baadjie oor haar kop getrek en sit in ’n benoude bondeltjie.
“Is dit veilig?” vra sy.
“Sover ek kan sien, ja. Ek maak vir jou lig.”
Die pad is die ene los grond en klippe en Natika sukkel met haar fyn sandaaltjies. “Is hier nie slange nie?”
“Skerpioene miskien. Kyk waar jy trap.”
Sy los ’n gilletjie en spring op haar toontjies. “Hy gaan nooit daar kan afkom nie!”
“Moenie soontoe kyk nie!”
Paulie en Natika sukkel teen die wal af. Dis deksels hoog! Dit sal ’n wonderwerk kos om die waentjie in een stuk hier af te kry, dink Paulie en sê liewer niks. ’n Skietgebedjie is al wat sal help.
Toe hulle op vaste grond staan en Natika nog besig is om die klippies uit haar sandale te skud, kyk Paulie op na die sterre en vra mooi asseblief. Al wat hulle wil doen, is om by hul bestemming uit te kom. En wie sou kon sê dat die pad in so ’n toestand is? Oom Hennie het haar verseker hulle ry hom, vervlakste oom Hennie. Dit lyk soos ’n maalgat. Is dit ooit die pad?
Sy loer na die voertuig, die waentjie wat gevaarlik knipmes en Lüther wat met ’n flits in die hand staan en waai soos iemand wat ’n vragvliegtuig aarde toe moet bring. Sy moet haar keer om ook te gaan raad gee. Die beste is om in sulke omstandighede so min as moontlik in te meng. Lüther en Andreas is besig met ernstige sake, fisiek én geestelik. Hulle red ’n voertuig met ’n kosbare vrag en leer mekaar ken in ’n krisistyd. Hulle vorm ’n band wat vir die res van die ekspedisie moet hou. Sy en Natika kan gerus hulle voorbeeld volg.
“Kom saam, hulle moet hierdie kant toe afkom.”
Paulie hou haar hand vir Natika en kry haar jammer toe sy voel hoe natgesweet die klein, maer handjie in hare is. In die lig van haar flits struikelstap hulle saam tot hulle ’n smal, uitgeryde sloot kry – duidelik die ou pad wat nog gery word. Daar, op ’n veilige afstand, staan hulle en wag.
Dis koel. ’n Ligte briesie waai en die lug ruik stowwerig maar skoon, inderdaad so skoon en vars soos Pretoria se lug nooit kan wees nie. Rondom hulle juig die krieke en ander insekte en verdring byna die angswekkende gegly van bande en die gekerm van die enjin.
Paulie onderdruk die vreesaanjaende gedagte dat die voertuig hier kan vasval of omval, kilometers van die naaste omheinde proefplaashuis. Dat hulle vier te voet sal moet aanstap, dat die viertrek in vlamme kan opgaan, dalk die twee mans ook. Andreas beslis as hy nie betyds uitspring nie.