Bambi en die boef. Anita du Preez
sy slape. Net reg, dink Bambi, en stap nader.
“Excuse m –” sê sy, maar sy sluk haar woorde heel in toe die man draai na die mooi blonde vrou skuins agter hom en sy arm besitlik om haar skouers slaan. Bambi steek vas en verander skerp van rigting.
Sy vergeet uit verleentheid van die fris briesie, en Margaret se hoed woer-woer deur die lug. Sy gryp tevergeefs daarna en verloor byna haar balans toe Margaret se stilettos in die sagte grasperk wegsak. G’n mens weet wat die vervlakste hoed gekos het nie, Margaret vermoor haar as dit wegwaai! Bambi ruk haar hakke los en strompel tussen die skare deur. Die hoed wawiel vrolik oor die grond tussen die voete. Toe dit uiteindelik teen iemand se bene vaswaai, gryp Bambi dankbaar daarna en stamp die persoon byna uit die aarde uit.
“Honou, stadig!” sê die eienaar van die bene en vat Bambi stewig onder die elmboog vas. Bambi kom stadig orent en kyk skaam in die gesig van die mooiste man wat sy in haar ganse nege-en-twintig jaar gesien het. Dis nie dat sy nie mans gewoond is nie. Nee, Bambi le Roux het beslis al haar aandeel mooi manne aan haar nommer-vier-en-’n-half-voetjies gehad, maar om self aan die voete van een te beland is nie iets waaraan sy gewoond is nie. Veral nie een met die manjifieke proporsies van dié ene nie. Bambi ken die verskil tussen ’n handsak en ’n man, en hierdie is definitief nie ’n handsak nie! Van sy sagte Italiaanse leerskoene tot sy glansende pikswart hare kan hierdie skepsel dien as prototipe vir die konsep “man”.
Bambi steier orent. Sy is so naby die man se bors dat sy naskeermiddel kan ruik. Hy lag terwyl hy Margaret se hoed vreeslik versigtig, maar heeltemal agterstevoor om, op haar kop sit. Bambi kyk verbluf na sy mooi, laggende mond en let op dat sy een spierwit voortand baie effens skeef is. Sy dwing haar om te fokus op sy roomkleur snyerspak, sy donkerpers hemp. Dan skrik sy toe ’n kamera herhaaldelik flits, net mooi terwyl Margaret se rok hopeloos te hoog teen haar bene opwaai.
Nou voel Bambi onhoudbaar simpel. Sy mompel iets wat soos “baie dankie” klink en swaai verbouereerd om terwyl sy die hoed van haar kop af pluk. Sy kies weer koers tussen die mense deur, kyk nie een keer op nie. Van hierdie spul het sy nou genoeg gehad. Nee wat, dis nou maar na die maan met Mauritius. Sy is nie uitgeknip vir sulke bog nie, sy moes haar nooit hier laat inpraat het nie! As sy perde wou sien, kon sy op haar pa se plaas gaan kuier het, en pryse wen sy buitendien nie eens op kerkbasaars nie. En van ’n gedobbel hou sy net mooi niks, dit druis in teen al haar beginsels. Nee, hierdie is geen plek vir haar nie.
Boonop het sy hope werk by die huis. Die nuwe semester begin binnekort en sy verkies om uit die staanspoor deeglik voor te berei vir haar lesings in sake-etiek. Margaret sal maar net moet verstaan. Sy het mos darem probeer, dink Bambi terwyl sy aanstryk na die uitgang.
“Hoei! Juffrou Le Roux!” roep iemand. Bambi hou haar doof.
“Bambi! Wag!”
Bambi kyk moedeloos om. Mevrou Zelda Barkhuizen, haar fakulteitshoof se vrou, kom oop en toe aangestorm in ’n afgryslike pienk-en-swart uitrusting, blydskap op haar mollige gesig.
“Liewe aarde, juffrou Le Roux,” hyg sy toe sy Bambi inhaal, “ek het jou skaars herken!”
“Middag, mevrou,” sê Bambi, “ek is nou net op pad huis toe.”
“Nooit gesien nie!” sê mevrou Barkhuizen, “die perde het dan nog nie eens gehardloop nie! Kom, ek en meneer Barkhuizen koop vir jou ’n glasie sjampanje, dan kyk ons die resies saam.”
“Ag, ek is vreeslik jam –”
“Nee, nee, nee, kom! Kyk, daar staan hy. Dis hy wat jou in die verbygaan herken het. Hoe sal dit nou lyk as jy nou loop, hmm? Dis tog nog vakansie, nie waar nie?”
Bambi kyk. En haar hoof staan inderdaad ’n entjie van hulle af. Hy wink glimlaggend. Moes sy nou vir húlle raakloop, van alle mense? Asof sy nie genoeg van die Barkhuizens te siene kry op kampus nie.
“Kom,” sê mevrou Barkhuizen beslis, “jy werk altyd veels te hard, sê my man,” en sy gryp Bambi plesierig aan die arm.
“Nie verwag om jou hier te sien nie, juffrou Le Roux!” Meneer Barkhuizen se oë gly waarderend oor haar. “Waar is jou gawe ortodontissie dan vandag dat jy so alleen staan?”
Bambi gee ’n halwe treetjie agteruit. Dit voel altyd vir haar asof dié mansmens nie heeltemal die nodige respek vir haar persoonlike ruimte handhaaf nie.
“Bertus het … uhm … iets anders aan,” verduidelik Bambi.
“Gaan kry vir juffrou Le Roux ook ’n glasie sjampanje, Hendrik,” sê mevrou Barkhuizen, en Hendrik draf gedienstig weg.
“Ek moet bieg,” fluister mevrou Barkhuizen ewe kameraadskaplik, en sy skik trots haar pofmoue reg, “ek weet van resiesperde niks. Ek geniet die modes meer.”
Bambi kan sien daar word van haar verwag om iets te sê.
“Interessante uitrusting wat mevrou aanhet,” is die beste wat sy kan doen, “werklik iets besonders.”
“Ag, dié ou ding?” sê Mevrou, “sommerso in die haas gegryp. Maar jy lyk natuurlik soos iets uit ’n modeboek!”
“Dankie, mevr –” sê Bambi, maar Mevrou praat haar dood.
“Wag, sjjjt … ek dink hulle gaan die finaliste vir besgeklede paartjie aankondig!”
Op die loopplank wat eenkant opgerig is, staan daar inderdaad ’n man in ’n strepiespak met ’n mikrofoon voor sy mond, en hy roep die uitverkorenes om te kom paradeer. Trotse paartjies bestyg die trappies en die ou met die mikrofoon hits die omstanders met oordrewe drama aan tot applous. Genade tog, dink Bambi, wat ’n geluk haar plannetjies het nie gewerk nie. Dis pure vleisvendusie! Sy sou tien dode gesterf het as sy soos ’n koei op ’n veiling daar moes gaan staan en wag om te sien of sy goed genoeg is. Sy moet sekerlik aan tydelike waansin gely het om dit selfs te oorweeg om –
Bambi sluk swaar. Sy sien hoe die man in die roomkleur pak, die een wat haar hoed gegryp het, stoksielalleen by die trappies op loop en die mikrofoon by die seremoniemeester-kêrel vat.
“Dames en here,” sê hy vir die skare, “ek het julle hulp nodig. Ek en my metgesel is finaliste, maar ek het haar iewers in die gedruis verloor. Kan julle my dalk help?”
Hoe moet hulle weet hoe sy lyk? skree iemand.
“Maklik,” sê die man, vol bravado, “soek net die mooiste vrou hier!”
Die skare geniet dit gate uit.
“Nee, jong! Beskryf haar!” roep iemand.
“Nimmereindigende bene, lang blonde hare, yslike bruin bokkie-oë, en sy dra ’n perserige rok met ’n groot geel hoed,” verduidelik hy laggend, met die mikrofoon teenaan sy lippe soos ’n wafferse omroeper.
Bambi se bloed stol toe sy hoor van die geel hoed. Sou die man dan nou … ?
“Maar dis mos jy, juffrou Le Roux!” roep Mevrou langs Bambi, en sy stoot haar vorentoe. “Hierso! Hierso!” gil Mevrou. Sy swaai haar armpies drillend en wys woes na Bambi.
Koes is verniet. Die mense voor hulle kyk om en toe hulle die hoed raaksien, maak hulle ’n paadjie vir haar oop. Die seremoniemeester het haar ook in die oog en wink plesierig. Geklap van hande. Geen omdraaikans nie, besef Bambi. Seker haar verdiende loon, sy wou mos idees hê! Sy haal diep asem, klou die hoed met een hand vas en stap so statig as wat sy kan op die vervlakste sandale die trappe op.
Haar kamstige metgesel is dadelik by. Hy strek ’n hand uit om haar by die laaste trappie op te help en toe sy bo kom, pluk hy haar vas teen sy bors en soen haar tydsaam – vol op die mond. Dit is só onverwags dat Bambi nie dadelik wegruk nie. Sy lippe is ferm en koel, maar sy soen is so passievol dat sy die warm binnekant van sy mond kan voel. Haar lyf reageer heeltemal teen haar wil daarop en stuur ’n skokvlam deur haar are. Voor sy dink, soek die puntjie van haar tong reeds na sy skewe voortand, asof sy dit al jare doen. Tot haar ontsteltenis sien sy hoe sy oë rek en sy voel hoe die wind al weer met Margaret se verduiwelse rok se soom sukkel. En kameras flits. Die omstanders vind dit alte prettig en romanties. Bambi