Bambi en die boef. Anita du Preez
sê die vent, “sit jou hoed op en glimlag mooi, of ek soen jou weer!”
“Probeer dit nét,” dreig Bambi terwyl sy tevergeefs probeer om die uitbundige rok en mansmens gelyktydig in toom te hou. Hy sit een arm in ’n wurggreep om haar lyf en trek haar styf teen hom aan.
“As jy nou regtig ’n begeerte het om ’n verdere spektakel hier voor almal te maak, moet jy net so sê. Ek is seker die joernaliste sal dit gate uit geniet,” fluister die verwaande blikskottel kamstig lieftallig in haar oor.
Genadiglik kom die volgende paartjie reeds by die trappe op en Bambi neem haar kans waar. Sy het nie verniet drie ouer broers nie. Sy kry die sagte binnevleis van sy boarm dwarsdeur sy baadjie beet en knyp hard.
“Nou gedra jy jou, asseblief! Ek het ’n kêrel.”
Sy sien met genot hoe sy aangeplakte glimlag in ’n grimas verander en sy laat los sy arm.
“Wat waar nogal is?” kners hy dit uit.
Tot Bambi se uiterste verligting kondig die seremoniemeester aan dat hulle nou weer by hul vriende in die skare kan gaan aansluit. Toe haar voete grondvat, druk Bambi blitsvinnig tussen die bondel deur. Niemand steur hulle meer aan haar nie en sy strompel koes-koes by die dameskleedkamers in. Sy spat water op haar brandende wange. Toe sy opkyk in die spieël bokant die wasbak sien sy twee bloedrooi vlekke op haar wange, en haar hare begin al klaar weer kurktrekkerkrulle maak.
Iemand praat agter haar en sy swaai om. Twee vroue het ingekom en die rooikop in ’n swart gewaad wat min aan die verbeelding oorlaat, het skynbaar met haar gepraat.
“Ekskuus?” sê Bambi.
“Veels geluk!” herhaal die rooikop, maar die trek om haar mond spel allesbehalwe gelukwensing.
“En hoe lank is jy en onse Louis al saam?” vra haar swartkopvriendin in ’n klewerige rooi mini met heelparty strategiese loergate.
“Eeee … hu?” Bambi vervies haar vir haarself, wat klink sy tog so onnosel!
“Louis, vrou,” sê die rooikop terwyl haar oë ’n volledige voorraadopname van Bambi se bates maak, “hoe lank gaan jy en Louis van Breda al uit?”
“Ag, eeue lank al,” lieg Bambi op die ingewing van die oomblik.
“Wel, my ding, in daardie geval moet ek nog ’n keer geluk sê,” smaal die vrou.
“Hoe so?” vra Bambi terwyl sy deur toe beweeg.
“Wat sy bedoel, skatlam,” sê Minirok terwyl sy met tuitlippe nog lipstiffie opverf, “is dat niemand lank hou met daai ene nie.” Sy smak haar blink lippe in die spieël. “Hy ruil hulle soos biblioteekboeke uit.”
“Nie net dit nie,” las die rooikop met rollende oë by, “daar is ’n hele klomp mense in hierdie stad wat hulle mes in het vir hom, hoor. So wees gewaarsku, girl,” sê sy terwyl sy ’n buisie lipglans oopskroef. Sy swaai die borseltjie dramaties in Bambi se rigting. “Jy lyk my na die ordentlike tipe, en Louis van Breda en moeilikheid is ’n package deal.”
“Moet julle nie oor my bekommer nie, dames,” sê Bambi kordaat oor haar skouer met die uitstap, “ek het self nogal ’n reputasie.”
“Well good luck, liefie,” roep Minirok vir oulaas, “maar met Louis gaan jy meer as luck nodig kry, dit belowe ek jou. Danger pay is more like it!”
Toe sy agter die kleedkamers verbysluip, hoor Bambi deur die hoë venstertjies die twee se gelag. Sy versnel haar pas en kom eers langs haar motortjie half uitasem tot stilstand.
“En toe?’ vra Margaret by die voordeur. Bambi wou so gou as moontlik die verspotte rok gaan teruggee, voordat dit vir haar nóg moeilikheid bring. Sy moes haar nooit deur die vervlakste ding laat verlei het nie. Sy het haar jeans en T-hemp by Margaret gelos toe sy vanoggend daar gaan aantrek het.
Margaret proe langtand aan ’n beker kitssop, haar oë vol afwagting op Bambi gerig.
“Sê vir my ons is op pad Mauritius toe?”
“Sorry for you, vriendin,” sê Bambi, “maar dit gaan nie gebeur nie.”
“Hoe is dit moontlik? Jy lyk absoluut stunning! Was Bertus se outfit simpel, of wat?”
“Bertus was nie daar nie. Dié siel moes inderhaas Montagu toe vir een of ander familiegeveg of ’n ding.”
“Toe gaan jy alleen? Ag nee man, hoekom het jy nie iemand anders gevra nie?”
“Ek het probeer, maar daar was nie tyd nie! Bertus het my eers vanoggend ná ek hier weg is laat weet.”
“Ag kom nou, Bambi! Ek is seker daar is hope manne in jou arsenaal bewonderaars wie se tonge uithang vir jou, jy kon tog sekerlik een gevind het?” Margaret se frons word ál dieper.
“So maklik is dit ook nou nie, oukei?”
“Nou wat van Eric? Of James? Of … of selfs ou Poena?”
“Eric is landuit, James is smoorverlief op ’n nuwe dingetjie – om die waarheid te sê, as ek dit nie mis het nie het die twee verlede week verloof geraak. En Poena? Have a heart, Margaret! Poena sou beswaarlik in een of ander pinstripe pak ingedwing kon word, hy hou deesdae sy groot lyf hippie. Hy sweef soos Demis Roussous in lang kabaaie rond op soek na homself.”
“Is jy ernstig? Siestog, vriendin! So jou voorraad manne is feitlik uitgewis!”
“Ag hou op stuitig wees,” knor Bambi.
Sy skop die martelskoene uit en begin die rok afskil. “Ek het ten einde raad selfs vir Derrick gebel, maar hy het besluit dat dit die ideale oomblik is om te bieg dat hy eintlik soort van getroud is met twee kindertjies en dat sy vroutjie moontlik nie daarvan sal hou as hy saam met my by die Met rondparadeer nie!”
“Die vark!” sê Margaret met ontsag. Sy dink ’n oomblik na. “Hoe bly is ek nou dat ek nie meer aan die singles scene hoef deel te neem nie,” sug sy.
“Dit kan jy weer sê,” brom Bambi, “it’s a jungle out there.”
“En toe, toe sluip jy maar alleen daar rond?”
“Min of meer so iets.” Sy is nie van plan om selfs vir Margaret van die hele vernederende fiasko te vertel nie. Sy is bloot dankbaar dis verby en vasberade om dit so gou as moontlik te vergeet.
“Ag toemaar wat.” Margaret bied haar onfeilbare resep vir katastrofes van enige aard aan: “Trek jy aan, ek gaan maak vir ons tee. Harold is apteek toe vir nog pille en Rehidrat. Hy sal nou-nou hier wees.”
“Oukei, ’n teetjie sal my goed doen.”
Bambi neem haar egter voor om weg te wees teen die tyd dat Harold opdaag. Harold is veel erger as Margaret. Hy het homself aangestel as haar persoonlike hartsake-adviseur sedert hulle drie jaar gelede saam by die College for Advanced Business Studies begin werk het. Hy sal alles omtrent die dag uit haar uitwurm, en sy is regtig nie lus om die spulletjie van voor af te deurleef nie.
Sy kry dit helaas nie reg nie. Net toe sy haar laaste slukkie tee neem, is Harold terug met ’n sak vol medisyne.
“En toe?” wil hy weet. “Waar is die Oscar vir best wardrobe?”
“Moenie lol nie, Harold.”
“So Mauritius is nie op die kaarte nie?” Bambi kan hoor hy kry lekker.
“Skynbaar nie,” sê sy stywerig en gryp die rugsak waarin haar klere was.
“Agge nee, Bambino! Ek ken jou mos. Ek kan sien jy steek iets weg! Vertel!” Harold skink vir hom ook tee. Hy gaan leun met sy rug teen die yskas soos een wat baie tyd het om te wag om die waarheid te hoor.
Partymaal kan Harold regtig nes ’n vroumens wees. Bitter nuuskierig. Seker omdat hy net susters het, dink Bambi.
“Ek moet waai, Harold.”
“Komaan, Bambi, vertel, ek weet jy wil.”
Geïrriteerd