Bambi en die boef. Anita du Preez
oor laat werkstukke te sien.
Sy vertel. Kripties en glad nie alles nie.
“Louis van Breda?” vra Harold tussen slukke tee deur. “Maar ek het mos al van hom gehoor. Was hy nie al in die koerante met een of ander skandaal nie, huh Margie?”
Margaret skud haar kop belangeloos, trek haar skouers op, maar Harold bly torring.
“Ja, man, onthou jy nie? Dit was oor een of ander skelmstreek of ’n ding. Of nee … dalk was dit iets met dwelms … maar in elk geval, dit was groot skindernuus. Feit bly staan, sy naam is gekoppel aan ongure dinge, dit weet ek vir ’n feit.”
“Wat dit ook al was,” sê Bambi kortaf, “dit skeel my min. Die vent het hom soos ’n opperste boef gedra en ek hoop ek loop hom nooit weer raak nie!”
“Margaret,” sê Harold, “methinks the lady doth protest too much. Dink jy nie?”
“Ag asseblief, Harold, jy’s so blerrie opgeskeep met jou bietjie literêre kennis. Bêre jou Shakespeare vir jou Business English-studente, oukei? Ek gaan nou werk.” Bambi gooi haar sak oor haar skouer.
“Ek stap saam ondertoe,” sê Margaret vinnig.
Hulle is skaars by die kombuis uit toe Margaret begin uitvra.
“Hoe lyk hy?”
“Hoe lyk wie?”
“Die man, dié Van Breda?”
“Ek het nie regtig gekyk nie.”
“Ag toe, ek is jou eeue oue vriendin, onthou? Moet jou nie steur aan Harold nie, hy kan nes ’n ou vrou met ’n nat broek wees. Sê my nou, is hy mooi?”
“Oukei, orraait.” Bambi voel hoe ’n blos uit haar nek opstyg toe sy dink aan die soen. “Die blerrie buffel is beeldskoon.”
“O-o!” lag Margaret. “I smell trouble!”
“Loop lê jy liewer, Margaret,” sê Bambi terwyl sy in haar kar klim, “is jy nie veronderstel om siek te wees nie?”
“My oë makeer niks,” sê Margaret, “en ek sien ’n ding.”
“Jou ooraktiewe verbeelding gaan jou nog in die moeilikheid laat beland,” sê Bambi en draai die ruit op.
Dié twee vriende van haar het skynbaar geen lewe van hul eie nie, dink Bambi, daarom kan hulle nie hul handjies van háár lewe af hou nie. Partymaal is sy skoon spyt dat sy destyds die twee aan mekaar voorgestel het, want nou is dit nie meer net Margaret wat verwag dat sy elke jota en tittel van haar alleenloperlewe moet openbaar nie, maar al twee van hulle. Jy sou sweer haar lewe is ’n sepie, en hulle wil nie één episode mis nie. Albei sit met ingehoue asems en wag dat sy en Mr Right teen ’n purper sonsondergang moet wegstap, die huwelik in, nes hulle. Sy kan nie glo dat hulle sulke twak wil praat oor haar en hierdie … hierdie wildvreemde booswig met kriminele neigings nie. Hulle is erger as haar ma. Dié lê al jare lank snags wakker oor haar dogter se ongehude toestand.
Bambi word die volgende oggend wakker van haar foon wat lui. Sy is dadelik vies vir mense wat so vroeg bel.
“Ja?” blaf sy.
“Gaan koop vir jou ’n Sunday Times,” sê Margaret.
“Hoe nou?”
“Loop kry ’n Sunday Times.”
“Ek slaap nog, Margaret. Wat’s dit met jou?”
“Gaan koop jy net vir jou die koerant, oukei?”
“Om watter rede sou ek vroegdag in my flippen vakansie en op ’n Sondag slegte nuus wil lees?”
“Dis halftien, Bambi, en as ek jy is, staan ek op en gaan koop die koerant.”
“Maar demmit, hoekom?”
“Omdat, my liewe vriendin, ons plan gewerk het!” Margaret klink hoog in haar noppies.
“Ek is rêrig nie lus vir raaisels as ek nog nie behoorlik wakker is nie, Margaret, sê tog wat jy wil sê.”
“Ek sê niks. Kyk self.” Daar is ’n onheilige spotklankie in Margaret se stem.
“Jy’t nogal baie te sê vir een wat niks wil sê nie,” mor Bambi, maar die foon suis net in haar oor.
Bambi lê terug teen die kussings, maar dit help niks. Die heerlike dommelslapie waarin sy rondgedryf het, is nou skoonveld. Sy kan netsowel opstaan en koffie maak. Sy slof kombuis toe en skakel die ketel aan.
Nou is Margaret darem regtig buite orde, dink sy terwyl sy gaap-gaap wag vir die water om te kook. Sy is nie meer tevrede om in haar wat Bambi is se liefdesintriges in te meng nie, sy wil nou haar gaan lê en haar opstaan ook oorvat! Bambi skep koffiepoeier in en skink kookwater daarop. Die koffiereuk is prikkelend. Sy gril haar lam toe sy melk ingooi; dit skif klonterig op die oppervlak. Suur.
“Cheap-cheap!” skril Napoleon uit sy hok onder die lappie wat sy saans oorgooi. Toe Bambi dit oplig, kyk hy haar aan met ’n diep bedroefde uitdrukking in sy swart kraalogies. Skielik onthou sy: Sy kos is gedaan. Dit gaan nie ’n goeie Sondag wees nie. Sy gaan pluk ’n voos T-hemp en jeans aan om kafee toe te hardloop.
Dit is eers toe sy daar uitstap met die tweepersentmelk en die pak voëlsaad onder die arm dat sy die stapel Engelse koerante by die deur raaksien. Sy vat tog maar een en gaan terug toonbank toe.
Toe sy uiteindelik met haar koffie en twee van haar ma se beskuite op die rusbank nesskop, vou sy die koerant oop. Die kleurfoto onder die vou op die voorblad laat haar bloed stroomop deur haar are kook en iewers agter haar oogbolle opdam asof dit uitkomplek soek. Dis waarvan Margaret gepraat het.
Bambi pronk lewensgroot styf langs Louis die Rampokker in sy mafia-outfit, en om alles te kroon lyk sy meer as in haar skik om daar te wees! Die foto is geneem in die sekondes net nadat die vent haar gesoen het, en haar hele lyf is na hom gedraai, met haar gesig blote sentimeters van syne af. Boonop is haar een been na agter opgeskop in die argetipiese kokethouding, en die wind lig die pers rok om oorgenoeg van die betrokke been te wys. Enige oningeligte wat dié foto sien, sal geensins daaraan twyfel dat sy dolgelukkig en reddeloos verlief is op die man nie. As Bambi nie geweet het dis sy self nie, sou sy óók so gedink het.
“Cheap-cheap,” verbreek Napoleon die stilte met ’n dubbele aflewering van die enigste woord in sy woordeskat.
“Dit kan jy weer sê,” fluister Bambi flou, en sy lees die onderskrif met ’n kloppende hart.
Stud Louis van Breda and his gorgeous filly Bambi le Roux living it up on the ramp at the J&B Met on Saturday. Van Breda and his partner nabbed the prize for best-dressed couple, an all expenses paid trip for two to Mauritius. More pictures on page three.
Bambi wens die aarde wil oopskeur en haar met rusbank en al insluk. Sy val agteroor teen die leuning en trek ’n kussing oor haar kop, vuurwarm in die gesig.
Sy moet daagliks voor klasse staan en vir studente oor sake-etiek predik. Hoe kan hulle ná dese enigiets glo wat sy kwytraak, as sy breed in die koerant staan en flikflooi met ’n berugte skelm? En nogal vakansies beplan saam met hom! Hoe sal hulle ooit weer respek vir haar hê ná hulle dié flerriefoto gesien het? En dit terwyl sy so hard gewerk het om die regte beeld te skep. Haar altyd onberispelik gedra, kuise korporatiewe pakkies aangeskaf én haar swartraambril pal gedra. Alles om haar natuurlike blonde wulpsheid en die verspotte bokkiebynaam uit haar universiteitsdae te neutraliseer. Vir haar studente is sy me Hermien le Roux. Hierna sal sy seker bekend staan as Bambi die Bimbo!
Wat haar die meeste bekommer, is die groepie studente wat moeilikheidmakers is. Hardebaard-mannetjies soos Chad Williams, wat met die kenmerkende gangster-swenkstappie loop en hul denims laag op hul sitvlakke dra. Sy het van dag een af besef dat sy hulle met respek en deernis moet behandel om te verseker dat hulle haar sal respekteer, aangesien baie van hulle vinnig moes grootword onder bitter omstandighede. Hulle moes hardegat houdings aanleer om te oorleef. Dis met hulle wat sy nou nóg meer gaan sukkel, want hulle ruik valsheid vinnig uit en hierdie