Bambi en die boef. Anita du Preez
Bambi die volgende oggend by die kollege opdaag, besef sy dat daar nog heelwat maniere oorbly waarop sy belaglik kan wees.
“Juffrou Le Roux!” roep meneer Barkhuizen welluidend toe sy die personeelkamer binnestap. “En hoe voel jy?”
“Nog steeds met my hande, meneer,” sê Bambi so vrolik as moontlik deur geknersde kake.
Meneer Barkhuizen verkies om niks agter te kom nie. Hy draai na die paar personeellede wat daar rondsit met hul koffie.
“Julle weet seker dat ons nou ’n celebrity in ons midde het,” sê hy genoeglik.
Natuurlik ontketen sy woorde eindelose kwinkslae van almal wat die foto in die koerant gesien het, en martelvrae oor presies hoe en wat en waar van almal wat dit nié gesien het nie.
Dit gaan nie veel beter toe haar eerste studente instap vir hul lesing nie. Niemand sê iets nie, want hulle is maar skrikkerig vir haar, maar langs die witbord voor in die lokaal het iemand die voorblad-koerantknipsel vasgeplak. Bambi besluit om dit net daar te los en te maak of sy niks gepla is nie, maar sy is deurentyd bewus van die fluisteringe en die vrae op die gesigte.
Teen die einde van die uur lange lesing oor enkeleienaarskap versus vennootskappe is sy seker dat daar bitter min daarvan by haar studente se ore ingang gevind het. Haar vermoede word bevestig toe Chad Williams met opset laaste uitstap, met sy gebreide mus laag oor sy wenkbroue getrek.
“Nice one, ma’am!” waag hy en rol sy oë in die rigting van die foto. Bambi maak of sy hom nie hoor nie en buk af om haar tas toe te knip.
Dit het haar lank geneem om Chad en sy trawante se vertroue te wen, en nou lyk dit vir haar of dinge grootskaals gaan misluk. En dit alles oor een verdomde foto. Sy ruk die belaglike leëkopflossiefoto van haarself van die muur af, frommel dit op en smyt dit in die drommetjie langs haar lessenaar. Toe sy afkyk, loer die helfte van Louis van Breda se aantreklike gesig vir haar uit die boonste hoek van die opgeskroefde stuk papier. Sy druk dit ergerlik dieper onder ander rommelpapiere in, vat haar tas en gaan soek lafenis in die personeelkamer.
“Heigend hert!” sê Hesti Human terwyl sy verwaaid by die deur instrompel met stapels papiere onder die arm. Hesti doseer sielkunde maar lyk altyd asof sy self op die drumpel van die een of ander lewensramp staan. Sy gaan sit, trek ’n stapel papiere nader en raak besig met haar pen.
“Hesti,” sê Bambi uit die bloute, “kan jy dalk vir my sê hoe die psigologiese profiel van ’n misdadiger lyk.”
“Hmm … ek het darem meer inligting as dit nodig!”
Bambi sit vorentoe. “Ek bedoel … as jy iemand ontmoet … uhh … sou jy aan die persoon kon sién of hy ’n aartsskelm is, of hoe?”
Hesti lag. “Kriminele denke is nou nie eintlik my forté nie, maar ek kan jou sê dat psigopate byvoorbeeld dikwels uiters suksesvolle, charismatiese persone is wat bedrewe is in die kuns om mense te manipuleer.” Hesti trek haar oë ondersoekend op skrefies. “Hoekom?”
“Ag man … ek …” Bambi vat haar tas. “Ek moet loop, sien jou môre.”
“Wag, Bambi,” sê Hesti skielik toe Bambi amper by die deur uit is, “laat ek liewer maar sê, mense kan jare lank saam met so iemand leef sonder om ooit te weet. En die ergste is, die persoon self weet nie dat hy aan ’n persoonlikheidsafwyking ly nie.”
Wat Hesti gesê het, pla Bambi só dat sy later voor haar rekenaar gaan sit en die woorde “criminal mind” google. Bladsye vol inligting verskyn op die skerm. Hoe verder sy lees, hoe meer onrustig raak sy. “Certain predispositions or personality traits, such as impulsiveness or extroversion, increase the chances of criminal behavior.”
Sy sit sommer die rekenaar af en gaan maak tee. Louis van Breda is sonder twyfel ’n ekstrovert. Dit maak hom natuurlik nie noodwendig skelm nie, maar nou ís daar baie stories aan hom gekoppel. En waar daar ’n rokie is … Ai, dink Bambi, darem ’n ontsettende jammerte dat so ’n indrukwekkend mooi man –
Haar foon lui skril voordat sy haar gedagte kan voltooi.
“Juffrou Le Roux, ek het opgelet dat jy my gisteraand gebel het. Waarmee kan ek help?” vra Louis van Breda vreeslik formeel, sonder enige sweem van ongemak.
Praat van die duiwel, dink Bambi skuldig. Sou die man vergeet het dat hy laas nog kwaad was vir haar? As hy hul onderonsie van Sondag met die burgers nie eens meer onthou nie, kan dit net een ding beteken: Sy is vir hom so onbelangrik dat sy nie eens op die buiterante van sy verwysingsraamwerk is nie. En daar was mos boonop die ene Vera wat sy foon beantwoord het. Sy vervies haar dat dit haar enigsins pla en skraap haar denke bymekaar.
“Ek wou bloot dankie sê, meneer Van Breda,” sê sy ewe formeel.
“My plesier, juffrou. Maar dit is onnodig om dankbaar te wees. Jy het tog ook ’n aandeel gehad in die wen van die prys.” Hy lag saggies. “Ek is oortuig daarvan dat die beoordelaars jou nie kon miskyk nie. Nie in daardie asemrowende uitrusting nie.”
“Dis nie eens myne nie,” glip dit uit.
“Nie? Wie s’n is dit dan?” vra hy geamuseer.
“Lang storie,” antwoord Bambi.
“Gelukkig is ek mos van kleins af mal oor lang stories.”
“Ongelukkig is ek ’n vrot verteller.”
“Dit glo ek nie, jy het dalk net nog nooit die regte een gevind om na jou stories te luister nie.” Bambi kan die geamuseerde klank in sy stem nie verdra nie.
“Nou ja, nogmaals baie dankie, meneer Van Breda,” knip Bambi die gesprek kort, “en totsiens.”
“Nag, juffrou Le Roux. Lekker slaap.” Tot haar ergernis is die spotklankie steeds in sy stem.
Dis darem ’n vreeslik sexy stem. Veral die effense krapperigheid. Hy klink ook … normaal. Wat sou die man nou eintlik doen vir ’n lewe? Niemand het nog enigiets –
Die foon onderbreek weer haar mymering.
“Ek sien jy doen toe die ding sonder my,” sê Bertus.
“Bertus! Jy het geen idee hoe ek wens jy was daar nie.”
“Dis moeilik om te glo as ek so na die foto in die Times kyk!”
“Jy weet mos jy moenie als vir soetkoek opeet wat jy in die koerant sien nie.”
“Nou van waar af ken jy dié Van Breda-man?”
“Van nêrens af nie, Bertus.”
“Nou hoe koetsjie-koetsjie jy dan sommer met ’n vreemde mansmens in die openbaar? Jy het dit nog nooit met my gedoen nie. En daai rok! Lyk of die ding aan jou lyf vasgegom is.”
“Dit was ’n noodgeval, Bertus. Verstaan jy dan nie? Eintlik alles jou skuld. Omdat jy my gedrop het en ek nie vir Margaret in die steek wou laat nie.”
“Ingewikkelde storie, lyk dit my,” sê Bertus baie nors.
“Los dit tog net, oukei? Dis oor en verby.”
“Nie as jy een van die dae saam met hom op Mauritius gaan rondflenter nie! Hy lyk vir my boonop soos een van daai smoothie-tipes.”
“Los tog net, Bertus. Glo my, dit was alles net ’n simpel misverstand en dis geskiedenis.”
“My krisis is ook darem opgelos,” sê Bertus gekrenk, “thanks for asking.”
“Ag, jammer ou Bertie. Ek sou nog daarby gekom het.”
“S’oukei,” brom Bertus, maar sy kan hoor dit is allesbehalwe oukei. Sy weet sy moet nou uitvra, maar hy spring haar voor.
“Nou dan sien ek jou een of ander tyd,” sê hy.
Een of ander tyd? Dit klink vir Bambi gevaarlik baie soos laaste sien van die blikkantien. Die don’t-call-us-we’ll-call-you soort antwoord. Hieraan is sy nie gewoond nie. En van Bertus, nogal! Sy dog hy vrek oor haar en