Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon
Israel is Over – and they won. Now let’s finally move forward.”
“Nogal ’n waaghalsige titel.”
Re’uven knik. “Hy skryf in die naam van Arabiere met ’n nuwe siening van die situasie aan die Palestyne. Hy sê hulle het drie generasies gemors om vir Palestina te veg. Hy reken die land waarmee hulle nóú moet tevrede wees, is veel kleiner as wat hulle sou hê as hulle in 1948 die Partisieplan aanvaar het. Of wat hulle sou kon gehad het ná 1967. Hy deel heelwat praktiese insigte uit. Hy sê byvoorbeeld: ‘Oor die televisie en in die moskees bly julle donder oor huise wat nie meer bestaan nie, of wat bewoon word deur Israeli’s wat nie die minste voorneme het om uit Jaffa, Haifa, Tel-Aviv of Wes-Jerusalem pad te gee nie. Julle skiet met ou gewere op moderne Israeli-tenks en Amerikaanse vegterstralers, terwyl julle net omtrent nul skade aan Israel doen. Al wat gebeur is dat julle die woede van hulle magtige leër oor julle bring. Julle skiet belaglik minderwaardige Kassam-vuurpyle op hulle af wat min skade aanrig en mislei julleself om te dink julle veg vir die bevryding van Palestina. Jul regering, jul maatskaplike instellings, jul skole en jul ekonomie lê aan skerwe.’”
“Wow,” sê Gur, “moes hom moed gekos het om dit te sê.”
“Ja, wel, hy wys hulle daar op dat hulle jeug ongeletterd grootword, gerig op haat. Dat die jeug geleer word om die dood te verheerlik, terwyl hulle, die leiers, op die goedgunstigheid van buitelanders, Amerika en die VN ingesluit, ’n bestaan maak. Dag vir dag moet hulle amptenare bedel vir hul daaglikse brood, totaal afhanklik van vragwaens met hulpvoorrade wat Gasa en die Wesbank met kos en medisyne binnekom. Dit terwyl hulle kriminele Moslem-fundamentalistiese Hamas-regering voortgaan om die vlamme aan te blaas van ’n oorlog wat hulle nie kan veg of die hoop het om te wen nie …”
“Hy het seker niks gesê van die tonne kos en medisyne wat ons regering daagliks oor die Gasa-grens stuur, of die hope mediese hulp en dosyne operasies wat hulle in ons hospitale kry nie,” sê Gur weer.
“Bietjie veel gevra, achi.”
“Of dalk melding gemaak van die selfmoordaanvalle binne Israel se grense nie. Van Hizbollah en Hasan Nazralleh wat deur Iran met wapens oorstroom word nie?”
“Wel, nee. Hy het wel verwys na Sirië wat steeds hulle fantasieë voed dat hy hulle eendag sal help om Palestina te bevry. Hy sê: ‘The Syrians, my friends, will gladly fight down to the last Palestinian Arab.’”
“Baie waar,” merk iemand op.
“Hy sluit ook af met ’n waarskuwing. Voor hulle verstrik raak in wat hy die ‘Hamas crowd’ noem, moet hulle hul gedagtes laat gaan na ’n ander leier van hulle, Yasser Arafat, wat hulle openlik verneuk en ’n verrotte erfenis nagelaat het – ’n erfenis van meer lyding, groter korrupsie en die miljoene wat deur sy familielede en gunsgenote gesteel is, terwyl húlle kinders in Gaza se rioolslote gespeel het. ‘The war is over,’ skryf hy aan die einde. ‘Why not let a new future begin.’”
“Alles baie goed gesê, maar die feit wat hy heeltemal buite rekening gelaat het, is die allesoorheersende geloof onder Moslem-fundamentaliste, soos Ahmadineyad, Nasrallah, Turkye se Erdogan en onder die kombers ons sogenaamde gematigde Mahmoud Abbas, dat Islam die Westerse wêreld moet oorneem om ’n kalifaat te skep ter voorbereiding vir húlle Messias wat wag om te kom. Daarom is daar nie sprake by hulle dat die Joodse Staat bestaansreg kan hê nie.”
“Jy het gelyk, Rabbi Chaim. Nie net die Islamitiese wêreld nie, maar ook Europa is besig om in hulle tienduisende teen Israel saam te trek. Dis tyd om wakker te word. Ons lewe in die dae van HaSatan se hernieude en moorddadige aanslag op die Jode. Dit is inderdaad die dae van Yirmiyahu se ‘jagters’, glo ek.”
Chaim knik. “Ons leef ook in die dae van die restourasie van HaShem, baruch Hu, se am segula wat terug is in die land wat Hy hulle beloof het. HaSatan het hierdie restourasie op baie maniere teengewerk – deur Kommunisme, Fascisme, en nou deur die Islamitiese haat en moord op Jode. Die vlae van die vroeëre bewegings was rooi en swart. Vandag word die anti-Semitiese aanslag gelei deur hulle wat groen vlae dra – die baniere van Islamic Yihad …”
Die twee rabbi’s se sober woorde bring ’n paar oomblikke van stilte oor die groepie. Net die twee seuntjies se skril stemmetjies uit ’n ander hoek van die woonkamer is duidelik hoorbaar.
“’n Passie waarin hulle ook nog deur die Goldstone-verslag aangevuur word,” sê Hadassah.
Marc let onrustig op dat Rivkah wat gewoonlik vurig aan sulke gesprekke deelneem, heel aand niks te sê het nie. Hy merk ook dat Re’uven meer as een keer in sy suster se rigting kyk.
“Ja, die Goldstone-verslag. Ek vind dit nogal moeilik om daaroor ’n opinie te vorm,” sug Gur. “Ek glo nie dat daar nog ooit ’n oorlog gevoer is waarin een van die partye nie groot foute gemaak het nie. En ek glo die IDF het ook in Cast Lead foute begaan, maar nie die groot beuel waarop Goldstone geblaas het, verdien nie.”
Re’uven stryk ingedagte oor sy bolip. “Wel, ek glo Goldstone, ook omdat hy self ’n Jood is, het ons gehelp om goed na ons self te kyk, waar ons reg was en waar ons verkeerd was. Ek dink dis belangrik dat ’n bevelvoerder aan die einde van ’n operasie kan huis toe gaan en sy familie in die oë kyk, en dat soldate twintig jaar van nou af hulle kinders in die oë kan kyk. Dat Alan Dershowitz hom ’n moser noem, is ek nie so gelukkig mee nie. Daar het vir seker ook verkéérde dinge gebeur. Ek weet byvoorbeeld dat in ons kommissie wat Goldstone se beskuldigings opgevolg het, 36 uit die 150 ondersoeke gelei het tot kriminele vervolging. Negentien daarvan het skote wat in die rigting van burgerlikes afgevuur is ingesluit en sewentien daarvan die gebruik van burgerlikes as ’n menslike skild, die mishandeling van aangehoudenes en diefstal.”
“Ses en dertig is ’n fraksie van die duisende soldate van alle soorte en alle oortuigings wat in Gasa geveg het, Re’uven,” sê sy vrou.
“Ek weet, en ek weet ook hoe hoog ons morele standaarde in die IDF is, maar wat ek sê is, as dit nie vir Goldstone was nie, het ons waarskynlik nie daarna gekyk nie.”
“Het die wit fosfor-storie al tot rus gekom?” wil Hadassah weet.
“Die aanklaers het dié beskuldiging teen Israel teruggetrek. Dit is wel gebruik, maar net om vyandelike doelwitte te identifiseer waar daar geen burgerlikes was nie. Ek was nie daaroor bekommerd nie, want ek het geweet die bevelvoerders sou dit nie gedoen het sonder om eers die militêre advokate daaromtrent te raadpleeg nie.”
“Persoonlik voel ek daar is heelwat tekortkominge in die verslag,” sê Gur. “Die feit dat Goldstone ’n Jood is en in die verlede as pro-Israel beskou is, behoort nie noodwendig gesien te word as ’n aanduiding van die betroubaarheid van sy verslag nie. Selfs Einstein het die kwantum-teorie ontken en later in sy eie woorde toegegee hy het dikwels ’n offer op die altaar van onnoselheid maak. Die verslag erken dat lede van die al-Qassam-brigade nie hulle uniforms aangetrek het nie en die strate in burgerdrag patrolleer het, en dat die Palestynse gewapende magte dus sonder uniform tussen die burgerlike bevolking beweeg het. Dit kwalifiseer hy met ongelooflike minagting van: ‘Daar is geen bewys dat hulle dit gedoen het met die intensie om hulself te beskerm nie.’”
“Die verslag sê ook dat, ten spyte van die feit dat die ondersoekspan aanduidings gevind het dat die Palestyne missiele uit woonbuurtes afgevuur het, dit nie vir die span moontlik was om regstreekse bewyse te vind dat dit opsetlik gedoen is om die lanseerders vir die Israelimagte weg te steek nie,” sê Chaim.
Gur lag sinies. “Die verslag erken die feit dat Fathi Hammad, ’n lid van Hamas se Wetgewende Raad, in die openbaar verklaar het dat die Palestynse bevolking menslike skilde gevorm het om militêre doelwitte teen aanvalle te beskerm. Verstommend genoeg vra die ondersoekspan Fathi nie om voor die kommissie te getuig nie, om die waarheid te sê, hulle verdedig hom. Hulle sê dat ten spyte daarvan dat die span die verklaring afstootlik vind, hulle dit nie beskou as onomstootlike bewys dat Hamas Palestyne gedwing het om militêre doelwitte so teen aanvalle te beskerm nie.”
“Ja,” sug Re’uven, “dit is so. Ten spyte van wat ek netnou oor die voordele van die verslag gesê het, vind ek dit totaal onaanneemlik dat Kolonel Richard Kemp