Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon
te weet.”
Hy sien sy sukkel om nie te huil nie en hy gee haar kans om te bedaar, sluk aan die droë wit wyn wat sy maag brand sodat hy weer van die brood afbreek en in sy mond steek.
“Marc, jy verstaan nie. Aviel was net ’n vriend vir my daar.”
Later kon hy nie verstaan waarom dit was dat die woord “vriend” hom sy selfbeheersing laat verloor het nie. Woede soos ’n sweepslag deur hom laat klap het.
“’n Vríénd!” sê hy so hard dat mense by die tafel langs hulle opkyk. Dit bring hom tot bedaring en hy haal diep asem en sê sagter: “Rivkah, ek is nie gister gebore nie. Dit was nie met ’n vriénd wat jy in die kafeteria gepraat nie. Kan ek jou nog eenmaal vra wat tussen julle in Haïti gebeur het. Of miskien lank voor dit al.”
Sy uitbarsting het haar laat skrik. “Nee, ek sweer daar was niks tussen ons voor ons Haïti toe is nie. Dis nie hoekom ek gegaan het nie.”
Sy begin weer huil en hy wink die kelner nader om te betaal. Toe skakel hy ’n taxi op sy selfoon.
In die kort entjie van waar die taxi hulle aflaai tot by hulle woonstel reën hulle so nat dat hulle tuis albei eers moet stort en droog aantrek.
Toe sit hulle ongemaklik teenoor mekaar in die woonkamer en om hulle eggo die huis leeg sonder die kinders. In haar ligblou handdoekstof kamerjas, nat hare weggekam van haar gesig af lyk sy ongelooflik jonk. Sy ril en hou die beker warm sjokolade wat hy vir haar gemaak het met albei hande vas. En die beeld van haar in die kafeteria waar hy haar dieselfde sien doen het, kom helder by hom op. Hy worstel met woede en met ontroering oor haar weerloosheid wat gelyktydig in hom opkom.
“Wil jy my vertel wat tussen julle is, Rivkah? Ons kan nie praat as die kinders hier is nie. En ons kan ook nie níé praat nie.”
“Marc … daar is niks meer tussen ons nie.”
“Dis nie die storie nie, is dit?”
Sy kyk af op die beker sjokolade in haar hande en toe begin sy praat sonder om eenmaal na hom te kyk. “Ons werk baie jare deeltyds saam by MADA en daar was nooit sprake van ’n verhouding tussen ons nie. Niks, absoluut niks, dit sweer ek. Ek … hy … hy het nie ’n baie goeie reputasie nie.”
Sy bly ’n paar oomblikke stil voor sy verder praat. “In Haïti was die toestande … verskriklik. Dis moeilik om dit vir iemand te vertel. Dit het gemaak dat ons wat daar gewerk het baie na aan mekaar gekom het … net … net om nie van jou verstand af te raak nie. Op die vyfde dag het hulle ontdek dat daar ’n ma en ’n babaseuntjie in een van die huise toegeval was. Die Israeli-span het ure en ure lank gesukkel om hulle te probeer uitkry sonder dat hulle verder toeval. Ons het al die tyd met haar gepraat … die bietjie Engels wat sy kon verstaan. En net voor hulle deurgebreek het, het sy stil geraak, ons nie meer geantwoord nie, maar ons kon nog die baba hoor huil. Die span het soos besetenes gegrawe, maar toe ons oopmaak, was sy dood … En toe hulle haar uithaal het die grond op die een of ander manier geskuif en die baba toegeval. Ons kon hom nie red nie …”
Sy bring die beker sjokolade na haar mond toe, maar sy drink nie. Sy knyp haar oë styf toe en sy sê stadig: “Ek kon dit eenvoudig nie verwerk nie. Ek kon net nie aanvaar dat na al die ure wat ons hulle aan die lewe gehou het, hulle albei dood was nie. Ek kon dit net nie hanteer nie. Aviel het my na sy tent toe geneem en vir my …” Sy begin huil en die sjokolade stort op haar blou kamerjas. Marc sit versteen na haar en kyk. “Hy’t vir my Milo gemaak en hy … en ons …” Toe huil sy so dat sy nie verder kan praat nie. Sy sit die beker op die vloer neer en draai haar op die rusbank om en huil snikkend met haar gesig in haar hande.
Marc staan op van waar hy gesit het en kom hurk langs die bank, hy sit sy arm oor haar, druk sy mond teen haar hare. Sy aanraking laat haar nog hewiger huil. Maar later bedaar sy en word stil tot nog net násnikke deur haar ruk.
“Stil maar,” sê Marc vir haar, maar hy bewe self so erg dat hy moeilik praat.
Tog is dit asof die geweldige huilbui haar rustiger laat word het. Sy kom regop op die bank en vou haar voete onder haar in en vee haar natgehuilde hare uit haar gesig. Marc bly op die grond sit met sy rug teen die bank en hulle kyk nie na mekaar nie.
“Was dit die enigste keer?” vra hy later gedemp.
Sy bly baie lank stil.
“Rivkah?”
Sy skud haar kop. “Hy het nog twee keer in die nag na my toe gekom.”
Die pyn in Marc se bors is so skerp dat hy bang is om asem te haal. “Hoekom?” vra hy uiteindelik.
Sy laat haar kop sak en haar hare val oor haar gesig.
“Hoekom?” vra hy weer
“Ek het nie meer krag gehad om teen hom te stry nie.”
“Hy’t jou verkrag?” fluister hy.
“Nee,” sê sy, “nee! Ek was net so verward.” Sy lig haar kop op. “Marc!” roep sy byna, “dit was so verskriklik, verskriklik daar. Ek wou net dat iemand by my is en hy …” Trane loop onophoudelik oor haar wange. “Toe hy eers … toe het ek hom nodig gehad. Ek het iemand nodig gehad. In die nag. HaShem hoor my, ek wou nie dat hy … ek wou net iemand by my hê na dit gebeur het. Dit was verkeerd, dit was verkeerd, ek weet dit.” Sy huil wanhopig.
“En vandag daar in die kafeteria? Waaroor het dit gegaan?”
Sy klem haar vingers oor haar mond soos sy toe ook gedoen het en sy bedaar genoeg om te kan praat. “Hy wou nie aanvaar dat dit verby is nie. Dat dit niks was nie. Niks kan wees nie. Hy wil nie glo dat ek dit bedoel nie.”
“Hoe sal ék weet dat jy dit bedoel?” vra hy.
“Asseblief, Marc, asseblief.”
Vreemd dat dit die drie klein woordjies is wat die glas tussen hulle breek. Hy kom regop en trek haar van die bank af teen hom op. Hy hou haar lank so vas. Hulle praat nie.
Eindelik sê hy: “Jy moet gaan slaap, môre kom die kinders terug.”
“En jy?” vra sy gesmoord.
“Ek wil gaan stap.”
“Dit reën buite.”
“Ek weet. Ek gee nie om nie.”
“Kom jy terug?”
“Jy’s my vrou,” sê hy.
Toe laat hy haar gaan, draai om, tel sy nog nat jas van die stoel op en gaan uit. Buite ruk die wind verwoed aan hom. En hy vergeet om sy jas aan te trek. Hy loop daarmee oor sy arm deur die stormende reën en weet dit nie. Hy sien Aviel lag. Hy sien hom oor sy vrou buig en haar neem. Asof sy syne is.
Hy loop sonder dat hy weet waarheen hy gaan.
Hoofstuk 5
Marc het nie ver geloop nie voor hy gaandeweg bewus word van die deurdringende geluidjie wat hom agtervolg. Hy draai om en ’n endjie agter hom in die lig van die straatlamp sien hy die bondeltjie deurmekaar-gereënde wol wat tjankend agter hom aangehardloop kom. Shmu’el. Hy raap die verwilderde nat dingetjie in sy arms op en die yskoue neusie van sy hondjie beur teen sy gesig aan.
“Honne, honne,” fluister hy en hardloop met die volgende stel trappe af na die beskutting van Cardo-koopstraatjie onderkant sy huis. Op die treetjies van een van die verlate winkels gaan hy sit en met die binnekant van sy nat jas, droog hy die diertjie so goed moontlik af.
“Het jy sowaar agter my aan by die deur uitgekom?” vra hy vir Shmu’el wat hom in sy gesig bly lek. “Jou wonderlike getroue diertjie.”
Helder onthou hy die nag in 2004 toe Rivkah ná ’n terroriste-aanval op die ambulans wat sy beman het in die hospitaal om haar lewe geveg het en hy radeloos na die Kotel gevlug het om te bid. Toe het die hondjie vanuit nêrens verskyn en ’n groot troos vir hom geword.
Hy hou Shmu’el styf teen hom vas en meteens sien hy in die verwese natgereënde hondjie sy vrou se