Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon

Go'el Yisra'el - Marzanne Leroux-Van der Boon


Скачать книгу
ons,” dring Re’uven wat sy swaer se ingetoënheid ken.

      “Ek kan nie alles onthou wat hy gesê het nie, mens is so aangeraak. Ek onthou wel dat hy gesê het hy staan vandag op die plek waar so baie van sy mense omgekom het. En dat hy nie alléén daar staan nie, maar dat die Staat van Israel en die hele Joodse volk saam met hom daar staan. Dat ons ons koppe buig om hul nagedagtenis te eer. Maar dat ons ook ons koppe oplig wanneer ons ons vlag hys. Die blou en wit vlag met die Magen David in die middel. Sodat almal kan sien en hoor en wéét dat ons nie hoop verloor het nie.”

      Die geweldige emosie wat hy ervaar by die herinnering aan dié dag en die volgende in Auschwitz, laat Marc meteens voel hy verstaan iets van wat met Rivkah aan die gebeur is. Hy neem hom voor om haar al die ondersteuning te gee waaroor hy beskik.

      Gur Hillel knik. “Ek dink dit is ’n absoluut merkwaardige stelling wat hy gemaak het as mens die wêreld waarin dit gesê is in ag neem. ’n Wêreld wat luid verklaar het dat die Bybelse beloftes aan Israel ’n skending van internasionale reg is. Dis nie elke dag dat ’n leier op die wêreldverhoog staan en verklaar dat Bybelse profesie vervul is nie.”

      “En dit is presies wat Bibi gedoen het – bevestig dat Israel ’n profetiese rol in die midde van die ander volkere het,” sê Chaim. “Mag dit wees dat Israel se sekulêre leiers eindelik tot hul sinne sal kom en HaShem se beloftes aangryp en nie op die IDF reken om Israel te beskerm nie.”

      “Maar, Gur, vertel bietjie vir hulle wat jy nou die dag vir ons in die vergadering vertel het van die nuwe gees in die IDF,” sê Re’uven.

      “Ja, ek moet sê ek was baie verras. Ek is regiment-rabbi, maar tot en met Cast Lead was ek bloot reservis. En toe ek nou opgeroep word, was dit nogal vir my ’n groot aanpassing. As ’n man wat al lank ba-al-teshuvah aanhang, en gewoond is aan swart baadjie en hoed, het my swart ‘uniform’ toe skielik vaalgroen geraak en die beskaafde taal van die yeshiva skielik die nie alte netjiese weermag-slang. Ek het die week voor die grondoffensief begin het, met my Golani-regiment se manne deurgebring. In die bitter koue in ’n nat tent op ’n kampbed tussen twaalf ander snorkendes, ensovoort, ensovoort.”

      “Nogal rof,” grinnik Chaim.

      “Sê dit nog ’n maal! Hoe ook al, my werk was om die soldate te bemoedig en te versterk vir wat daar op hulle gewag het. Ons het Tehillim en die spesiale gebede vir soldate wat uitgaan om oorlog te maak, onder hulle uitgedeel. En wat ontdek ek daar in die Suide van Israel? Dat die Golanchiks, wat op die punt was om die oorlog in te gaan, aan die Rots van Israel wou vashou! Onder sy beskermende hand wou wees. Daar was nie ’n enkele soldaat daar wat nie ’n Tehillim gesoek het om in sy uniform se bosak te steek nie. Maar ons grootste verrassing het gekom toe ons tzitzit begin uitdeel het. Dis gewoonlik net die yeshiva-ouens wat dit vat, maar dié keer was daar nie ’n soldaat wat nie een wou hê nie!”

      “Jy speel!”

      Gur skud sy kop. “Glo my, wat ek keer op keer gehoor het was: ‘Rabbi, bring vir ons tzitzit, my hele tent wil hê,’ of ‘Hallo, achi’ – in die Golani kan jy niks sê sonder achi nie, almal is broers – ‘vat een van dié, hulle is beter as die keramiek onderhemp’. Dis die onderhemp wat soldate gewoonlik vir beskerming dra. Elke pak tzitziyot wat ons oopgemaak het, is binne sekondes opgeraap.”

      “Ek het agtergekom daar is nog ander ouens met tzitzit,” sê Marc, “maar ek het nie besef dis só erg nie.”

      “Glo my! Daar was een jong soldaatjie wat verskriklik teleurgesteld was toe hy by ons kom en daar geen tzitzityot oor was nie. Hy was totaal ontredderd tot een van die offisiere wat nie dadelik onder vuur sou kom nie, syne uitgetrek en vir hom gegee het met die woorde: ‘Vat so, achi, jy’t dit nou nodiger as ek.’ Die Ma’ariv op Erev Shabbat was net eenvoudig ongelooflik. Ons het besef die sinagoge was te klein vir die honderde soldate, toe het ons maar die sokkerveld in ’n tydelike shul omskep met siddurim en Bimah en alles wat nodig was.”

      Hy stryk met sy vingers deur sy hare en skud sy kop. “Iemand wat nie deel van die Kabbalat Shabbat was daardie aand nie, is soos iemand wat nog nooit in sy lewe deel was van die verwelkoming van die Shabbat nie! Byna die volledige Golani Brigade, offisiere en soldate, wat die Kaddish en Tehillim uitbulder. As dit nie was vir die uniform wat ek aangehad het nie, sou ek kon dink dit was ’n Yom Kippur-diens in een van die groot yeshivot.”

      “Op die deel van die grens waar ek was, was daar ook veel meer belangstelling as gewoonlik. Maar ek het nie besef dat daar by Golani sóveel entoesiasme was nie. Dis die beste nuus wat ek in lang dae gehoor het,” sê Chaim.

      “So is dit, Rabbi. Maar weet jy wat vir my persoonlik die wonderlikste was? Ons liefdevolle Vader was ook daar, en Hy’t elke minuut geniet van sy seuns wat rondom Hom geskaar was. Ons Vader vra nie: ‘Waar was jy tot nou toe?’ nie, of ‘Hoekom onthou jy my net as jy moet oorlog toe gaan?’ nie. Hy verwelkom al sy kinders en slaan sy arms van liefde om hulle.”

      “Iemand van Golani het my gesê die IDF se hoofrabbyn was die hele Shabbat daar,” sê Marc.

      “Dis reg. Rabbi Avi Ronsky het die manne se harte warm laat klop met stories van Israel se geskiedenis, hy’t ook gepraat oor barmhartigheid en oor broederliefde. Ons het buite gesit en koek en sonneblomsaad eet in die koue, maar ons harte was warm van binne.”

      “Tot hoe ’n mate het jy gevind onderhou soldate die Shabbat?” wil Chaim weet.

      “Wel, ek het vir hulle verduidelik dat dit belangrik is om die Shabbat te respekteer. Dat dit ’n dag is wat HaShem vir Homself afgesonder het. Dat dit ook ’n teken is van sy verbond met Israel. Baie van die sekulêres het dit nooit eens besef nie. Ons was ongelukkig verplig om op Shabbat te reis, want ons moes by die plekke uitkom waarvandaan hulle Gasa sou binnegaan. Dit het my geroer om te sien hoeveel van hulle probeer het om nie op Shabbat te rook nie. Ek weet nie hoeveel keer hulle my gevra het wanneer die Shabbat eindig nie.” Hy grinnik. “Ja, dit was nie vir die strawwe rokers maklik nie.”

      “Hulle het dieselfde aand nog ingegaan, nè?” vra Re’uven.

      Gur knik. “Ons het Ma’ariv gebid, en Havdalah oor druiwesap, ’n sigaretaansteker in plaas van kerse, en ’n lemoen in plaas van speserye, saam gebid. En toe was dit tyd om in te gaan. Die Regiment-bevelvoerder het hulle bymekaargeroep en weer die inval in Gasa verduidelik. Toe hy klaar was, het die Assistent-bevelvoerder die gebed wat voor ’n geveg gebid word, begin voorlees. Maar hy het die soldate beveel om hardop agter hom aan te sê, en die hele regiment van honderde soldate het uitgeroep: ‘Ana HaShem hoshia na! Ana HaShem hatzlicha na!’ Na die gebed het hy my gevra om die shofar te blaas, net soos duisende jare gelede toe ons die Heilige Land ingeneem het.”

      “Dit moes ’n onvergeetlike ervaring gewees het,” sê Marc gedemp.

      “Inderdaad, achi! Ek het al vantevore die shofar in die openbaar geblaas, maar dié keer sal ek in my lewe nooit vergeet nie.”

      “En dit was presies op daardie oomblik dat die IAF oorgekom het en ons vliegtuie die vyandelike gebied begin bombardeer het.”

      “Presies! Hoe weet jy dit het so gelyktydig gebeur, Marc?”

      “’n Goeie vriend van my is ’n Golanchick.”

      “Ja, dit was fantasties. Die soldate het twee rye gevorm en ek het tussen hulle deur geloop om elkeen se hand te skud. En ek het by myself gedink: Wat ’n wonderlike nasie is ons tog nie! Dis soos die Joodse leër lyk as hy gaan oorlog maak – nie met groot ‘ons-sal-wen’ baniere oor ons koppe nie, maar eerder: ‘Met HaShem se hulp sal ons wen.’”

      “Maar laat ek net sê, daar is wél onder die Arabiere ook ouens wat met realistiese oë na die situasie hier kyk,” sê Re’uven.

      Die vroue wat die kleinste twee aan die slaap gemaak en die twee vyfjariges met boustelle aan die speel gesit het, sluit by hulle aan. Marc kyk vlugtig in Rivkah se rigting en merk opnuut dat sy bleek en gespanne daar uitsien. Sy glimlag flou in sy rigting.

      “Hoe so?” vra Shlomit.

      “Wel,


Скачать книгу