Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon
berg, was dit Aharon, die Kohen HaGadol wat voorgestel het die mense moet goud bring wat hy toe gesmelt het om ’n goue kalf van te maak. En wat doen die bruid van HaShem? Sh’mot 32 sê vir ons hulle het uitgeroep: ‘Hier is ons God wat ons uit Egipte bevry het.’ Dis soos ’n bruid wat direk na haar huwelik met ’n ander man gemeenskap het, is dit nie?”
Marc byt op sy droë lippe.
“Maar wat sê HaShem vir Moshe in die sewende vers? Hy sê: ‘Klim van die berg af, Moshe, want jóú volk wat jý uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen.’ Asof dit Moshe se volk was en nie sy eie nie.”
Marc glimlag flou. “Ja, dis waar.”
“En wat sê Hy verder? ‘Moet my nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig.’ Klink dit vir jou na vergifnis, of klink dit vir jou of die Ewige baruch Hu, sal verstaan van die verskriklike pyn en verwarring in jou hart? Die teleurstelling, die wanhoop om weer te kan vertrou?”
Marc knik effens.
“Maar, kyk wat gebeur. Moshe hou aan pleit. Hy herinner HaShem aan sy verbond. Hy pleit dat sy toorn moet bedaar en Hy sy volk genadig moet wees. Hy hou aan totdat HaShem afsien van die ramp waarvan Hy gepraat het. Maar toe Moshe onder kom en sien wat B’nei Israel aangerig het, word hy self so kwaad dat hy die twee kliptafels met die ketubah op stukkend gooi. Vandaar die Halachah se idee dat ’n man sy ontrou vrou moet wegstuur – huwelikskontrak gebreek. Maar as Moses sien hoe duisende onder die Leviete se swaard sterf, versag sy hart voor hulle noodkreet en beloof hy om vir hulle by HaShem te gaan intree.”
“Middelaar,” prewel Marc.
“Soos Yeshua ons Go’el,” knik die rabbi. “Maar op die berg verloop dinge nie so maklik nie. Tora laat ons HaShem se ysingwekkende woorde hoor. Ja, Hy sal sy verbond met Abraham hou, maar Hy is nie bereid om saam met hulle op te trek na die beloofde land toe nie. Moshe moet dit maar alleen doen. Maar Moshe gee nie op nie. ‘Onthou tog hierdie nasie is u volk. As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.” Die rabbi sug. “En dan gee die Almagtige baruch Hu, toe. Hy sê min of meer vir Moshe: ‘Laat jou hart nie ontsteld wees nie, Moshe, ten spyte van wat gebeur het, sal my teenwoordigheid met julle saamgaan.’”
“Abba, ek was nooit van plan om weg te gaan nie.”
“Dit weet ek, Marc, maar toe Moshe hoor HaShem sal saamgaan het hy nog ’n versoek gehad: ‘Laat my tog net u heerlikheid sien.’ En wat vra ek jou nou? Laat sy tog net jou heerlikheid sien. Jou liefde, jou vergewing, jou vertroue. Want daarsonder sal nie sy of die seuntjies werklik kan lewe en groei nie.”
Marc se oë skiet vol trane en hy druk met sy vuis teen sy mond om sy selfbeheersing te herwin.
“Dit sal nie maklik wees nie, Marc, ek begryp dit. En dit sal nie oornag gebeur nie. Maar Hy wat Go’el was vir jou en vir my by die Vader, sê vir jou hineini! Hy sal jou nie in die steek laat nie omdat Hy jou pyn ken. Noem Yesha’yahu hom nie ’n Man van smarte wat bekend is met pyn nie?”
Die nag maak hy liefde met Rivkah. Dis nie vir hom maklik nie en die uitbundige oorgawe wat hulle albei altyd geken het, ontbreek. Die skrikbeeld het nie voor sy oë weggegaan nie, en hy weet dat dit vir ’n baie lang tyd nie sal nie, maar haar sagte warm liggaam in sy arms bring ’n onbeskryflike deernis in hom op. Hy verstaan in elke trilling wat hy voel haar vrees en onsekerheid. Sodat hy uiteindelik met sy mond teen haar gesig, baie sag sê: “Chamud, jy moenie bang wees nie, jy moet weer jouself word. Ek het jou lief.”
“Marc,” fluister sy net voor hulle styf teen mekaar aan die slaap raak. “Ek het gereël dat ek nooit ooit weer in dieselfde skof as Aviel sal werk nie.”
Die naam laat hom wakker lê, lank na sy aan die slaap geraak het. Hy veg teen die onthou van die man se lag, sy hand teen haar gesig … “Wees my genadig,” prewel hy in die koue, donker nag, “wees my asseblief genadig.”
Op 15 en 16 Maart word die herboude, historiese Hurvah-sinagoge op Hurvah-plein toegewy. Dit het drie jaar geneem om die gebou met sy 25-meter hoë dom te voltooi. Die sinagoge is gedurende die Onafhanklikheidsoorlog van 1948 deur die Jordaniese leër verwoes. Sedert 1967 is die ruïnes aangedui deur ’n enkele boog wat van die oorspronklike gebou behoue gebly het.
As gevolg van die skare op die plein, bly Rivkah met die kinders tuis. Die sinagoge is in elk geval net langs hulle woonstelgebou en al die bedrywighede is duidelik sigbaar sodat sy met Yhoshi en Natan alles kan dophou. Ook Shlomit met haar twee kleintjies is daar. Ruwth het haar ook by hulle aangesluit. Op 84 is sy ietwat versigtig vir vertrapping tussen die baie mense onder. Marc, Henok, Chaim en Hadassah, Re’uven, Ofer en Shoshana, Bibi en Avital is deel van die jubelende menigte op die plein.
“Ek sou sê dis nogal betekenisvol dié, as ’n mens in gedagte hou die wêreld dring daarop aan dat Israel die Ou Stad moet teruggee aan die Arabiere, onder wie se bewind die Jode nog nooit vryheid van geloof gehad het nie,” merk Henok op.
“Wel, as jy op die Arabiese media moet gaan, het ons op hulle terrein gebou en bedreig ons die Al-Aqsa. Hulle beskou die Ou Stad as besette gebied.”
“Hoe so?”
“Hulle sien in alle geval die Ou Stad as hulle terrein en die Hurvah so na aan die Tempelberg, glo hulle sal Israel se hoop op ’n derde Tempel dalk aanvuur.”
“En ís dit ’n gevaar?”
“Ons mense se kosbaarste droom was nog altyd die verlange na ’n tempel nu? Of die wêreld dit nou wil hoor of nie, die hunkering na ’n herboude tempel is in Judaïsme niks minder sentraal as die begeerte vir vrede en sosiale geregtigheid nie. Maak net ’n siddur oop en jy sal sien wat ek bedoel. Drie maal elke dag, sluit Jode die Amidah-gebed, wat so sentraal is in ons liturgie, af met die woorde: ‘Mag dit u wil wees, O Adonai Eloheinu dat die heilige Tempel herbou sal word, spoedig, en in ons dag.’ Beteken dit dat elke Jood wat dit bid ’n wilde ekstremis is? Die Vilna Gaon – hy was ’n beroemde 18de eeuse rabbi, Chanok” – verduidelik Chaim, “het geprofeteer dat die Hurvah-sinagoge verwoes sou word en weer twee maal herbou, en as die derde herbouing voltooi is, sal die konstruksie van die Derde Tempel begin.”
Henok fluit saggies. “Geen wonder daar is soveel onrus die laaste paar weke nie. Ek hoor die Palestyne het gevra vir ’n ‘Dag van woede’ vandag.”
“Dit gaan woes daar onder by die muur,” sê Re’uven wat net by hulle aangesluit het. “’n Massa polisie en die weermag.”
“Vanoggend se Jerusalem Post sê toegang tot die Kotel is beperk en daar is 3 000 Israeli polisie en -soldate om die geweld in bedwang te hou.”
“Dit sal wel nodig wees as hulle netnou die nuwe Tora-rolle en die mezuzot vir die deurkosyne van die Kotel af op bring hiernatoe.”
“Maar as die Hurvah al in ’48 verwoes is, hoekom het hulle so lank gewag om dit weer op te bou?” wil Henok weet.
“Wel, vir die eerste 19 jaar was die Ou Stad in Jordaniese hande, onthou,” antwoord Re’uven hom. Hulle groepie staan in die beskutting van die ingang na Moshe se winkel, anders sou hulle as gevolg van die rumoer op die plein mekaar nie kon hoor nie. “Na die Sesdaagse-oorlog toe planne vir die herbou van die Hurvah bespreek is, het die destydse burgemeester, Teddy Kolleck, besluit dit sou polities te ’n drastiese stap wees om tóé te neem.”
“Maar nou veroorsaak dit tog ook Arabiese opstande.”
Re’uven haal sy skouers op en Ofer sê: “Ek glo dis ’n profetiese gebeurtenis wat net nogmaals daarop wys dat die koms van Messias naby is.”
“Jy is só reg, my broer. Jammer dat ons mense nog so gesluier is dat hulle die Tanach se voorspellings nie raaksien nie.”
“Wanneer