Go'el Yisra'el. Marzanne Leroux-Van der Boon
in sy arms se lyfie na hom begin deurdring.
Help my, Avi pleit hy, wys my die pad wat ek moet volg.
En toe loop sy gedagtes meteens na die toneel van Yeshua en die owerspelige vrou. “Ek veroordeel jou ook nie,” fluister hy die Here se woorde sonder dat hy regtig daarvan bewus is. “Go’el Yisra’el, as U nie veroordeel nie, watter reg het ek om dit te doen?”
Hy staan op, tel sy nat jas op en met die hondjie teen sy bors, gaan hy die trappies op terug na sy huis toe. Dit het ophou reën en waar die wolke ’n opening maak, word die laaste dun skerf van die sekelmaan net-net sigbaar.
Toe hy die voordeur oopmaak, sit Rivkah nog op dieselfde plek op die rusbank waar sy was toe hy weggegaan het. Hulle kyk mekaar ’n rukkie woordeloos aan.
“Shmu’el,” sê sy onnodig en wys na die hondjie waarmee hy in sy arms staan.
“Hy het agter my aangekom.” Marc glimlag flou, hy het my laat huis toe kom.”
“Dankie,” sê sy sag.
“Dis ysig koud hier, ek gaan die vuur aansteek. Hy moet droog word anders sal hy siek word.”
“Jy ook, Marc. Jy is deurnat. Stort en trek jou droog aan.”
“Nog ’n keer.” Hy glimlag weer effens, sy oë op haar.
“Asseblief,” sê sy. “Ek sal die vuur aansteek en tee maak.”
Eindelik is Marc droog, Shmu’el warm, die kaggel brand en Rivkah het kruietee gemaak en inderwaarheid het hulle niks meer vir mekaar gesê nie. Hulle drink die tee in ’n lang stilte, nie soos gewoonlik langs mekaar op die rusbank of met kussings op die mat voor die vuur nie. Elkeen het ’n stoel nader getrek.
Toe hy sy tee klaar gedrink het en die glas langs sy stoel neersit, kom Shmu’el asof hy op die teken gewag het, op Marc se skoot spring. Hy kam sy vingers deur die hondjie se lang hare en voel dat die stilte te lank word en die spanning weer begin oplaai.
“Ek het nie die reg om jou te veroordeel nie,” sê hy en kyk na haar smal kaal voete wat sy na die vuur toe uitgestrek het.
“Jy hét die reg, Marc.”
“Waar sal dit ons bring?” vra hy steeds sonder om na haar te kyk.
Sy antwoord nie daarop nie, maar na ’n rukkie vra sy: “Kan ek jou iets vra?”
“Jy weet jy kan.”
“Nie meer nie,” sê sy baie sag.
Hy kyk na haar, die tenger figuurtjie, nou opgekrimp in die groot stoel met haar voete weer onder haar ingevou en hy het haar met soveel pyn lief dat hy skrik daarvan.
“Wat wil jy vra, Chamud?”
Dié lieflingnaampie laat trane in haar oë kom, maar sy sluk en probeer kalm praat. “Ek besef dis te vroeg om dit te vra …”
“Vra maar.”
“Sien jy kans om … hier te bly ten spyte van wat gebeur het?”
Hy bly stil in die vuur sit en kyk.
“Ek is jammer dat ek dit gevra het.”
Hy skud sy kop. “Nee, dis goed dat jy dit gedoen het.”
Dis lank so stil dat net die geluid van die vlamme in die hout hoorbaar is en die reën wat weer sag teen die ruit oorkant hulle begin tik het.
“Ek het jou lief …” sê hy eindelik, “en ek weet nou dat ek jou altyd sal liefhê. Wat ook al gebeur. Maar ek weet nie of ek jou weer sal kan vertrou nie … Ek weet dit nie.”
“Dit kan ek verstaan.”
Hy praat verder asof hy haar nie gehoor het nie. “Wat dit vir my baie moeilik maak, is dat jy aanvanklik ontken het dat daar iets gebeur het. Laat my wonder of jy my ooit sou vertel het as ek julle nie saam gesien het nie …”
“Ek is jammer, Marc … ek het net nie die moed gehad om jou te sê nie.”
’n Tyd lank is daar weer net die gekraak van die brandende hout in die vuur, voor hy vra: “Wat sal dit aan ons verhouding doen as ons mekaar nie vertrou nie?”
“Of as jy my nie kan vergewe nie. En ek myself nie kan vergewe nie?”
Hy laat sak sy kop tussen sy hande. “Dis nie dat ek jou nie kan vergewe nie, dis net … dat ek nie weet of ek ooit sal kan vergeet nie. ’n Ander man by jou … so.”
Sy slaan haar arms styf om haar knieë en leun haar gesig daarteen.
“Selfs net die prentjie van julle twee daar in die kafeteria … Dis asof dit vir altyd in my geheue ingebrand sal bly.”
Ver weg huil ’n hond en Shmu’el sit dadelik met gespitste ore regop. Marc trek hom ingedagte weer teen hom aan en vryf sy oortjies tot hy rustig gaan lê.
Later sê sy beswaarlik hoorbaar: “Jy het nie my vraag beantwoord nie.”
“Ek sal nie weggaan nie, Rivkah. Nie van jou af nie en nie van die seuns af nie. Nooit. Ek kan nie sonder julle nie.”
“Selfs al kan jy my nie vertrou nie?” vra sy baie sag.
Hy sug. “Hoe sal ek weet wat HaShem aan my hart kan verander.”
“Marc …”
“Hm?”
“Al sal jy dit miskien nie glo nie, wil ek dit nogtans vir jou sê.”
“Wat is dit?”
“Ek het nooit opgehou om jou lief te hê nie.”
Toe huil hy vir die eerste keer. Hy slaan sy hand oor sy gesig en sy skouers ruk van die geweld daarvan.
Eers huiwer sy, maar toe staan sy op en kom na hom toe. Sy gaan op die mat by sy voete sit en leun haar kop teen sy knieë. Haar donker hare val oor sy skoot, oor Shmu’el en sy trane loop tussen sy geklemde vingers deur en drup daarop. Die hondjie lek sy hand en tjank vraend. Mettertyd bedaar die worstelende gesnik en neem Marc sy hand voor sy gesig weg. Hy begin half werktuiglik haar kop teen sy knieë saggies masseer soos hy altyd gedoen het as sy ontsteld was.
Baie lank sit hulle so. Tot hy uiteindelik sê: “Ek dink aan wat Hosea vir die volk gesê het … miskien is dit omdat HaShem dit vanaand vir ons wil sê.”
“Wat is dit?” vra sy sonder om haar kop op te lig.
“Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.”
“Baruch Atah,” prewel sy.
Daar is nog net gloeiende kole van die vuur oor. En die vertrek het kouer geword, maar hulle kom dit nie agter nie.
“Ons moet gaan slaap, dis verskriklik laat.”
“Kom jy by my slaap?” Hy hoor haar beswaarlik.
“Ja,” sê hy eenvoudig.
Lank na sy teen hom aangekruip aan die slaap geraak het, lê hy wakker en worstel met die gesig van Aviel gebukkend oor sy vrou. Met elke gram krag wat in hom oorgebly het, waak hy daarteen om die toneel verder te laat ontwikkel. Hy luister na haar sagte asemhaling teen sy skouer en hy wonder of hy ooit met haar sal kan liefde maak sonder dat dié beeld tussen hulle kom.
Laat die kinders dit nooit weet nie, bid hy. Nooit, nooit nie. Laat niks wat ons doen of sê hulle dit laat voel nie.
Op ’n oggend teen die einde van Februarie, een van die oggende wat Rivkah nie werk nie en die seuntjies ’n paar uur in die speelskool is, daag Chaim onverwags by die huis op.
“Abba!” roep sy bly uit, “jy was lank nie hier nie.”
Hy haal sy hoed af en soen haar. “Net vorige Shabbat, lief.”
Terwyl sy sy geliefkoosde