Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
mensies is sedert sy daar aangekom het.
Meneer Joubert gloei soos enige ouer as ander mense mooi dinge van hulle kinders vertel. “Sy het natuurlik jare se ondervinding,” merk hy dan op.
Nicolas kyk hom skerper aan. “Maar sy het géén ondervinding nie. Toe sy aansoek gedoen het, wou ek haar wegstuur juis omdat sy op ’n wildplaas gewerk het en –”
“Nee, nee,” val meneer Joubert hom in die rede. “Het sy jou nie vertel nie? Sy het haar twee broers grootgemaak.”
Nicolas sit terug in sy stoel, sy oë op die ander man. “Sy het nog nooit iets gesê nie.”
Meneer Joubert se oë kyk in die verte. “Sy was agt jaar oud toe haar moeder oorlede is. Dit was altyd net sy en ons … ons het gedink dit sal maar altyd net sy bly. En toe … toe is daar skielik nog een op pad – behalwe dat dit toe ’n tweeling is – en die geboorte was baie moeilik.” Hy vee met sy hand oor sy mond. “Komplikasies en my vrou was baie swak.” Hy swyg ’n ruk. “Sy is dood. My vrou se moeder het toe nog geleef en sy wou die tweeling vat, maar Olivia het vasgeskop. Sy het lank genoeg gewag vir hierdie twee boeties van haar en sy wou hulle hê. Gelukkig was daar ’n jong bruin vrou op die plaas – ’n juweel, ’n vrou deur die liewe Here vir ons gestuur – en tussen haar en Olivia het hulle vir Dries en Gerard grootgekry.” Hy gee ’n laggie. “Groot is die regte woord, jy moet hulle nou sien. Yslike knewels van sestien, en Olivia was altyd so ’n ou riempie.”
Nicolas byt sy lip. Hy sou haar nie so beskryf nie; fyn en delikaat miskien. Maar hy sê niks nie.
“Ek wou hê sy moet ballet neem,” gaan meneer Joubert voort. “Sy lyk mos sommer na ’n ballerina, maar sy het nooit regtig lus gehad nie. Was te veel van ’n rabbedoe.” Hy skud sy kop goedig. “Wat sy en daardie twee nie alles aangevang het nie. ’n Boomhuis gebou, ’n foefieslaaid langs die rivier. Glo my, ek het geweet van gebreekte arms en stukkende knieë, en dit was nie altyd die seuns nie.”
“Sy het vir my kinders ook ’n boomhuis gebou,” sê Nicolas. “Min of meer eiehandig.”
Meneer Joubert lag. “Ja, sy lyk so fyn, maar sy kan ’n trekker ook heelmaak.”
Nicolas is gefassineer. Dis asof stukke van ’n legkaart inmekaar begin pas.
“Maar sy is bang vir trou,” lag meneer Joubert. “Mens kan haar seker ook nie blameer nie, sy was so vroeg al verantwoordelik vir ander mense.” Hy lyk bietjie verleë. “Dis juis hoekom ek hier is. Om ring te koop. Ek gaan weer trou en ek wou haar kom vertel.”
“Dis goeie nuus,” sê Nicolas en wonder of dit waar is. As die nuwe vrou soos Yvonne is, wil hy nie Olivia se reaksie hoor nie. “Is dit iemand wat Olivia ken?”
“O ja. Ansie Neethling. Vrou uit die buurt, ook nou al ’n paar jaar weduwee. Die seuns is mal oor haar.”
“U moet my vergewe as ek so uitvra,” sê Nicolas. “Maar sy het nog nooit oor haarself gepraat nie. Het sy enige kontak met haar broers?”
“A ja a,” sê meneer Joubert verbaas. “Dis miskien dié dat ek so vrymoedig met jou sit en gesels. Dit voel vir my of ek julle almal so goed ken. Nee kyk, Olivia is ’n goeie briefskrywer, dis soos ’n dagboek, sommer pakke meer as briewe. En sy bel. Nog steeds soos ’n ma oor hulle bekommerd. Vat hulle vas ook. Het nou laas vir Dries goed die kop gewas omdat sy wiskundepunte so laag was. Nee, soos ek jou sê, jy moet jou nie deur daardie riempielyf laat bluf nie, Olivia kan raak vat en as sy dink iets is verkeerd of iemand is op die verkeerde spoor, is sy nie bang om hulle reg te sien nie.”
“Dit het ek al ondervind, ja,” sê Nicolas droog.
“Doen sy dit met jou ook?”
“O ja.”
Meneer Joubert sit sy glas neer. “Ek wil nie jou tyd langer mors nie. Ek moes natuurlik eers gebel het, maar dit het skielik gebeur, die planne van ons.” Hy kyk op na Nicolas, weer eens met ’n skugterheid gekombineer met ’n skerp blik, nes Olivia kan doen. “Sy klink gelukkig hier. Is sy?”
Nicolas sluk swaar. Nie op die oomblik nie, wil hy sê, maar hy knik net. Gelukkig hoef hy nie te antwoord nie, want die kinders, moeg vir hulle kamers, kom uitgestorm.
Hoofstuk tien
Nicolas wag Olivia in toe sy Sondagaand terugkom. Sy lyk somber en skrik toe sy hom in die portaal sien.
“Goeienaand,” sê hy. “Het jy ’n lekker naweek gehad?”
“Ja dankie.” Sy kyk vinnig op na hom. “Hoekom staan jy hier, is iets verkeerd met die kinders?”
“Nee, glad nie. Hulle is in die bad. Jou pa was gister hier.”
Sy kyk hom ongelowig aan. “My pá?”
“Ja. Hy het heelmiddag hier by ons gekuier.”
Sy laat sak haar naweektassie en staar na hom, maar haar gesig lyk skielik bly. “Regtig? Hoekom het hy nie gesê hy kom nie? Ek sou mos nie weggegaan het as ek geweet het nie.”
Hy vertel haar alles wat haar pa gesê het en hou haar krities dop toe hy kom by die nuus oor haar pa se troue, maar sy lyk net baie bly.
“Sowaar,” sê sy verwonderd. “Het hy uiteindelik so ver gekom om dit te doen! Ek sê al jare lank vir hom hy moet weer trou en tant Ansie is net die regte een. Van haar man dood is, karring ek aan my pa.”
“Jy het dus nie ’n probleem met ’n stiefma nie?”
“Sy’s nie soos Yvonne nie,” sê sy koud. “Sy hou meer van mense en veral kinders as van haar naels of haarstyl.”
“Dis ’n onregverdige opmerking,” kap hy dadelik teë. “Jy kan nie sê Yvonne …”
Sy hou haar hand in die lug. “Ek gaan nie weer oor haar stry nie, ek wil my pa gaan bel. Kom tog net tot ’n punt en trou met haar.” Sy tel weer haar tassie op en draai na die trap toe.
“Ek dog dis juis wat jy nie wil hê nie?”
“Jy kan doen net wat jy wil,” sê sy gelykmatig. “As my teenstand belangrik was, wat ek nie glo die geval was nie, trek ek dit terug. Trou met Yvonne.” Stywenek stap sy met die trap op.
Hy volg haar tandeknersend en gaan help die kinders uit die bad uit. Toe hulle in hulle nagklere is, kyk hulle rond.
“Waar is Olivia?” vra Emma. “Sy moet ons storie kom lees.”
“Ek kan dit ook lees,” sê hy. “Ek het dit die afgelope twee aande gelees.”
Emma lyk skepties. “Ja,” erken sy teësinnig. “Maar Olivia lees beter.”
“Livja,” sê Nicky beslis.
Gelukkig kom Olivia op daardie oomblik in, haar gesig nou weer vrolik en ontspanne na haar gesprek met haar pa. Albei kinders storm op haar af, omhels haar so woes dat sy omtrent omval en wil weet waar sy so lank was. Nicolas staan hulle woordeloos en aankyk.
“Storie,” sê Nicky vir haar.
“Hulle vind jou manier van stories lees beter as myne,” se Nicolas vir haar.
“Sy kan die diere namaak,” verduidelik Emma. “Al die stemme.”
Hy gaan sit in ’n stoel en luister terwyl Olivia vir hulle lees. Dat sy dit goed doen, kan hy dadelik sien, maar wat hom meer boei, is hoe sy kinders by haar sit. Nicky is op haar skoot en Emma het onder haar een arm ingekruip sodat haar kop teen Olivia se bors lê.
Na die kinders in die bed is, kyk Nicolas na Olivia en vra of sy nie lus is vir koffie nie.
“Nee dankie,” sê sy vriendelik. “Ek wil nou gaan bad en vroeg in die bed klim.”
“Het jy baie laat nagte gehad?” vra hy koel.
“Nogal, ja,” antwoord sy onverstoord. “Ek was gisteraand na ’n baie vrolike partytjie