Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
stamp. Sappige, vetterige stukkies eend, die dik lemoensous, peperkorrels en garnering gly oor haar skouer, af oor haar bors en op haar skoot.
“My liewe magtig!” roep Nicolas en spring op.
Die arme kelner gryp vervaard na die naaste servet en begin onbeholpe skoonvee. Al wat hy eintlik bereik, is om die vetterige gemors verder te versprei.
Nicolas is so kwaad dat hy niks meer kan sê nie en Olivia bly doodstil sit en kou aan haar wange sodat sy nie moet begin lag nie.
“Bring ons rekening!” beveel Nicolas. Teen hierdie tyd is die bestuurder ook by en hy verseker hulle handewringend dat daar geen koste is nie en dat hulle bereid is om Olivia se rok te laat skoonmaak. Ander eters kyk geskok of geamuseerd na die petalje en Nicolas loop om die tafel, gryp Olivia se hand en sleep haar omtrent by die restaurant uit. “Ek kom nooit weer hiernatoe nie,” sê hy oor sy skouer vir die bestuurder, wat onophoudelik verskoning maak.
Olivia sê nie ’n dooie woord nie. Sy sit tjoepstil in die motor, te bang om te roer, want sy wil nie hê die kos moet aan Nicolas se motor afsmeer nie. Sy kry ook nie eintlik kans om te praat nie, want hy tier sonder ophou.
By die huis gekom, ruk hy haar motordeur oop, stoot haar voor hom uit tot in die kombuis en ruk die ritssluiter van die rok met een haal oop.
“Nicolas,” probeer sy keer. “Ek kan dit self … dis miskien beter in die badkamer …”
Hy luister nie na haar nie, stroop die besmeerde rok van haar af en druk haar tot by die wasbak. Hy maak ’n lap onder die warmwaterkraan nat en begin haar nek skoonvee. Toe hy sien daar is selfs sous aan die een hangende oorbel, pluk hy dit ook af en hou dit onder die kraan. Sy staan bedremmeld in haar onderklere, bly dat sy darem die mooiste swart goedjies aangetrek het, maar toe hy eindelik tevrede is dat sy skoon genoeg is en effens wegstaan, kan sy dit nie langer hou nie en begin lag. Sy lag dat die trane loop.
“Wat is so snaaks?” vra hy stuurs.
“Ek het mos gesê,” proes sy. “Ek het mos gesê ons moet liewers by die huis bly.”
“Hoekom? Gebeur hierdie soort ding altyd met jou?”
Sy vee haar oë af. “Nee, dis die eerste keer en ek het dit ook nooit gedoen toe ek ’n kelnerin was nie. O nee. Ek het netjies bedien. Dis net …”
Hy maak die yskas oop en bekyk die rakke. “Dis net dat ons nie geëet het nie,” sê hy en begin bakke uithaal. “Hier is van gisteraand se skaapboud oor.” Hy buk en haal borde uit ’n kas uit. “Of sal ek vir ons ’n omelet maak?”
Sy kyk af na haar lyf. “’n Vleisbroodjie sal lekker wees, maar ek kan regtig nie in my onderklere eet nie. Mag ek dalk net my kamerjas gaan haal?”
Hy laat gly sy oë oor haar lyf asof hy haar vir die eerste keer raaksien en kyk vinnig weg. “Ek veronderstel so.”
“Net vir geval Katie inkom en wonder wat hier aangaan,” sê sy bedees al is haar oë nog vol lag.
“Ja, ja,” sê hy en maak ’n beweging met sy hand.
Sy buk om die rok op te tel. “Ek sal die rok solank in die bad laat lê. Miskien kom dit tog skoon.” Sy stap na die deur toe, sien nie Nicky se lokomotief wat daar vergete gebly het nie en struikel daaroor. Sy gryp woes na die muur om haar balans te hou en trap skeef met die hoëhakskoene. Toe sy afkyk, lê die hak afgebreek.
Nicolas, wat vinnig nader gekom het om te help, kyk net na die gebreekte skoen.
“Soos ek gesê het,” sê sy en skop albei skoene uit. “Dis nie vanaand die regte aand nie. Ek dink ek moet net soetjies in die bed gaan klim.”
Nicolas hou haar arm vas. “Het jy nie seergekry nie?”
“Nee.”
Hy bly na haar staan en kyk. “Olivia,” sê hy byna sugtend en sy oë is skielik te naby en te donker, sodat sy verleë wegkyk. “Wat is dit omtrent jou wat mens so tot raserny dryf? Ek het regtig gedink ’n aand uit, ’n lekker ete, ’n –”
“Nee, nee,” val sy hom haastig in die rede. “Jy sien, ek is net nie gemaak vir hierdie soort ding nie. Yvonne sou vir jou kon sê ek kom uit die bos uit en is niks gewoond nie. Dis maar beter om my in die kombuis te los. Daar is ek tuis.”
Hy kyk haar steeds intens aan. “Is dit wat jy wil hê?”
“O ja,” verseker sy hom en maak haar arm los uit sy greep. “Jy sien mos nou wat ’n verleentheid ek kan wees. En nou gaan ek my kamerjas haal voor ek nog ’n kledingstuk beskadig. Gaan jy die toebroodjies maak of sal ek dit kom doen?”
Hoofstuk elf
Die somerhitte neem toe en alhoewel Olivia die kinders soms na die openbare swembad toe neem, hou niemand eintlik daarvan nie omdat dit so oorvol is. Josef onthou van die kinders se ou opblaasswembadjie in die garage en was die opgefrommelde stuk plastiek. Almal begin entoesiasties opblaas – maar sonder veel vrug.
“Hy’s vol gate,” sê Josef en gaan haal sy eie gereedskap uit sy fietssakkie.
Nadat al die gate toegeplak is, lyk die swembadjie nie aansienlik nie, maar dit bly ten minste opgeblaas en hulle kan dit vol tap. Olivia kry die blink gedagte om ’n omgekeerde emmer uit die waskamer te kry, dit in die middel te sit en die tuinslangsproeier bo-op – geanker met ’n ronde klip omdat die ding aanhou dreig om af te val nes dit begin swaai en sprinkel. Nou is die kinders in die wolke.
“Ons eie fontein,” sê Emma trots.
Aanvanklik sit Olivia onder die boom of vroetel in die tuin sodat sy darem ’n oog oor die kinders kan hou terwyl hulle in die water plas, maar sy word self warm en taai en dis nie lank voor sy ook elke middag in haar swemklere onder die sproeier sit nie. Dis waar hulle een middag is toe ’n motor met die rylaan opry en voor die deur stilhou.
Olivia kyk op en sien ’n lang, maer man met blonde hare en ’n bles uitklim. Hy is geklee in tennisdrag en staan hulle belangstellend en bekyk.
“Middag, kinders,” groet hy.
“Middag” sê Olivia beleef en stroop haar nat hare uit haar gesig.
“Ek soek na Nicolas.”
A, dink Olivia. Sy het gewonder hoekom sy motor so vroeg by die huis was. Hy gaan natuurlik tennis speel. “Hy is in die huis,” sê sy vriendelik. “Stap maar deur.”
Die man knik en stap met die stoeptrap op. Hy lig net sy hand om die klokkie te lui toe die deur oopgaan en Nicolas verskyn.
“Kenneth,” sê hy en skud sy hand. “Kom binne, ek kry net my raket.”
Kenneth wys na die watertoneel buite op die grasperk. “Jou kinders weet wat om op ’n warm agtermiddag te doen.”
Nicolas kyk ook en skud gelate sy kop. Dan tree hy terug, tel sy raket en sportsak op en trek die deur agter hom toe. “Behalwe vir eet en slaap, is hulle nou heeldag in daardie verspotte ding. Ek is natuurlik verwyt omdat ek nie ’n regte swembad het nie, maar die kinders was nog altyd te klein en met my heeldag op kantoor het ek nog altyd gedink dis te gevaarlik.”
Kenneth het omgedraai en staar oor die grsperk waar al drie besig is om emmertjies en bakkies water oor mekaar te gooi. “Ek het hulle lanklaas gesien,” sê hy peinsend. “Hulle is nie meer so klein nie. Is die donker enetjie die oudste?” Hy draai na Nicolas. “Hoekom was ek onder die indruk dat jy net twee het?”
Nicolas gee ’n laggie. “Ek hét net twee. Die donker enetjie, soos jy haar noem, is hulle oppasser.”
Kenneth se blik verskerp en hy bestudeer Olivia met groter belangstelling. Sy dra ’n eenvoudige swart swemkostuum, maar noudat hy goed kyk, sien hy ’n baie mooi en onteenseglik volwasse figuur. “Sowaar,” sê hy bewonderend en fluit saggies deur sy tande. “Mooi meisiekind. Iemand uit die buurt wat kom babasit?”
“Nee,” sê Nicolas droog. “Sy woon in.”