Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
saamkom,” eggo Nicky.
“As julle my net sal toelaat om klaar te praat,” sê Nicolas. “My voorstel is dat ons almal volgende naweek ry, jy hou twee weke vakansie saam met ons by die see en dan sit ek jou op die vliegtuig en is jy Kersfees by jou mense.”
“Dis vriendelik van jou,” sê sy beleef en stoot haar kos op haar bord rond. “Maar onnodig. Jy is mos by die kinders, hulle het my nie nodig nie.”
“Nee,” protesteer Emma. “Pappa weet nie hoe om my hare te vleg nie en hy kan nie my swembroek vasmaak nie en hy weet nie …”
“Hy kan leer,” sê Olivia hardvogtig.
“Olivia,” sê Nicolas en sy stem is sag. “Wat makeer? Jy lyk nie gelukkig nie. Wil jy regtig nie saamgaan see toe nie?”
Sy stemtoon verbouereer haar. “Dis nie dit nie. Natuurlik wil ek see toe gaan, maar ek dink net dis onnodig en julle kan baie beter op julle eie –”
“Hy sal nie skulpies optel nie,” sê Emma.
“Livja,” sê Nicky, klim van sy stoel af en klouter op haar skoot.
Sy kyk hulpeloos af na die koppie teen haar bors. “Maar dis ’n onnodige uitgawe. As ek nou moet vlieg en …”
“Ek kan dit regtig bekostig,” sê Nicolas koel.
Sy gee die stryd gewonne. Swak, dis wat sy is, dink sy in die daaropvolgende dae terwyl sy strandklere koop vir die kinders en haar pa van die planne laat weet. Swak. Die vooruitsig aan twee weke by die see saam met Nicolas is so wonderlik dat sy net so kapituleer.
“Ek gaan deurry,” stel hy haar in kennis. “Ondervinding het my geleer dat ’n oorslapery op die pad nie werk met die kinders nie.”
Sy sê niks nie en die volgende Vrydag ry hulle direk nadat die kinders uit die skool uitgekom het. Haar vrese dat dit moeilik gaan wees om soveel ure alleen saam met hom in ’n motor te sit, word ook vinnig verkeerd bewys. Hulle praat feitlik nooit met mekaar nie, want die kinders moet geamuseer word, is kort-kort honger of dors of taai en boonop blyk dit dat Nicky maklik karsiek word, veral as hy ’n ruk geslaap het en dan skielik regop sit. Sy het haar hande vol en teen laataand toe albei kinders op die agterste sitplek lê en slaap, is sy moeg genoeg om self haar kop teen die syruit te laat rus en in te dommel. Sy het aangebied om te help bestuur, maar hy het gesê dis nie nodig nie, hy word nie sommer moeg nie.
Dis byna eenuur in die oggend toe hy voor die strandhuis stilhou en sy is net bewus van die dreuning van die see en ’n houthuis wat ruik na sout en skaafsels. Meer as dit kan sy nie inneem nie, want die kinders is huilerig omdat hulle wakker gemaak is. Sy skarrel wild rond om beddegoed te kry, beddens op te maak en die kinders weer aan die slaap te kry. Eers toe hulle rustig is, kom sy terug in die ruim woonkamer.
“Ek het al die bagasie afgelaai,” lig Nicolas haar in. Hy lyk baie moeg. “Wil jy iets eet of drink?”
“Nee dankie.” Sy voel ongemaklik van die hele dag se deurmekaar etery en drinkery. “Ek wil net gaan slaap.”
Hy wys haar waar haar kamer is en sy kry nog beddegoed uit die kas in die gang, stort onder yskoue water omdat die warmwatertoestel nog nie verhit het nie en val bibberend in die bed.
Toe sy wakker word, sit die son hoog en hoor sy die kinders se opgewonde stemmetjies vanaf die stoep.
Die eerste paar dae is woelig en sonder struktuur. Omdat die huis ’n jaar lank toegestaan het, is daar baie takies wat Nicolas moet doen. Sy leer die kombuis ken, help met die skoonmaak, al het Nicolas ’n plaaslike vrou gekry om dit te doen, ry saam met hom na die naaste supermark toe om op groot skaal kos te koop en word tussenin deur die kinders strand toe gesleep om te swem, in die rotspoele na vissies te soek en sandkastele te bou. Van ongemaklike intimiteit tussen haar en Nicolas is daar nie sprake nie, maar teen die Dinsdag begin die lewe rustiger raak en lê sy langs hom op die strand, die son weldadig op haar lyf.
Dit gaan lekker wees, besef sy tot haar eie verbasing. Dit hoef nie ongemaklik te wees nie. Hy is so ontspanne, hulle is byna soos ’n normale gesin. Sy kan ook nie help om onder haar arm deur na hom te loer waar sy op haar maag langs hom lê nie. Hy is pragtig gebou, skraal maar gespierd, sy maag so hard dat sy seker is sy sou daarop kon staan sonder om ongemak te veroorsaak.
Sy onderdruk hierdie gedagtes. Om na sy lyf te kyk, is nie die aangewese ding nie, maar sy kan nie help om gelukkig te lag nie toe hulle albei later in die branders is, elk met ’n kind op die arm.
“Is jy nie nou bly jy het saamgekom nie?” vra Nicolas tergend toe sy jillend eenkant toe spring om ’n groot brander te ontwyk.
“Ja,” erken sy. “Dis heerlik.”
Sy oë gloei toe hy na haar kyk. Selfs in die strak swart kostuum kan hy sien hoe mooi haar fyn figuurtjie is. Klein soos ’n kind, maar met die rondings van ’n vrou. Sy het ook die soort vel wat byna dadelik bruin word, al is sy versigtig om nie te lank in die son te lê nie en al smeer sy die kinders en haarself dik van die sonrome. Hoe bruiner haar vel word, hoe blouer word die groot oë. Hy wens net sy was nie so skrikkerig vir hom nie. Liewe aarde, hulle woon al hoeveel maande saam in die huis, maar as die kinders nie ’n buffer tussen hulle is nie, maak sy haar uit die voete. Het kwansuis baie boeke saamgebring om te lees of verdwyn onder sy oë uit om alleen lang ente te gaan stap, iets wat hy juis saam met haar wil doen. Maar hy troos homself, hulle is twee weke lank saam en dít, voel hy, plaas hom in ’n bevoorregte posisie. Wat sal iemand soos Kenneth nie gee om twee weke lank saam met haar … Hy druk die gedagte met geweld dood. As Kenneth aan haar sou raak, weet hy nie wat hy sou doen nie.
Maar die idilliese eerste dae word wreed versteur toe hulle die Woensdag teen etenstyd huis toe stap, almal moeg en honger. Nicolas hou Emma se hand vas en Olivia dra vir Nicky al het sy pa geprotesteer en gesê hy is te swaar vir haar.
“Livja,” is sy eenvoudige antwoord op alles.
Hulle kom nader aan die huis en almal kyk na die motor wat voor die deur staan. Olivia voel hoe ’n hol kol in haar binneste begin brand. Sy ken daardie motor en druk haar lippe styf opmekaar.
“Yvonne,” sê Nicolas langs haar.
Emma begin sommer huil. “My voete brand,” kla sy. “Dra my.”
Nicolas tel haar op en hulle stap nader. Yvonne, wat op die stoep gesit het, staan op en wag hulle stralend in.
“Is dit nou nie ’n verrassing nie?” koer sy. “Ek het net besluit die stad is so warm en waarom sal ek daar sit en vergaan as ek weet hoe lekker julle hier by die see baljaar?”
Olivia knik vir haar en skuur verby met die kinders. Sy wil nie sien hoe Nicolas haar soen nie. Sy hou haar besig met die kinders, help hulle stort, trek hulle aan en begin opskep omdat almal honger is en die kinders wil gaan slaap.
“Ons het ’n klein probleem hier,” sê Nicolas aan tafel. “Daar is net drie slaapkamers en …”
Olivia se hart sink verder. Sy het bly hoop Yvonne het net vir die dag kom kuier. “Ek kan op die divan in die sitkamer slaap,” sê sy.
“Nee, nee,” sê Nicolas. “Kyk, die kinders se beddens is eintlik stapelbeddens, ek het hulle net langs mekaar gesit omdat hulle nog klein was en ek bang was die een wat bo slaap, val af. Ons sit hulle weer bo-op mekaar dan is daar meer as genoeg plek vir die divan.”
“Ja!” gil Emma. “En ek slaap bo!”
Skielik is alle moegheid weg en na ete help die kinders fluks om beddegoed af te haal en weer terug te sit nadat die beddens almal op hulle plekke is. Yvonne lig nie ’n vinger om te help nie en lyk salig onbewus van die feit dat sy die hele huishouding omvergegooi het. Na Olivia die kas in haar ou kamer ook ontruim het, trek Yvonne in sonder ’n woord van dank of verskoning.
Die kinders gaan lê uiteindelik en is binne sekondes aan die slaap en Olivia vat haar boek en lê ook, al sien sy nie ’n woord op die bladsy raak nie.
Teen vieruur staan sy op om koffie te maak en het net die ketel aangeskakel toe