Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
oproepe om te maak of ’n televisieprogram om te kyk. Eers Woensdagaand kry hy haar alleen in die kombuis waar sy vir haar staan en tee maak.
“Olivia,” sê hy. “Ek wil met jou praat.”
“Hoekom?”
“Is jy nog kwaad vir my?”
“Hoekom sou ek kwaad wees?” Haar blou oë kyk onskuldig op na hom.
“Omdat ek so kwaad was na jy ons afgeluister het.”
“Ek was nie kwaad nie en ek het julle ook nie afgeluister nie. Julle het onder die boom gestaan en buitendien het ek jou gesê jy kan met Yvonne doen net wat jy wil.” Die ketel kook en sy gooi ’n teesakkie in haar beker en roer dit stadig heen en weer.
“Ek wil niks met haar doen nie.”
Sy lig die teesakkie uit en kyk hom vraend aan. “Wil jy ook tee hê?”
“Nee dankie, en moenie die onderwerp verander nie. Daar is niks tussen my en Yvonne nie. Dis verby.”
“Ek is jammer om dit te hoor,” sê sy vroom. “Sy gee my ongetwyfeld die skuld hiervoor.”
“Dit ís jou skuld,” sê hy ferm.
Sy sug. “Soos ek al hoeveel keer gesê het, as jy jou laat beïnvloed deur wat ander mense sê, kan jy my nie blameer nie.”
Hy rol sy oë en byt die woorde terug wat hy wou sê, want hy wil nie met haar baklei nie. “Olivia,” sê hy. “Wil jy nie een aand saam met my gaan eet nie?”
Sy kyk na hom oor die rand van haar beker. “Ek eet byna elke aand saam met jou. Jy kom mos deesdae vroeër van die werk af.”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Dis saam met die kinders en tel nie. Ek wil hê ek en jy moet gaan uiteet.”
“Nee, dit kan nie.”
“Hoekom nie?”
“Ek gaan uiteet of jy kan gaan uiteet, maar nie ons al twee nie. Iemand moet by die kinders bly.”
“Katie sal. Sy gee nie om nie. Dis wat ons gedoen het voor jy gekom het.”
“O,” sê sy en drink haar tee.
“Sal jy dan?” vra hy. “Môreaand? Kan ek vir ons ’n tafel bespreek?”
Sy haal haar skouers op. “Ek veronderstel so, al kan ek nie verstaan waarom jy dit wil doen nie. Die kos by die huis is net so lekker en mens hoef nie so lank te wag nie.”
“Dit het niks met die kos te doen nie!”
“Goed,” sê sy ongeërg en stap by hom verby. “Maar ek kan nie sien waarom mens in ’n ander plek wil gaan eet as jy nie in die kos belangstel nie.”
Hy klem sy kake opmekaar en wonder of hy sy hand sal breek as hy sy vuis deur die muur slaan.
Maar toe sy die volgende aand uit haar kamer uitkom, lyk sy so mooi dat sy sy asem wegslaan. Weg is die kortbroek en hemp, die poniestert en kaal voete. Sy dra ’n kort, syerige donkerblou rok, afgewerk in diepblou satynlint die kleur van haar oë. Haar hare is opgekam en aan haar ore hang trosse kristalle in skakerings van blou, swart en pers.
“Waarheen gaan jy?” wil Emma dadelik weet en sy draai bewonderend om Olivia.
“Ek gaan uiteet.”
“Saam met wie?”
“Saam met my,” sê Nicolas beslis.
“Livja,” sê Nicky en wys hy wil opgetel word. Olivia tel hom op al lyk Nicolas asof hy wil protesteer, bang dat haar mooi rok sal kreukel. “Mooi,” sê Nicky en speel met haar oorbelle.
Sy steier effens en Nicolas merk op dat sy baie hoë hakke aanhet. Hy staan vorentoe en vat Nicky by haar.
“Julle gaan nou soet slaap,” sê hy. “Katie sal by julle bly en ons sal nie laat terugkom nie.”
Sy kyk vinnig na hom. “Ons hoop so. In my ondervinding is die kelners so stadig dat mens omtrent die tafelblad opknaag voor jou kos kom.”
Hy besluit wyslik om nie te antwoord nie, soen die kinders en stuur Olivia in die rigting van die motor. Om by veilige onderwerpe te bly, vra hy haar uit na haar broers en sy antwoord gewillig genoeg.
“As ek geweet het dat jy jou broers grootgemaak het, sou ek nie aan die begin getwyfel het of jy die regte persoon is nie.” Hy kyk na haar, maar sy toon geen reaksie nie. “Jou pa het ons genooi om enige tyd op die plaas te kom kuier.”
“Hy sê so, ja.”
“Sal jy nie omgee nie?”
“Natuurlik nie. Die plaas is groot.”
Met hierdie onbevredigende antwoord moet hy tevrede wees, en as hy gehoop het dat die aand ’n sukses sal wees en dat sy hom die geleentheid sal gee om intiem met haar te gesels, is hy verkeerd.
Die restaurant is baie deftig en soos Olivia dadelik sien, baie duur. Sagte lig kom uit goue muurlampies, die dik mat demp onnodige geluide, ’n strykkwartet speel strelend in die agtergrond en daar is rooi rose op die spierwit tafeldoek. Olivia bekyk die kelner krities toe hy vorentoe spring, haar stoel uittrek en die wynkaart voor Nicolas neersit.
“Ek was jare lank ’n kelnerin,” vertel sy vir Nicolas. “Toe ek studeer het.”
“Jy het ook al alles gedoen,” merk hy op nadat hy vir hulle wyn bestel het.
“Dit was die jare van die droogte,” sê sy. “Pa het swaar gekry en ek het gevoel ek moet my deel bydra.”
Die wyn word gebring en vir hulle geskink en Olivia se kritiese blik versag effens toe Nicolas sy glas lig en liggies teen hare klink. “Kan ons drink op ’n meer vreedsame saambestaan?” vra hy en sy oë blink.
“Ek sal probeer,” gee sy toe en kyk bly op toe die volgende kelner ’n mandjie warm broodrolletjies voor hulle neersit. Die reuk van die vars gebakte brood laat haar besef hoe honger sy is en sy vat dadelik een en kyk rond vir die botter. “Daar’s nie botter nie,” sê sy vir Nicolas.
Hy roep die kelner nader en dra die boodskap oor. Die jong man buig verskonend en verdwyn na die kombuis toe.
“Hy’t vergeet,” sê sy na hulle lank gewag het. “Dis seker chaos in die kombuis en die kok het hom iets anders gegee om te doen.” Sy breek die kouer wordende broodjie oop en begin dit droog eet.
Nicolas probeer vergeefs die kelner in die hande kry en hy kom eers nader toe hy reken hy kan hulle bestelling kom neem. Teen daardie tyd het Olivia haar brood verorber. Hulle bestel albei die koue komkommersop en dit is, tot Nicolas se verligting, baie lekker. Hy voel soos ’n skoolseun wat sy eerste meisie uitneem en kan nie verstaan waarom hy so voel nie; hy is ’n gesoute restaurantbesoeker en was nog altyd in staat om sy vriendinne se gemak te verseker.
Toe hulle hoofgereg kom, is Olivia nie meer so erg honger nie en sy begin ontspan. Sy het kalfsvleis in ’n peperroomsous bestel en dit ruik so heerlik dat sy met plesier haar mes en vurk optel en begin eet.
“Wat is nou verkeerd?” vra Nicolas radeloos toe hy sien hoe sy elke stukkie vleis bestudeer, die helfte afsny en die res fronsend kou.
“Dis snaakse kalfsvleis,” sê sy. “Eintlik is ek in beginsel gekant teen kalfsvleis en as jy eers ’n kalfie hans grootgemaak het, sal jy verstaan waarom, maar die een ding wat ek weet, is dat kalfsvleis maer is. Ek meen, dit het geen vet aan nie. Hierdie stukkies is die helfte net vet.” Sy kou nadenkend. “Om die waarheid te sê, ek dink glad nie dis kalfsvleis nie. Dit smaak na lemoen.”
Nicolas is nou woedend en roep die kelner nader. Hy wys na Olivia se bord. “Is dit die kalfsvleis wat ons bestel het?” vra hy.
Die kelner buig oor Olivia se bord en word rooi. “O aarde,” prewel hy. “Dis die eend in lemoensous. Hoe het dit gebeur?”
“Ek weet nie,” sê Nicolas deur geklemde kake. “Maar