Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
sê Yvonne en glimlag stroperig. “Ek hoop nie jy het my verkwalik oor ons gesprek van nou die middag nie.”
“Nee,” sê Olivia.
“Ek was miskien ’n bietjie skerp.”
Olivia beweeg haar kop, sê niks nie.
“Ek het net gevoel dis die beste as jy weet presies hoe dinge tussen my en Nicolas staan.”
Olivia kyk op en sien Nicolas agter Yvonne in die gang. Hy sê niks nie en Olivia lig bloot haar arm, maak die kassie oop en haal nog ’n koffiebeker uit.
“Ek wil nie hê jy moet ’n gek van jouself maak nie,” gaan Yvonne voort. “Maar na die tyd het ek tog gewonder of ek nie te skerp was nie. Alhoewel … toe ek hoor jy gaan saam op vakansie het ek tog gewonder of jy …”
Olivia maak die koffieblik oop en skep koffie in die bekers in. “Melk en suiker?” vra sy neutraal. Sy verwonder haar oor die egoïsme van die vrou. Tref dit haar nie dat sy wat Olivia is vir drie mense staan en koffie maak nie?
“Swart, dankie.” Yvonne steek haar hand uit om die beker aan te vat en haar lang bloedrooi plastieknaels klik teen die porselein. “Hoe ook al, hier is ons nou almal saam en ek dink ons gaan ’n baie lekker vakansie hê. Is die weer nog die hele tyd so goed?”
“Tot dusver, ja.” Sy gooi melk by Nicolas se koffie en roer een lepel suiker by soos hy daarvan hou.
Yvonne het blykbaar besluit dis tyd om gaaf te wees. Sy leun terug teen die toonbank en drink ’n sluk van die vuurwarm koffie – so warm dat sy gil, die beker neersit dat die helfte uitspat oor die toonbank en vinnig oor haar mond vee. “Hoekom is dit so warm?” sis sy of dit Olivia se skuld is.
“Water kook by ’n hoër temperatuur op seevlak,” lig Olivia haar lakoniek in.
Yvonne loop na die wasbak toe en drink hande vol koue water. “Jy kon my gesê het.”
Olivia kyk vinnig na die deur waar Nicolas steeds roerloos in die skemerte staan. “Ek is jammer. Ek dog jy weet dit.”
“Ek is nie ’n verdomde wetenskaplike nie!”
“Jammer.”
Yvonne vee haar rooi hare uit haar gesig en besluit vir die hoeveelste keer om sjarmant te wees. “Toe maar, dis seker my eie skuld. En ek wou nog dankie sê dat jy bereid was om jou kamer vir my prys te gee. Jy moet verstaan hoe delikaat die situasie is.”
Olivia is nie seker van die delikaatheid nie, maar die situasie – met Nicolas in die gang – amuseer haar geweldig.
“Met die kinders en alles,” gaan Yvonne voort. “As ek nou sommer in Nic se kamer ingetrek het, kon dit …”
Nicolas het blykbaar besluit die gesprek het ver genoeg gegaan en hy tree vorentoe. “Hallo,” sê hy gesellig. “Het julle nie geslaap nie? Is daar vir my ook koffie?”
Yvonne swaai vir die tweede keer so vinnig om dat sy koffie mors, dié keer oor haar hand. “Waar kom jy vandaan?” vra sy.
“Ek het koffie geruik,” ontwyk hy die direkte vraag.
Olivia gee sy beker vir hom aan. “Sal ons daar op die stoep gaan sit?” stel sy voor. “Dis lekker koel daar en die kinders gaan nou kom kla dat ons moet gaan swem.”
Nicolas hou haar oë ’n lang oomblik gevange en staan dan opsy sodat hulle kan voor stap. Op die stoep val Olivia in ’n stoel neer en laat rus haar bene op die reling. Dit gee haar genoegdoening om te sien hoe bruin sy al is. Veral in kontras met Yvonne se melkwit bene. Waar Olivia ’n baie kort kortbroekie en hempie dra, is die ander vrou nog geklee in ’n uitrusting wat nie onvanpas sou wees by ’n skemerkelk nie. Sy het haar bene netjies by die enkels gekruis en kyk met kwalik bedekte misnoeë na Olivia se argelose, ontspanne posisie.
Olivia kyk op en vang weer Nicolas se oë. Haar blou oë rek nog wyer; sy kan sweer sy sien dansende liggies in syne, asof hy iets baie humoristies vind en skielik is dit of haar hart ligter word, asof alles nie so verdoemend duister is nie. Hoekom moet sy luister na Yvonne se streng teregwysings? Wie is Yvonne om haar kort-kort te vertel hoe sy haar moet gedra of hoe sy Nicolas moet vermy? Yvonne is nie die regte vrou vir hom nie, dit kan enige aap sien. Sy is hard en koud en gemeen en sy gaan ’n verderflike stiefma wees vir die kinders. Waarom dan sonder slag of stoot opsy staan sodat Yvonne vir Nicolas kan kry?
“H’m,” sê sy hardop en kyk uit oor die see.
“Het jy iets gesê?” vra Nicolas.
“Nee, nee, net hardop gedink.” Sy glimlag vriendelik vir Yvonne. “Is jou koffie darem nou drinkbaar?”
“Ja dankie.” Yvonne draai haar kop in Nicolas se rigting. “Is daar darem iets om te doen op julle naaste dorp? Of gaan ons sommer net ’n ent ry?”
“Ons gaan nou swem,” sê Nicolas en kyk hoe twee deur die slaap kinders uitkom op die stoep, oombliklik teen Olivia gaan leun om teen haar gerusstellende lyf behoorlik wakker te word. “Is dit nie so nie, kinders? Kyk net, die wind waai glad nie vandag nie en dis boonop laagwater. Ons gaan lekker swem.”
“Swem?” vra Yvonne skepties. “Is dit nie te koud nie?”
“Nee wat,” antwoord Nicolas gemaklik en staan op om hom uit te rek. “Ek moet jou sê, die lekkerste van die vakansie is dat daar dae verbygaan sonder dat ek aan ’n stuurwiel raak. Ons ry net dorp toe as ons kos nodig het en as die weer te guur is, gaan stap ons langs die see in plaas van swem.”
Yvonne lyk selfs meer skepties. “O, ek het gedink Olivia neem die kinders see toe sodat ek en jy … wel, miskien iets anders kan doen.”
Olivia hou haar gesig ernstig. “Ek kan dit doen, ja,” sê sy en hoop haar stem gee haar nie weg nie. “Dan is die huis leeg en kan julle … iets anders doen.”
Nicolas skiet ’n gevaarlike blik in haar rigting, leun oor en tik Emma op haar sitvlak. “Ons gaan nou swem,” sê hy beslis. “Wie kan eerste hulle swemklere aantrek?”
“Ek! Ek!” jil die kinders en hardloop weg.
Olivia maak die leë bekers bymekaar en stap kombuis toe, maar sy kan haarself nie keer nie, sy gee ’n borrellaggie en is seker die twee op die stoep het haar gehoor.
Hoofstuk dertien
Die volgende dag is net so sonnig en teen tienuur stap almal see toe, gewapen met sonsambreel en piekniekmandjie met koekies en koeldrank. Die vorige middag wou Yvonne nie haar swemklere aantrek nie en het net elegant op die sand gesit, ’n groot strooihoed op haar kop terwyl die ander vier in die see baljaar het. Maar vanoggend dra sy ’n spierwit swemkostuum vol goue borduursels. Dat die wit by haar rooi hare pas, stry Olivia nie, maar dit lyk nie besonder goed by die spierwit vel nie. Sy neem ook kennis van die feit dat Yvonne onder haar elegante klere nie ’n baie goeie figuur het nie. Sy is definitief breed in die heup en haar dye lyk kleierig.
Nicolas slaan die groot sambreel vir hulle op en almal gooi hulle handdoeke oop. Die kinders wil dadelik water toe storm, maar Olivia hou hulle terug en smeer hulle eers van kop tot tone met sonroom.
“Dis wys van jou,” merk Yvonne op. “Mens kan nooit te jonk wees om jou vel op te pas nie.” Sy maak haar groot drasak oop en haal ’n buis room uit. “Nic, sal jy my insmeer?”
Hy is nog besig om die sand om die sambreel vas te stamp en reageer nie dadelik nie. Blitsvinnig steek Olivia haar hand uit en vat die room.
“Ek sal dit doen,” sê sy. “Nicolas haat dit absoluut om sy hande vol room te kry. Die reuk staan hom ook nie aan nie.”
Yvonne se mond gaan oop, maar daar is min wat sy kan doen en sy moet gedwee bly sit terwyl Olivia haar hardhandig van kop tot tone insmeer. “Dankie,” sê sy ysig toe Olivia klaar is en sy gaan lê op haar maag met haar kop in die skadu van die sambreel.
“Wat van my?” vra Nicolas en kyk na Olivia. Hy dra