Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit

Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit


Скачать книгу
het hom egter nie aan haar gesteur nie. Hy het eenvoudig sy goed gepak en by ’n hotel ingetrek. Eers later het sy gehoor dat hy lankal ’n verhouding met die meisie het en dat almal behalwe sy dit blykbaar weet.

      Hulle is geskei en kort daarna is Okkie en sy nuwe vrou Parys toe waar hy verder wou studeer. Ria het ’n pos by een van die groot meisieskole in Johannesburg aanvaar en die drade van haar lewe probeer optel – ontnugter, verbitter en diep verneder deur die manier waarop Okkie haar behandel het. Sy wil liewer nie terugdink aan daardie eerste paar maande nie. Sy het hulle oorleef en dis genoeg.

      Dit was in daardie tyd dat sy begin skryf het in ’n poging om te vergeet en die leë, eensame ure te vul. Haar eerste jeugboek is deur die uitgewers aanvaar. Dit het byval gevind en die eerste druk is binne ses maande uitverkoop. ’n Jaar later het ’n vervolg daarop verskyn en ook dié boek was dadelik ’n sukses.

      Sy was ’n skryfster!

      Haar skryfwerk het juis op daardie tydstip van haar lewe baie vir haar beteken. Dit het haar ’n nuwe belangstelling gegee en gehelp om haar selfbeeld te herstel. Werk is goeie medisyne vir ’n seer hart, en geleidelik het sy weer haar ou lewenslus herwin. Sy was ook bly dat sy op dié manier ’n bietjie kon vergoed vir die hartseer en teleurstelling wat sy haar ouers besorg het.

      Ná die verskyning van haar tweede boek het haar ma ernstig siek geword en sy het verlof geneem en huis toe gegaan om haar te help verpleeg. Om haar ma se gedagtes van haar siekte af te lei, het Ria haar aangemoedig om oor haar kinderjare te gesels. Haar ma het as kind gereeld op Donkerfontein, ’n dorpie in die Karoo, gekuier en sy het haar kinders dikwels vertel van haar voorsate wat hulle meer as ’n honderd jaar gelede daar gevestig het. Haar oorgrootjie, Paul Theron, het ’n leidende rol gespeel in die totstandkoming en groei van die dorp. Dit was egter sy suster, die beeldskone Sophia Maria, van wie Ria die graagste gehoor het. Sy kon pragtig sing en klavierspeel en was ’n waaghals wat die wildste perd kon ry. Sy het die hele gemeenskap op ’n keer geskok toe sy vir ’n weddenskap alleen met die koets ’n afstand van byna veertig myl na ’n naburige dorp gery het. In daardie dae was die wêreld nog ru en ongetem en ’n mens kan jou indink wat alles met haar kon gebeur het.

      Sophia Maria was drie keer getroud, maar het nooit kinders gehad nie. Haar laaste man was ’n Brit wat voorgegee het dat hy van die adelstand was, maar hy het op ’n mooi dag soos ’n groot speld verdwyn en daar is nooit weer van hom gehoor nie. Ná haar man se verdwyning het sy haar aan die openbare lewe onttrek, maar sy het ’n skilderagtige figuur gebly totdat sy baie jare later dood is. Ria se ma is nog Sophia Maria gedoop, maar toe dit by haar eie dogter kom, het sy die naam na Ria verkort.

      Paul Theron se nakomelinge woon vandag nog op Donkerfontein en die ou familieplase, Dankbaarheid, Towerwater en Jonkmanshoop. En terwyl Ria so na haar ma se vertellings luister, het die gedagte by haar posgevat om eendag Donkerfontein toe te gaan om met haar ma se mense kennis te maak en ’n boek oor haar groot-groot-groottante Sophia Maria te skryf.

      Ná haar ma se dood is Ria terug stad toe om weer eens die gebroke drade van haar lewe op te tel. In die gestoei en gespartel om ’n lewe te maak was die drome van Donkerfontein en Sophia Maria vergete.

      Met die jare het daar nog ’n paar jeugverhale en twee liefdesverhale uit haar pen verskyn. Sy het ook ’n paar vervolgverhale en talle kortverhale geskryf. Omdat die skoolhouery te veel van haar tyd in beslag geneem het, het sy uit haar pos bedank en haar met die uitsondering van lesse aan ’n klompie private leerlinge voltyds aan haar skryfwerk gewy. Maar dit was harde werk. Sy het dikwels in die nag as sy nie kon slaap nie, met ’n gevoel van beklemming gewonder waar dit alles sou eindig.

      Twee jaar gelede het sy al haar spaargeld en ’n bietjie erfgeld gebruik vir ’n vakansie in Europa. Dit was ’n wonderlike ervaring wat sy vir niks op aarde sou verruil nie, maar dit het haar ’n gevoelige finansiële slag toegedien waarvan sy nog nie herstel het nie.

      Sy het altyd gesê sy sal nooit weer trou nie: een keer was genoeg. Mettertyd het die wonde genees, maar die bitterheid en vernedering het nooit heeltemal verdwyn nie. Sy het ’n paar mansvriende gehad met wie sy van tyd tot tyd uitgegaan het, maar sy wou nooit iets meer as vriendskap van hulle hê nie. Inteendeel, die oomblik dat hulle van liefde begin praat het, het sy alle belangstelling verloor. Dit was dan gewoonlik ook die einde van die vriendskap.

      Haar vriendskap met Bill Retief het egter soos ’n blink draad deur haar lewe geloop. Het sy Bill lief? wonder sy nou. Kan ’n mens wat so diep seergemaak is soos sy, ooit ’n tweede keer liefkry? Sy weet nie. Sy weet net sy hou van hom en dat sy vriendskap haar lewe verryk het. Sy is seker hulle sal gelukkig wees as hulle trou. En Bill sal ’n skans wees teen eensaamheid en die ouderdom; hy sal haar die sekuriteit gee waarna sy tog ook maar verlang.

      Is dit wat sy wil hê? Sy weet nie. Sy voel vanaand meer verward as ooit vantevore. Sy het tyd nodig om te dink.

      Sy behoort te werk, maar dit is te warm en bedompig in die woonstel en sy is nie baie lus vir haar eie geselskap nie. Sy besluit om haar vriendin Rina van Aswegen te nooi om saam met haar na ’n opvoering toe te gaan.

      Rina aanvaar haar uitnodiging gretig, so gretig dat Ria wonder of sy ook moeg is vir haar eie geselskap.

      Op pad na haar motor onder in die straat gaan sy eers by haar posbus langs. Vandat sy begin skryf het, lewer die pos dikwels iets interessants op: ’n tjek, ’n brief van ’n bewonderaar, ’n versoek om ’n verhaal of ’n artikel vir die radio. ’n Mens weet nooit nie.

      Daar is net twee rekenings en ’n brief in ’n koevert sonder ’n seël. Iemand moes dit in haar posbus gegooi het. Sy herken nie die handskrif nie en bestudeer die koevert nuuskierig, maar daar is nie nou tyd om die brief te lees nie. Sy bêre dit in haar aandsakkie.

      Die toneelstuk was amusant en sy was in ’n heelwat beter bui toe sy laat die aand weer terugkom in haar woonstel. Sy is besig om haar hare te borsel toe sy weer van die brief onthou en dit uit haar aandsakkie haal. Sy gaan sit op haar bed, skeur die koevert oop en skrik toe sy sien dit kom van Cynthia Retief. Haastig begin sy lees

      Ek wou jou kom sien, Ria, begin die brief, en self met jou gesels oor die dinge wat ons albei so diep raak, maar op die ou end het my moed my begewe. Miskien sal dit makliker wees om te skryf.

      Bill het jou seker gesê dat ek ingewillig het om ’n tyd lank na my ouers toe te gaan. Hy sê hy voel al geruime tyd voel dat ons huwelik ’n mislukking is. Hy dink as ons ’n tyd lank weg van mekaar is, sal dit ons albei ’n kans gee om objektief oor die saak te dink en te besluit wat vir ons almal die beste is.

      Ek het ingestem, nie omdat ek aan my eie gevoelens twyfel nie – ek het Bill lief en as ek hom moet verloor, sal dit vir my die einde van alles wees – maar slegs omdat hy daarop aandring. Ek weet ek skiet in baie opsigte te kort aan Bill se hoë verwagtings. Ek stel belang in sy werk, maar om drie woelige kinders sonder hulp groot te maak – te versorg, te verpleeg en op te voed – en na die huishouding te kyk, neem al my tyd in beslag. Ek is saans eenvoudig net te moeg om ’n intelligente gesprek te voer of die boeke en manuskripte te lees wat hy huis toe bring.

      Ek het gedink ek sal later, as die kinders ’n bietjie minder aandag nodig het en ek nie meer so moeg is nie, probeer om vir hom die maat te wees wat hy graag wil hê. Maar nou het die kinders my nodig en hulle kom tog eerste, nie waar nie? Ek hoop maar Bill sal ons mis terwyl ons weg is en besef dat ’n mens sekere verantwoordelikhede in die lewe het wat jy nie so maklik van jou kan afskuif nie.

      Dis wat ek jou wil vra, Ria: Dink twee maal voor jy Bill van ons wegneem. Jy het so baie, maar hy is al wat ons het. Ons het hom lief en ons het hom nodig. Jy kan nie jou geluk op die hartseer van ander bou nie. Bill dink miskien nou dat hy jou liefhet, maar hy het sy kinders ook lief – hulle is deel van hom – en eendag sal hy jou nog verwyt dat jy hom van hulle beroof het. Want wat ook al gebeur, my kinders gee ek nooit op nie.

      Ek gaan sodra ek die nodige reëlings getref het. Of ek ooit weer terugkom, hang van Bill af. Maar dit hang die heel meeste van jou af.

      Ria se gesig is wit toe sy die brief klaar gelees het. Die eenvoudige, dapper woorde kom uit die diepte van ’n seer, verslae hart en verander die prentjie heeltemal. Toe


Скачать книгу