Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit
wees wat in alle opsigte jou gelyke is. En as dit dan moet gebeur dat jy nie so ’n man raakloop nie, het jy nog baie om voor dankbaar te wees. Daar is altyd kompensasies. Jy het jou skryftalent en jou liefde vir boeke, musiek en die teater. Dié dinge kan ’n mens se lewe vol en interessant maak.”
“Jy klink nou soos oubaas Krogh, die Duitser,” sê sy met ’n effense glimlag. “Hy het eendag vir my gesê as alles soos ’n kaartehuis om jou ineenstort, gaan sit jy nie en bekla jou lot nie. Jy gaan eenvoudig op ’n nuwe ontdekkingsreis. Dis wat ek probeer doen.”
“Hy klink na ’n merkwaardige man. Ek sal hom graag eendag wil ontmoet. Ek dink dis baie verstandig van jou om ’n rukkie weg te gaan en ek hoop jy sal daar in die Karoo nie net stof vir ’n goeie storie kry nie, maar ook vrede in jou hart. Gaan jy met die trein of die motor?”
“Ek dink met die trein – ek wil dit liewer nie met my motortjie op so ’n lang pad waag nie.”
Hy haal ’n koevert uit sy sak en gee dit vir haar. “Ek weet nie hoe jou geldsake staan nie, maar hier is ’n klein bydrae tot die vakansie.”
Sy maak die koevert oop en haal geldnote daaruit. Sy kyk na hom en trane glinster op haar wimpers.
“Dankie, boet, maar dis net ’n lening.”
“Dis nie ’n lening nie, dis ’n present. Ek hoop jy sal gereeld vir my skryf en my vertel van die mense en van tant Sophia Maria. Dis mos sy wat vir ’n weddenskap alleen met die koets na ’n naburige dorp gery het, nie waar nie?”
“Die einste een. Sy het blykbaar baie talente gehad – sy het ook baie mooi gesing en toneel gespeel. Sy was drie maal getroud, maar het nooit kinders gehad nie. Haar derde man, ’n sogenaamde Engelse lord, het later weggeloop met ’n klomp van haar geld en juwele.”
“Dan het sy ook maar moeilikheid met die mansmense gehad,” sê hy glimlaggend. Ernstiger vervolg hy: “Geniet die kuier, Ria, maar ek wil jou ’n laaste stukkie raad gee. Onthou, die mense daar op die platteland is konserwatiewer as die mense in die stede. Moet hulle nou nie onnodig skok met jou kleredrag en gewoontes nie.”
Ria lag. “Jy bedoel nou my langbroek, my sigarette en my rooi naels en mooimaakgoed? My liewe broer, ek durf nie my lesers teleurstel nie. Ek kom van die bose stad af, is ’n geskeide vrou en het so pas ’n intrige met ’n getroude man gehad – is dit nie al genoeg om my te verdoem nie? Laat ek die mense tog iets gee om oor te praat!”
Sy sien dat sy hom seergemaak het en sê sagter: “Ek is jammer, boetie, jy weet ek spot sommer. Ek belowe jou ek sal nie uit my pad gaan om die familie te skok nie, maar ek is wat ek is, en ek is nie van plan om my anders voor te doen nie. In elk geval, ek dink jy onderskat die platteland en die familie. Ek is seker hulle is glad nie so eng en bekrompe soos jy dink nie.”
“Ek het nie gesê hulle is eng en bekrompe nie. Dis net – hoe sal ek dit stel? – dat ’n mens soms uit respek vir ander liewer nie dinge doen wat jy weet aanstoot sal gee nie. Maar gaan jou gang, jy sal tog nie na my luister nie. Sê baie groete vir die familie – ek hoop om ook eendag met hulle te kom kennis maak. Terloops, weet Pa van jou planne?”
“Ek sal vir hom skryf dat ek Donkerfontein toe gaan om stof vir ’n verhaal te soek. Ek is ook nie van plan om vir Albert meer as dit te sê nie. Ek kan dink wat sy reaksie sal wees as ek vir hom die hele storie moet vertel.”
Sy kyk na hom en glimlag effens. “Ek het geweet jy sal verstaan, al keur jy dit nie goed nie, en dat jy my goeie raad sal gee. Nie dat ek belowe om dit te volg nie. Ons sal maar sien wat die toekoms inhou.”
“Ek is seker as jy tyd gehad het om nugter oor die hele saak te dink, sal jy self besef wat die regte ding is om te doen. Wat word van al jou leerlinge terwyl jy weg is?”
“Ek het ’n vriendin wat maar te gretig is om hulle te neem. Haar man is siek en in die hospitaal. Die ekstra inkomste sal baie welkom wees vir hulle. Al een wat ek regtig sal mis, is oubaas Krogh. Ek is seker ek het baie meer van hom geleer as wat ek hom ooit kon leer.”
Danie wou nie vir ete bly nie; Greta en die kinders het vir hom gewag. Sy het bo van die balkon af vir hom tot siens gewuif en daar was ’n warm gevoel in haar hart. Sy is bly sy het Danie in haar vertroue geneem, dis of die las in haar hart klaar so ’n bietjie ligter is.
Later die aand het mevrou Stark haar kom sê dat Issie oorlede is. Die dokters het die hele dag geveg om haar lewe te red, maar tevergeefs.
Issie is dood! Ria het die ouer vrou geskok aangestaar en daar was ’n naar gevoel op die krop van haar maag.
“Waarom het sy dit gedoen?”
Mevrou Stark haal haar skouers op. “Ek hoor nou hulle sê die man wat altyd vir haar kom kuier het, is getroud – dat hy glad nie geskei is nie. Maar ons sal seker nooit weet wat in haar kop aangegaan het nie. As sy maar net een van ons in haar vertroue geneem het.”
Arme mens, dink Ria. Het eensaamheid, ’n hunkering na ’n bietjie warmte en liefde, haar in ’n situasie laat beland waarvoor sy nie opgewasse was nie en waaruit net ’n botteltjie slaappille haar kon red? Sy dink aan haar vriendskap met Bill Retief – ’n mooi woord, vriendskap, dink sy wrang, dit bedek so baie sondes – en sy wonder hoe dit moontlik is dat sy nooit die afgrond voor haar voete gesien het nie.
Van haar balkon af kyk sy na die wolkekrabbers om haar. Dié tyd van die aand is die meeste vensters verlig en dis ’n goue sprokieswêreld van lig en lewe. Hoeveel van die mense agter daardie verligte vensters is werklik gelukkig? dink sy. Geluk is nie die belangrikste ding nie, het Danie gesê. Jy moet met jouself kan saamleef. Is dit waarom sy snags nie meer kon slaap nie, waarom haar werk nie wou vorder nie, waarom sy die laaste tyd so rusteloos en gespanne is? Omdat sy diep in haar hart geweet het sy doen verkeerd?
Weerlig slaan skielik in die weste uit en sy hoor die gerammel van donderweer bo die geraas van die stad. Dalk kom daar uiteindelik verligting van die hitte.
Sy het tot laat gewerk om haar laaie en kaste op te ruim en die woonstel skoon te maak. Sy het ’n paar dringende briewe geskryf – een aan Cynthia, een aan Bill en een aan haar pa om hom van haar planne te vertel – en toe gestort, twee slaappille gedrink en in die bed geklim. Sy wou nie vannag wakker lê nie.
Toe sy die volgende oggend wakker word, was die strate nat en die lug vars en skoon. Sy het so diep geslaap dat sy nie eens die reën gehoor het nie.
Twee dae later is Ria saam met Mabel Stark en die opsigter na Issie se begrafnis toe. Daar was maar net ’n handjie vol mense. ’n Broer wat in Kaapstad woon, is opgespoor en kon die begrafnis bywoon, maar van Issie se vriend was daar geen teken nie. Op haar kis het daar ’n pragtige gerf roosknoppe gelê. Daar was nie ’n kaartjie by nie en Ria het vermoed dit kom van hom af.
’n Gerf roosknoppe om dankie te sê en … tot siens.
Die opsigter het Ria en Mabel Stark en Issie se broer genooi om ná die begrafnis te kom tee drink sodat hulle kon besluit wat met haar meubels en ander besittings gedoen moes word. Ernest Geldenhuis was ’n klein, skraal mannetjie, vaal en sonder veel persoonlikheid. Hy het senuweeagtig voorgekom en was dankbaar vir hulle hulp.
“Ek kan dit nog nie glo nie,” het hy gesê. “Sy het ’n goeie salaris verdien. Sover ek weet, het sy nie finansiële probleme gehad nie. Maar Issie was van jongs af anders – ’n mens het nooit geweet wat in haar kop aangaan nie. Ons het ons ma vroeg verloor en toe my pa weer getroud is, het sy by ’n suster van my ma gaan woon. Sy was nie gelukkig daar nie, maar daar was nêrens anders waarheen sy kon gaan nie. Nadat sy begin werk het, het sy nooit weer teruggegaan nie.”
Nadat hulle tee gedrink het, is hulle saam met Ernest Geldenhuis na Issie se woonstel toe. Die woonstel was netjies, elke ding op sy plek. Dit was asof Issie net weg was en enige oomblik kon terugkom. Hulle het hom gehelp om haar klere uit te soek. Die meeste sou na ’n liefdadigheidsorganisasie toe gaan en hy sou reël dat die paar meubelstukke na ’n tweedehandse handelaar geneem word.
Die volgende dag is Ernest Geldenhuis terug Kaap toe, en nog dieselfde middag is Issie se woonstel verhuur. ’n