Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit
het die volgende oggend gebel. Hy het haar brief gekry en wou met haar gesels.
“Waaroor wil jy gesels, Bill?” vra sy ontsteld, maar tog bly dat hy gebel het. “Ek het mos vir jou geskryf …”
“Ek weet wat jy geskryf het. Jy het geskryf jy gaan weg om materiaal vir ’n boek in te samel en weet nie wanneer jy terugkom nie.”
“Dis reg. Glo jy my nie?”
“Ek glo jou, maar ek wil weet wat gaan aan. Ria, ek moet jou sien voor jy weggaan.”
“Liewer nie, Bill. Ek hoop om binne ’n dag of twee te vertrek en ek het nog ’n duisend dinge om te doen.”
“Ek sal jou nie lank ophou nie. Asseblief, dis belangrik. Sal jy vanmiddag ná vyf tuis wees?”
Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Ek sal hier wees.”
Sy sit die telefoon ontsteld neer. Sy sou verkies het om Bill nie weer te sien voor sy weggaan nie, maar sy is hom seker ’n verduideliking verskuldig.
Bill het gekom en hulle het ’n rukkie gesels.
“Is dit na aanleiding van wat ek nou die middag vir jou gesê het – van my en Cynthia – dat jy besluit het om weg te gaan?” het hy haar reguit gevra.
“Dit is, ja,” het sy net so reguit geantwoord. “Ek voel skuldig en ongelukkig as ek dink ons vriendskap het bygedra tot die verwydering tussen julle.”
“Ek het jou gesê ons vriendskap het niks daarmee te doen nie. Ek verstaan jou nie, Ria, ek het gedink jy hou van my ook.”
“Ek hou van jou, Bill, ek hou baie van jou,” het sy eerlik geantwoord. “Jou ondersteuning het deur die jare baie vir my beteken en ek het jou geselskap geniet. Maar ek het myself nooit afgevra waarheen dit alles lei nie. Dit was makliker en lekkerder om maar net met die stroom saam te dryf. Die nuus dat Cynthia jou verlaat, het my uit my droom laat wakker skrik en my gedwing om my eie lewe weer in oënskou te neem. Ek voel nou net dat ek ’n rukkie uit die stad wil wegkom. Ek wil tyd hê om na te dink oor dinge en weer helderheid in my gemoed te kry. Ek beplan al jare lank om Karoo toe te gaan om vir my ma se mense te gaan kuier en inligting te kry vir ’n storie wat ek wil skryf. Ek dink dis nou die ideale tyd om te gaan.”
“As jy so oor die saak voel, het ek niks verder te sê nie,” sê hy koud. “Laat my net weet waarheen ek die proewe van Blom van die Berge moet stuur. Hulle sal binne ’n week of twee gereed wees.”
Daarmee het hy tot siens gesê en vertrek.
Ek is jammer Bill is kwaad, het sy gedink, maar miskien is dit ook maar beter so. Dis ook beter as hy nie weet hoe baie sy van hom gehou het nie … en nog altyd hou.
Hy het haar tot haar verligting nie weer gebel nie, maar toe sy twee aande later op die stasie kom om haar trein te haal, was Bill daar om vir haar tot siens te sê.
“Hoe op aarde het jy geweet ek gaan vanaand weg?” het sy verbaas gevra, maar hy het net geglimlag. Hy het vir haar tydskrifte gebring, en ’n groot doos sjokolade met die komplimente van die uitgewers.
“Ek kon darem nie toelaat dat jy weggaan sonder dat ek jou weer sien nie,” het hy sag gesê net voor die trein vertrek. “Ek wou net vir jou sê: noudat ek tyd gehad het om ’n bietjie na te dink, dink ek dis miskien ’n goeie idee dat jy weggaan. Gaan soek vir ons ’n lekker storie en wanneer jy terugkom, gesels ons weer. En as jy tyd het, skryf so af en toe vir my.”
Hy het haar nader getrek en liggies op die wang gesoen.
Ria was bly toe die trein uiteindelik die donker nag inry. Hy was so gaaf, so sjarmant en bedagsaam, dat sy opnuut vertwyfeld voel.
Agter haar verdwyn die stad se liggies. Nog net die goue gloed lê teen die naghemel. Uit haar handsak haal sy ’n telegram wat sy net voor eenuur die middag gekry het. Vir die soveelste keer lees sy wat daarin staan:
KAROO BITTER DROOG EN WARM. KOM LIEWER APRILMAAND. GROETE. PAUL THERON.
Ek is jammer, Paul Theron, dink sy half geamuseerd, half vererg, maar hier kom ek. Al my reëlings was getref en ek kon onmoontlik op die laaste nippertjie al my planne verander.
Hoofstuk 3
Op Towerwater het Ria se brief ’n hele opskudding veroorsaak. ’n Buurman het die Maandagoggend hulle pos uit die dorp gebring. Paul was op die lande besig en sy suster, Mona, het die briewe, koerante en tydskrifte vinnig deurgekyk, gretig om te sien of die pos enige verrassings oplewer. Sy kyk fronsend na Ria se brief en lê dit dan eenkant.
“’n Brief vir Paul uit Johannesburg,” sê sy vir haar stiefma. “Dis ’n vrou se handskrif. Wie sou dit wees, wonder ek?”
Emily Theron kyk op van die koerant wat sy deurblaai, getref deur die klank in Mona se stem. Afkeuring? Agterdog? “Seker maar ’n bedelbrief, of so iets,” sê sy kalm.
“’n Troukaartjie van die Grovés,” kondig Mona aan. “Hildegarde trou twintig Maart.” Sy gooi die troukaartjie ergerlik opsy. “Twee blote kinders. Hildegarde is agttien jaar oud en Piet Erwee nog nie mondig nie. Hoe kan die Grovés so iets toelaat?”
“Hulle is ’n bietjie jonk, ja, maar Piet boer al die laaste twee jaar alleen op Jakkalsfontein en ek kan my indink hy is haastig om te trou. Dis ook nie ’n halsoorkop affêre nie – die Grovés en die Erwees is al jare lank huisvriende en daar is geen rede waarom dit nie sal uitwerk nie.”
“Jy sal ook vir die duiwel self voorspraak maak,” sê Mona ongeduldig.
Emily Theron antwoord nie. Daar is seker ’n rede vir die kind se buierigheid, dink sy. Miskien het sy pyn, miskien beny sy diep in haar hart vir Hildegarde wat trou met die man wat sy liefhet, ’n voorreg wat haar nooit beskore sal wees nie.
Sy kyk na Mona en haar oë is sag. Daar is dae dat Mona haar geduld kwaai beproef, maar as sy dink aan die moeilike jare wat hulle saam deurgemaak het, aan die pyn en teleurstelling wat Mona van kleins af ken, versag haar hart altyd weer.
Mona is nou agt-en-dertig, maar sy lyk baie ouer. Die vaal hare waaruit alle lig en lewe lank reeds verdwyn het, is so geknip dat dit met die minimum moeite netjies gehou kan word, en die lang rok en lomp skoene sal jare by enige vrou se ouderdom voeg. Daar is skoonheid in die suiwer lyne van haar gesig en die mooi blou oë, maar bitterheid en selfbejammering het haar van almal vervreem wat hulle vriendskap vir haar sou wou gee.
Emily onthou nog goed toe sy Mona die eerste keer gesien het. Mona was omtrent vyf jaar oud, ’n fraai dogtertjie met pragtige blou oë en diepgoue hare, toe Emily se pa as bywoner Towerwater toe gekom het. Mona het die dag ’n blou syrokkie aangehad en Emily het gedink sy lyk soos ’n prinsessie uit een van die sprokies. Emily was destyds vyftien en sy het graag naweke en vakansies wanneer sy tuis was met Mona en klein Paultjie gespeel en na hulle gekyk. Die swaar depressie wat haar pa en so baie ander boere se ondergang was, het liggies oor Towerwater gegaan. Daar was seker ook nie kontantgeld nie en daar was seker ook dikwels bekommernis en onrus – die droogte het daar ook geknel – maar in die mooi huis met sy groot, skaduryke tuin het daar geluk en vrede geheers. Almal wat op Towerwater gekom het, het dit dadelik aangevoel.
George Theron en sy vrou was albei besonder gaaf teenoor die bywoner se dogter en sy was altyd welkom in hulle huis. Eileen Theron was ’n begaafde vrou en het mooi gesing en klavier gespeel. Dit was vir Emily ’n voorreg om soms hulle huislikheid en geluk te deel.
Dit was George Theron wat daarop aangedring het dat Emily matriek maak en wat haar later op eie koste weggestuur het sodat sy haar as verpleegster kon bekwaam.
Het hy miskien toe al ’n voorgevoel gehad van die beproewings wat vir hom en sy gesin gewag het? Van die rol wat die bywoner se dogter in sy lewe en sy kinders se lewens sou speel? Sy glo nie. As ’n mens so gelukkig is soos wat hulle was, dink jy nie dat die dag van môre miskien verdriet kan bring nie.
Mona was agt en Paul vyf toe Eileen Theron met die geboorte van haar derde kind oorlede is. George Theron het nog