Helse manier van koebaai se. François Bloemhof
hê ons moet hom aankeer?”
“No,” verras Sharpe hom.
“Wat dan?”
“I want you two to protect me.”
4
Horlosie
Dis een-derde horlosie en twee-derdes speelding. Steyn se oog val outomaties daarop toe hy sy hand lig om die deurknop te draai, al weet hy gewoonlik vanself tot op die minuut hoe laat dit is. 15:34:37
Hy glimlag. Dis nou sy tipe bykomstigheid, gelaai met ekstras. ’n Week of wat gelede is elke agent in Die Fabriek daarmee toegerus. Hy het opgemerk Sharpe en Lana dra ook hulle s’n, die model vir vroue ietwat fyner as dié vir mans, meer stylvol.
Hy kan net dink hoe ingenome Lamla met so ’n speelding sou gewees het; hy kon ure lank gadgets sit en kleinkry. Steyn onderbreek die gedagte voordat die man se gesig dalk te duidelik voor hom opdoem, probeer sowel die goeie as die pynlike herinneringe aan sy vriend en mede-agent wegvee. Lamla “Lucky” Ngwema, dood in die uitvoering van sy pligte. In landsbelang. Terwyl hy eintlik maar net ’n interessanter lewe wou hê. Nes hý.
Ek het dit nou, herinner Steyn homself. Soms glo ek ek het dit vir ons albei se part. Dis ’n veel geriefliker lewe ook, en hy kyk terug na die smaakvolle (so hoop hy) skilderye en duur (so weet hy) tapyt. Dis nie ’n luukse woning nie, maar hy sou baie duurder kon bekostig; hy verkies egter om hier te bly omdat hy nie meer as dit nodig het nie en deftige woonbuurte hom irriteer.
En – laaste oorweging – hoekom groter gaan as dit net jy is?
Hy verwens homself omdat hy altyd daardie gevaarselement soek, want hier is dan so baie afleiding, netjies bymekaar binne ’n klompie vierkante meter. Die mees aandagafleibare kind sou homself ’n dag lank hier besig kon hou. Op tye wanneer hy soos daai aandagafleibare kind voel en dié ruimte niks meer bied wat interessant is nie, hoef hy net op die rug van sy Kawasaki Cruiser te klim en te ry na waar die branders of kruine wink. Dis ’n wêreld van opsies en enigeen wat glo geld kan nie geluk koop, of die meeste van die tyd, of iets wat vir geluk deurgaan nie, het net nie die regte begroting nie.
Opsie nommer een op die gadget-horlosie is vanselfsprekend om die tyd te lees, met daarby ’n stophorlosie, die datum en dies meer. Die ander opsies kry jy nie op winkelhorlosies nie.
Al het hy dit reeds oor en oor getoets, kan nog ’n keer nie kwaad doen nie en hy sê: “Testing, testing, one-two-three,” terwyl hy sy linkerhand se middelvinger styf maak en twee maal inwaarts buig.
Elke funksionaliteit verg ’n ander beweging – jy wil mos nie, as jy stilletjies ’n opname wil maak, ’n gas uitskiet wat iemand aan die slaap sit nie. (Vir dié aksie, as jy vermoed jy gaan dit gebruik, moet jy voor die tyd ’n teenmiddel neem as jy nie self uitgeboul wil raak nie.) Die gas word vrygelaat as jy jou pinkie wikkel, twee maal, uitwaarts. Dit kos oefening en dissipline, want jy wil nié net ’n terloopse handbeweging uitvoer en dan gebeur daar iets nie.
Oefening en dissipline … Die beste speletjies verg dit almal.
’n Ander funksionaliteit het hy gisteraand verken, toe die bure se swart, arrogante wyfiekat weer ’n draai kom maak het. Haal jy die horlosie af, kan jy die rugkant oplig en lê daar drie klein pleistertjies binne-in. Steyn het nou nog net twee daarvan oor, want hy het die haartjies agter die kat se linkeroor oopgestryk en een teenaan die vel vasgeplak. Liggaamshitte, dis wat die tracking device nodig het om te kan werk. Toe die kat padgee, het Steyn homself vermaak deur haar bewegings in die buurt te volg op die straatplan wat hy met die druk van ’n knoppie op die horlosie se gesig opgeroep het. Daar was twee rooi kolletjies, een vir homself wat bewegingloos gebly het, en een vir haar waar sy eers by die dubbelverdieping op die hoek besoek afgelê het, toe by ’n huis een blok verder waar hondegeblaf oombliklik opgeklink het, ensovoorts, ensovoorts.
Groot pret. Vanoggend vroeg het die kat weer kom inloer en kon Steyn die pleistertjie agter haar oor aftrek.
Wat die ouens nie nog sal uitdink nie … Hy wil net nooit afhanklik raak van sulke elektroniese slimmighede nie. Jy moenie vergeet jou kop en lyf is jou belangrikste bates nie.
Oor tien minute moet hy eers vir Clive Sharpe en dan vir Lana gaan oplaai, eersgenoemde by ’n winkel waar hy aangedring het Steyn hom moet los. Ja, hulle moet so gou moontlik padgee en hy wat Sharpe is kan beslis nie eers na sy woning terugkeer nie – want wie weet wat wag dalk daar op hom – en net so min sal dit veilig wees om met sy eie motor te ry; maar nee, hy moes opsluit eers ’n paar dinge koop voordat hulle kon vertrek. En Lana moes gaan inpak, net soos Steyn pas hier ingepak het.
Lana … Hy voel lus en sug. Hier gaan hulle weer, hy en daardie meisiemens. Kan hulle dan net nie van mekaar ontslae raak nie?
“Why us?” wou sy dadelik weet in Sharpe se kantoor, en Steyn kon die subteks hoor: Hoekom moet ek weer met hierdie man saamwerk?
Steyn wou self weet hoekom juis hulle, maar die antwoord was logies. Hulle het dan al twee keer baie suksesvol kragte saamgespan.
“If there are two people I would trust with my life, it’s you.”
Selfs al haat een van hulle jou? vra hy homself af. Hy mag die nodige ervaring en vaardighede hê. maar as hy Sharpe was, het hy nie vir hóm gekies nie. Haat is dalk ’n sterk woord, maar hy kan Sharpe nie verdra nie en die gevoel is tog wederkerig.
Dit het hom laat wonder – dalk is alles nie pluis nie? Dalk het Sharpe daardie moordpoging versin. Dalk het geen bus hom amper vertrap nie. Jy kan maklik self ’n paar skrape oor jou handpalm aanbring.
’n Lokval? Dit sal ’n baie omslagtige lokval wees, maar Sharpe het hom mos reeds op Magrieta Bakkes se plaas amper sy lewe gekos. En wat van Lana?
Sharpe het ’n ogie op haar: miskien wil sy dit nie raaksien nie, maar Steyn kan dit nie miskyk nie. Woede en vernedering by Sharpe omdat sy hom nie wil hê nie, en nou moet sy ook boet? Hoe weet jy hoe werk mense se koppe? As hulle Sharpe moet beskerm, moet hulle naby hom wees. Die ou ding van keep your friends close, but your enemies closer.
Maar nee. Iets sê vir hom hier is wel ’n ander teenwoordigheid.
Schorpioen. Dit was net ’n woord wat soms opgeduik het in verslae wat hy interessantheidshalwe gelees het. Dit het niks met hom te make gehad nie, dit was amper fiksie, want sulke verslae is wat hy lees in plaas van boeke. Altyd ’n uitbreiding van kennis, altyd, hy hou nooit op met werk nie.
Nou ja, dis tyd om te ry. Hy moet gaan kyk watter mal rigting sy lewe nou weer inslaan. Met ’n wrang glimlaggie loop hy uit, sluit die voordeur en wonder, nie vir die eerste maal nie: Maak ek hierdie deur ooit weer oop?
5
Helse manier
Die lem doen sy werk. Die vel is reeds glad, nou word enige haartjies kortgeknip wat dalk nog iets hier wou begin. Kirts-kirts maak die outydse skeermes se skerp snyvlak en hy kyk in die spieël hoe dit vorder, silwer flitse teen die ligbruin van sy vel.
Nie regtig ligbruin nie. Hy het ’n interessante velkleur, meen hy, soos tee met baie melk by. Hy het nooit gehoop dat sy ma vir hom sou kon sê wat sy pa – of noem hom eerder sy biologiese vader – se nasionaliteit was nie, want sy het haar deel vir wêreldgelykheid gedoen deur met verteenwoordigers van seker elke rassegroep wat jy kry tussen die lakens te vertoef.
Die lem se skraapwerk, hy hou van die geluid. Skoon en klinies. Beslissend.
Hulle is in die sitkamer, want hy hou nie van ’n badkamer se ingeperktheid nie. Hy kyk in die spieël na die meisie langs hom. So mooi. Skraps geklee, die kort wit katoenbroekie en geel toppie sonder bra. Sy is Indies; geen twyfel oor háár afkoms nie, by haar is daar geen vermenging nie. Sy trek die skeermes amper eerbiedig oor sy vel. Só is sy met alles wat sy doen: deeglik. Hy het haar goed geleer en sal dit nog beter doen, dit vat net tyd. Sy is die ideale leerling, sy wil alles weet. Onderhorig, maar gee vir haar ’n taak wat mense met skynbaar sterker persoonlikhede sou laat sidder en sy voer dit uit sonder vraag of klagte.
Sy