Helse manier van koebaai se. François Bloemhof
sy die silwer implement eindelik laat sak en knik: nie ’n tevrede knik nie, net ’n knik. Sy moet nooit te seker wees dat sy hom tevrede stel nie, dit kan nalatigheid aanwakker. Hy bly staan sodat die meisie sy kop met ’n handdoek ligweg, amper sensueel kan afvee – net ámper sensueel, want hy sou nie meer van haar duld nie, mooi ofte nie.
Laat niemand te na aan jou kom nie. Dit het hy vroeg genoeg besef.
Twee jaar gelede het die logistiek eindelik net te veel geraak en het hy besef hy het iemand soos sy nodig. Hy sou natuurlik verkies het om aan te hou om op sy eie te werk, slegs op homself aangewese, maar soms moet iets op ’n sekere plek gebeur terwyl hy elders besig is. Nie eens die berugste huurmoordenaar ter wêreld kan op dieselfde tyd op meer as een plek wees nie.
Hy betrap homself dat hy wonder: Is hy wel die berugste?
Daar is geen manier om seker te wees nie, want die bestes adverteer nie. Hy het aanvanklik, maar ook net omdat dit nodig was om sy dienste onder die regte persone se aandag te bring, dié wat bereid is om iemand ruimskoots daarvoor te vergoed as hy hul bestaan veraangenaam deur ongewenste elemente te neutraliseer.
Daar is waarskynlik heelwat meer van sy soort diensleweraar werksaam as wat mense graag wil glo en die meeste van hul resultate kan vir ongelukke aangesien word.
Net soms pleeg hy ’n ongeluk. Hy verkies iets meer …
Meer persoonliks.
En hy het ’n sin vir die dramatiese.
Die kaalkopman wat na hom terugstaar se voorkoms is sonder twyfel dramaties. Sy skedel het ’n fassinerende vorm, reken hy, sommige hoeke fors, party kurwes weer delikaat. Dit sou ’n sonde wees om dit met hare te bedek soos dit in sy vroeë jare was, maar hy laat skeer dit nie om estetiese redes nie, eerder sodat hy geen hare op ’n moordtoneel kan agterlaat nie. Hy laat géén teken nie. Daarby die sterk, amper skerp gelaatstrekke: die effens geboë neus en ’n mond met ’n ferm lyn en wangbene wat hy aan sy biologiese vader te danke moet hê. want sy ma s’n het ’n mens nie opgeval in haar pap gesig nie.
Lenig. Hy bestudeer sy kaal bolyf. Dit is alles natuurlike spiere; hy het nog nooit geoefen om dit te kry nie, al is dit voor die hand liggend dat hy moet fiks bly.
“Geert …”
Hy kyk na Feroza en knik: sy het toestemming om te praat.
“Are we going to be here for a long time?”
Hy skud sy perfek gevormde, perfek geskeerde kop en sy vra nie verder uit nie. Hy weet sy is verveeld; hulle is al twee dae hier in Groenpunt. Die huis is duur, want hy huur altyd net die beste. Volledig ingerig en stofvry. Privaatheid was egter die vernaamste oorweging, want bo en behalwe die feit dat nuuskierige oë ongewens is, werk die teenwoordigheid van te veel mense soos besoedeling op jou psige in en verstomp jou denkprosesse. Feroza besef dit nog nie behoorlik nie, maar sal later. Hy moet onthou sy is skaars sewentien, minder as die helfte van sy ouderdom.
Hy was jonger as dit toe hy sy eerste mens doodgemaak het.
Hy kan weer haar gesig sien, die oop mond vol tandepasta, die pupille wat groter word …
Feroza gaan sit op die leerrusbank. Sy gooi haarself nie meer so op meubels neer soos kort na hul ontmoeting nie, sy weet hy hou nie daarvan nie. In alles moet daar beheersing wees. Iemand in sy beroep – nou ook haar beroep – wat dít nie het nie, kan solank sy grafsteen gaan uitsoek. Met dissipline het hy gekom waar hy is, en met dissipline bly hy daar.
Wêreldreisiger. Dit is hoe hy homself soms beskou.
Hy beskou haar lyfie in die noupassende toppie en broekie. Daar is tog tye dat hy wens hy was soos ander mans wat sou gebruik maak van dié rykdom reg onder sy neus. Maar hy benut haar tog op ’n baie meer betekenisvolle manier: hy gee vir haar talente en slyp dit, maak van haar ’n persoon wat sy nooit andersins sou kon wees nie.
As hy die dag nie meer daar is nie, waarskynlik omdat hy in die loop van sy pligte uitgeskakel is, sal Feroza sy werk kan voortsit.
Geert Boonstra. Dit is die naam op sy paspoort, of ten minste die een waarmee hy Kaapstad toe gevlieg het. Hy het verskeie paspoorte, in elke land is hy iemand anders. Waar hy en Feroza ook al gaan, dring hy daarop aan dat sy hom aanspreek op die naam wat hy in daardie land gebruik.
Sy weet nie wat sy doopnaam is nie. Hy moet soms hard dink om te onthou. Name? Identiteite? Dit is hoede wat hy opsit. Of soos skoene wat jy moet dra voor jy ’n sekere gebou mag binnegaan. Hy hou van verandering, dit keer dat jy stagneer. Dit is wel nie meer so maklik soos in die ou dae om vals paspoorte te kry nie; nou is daar onopsigtelike kepies en digitale watermerke en word dit van ’n spesiale soort papier vervaardig. Moeiliker, maar ver van onmoontlik af, want die wonderlike ding omtrent ’n wêreld wat al te veel resessies en rampspoed geken het, is dat enige ding onder die son iewers gekoop kan word.
“Geert …”
“Yes.”
“Can I make you some tea?”
“Do you want some?”
“Not now. But can I make you some?”
Geert Boonstra glimlag. Sy lyk so ernstig. Sy wil altyd so graag die regte ding doen. Maar sy maak eintlik die aanbod omdat sy nie langer kan stilsit nie. Sy wil vier blokke hiervandaan wees, onder in Groenpunt se hoofstraat en nog ’n goeie ent verder, om by Seepunt se promenade die see te kan sien en haar lyfie son te gee.
“That would be nice.”
So grasieus as wat sy gaan sit het, kom sy orent, nie met die sprong wat hy weet sy wil gee nie. Sy loop met so ’n ligte tred dat sy nie ’n geluid op die plankvloer maak op pad kombuis toe nie.
Geert Boonstra bly voor die sitkamerspieël staan en soek foute aan sy lyf, en vind dit nie. Eendag sal ’n spieël dalk sy vyand word, wanneer hy tekens van verval daarin bespeur, maar dit is nie nou nie.
Hy kan ’n jong seun onthou wat voor ’n spieël staan en huil het. ’n Seun wat verneder was nadat klasmaats hom gespot het oor wat sy ma alles doen. Hulle was altyd in ’n groep; só werk dit mos. Dit was in die dae toe hy swakker was as ander seuns van sy portuur, toe hy homself nog nie so goed geken het nie, sy gebrek aan selfvertroue aangewakker deur sy ma se gebrek aan belangstelling. Vir mans het sy baie tyd gehad, vir hom min.
Die seun het ophou huil, en gegroei, en kort verby sy vyftiende verjaardag besef dat hy nie sy sogenaamde klasmaats almal gelyk hoef aan te durf nie. Hy het op ’n middag een van die spotters ingewag en so geslaan dat vyf tande uit was.
Tóé sien sy ma hom raak, toe die skoolhoof haar inroep. Skielik was hy ’n probleem, hierdie seun wat regop gekom het nadat hy so lank onder spot gebuk was. Hy het verby die grense begin beweeg wat ander vir hom gestel het, en in ’n wêreld met rigiede riglyne moes dit mos verkeerd wees.
Hy wou verder gaan, maar almal se aandag was op hom en hy moes homself in toom hou. Vat jou tyd, die skuldiges sal nie weghardloop nie.
Hy het homself intussen vermaak deur die skool aan die brand te steek. Dit het in puin gelê, daardie oord van soveel vernederings: hy het die drama waarin hy ’n newekarakter was herskep tot een met hom in die hoofrol. Dit was vir hom so simbolies dat hy nie van plan was om te gaan na die nabygeleë gebou waar die afgebrande skool se leerlinge ’n ruk lank onderrig sou ontvang nie. Hy was klaar met skool. Deur homself te leer ken, het hy binne ’n kort tydjie baie wyser geword as dáár.
Hy was ook nie van plan om langer te vertoef onder die dak van iemand wat hom nie kon sien soos hy nou was nie.
Sy het in die badkamer gestaan en tande borsel, deel van die ritueel van gereedmaking vir ’n man wat later die aand sou opdaag, toe hy in die oop deur verskyn. Hy het besluit om ’n mes te gebruik, want dit was dramaties. Hy het tot reg agter haar beweeg en op vyftien was hy lank genoeg om haar in die spieël in die oë te kyk. Haar blik was onbegrypend, want hulle het nooit so na aan mekaar gestaan nie. Toe rek daardie oë van haar soos ’n kind s’n op Kersoggend, toe sy die pyn in haar rug voel. Sy blik het hare nie ’n oomblik verlaat terwyl hy steek-steek-steek nie. Hy het dopgehou hoe